God gee vir ons tekens


SKRIFLESING: Eksodus 4: 1 – 9 en Rigters 6: 36 – 40

God gee op ons lewenspad vir ons tekens, waarin Hy self aan ons verskyn. Dit vra ’n geloofsoog om dit raak te sien as komende uit die hand van God. God se tekens kan openbarend of geloofsversterkend wees. Ons glo mos volgens die Heidelbergse Kategismus dat God Homself openbaar deur die algemene en die besondere openbaring. Die algemene openbaring is deur die natuur, geskiedenis, besondere insidente of deur jou gewete. Die  besondere openbaring is deur die Woord van die Here self.

Met die aankondiging van Jesus se geboorte het God ook in tekens verskyn. Hy het Sy engel gestuur om die boodskap aan Maria en ook later aan Josef te bring. Die skaapherders het die teken gekry van ’n engelekoor wat die boodskap van Jesus se geboorte gebring het.

Die wyse manne (sterrekykers) het die teken van die Betlehem-ster gehad om hulle te bring tot by die Jesus-kind. Wat belangrik is, is dat ’n mens altyd tekens moet evalueer aan die hand van die Woord. So het die sterrekykers hulle dokumente geraadpleeg en Herodus het opdrag gegee dat die skrifgeleerders die Joodse dokumente moet raadpleeg. Die algemene openbaring word altyd getoets aan die besondere openbaring, naamlik die Woord van God.

’n Mens kan jou maklik mislei en dink dat jy ’n teken van God gekry het om van jou vrou te skei om met ’n ander een te trou. Dan was dit eerder ’n versoeking van die duiwel, want die Woord sê jy mag nie owerspel pleeg nie. Toets altyd tekens, of dit ooreenstem met die woord van God.

Die Bybel is vol tekens wat God gee om rigting aan te dui en boodskappe vir mense te stuur. Noag het die teken gekry van die duif met die olyftakkie wat teruggekom het na die ark. Dit was ’n teken dat die vloed besig is om op te klaar. Boonop het die Here die teken van die reënboog gegee, waardeur Hy Sy genade belowe het.

Skets: Jan van ‘t Hoff

Moses het by die brandende braambos gekom en dit was die teken dat God regtig met Moses praat en hom roep om Sy volk uit Egipte te lei. Moses was nie heeltemal oortuig dat dit God is wat met hom praat nie. Die Here gee toe vir Moses drie wondertekens. Hy moes sy staf op die grond gooi. Met die gooi op die grond het dit in ’n slang verander.

Moses moes toe die slang aan die stert vang en dit het weer in ’n herderstaf verander. Daarna moes Moses sy hand by sy bors in die kleed insteek. Toe hy dit uithaal, was dit melaats. Moses moes wéér sy hand insteek by sy kleed en toe hy dit uithaal, was dit gesond. Die derde teken was dat hy water uit die Nyl skep en dit op die grond gooi. Dit het in bloed verander. So het God vir Moses oortuig deur tekens dat Hy hom werklik roep om Sy volk uit Egipte te red en na die beloofde land te lei.

 Die tien plae was tekens aan die Farao om God se volk te laat trek uit Egipte, maar telkens was Farao daaraan ongehoorsaam. In die woestyn was daar die kwartels, die manna, die wolkkolom, die vuurkolom, die water uit ’n rots en nog vele ander tekens van God se troue sorg.

Hiskia het ’n teken gevra dat God hom sal gesond maak. Toe het God die skaduwee tien trappe laat afsak teen die Trappe van Agas.

Met die roeping van Gideon as rigter (Rigters 6), het God ook van tekens gebruik gemaak om vir Gideon te oortuig van sy roeping.

Gideon het vir die Here gesê dat hy ’n skaapvelletjie buite gaan los in die nag. As die grond die volgende oggend droog is en net die skaapvelletjie is nat van die dou, dan sal hy weet die Here roep hom. Die volgende oggend was dit toe so. Maar toe wil Gideon ’n verdere teken hê. Hy vra dat die grond die volgende dag nat sal wees van die dou, maar dat die skaapvelletjie droog sal wees. Die Here het ook dié teken toegestaan. So het die Here vir Gideon oortuig van sy roeping as rigter. 

Die hele Ou Testament is vol van honderde tekens van God se besondere bemoeienis met sy volk Israel. Daarom gebruik die profete ook baie metafore (beelde) wat dien as tekens van die Here se oordeel en verlossing.

Die Nuwe Testament is ook nie anders nie. Daar staan dat Jesus Christus Homself openbaar het as die Seun van God deur wondertekens. Die opgevoude doeke in die graf was ’n teken van sy fisiese opstanding uit die dood. Die teken van die opgevoude doeke beteken dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, maar dat Jesus self die doeke opgevou het met Sy opstanding. Ook die apostels het wondertekens gedoen om die vroeë Christelike kerk te vestig.

Die Nuwe Testament praat ook van die tekens van die Wederkoms wat ons sal sien. Ons lees daar sal onder andere aardbewings, oorloë, afvalligheid en vele ander tekens wees wat die wederkoms voorspel.   

Historici Will en Ariel Durant skryf in hul bekende boek, The Lessons of History, wat in 1968 uitgegee is: “Gedurende die afgelope 3,421 jaar van aangetekende geskiedenis, het slegs 268 geen oorlog beleef nie” (bl. 81). “In ons moderne tyd is daar egter ’n verskil – slegs in die laaste 70 jaar of so beskik mense oor die tegnologie, deur chemiese, biologiese en kernwapens, om alle lewe op die planeet Aarde uit te wis. Wanneer u die beskrywings van die eindtydse oorloë in die boek Openbaring lees, besef u dat aan die einde van die tydvak, oorloë nie slegs streke raak nie; dit sluit die hele aardbol in.” (Richard F. Ames) Kyk maar net na die talle oorloë waarin die wêreld op hierdie oomblik verkeer. Dit kort net een mal man om ’n kernoorlog te begin. 

Die sakramente, die doop en die Nagmaal, is ook heilige tekens dat God by ons teenwoordig is en ons in die geloof wil versterk. Luther het in tye van aanvegtinge teruggedink aan sy doop, as teken dat God by hom is. Daarom het hy die duiwel met die inkpot gegooi.

Daarom openbaar God Homself gedurig deur tekens aan die mens. Wanneer jy vir ’n betrekking aansoek doen en jy kry dit nie, is dit ’n teken dat God se wil vir jou anders is. Wanneer jy wel die betrekking kry, kan jy weet dit is God se wil. Daarom, as jy vir ’n pos aansoek doen, vra jy as’t ware dat God vir jou die teken moet gee of dit Sy wil is. Wanneer mense ’n liefdesteleurstelling ervaar, is dit ’n teken dat God vir jou iemand beter in die vooruitsig bespreek het. Daarom werk God deur die alledaagse gebeurtenisse in ’n mens se lewe.

Ek onthou toe ons as gesin eenkeer van Bloemfontein teruggekeer het na Strydenburg, was ek oor baie dinge besorgd. Tien kilometer buite Strydenburg was die mooiste reënboog gespan oor die dorp en die kerk. Toe weet ek God is met ons.

Eenkeer in Adelaide se pastorie se studeerkamer was ek onder verskriklike aanvegtinge, oor wat God se wil vir my is. Ek kon die heelnag niks slaap nie. Hier teen vieruur die oggend tel ek die Apokriewe Ou Testament wat daar rondgelê het op en slaan sommer moedeloos by ’n plek oop. Presies op daardie plek, wat my oog vang, kry ek die volmaakte antwoord op my geloofsaanvegting. Dit het vir my so werklik gevoel, dat ek in die kamer gekyk het of ek nie die Here sien nie. Ek het toe rustig aan die slaap geraak.

Somtyds is ’n mens amper in ’n motorongeluk en dan beskerm God jou op ’n ongelooflike wyse. Dan dien dit as ’n teken van God se sorg en trou. Dikwels ervaar mense kontantvloeiprobleme wat hulle wakker laat lê. Dan word ’n mens verras hoe God elke dag die regte hoeveelheid kwartels en manna voorsien.

Die lewe is vol tekens van God se troue sorg. Dikwels ervaar kankerlyers en mense wat swaarkry, die Goddelike tekens baie spesifiek wat vir hulle moed gee op die pad vorentoe.

Martin Luther het  beleef en geskryf dat ’n mens God leer ken op vier maniere, naamlik deur die Woord, die gebed, meditasie en die ervaring van Sy tekens.

Martin Luther het in sy lewe ernstig met depressie geworstel. Hy het daarvan gepraat as die swart hond. Eendag toe hy ook geworstel het met depressie, onthou hy toe hy is mos gedoop. Hierdie teken van die doop het sy depressie gelig en hy het uitgegraveer op sy houttafel dat hy mos gedoop is.

Die Wesleyaanse vierhoek praat van die vier pilare waarop Goddelike openbaring rus, naamlik die Skrif, die tradisie, die rede en dan ook die ervaring.

Mense moet oor hulle ervarings van God praat. Ons kerk kan dikwels arm wees aan getuienisse. In baie ander kerke word daar geleenthede vir lidmate gegee om te getuig van hulle ervarings met die Here en hoe die Here in tekens met hulle gepraat het. Ons moet nie skaam wees om oor ons ervarings met die Here te praat nie. Deel jou ervarings van God met ander. Daardeur bemoedig jy hulle in die geloof.

Mag ons ook vertellers wees van ons ervarings met God en van die wonderlike tekens wat God ook in die afgelope jare vir ons gegee het van Sy troue sorg en liefdevolle bemoeienis met ons.

Kyk rondom jou. Elke dag sal jy ervaar hoe die Here met jou praat deur persoonlike ervarings en met tekens. Beleef dit as ’n persoonlike verhouding met die Here.                                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar