SKRIFLESING: Mat 5: 3
Die 1983-vertaling vertaal die vers met: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, …”. Die 2020-vertaling vertaal dit met: “Gelukkig is die armes van gees, …”.
Die Rooms-Katolieke kerk het dit in die verlede verstaan dat jy al jou goed moet verkoop, ’n monnik of ’n non moet word, nie mag trou of enigiets mag besit nie. Dit sou beteken dat nie alle Christene “arm van gees” of “afhanklik van God” kon wees nie. Tog bedoel die Here dat almal wat kinders van die Here is, daarna moet strewe om “arm van gees” en “afhanklik van God” te wees.

Daarom verstaan ons Evangeliese Protestante dat “arm van gees” verwys na diegene wat tot ’n besef van hul sondes gekom het en geen goedheid in hulself raaksien nie, wanhoop aan hulself en pleit vir en geheel en al staatmaak op die genade en barmhartigheid van God wat in Christus verseker is. Hulle is net afhanklik van die Here vir hulle verlossing. (Johannes Calvyn)
Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het gespog met hulle voortreflikhede en lang gebede en godsdienstigheid. Hulle het nie verstaan wat dit beteken om “arm van gees” te wees nie. Daar is die geval van die Fariseër en tollenaar wat gaan bid het in die tempel. Die Fariseër het gespog oor sy voortreflikheid en die tollenaar het net gevra dat die Here hom, arme sondaar, moet vergeef. Dan het die Here die tollenaar, wat arm van gees is, salig verklaar.

Thomas Watson skryf: “Totdat ons arm van gees is, is ons nie in staat om genade te ontvang nie. Hy wat opgeblase is met ’n opinie van selfvoortreflikheid en selfgenoegsaamheid, is nie geskik vir Christus nie. Hy is reeds vol. Die glas word eers leeggemaak voor jy wyn ingooi. God maak eers ’n man van homself leeg. Dan skink hy die kosbare wyn van sy genade in. Niemand behalwe die armes van gees is binne Christus se sending nie.”

“Arm van gees” en “afhanklik van God”, beteken ook dat jy leeg word van jou trots, selfstandigheid en die staatmaak op eie kragte en vermoëns.
Die hele bemarkingsbedryf is daarop ingestel om aan jou goed te verkoop om jou onafhanklik te maak. Van banke, motors, tot geriefsartikels en wie weet wat nog alles word adverteer om jou onafhanklik te maak of ten minste onafhanklik te laat voel. Kinders wil groot wees, tieners droom van selfstandigheid, jongmense soek daarna, grootmense werk hulle dood om selfstandig te wees en oumense vrees die dag as hulle hulle onafhanklikheid gaan verloor. Johannes skrywe aan die gemeente van Laudisea in Openbaring 3:17 – “Omdat jy sê, “ ‘Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,’ en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie … “
Daarom is dit harde woorde van Jesus wanneer Hy sê dat ons ons strewe na onafhanklikheid moet afsweer. Want sien, suksesvol beteken vir ons om van niemand afhanklik hoef te wees nie.

Die menslike lewe is baie broos. Ons kan hoe hard werk om selfstandig te wees. Maar somtyds tref teenspoed, ongelukke, swak gesondheid of rampe jou. Ons moet nooit selfversekerd word oor onsself of oor die lewe nie. Daar kan soveel politieke, ekonomiese en alledaagse werklikhede ons lewe beïnvloed, dat ’n mens nooit van alles seker kan wees nie. As jy jou geluk bou op voorspoed en onafhanklikheid, dan bou jy op sand. Jou geluk kan maklik soos ’n sandkasteel wegspoel met hooggety.
Hoe meer ons menslike sekuriteite soek, hoe meer angstig raak ons. Ons enigste sekuriteit is die oneindige genade en barmhartigheid van God.

Die eerste saligspreking begin met geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Eintlik is die eerste saligspreking die belangrikste. Afhanklikheid is waar saligheid begin. Al die ander saligsprekinge volg op en is gebou op die eerste saligspreking. Geluk begin by ’n heel spesifieke soort armoede, naamlik “die wat arm van gees is”. (1933/1953) Die armes van gees was die mense wat geweet het dat hulle God nodig het in hulle lewens, nodiger as enigiets anders.
Hy wat armoede van gees het, treur. Hy wat treur, is sagmoedig. Hy wat sagmoedig is, is barmhartig, ensovoorts.

Dirkie Smit skryf dat dit nie oor ’n triomfantelike geloof gaan, wat die bewondering van almal rondom afdwing nie. Daar is ook niks vredevols of rustigs aan hierdie geloof nie. Robert Guelich stel voor dat ons die “armes van gees”, vertaal met “the desperate”. Dit is mense wat sukkel om reg te kom in die lewe. Daar is by hulle ’n soort verleentheid, verslaenheid, en radeloosheid met hulself. Radeloosheid is allesbehalwe lekker, maar die goeie nuus is dat dit jou ’n kandidaat maak van ’n vreemde geluk.
God werk met nulpunt-mense. Mense wat niks meer van hulself verwag nie. God maak sulke mense die voorwerpe van Sy genade. Afhanklikes is ook mense wat weet dat hulle niks van God verdien nie. Daarom is die kerk vol bedelaarbanke, met bedelaars daarop. Alles is die goeie guns van God, ons verdien niks van God se ontfermende genade nie.
Daarom is die Saligsprekinge soos paradokse. Hulle vra die teenoorgestelde as wat die wêreld vra. Wanneer jy die paradoks leef om in jou gees van God afhanklik te wees, gee die Here vir jou ’n vreemde hemelse seën en geluk.
Bernadette van Lourdes het gesê: “Baie vernederings is nodig om ’n bietjie nederigheid te skep!” Ons moet die Here innig dankbaar wees vir die situasies wat ons ervaar wat ons verarm, verneder, of waar ons ons swakheid en ons ellende besef. Dit laat ons besef dat ons die Here nodig het.
Om arm in die gees te word, beteken om afskeid te neem van trots. Dit is soos ’n stadspoort wat laag gebou is, sodat ’n kameel nie die stadspoort kan binne hardloop in ’n militêre aanval nie. Die kameel moet op sy knieë, nadat sy vrag afgelaai is, deur die stadspoort kruip. So moet ons ook ontslae raak van menslike trots en afhanklik word, om die vreemde geluk van God te ontvang.

John MacArthur skryf: “You can’t be filled until you’re empty. You can’t be worthwhile until you’re worthless.”
Sal boeke met titels soos How to Be Nothing of How to Be a Nobody verkoop? Nee! Dit is juis die paradoks van Jesus se Evangelie.
John MacArthur skryf: “Out of the carcass comes the honey. In our deadness we come alive,” na aanleiding van Simson wat die leeu doodgemaak het en uit die karkas het toe heuning gekom. Uit die trots wat doodgegaan het, kom die soet van heuning.
In die Bybel is daar baie paradokse van mense wat “dit nie sou gemaak het nie”, wat God kragtig gebruik het.
Die hakkelende Moses word die leier wat Israel uit Egipte laat trek het, die beloofde land binne. Verbeel jou ’n staatsman van Moses se kaliber wat hakkel. Moses was intens van God afhanklik. Moses word dan ook beskou as die mees nederige persoon in die Bybel.
Paulus was weer beproef deur die doring in sy vlees. Maar dan verklaar hy “As ek sterk is, is ek swak. As ek swak is, is ek sterk.” Diep was hy ook van God afhanklik.
Dit bly vir ons as mens ’n moeilike saak om regtig totaal en al onsself afhanklik aan God oor te gee. Dit is soos ’n drenkeling in die water. Hoe meer hy of sy skop en spartel, hoe vinniger en meer sink hy of sy. Die geheim is om op jou rug te lê en heeltemal te ontspan. Wanneer jy ontspan, dan dryf jy op die water. Dit vat geen inspanning nie, net oorgawe. So is dit ook met geloof en die eerste Saligspreking. Gee jouself oor in afhanklikheid van God.

Mat 5: 3 sê ook dat hulle wat nou arm van gees is en afhanklik van God is, die Koninkryk van God sal beërwe. Thomas Watson skryf: “Ons wat nou in vodde rondgaan? Jy sal jou wit klere hê. Wat maak dit saak as jy soos Daniël met net groente gevoer word en nie spoggerige kos het nie? Jy sal feesmaal hou wanneer jy in die koninkryk kom. Hier drink jy die water van trane, maar jy sal gou die wyn van die paradys drink. Wees vertroos met die gedagtes van God se Koninkryk wat op jou wag.”
Mag ons ook armes van gees wees wat van God alles verwag. Mag ons in alles net van God afhanklik wees. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
BRONNELYS
MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith) Moody Publishers. Kindle Edition.
Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.
Watson, Thomas. The Beatitudes: An Exposition of Matthew 5:1-12 [Updated and Annotated]. Aneko Press. Kindle Edition.
Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
Philippe, Jacques. The Eight Doors of the Kingdom: Meditations on the Beatitudes. Scepter. Kindle Edition.
