Om geliefd te voel


SKRIFLESING: Mark 1: 9 –11

Een van die mens se mees basiese behoeftes is om geliefd te voel. Mense floreer as hulle geliefd voel. Selfs jou hond floreer as hy of sy geliefd voel. Juis daarom, hier op Moedersdag 2024, moet ons ons moeders geliefd laat voel. Moeders offer baie op vir hulle kinders. Moeders lééf vir hulle kinders. Navorsing het oor en oor bewys dat kinders, mense en diere die minste gedragsafwykings toon as hulle geliefd voel.

Maar helaas, ons lewe in ’n wêreld van bitter min liefde en waar soveel mense ongeliefd voel. Navorsing het bewys dat feitlik 98 % van manlike gevangenes wat in die tronk is vir ernstige misdrywe, soos roof en moord, ’n swak verhouding met hul pa’s gehad het en daar was weinig sprake van liefde. Daar is ’n enorme hoë persentasie mense wat doodeenvoudig ongeliefd voel. Dit is nie net straatbedelaars nie, maar meer dikwels mense wat in verhoudings staan. Jy kan getroud wees, of ’n kind wees, of in ’n gesin leef, maar nog steeds ongeliefd voel.

Daarom is die sentrale boodskap van die Evangelie dat God die wêreld liefgehad het. (Joh 3:16) Dit is waarom Jesus aarde toe gekom het, sodat ons geliefd kan voel en in Sy liefde kan leef.

Met Jesus se doop lees ons in Joh 1: 11 dat daar ’n stem uit die hemel gekom het: “ Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug ek my.” Daarom het God die Vader in Jesus se doop sy LIEFDE vir Sy Seun verklaar. Verder lees ons in vers 10 dat die Heilige Gees in LIEFDE soos ’n duif op Hom neergedaal het.

Simbolies beteken ’n duif wat neerdaal ’n “nuwe begin”. So staan God-Drie-Enig, as Vader en Seun en Gees, in ’n band van LIEFDE met mekaar. God die Vader het as’t ware in Joh 1: 11 Sy Seun geliefd laat voel deur dit te bevestig met ’n stem uit die hemel. Daar staan in vers 10 dat die hemel oopgeskeur het na Jesus se doop. Dit herinner ook aan die voorhangsel in die tempel wat met Jesus se sterwe sou oopskeur. Dit is simbolies van Jesus se liefde en genade wat deurbreek en verlossing, vrede en vreugde bring. “Oopgeskeur” beteken God het sy volle liefde uitgestort op die mensdom, sodat die mensdom iets kan verstaan van om geliefd te wees. Daarom is daar EENHEID in God-Drie-Enig, omdat die LIEFDE vervolmaak is.

Daarom verklaar Paulus ook in 1 Kor 13, dat die liefde die allergrootste gawe is. Paulus bedoel eintlik daarmee dat die DNS van ’n gemeente liefde moet wees.

Daarom het ons in die kerk ook die sakrament van die doop. In die doop kom bevestig God-Drie-Enig Sy liefde aan die dopeling. Die doop is ’n lewenslange teken dat God ons liefhet. In baie Anglikaanse Kerke is daar by die ingang van die kerk ’n bakkie water. Jy kan jou hand daarin steek om jouself daaraan te herinner dat jy eens op ’n tyd gedoop is met die ewige liefde van God. Dit is ’n liefde wat nie opgeskort of voorwaardelik is nie. Dit is God se ewige liefde.

Daarom het Martin Luther ook die gewoonte gehad om elke oggend as hy opstaan, die teken van die kruis te maak op sy voorkop om hom daarin te herinner dat hy gedoop is met God se ewige liefde. Met die wete dat hy in God se oë geliefd is, kon hy die dag aanpak.

Omdat Jesus geliefd voel deur Sy Vader se liefde, kon hy in Sy aardse bestaan liefde uitdeel en ander mense geliefd laat voel. So ver Jesus gegaan het, het Hy mense geliefd laat voel. Hy het geëet saam met die sondaars en tollenaars. Ons lees hoe Hy tuisgegaan het by Saggéüs, die mees ongeliefde man in Jerusalem. Deur Saggéüs geliefd te laat voel, het Hy Saggéüs se hele lewe verander en het hy tot bekering gekom. Om mense geliefd te laat voel, is om hulle lewe te verander. Jesus het toegelaat dat die prostituut Sy voete was met haar trane en met haar hare afdroog. Hy het ’n ander prostituut toegelaat om Hom te salf met duur kosbare olie. Hy het vir mense kos gegee, deur brood en vis te vermeerder. Hy het aandag aan kinders gegee en hulle toegelaat om Hom te steur in Sy werk. Hy het siekes genees. Deur Sy prediking het Hy genade verkondig aan hulle wat gekwel is deur hulle probleme of skuldgevoelens. Deur te sterf aan die kruis, het Hy die hele wêreld geliefd laat voel. Deur die eeue lewe mense van die ewige hoop wat Jesus gebring het toe hy aan die kruis vir die mensdom gewys het dat hulle geliefd is in God se oë.

Franciscus van Assisi, was daarvoor bekend dat hy sover hy gegaan het, goed gedoen het aan mense en hulle daarom geliefd laat voel het. Moeder Theresa van Kalkutta het aan mense in die haglikste toestande hoop gegee, deur hulle geliefd te laat voel. Daarom is dit die roeping van elke gelowige om ander mense geliefd te laat voel.

Henri Nouwen, bekende akademikus, priester, skrywer en pastor het sy laaste jare gewerk by ’n sentrum vir erg gestremdes. Hy het sy mees vervulde jare daar deurgebring. Hy het baie geskryf oor die feit dat ons God se geliefde seuns en dogters is. Eers wanneer jy God se liefde in jou eie lewe raaksien en geliefd voel, kan jy ander mense geliefd laat voel. Die sleutel tot ware lewensgeluk is om mense te soek om hulle geliefd te laat voel. Dan gee jy weer vir mense hulle menswaardigheid terug.

Ons lewe in ’n wêreld wat arm is aan menswaardigheid. Rondom ons is daar mense wat aanmoediging en troos en liefde nodig het. ’n Waarderende woord, kwaliteittyd, ’n geskenk, diensvaardigheid of ’n fisiese aanraking kan wonders doen. Dit staan ook bekend as die vyf tale van die liefde van Gary Chapman. Ons lewe in ’n wêreld van velhonger mense, wat ’n drukkie soek. Ons lewe in ’n wêreld van moedelose mense, wat ’n waarderende woord en bevestiging waardeer.

Daarom is die hoogste roeping van die gelowige om ander mense geliefd te laat voel. Wil jy dit nie jou voorneme maak om ander mense rondom jou geliefd te laat voel nie? Jy kan begin by jou lewensmaat, kinders, ouers, vriende, werknemers en ook die vreemdeling op jou pad. Ook jou hond moet weet dat hy of sy geliefd is. Dan eers sal jy ’n merkwaardige lewe leef, want jy lewe nie meer vir jouself nie.

Ek het die volgende van ’n onbekende skrywer gelees: “Die gedagte van jou moeder is ongeskrewe, maar is onuitwisbaar in jou gedagtes gestempel! Dit is die emosies van liefde, van vriendelikheid, van onbaatsugtigheid, van gee! Moederskap – dink net aan haar seëninge, vreugdes, hartseer, uitdagings en oorwinnings. Daar is geen groter ekstase as om haar pasgebore baba vas te hou nie, en geen groter angs as die gebroke hart wat ’n kind kan veroorsaak nie. ’n Moeder se liefde is die naaste ding op aarde aan God se liefde. Die wysheid van God word in moederskap ten toon gestel. Ons is nie die neweproduk van een of ander onpersoonlike biologiese proses nie. Ons is nie op ’n monteerlyn gemaak deur die kombinasie van grondstowwe nie. Ons moeders het ons gekoester en ’n intieme verhouding met ons gevorm voordat ons gebore is. Sy het haar lewe vir ons in gevaar gestel.

Die grootste lesse wat ons nog ooit geleer het, het gekom van liefdevolle, omgee-, opofferende moeders wat altyd vir ons beskikbaar was. ’n Vrou se grootste, mees vervullende en verreikende rol word in moederskap uitgedruk. Kom ons dank God vir Christelike moeders! Laat ons sensitief en dankbaar wees, nie net op Moedersdag nie – maar elke dag vir ons moeders en die ma van ons kinders.”

Ons moet op Moedersdag ook sensitief wees vir vroue wat nie kinders kan hê nie, of moeders wat hulle kinders aan die dood afgestaan het. Ons moet dink aan moeders wat kontak met hulle kinders verloor het en wat elke dag verlang na hulle kinders. Mag hulle ook vandag in ons gebede wees.

God het met die doop van Jesus Christus vir Hom geseën. Daarom het die stem uit die hemel gesê dat Jesus Sy geliefde Seun is en dat Hy daaroor verheug is. Net so moet ons tot seën vir mekaar wees. Ons lewe in ’n wêreld waar mense die gewoonte het om mekaar te vervloek. Christene daarenteen is geplaas om tot seën te wees van ander, deur ander geliefd te laat voel.

Dikwels was ons mekaar se koppe, in plaas van mekaar se voete te was.

Deur jou doop is jy ook die geliefde seun en dogter van God. Jy is geliefd deur God. Wees jy ook tot seën vir ander, deur hulle geliefd te laat voel.       AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar