Klaagliedere moet dankliedere word


SKRIFLESING: Kol 2: 6 – 7 en Kol 3: 15 – 17

Ons lees in die Bybel uit die boek Klaagliedere.

Om Klaagliedere te sing is goed. Jy kan die slegte goed in woorde omsit en dit uit jou gestel kry. Klaagliedere gee vir jou ’n klankbord dat jou pyn gehoor word. Sielkundiges moedig mense aan om oor die slegte goed in hulle lewe te praat, sodat daar genesing kan kom. Dit is ook goed vir ’n volk of nasie om in rou te gaan wanneer ’n nasionale ramp hulle tref. Klaagliedere is goed vir ontlading van ’n klomp negatiewe emosies.

Maar ’n mens moet nie vashaak by Klaagliedere nie. Klaagliedere moet groei en dankliedere word.

Ek wil graag die historiese verhaal vertel van Ds. Martin Rinkart wat gebore is op 23 April 1586, te Eilenburg en oorlede is op 8 Desember 1649, te Eilenburg.

Hy was ’n Duits-Lutherse predikant, maar ook ’n begaafde musikant. In 1617, op die ouderdom van 31 jaar, het Rinkart die predikant geword van sy geboortedorp Eilenburg. Met sy bevestiging as nuwe predikant het die Dertigjarige Oorlog uitgebreek. Tydens sy volle bedieningstyd in Eilenburg was die stad deel van die oorlogsone. Die soldate het gereeld die stad geplunder vir kos. Daar was ’n konstante invloei van vlugtelinge na die stad. Daarom was daar armoede, broodsgebrek en hongersnood in die stad. Mense het oor kos baklei. In die moeilike tyd het Ds. Rinkart by sy kudde gestaan en as predikant die Woord bedien en gehelp waar hy kon, selfs ten spyte van homself.

Asof dít nog nie erg genoeg was nie, het daar in 1637 ’n plaag in die stad en land uitgebreek. Hierdie plaag het 8 000 van die stad se inwoners gedood, asook meer as die helfte van die stadsraad. Sy een kollega het ook gesterf en die ander een het weggetrek.  Toe moes hy die werk van drie predikante doen. Hy het 40 tot 50 mense per dag begrawe. In totaal het hy daardie jaar 4 480 mense begrawe. Later het hy massa-begrafnisse gehou. Sy eie vrou het ook as gevolg van die pes gesterf. Hy het gesukkel om vir sy kinders kos op die tafel te sit, as gevolg van die hongersnood en die plundertogte van die soldate.

Boonop het die Sweedse weermag ’n geweldige hoë belasting op die stad Eilenburg geplaas, wat hulle nooit sou kon betaal nie. Van al sy versoeke het niks gekom nie. Hy het toe die stad Eilenburg tot gebed opgeroep. Later het hy voor die Sweedse generaals gekniel en hulle gevra om hul belasting te verlig. God het hulle gebed verhoor en die Sweedse generaals het hulle belasting drasties minder gemaak.

Dwarsdeur die Dertigjarige Oorlog en die groot pes, het hy getrou sy kudde versorg en geestelik bedien. ’n Mens sou ’n klaaglied oor die stad en gemeente van Eilenburg wou skryf. Soveel ellende vra ’n klaaglied.

Maar dan skryf Ds Martin Rinkart in 1636 die beroemde gesang: “ Nun danket alle Gott”. In Afrikaans natuurlik die bekende gesang: “Kom dank nou almal God”.

 1. Kom dank nou almal God              

   met hart en mond en hande;          

   loof hom wat wonders doen           

   tot in die verste lande.            

   van vroeg van kindsbeen af,         

   het hy ons trou bewaar              

   en tot vandag toe nog               

   geseën en gespaar.                  

2. O God so ryk en goed,               

   gee ons solank ons lewe             

   altyd ’n blye hart;                 

   as dit u wil is: vrede.             

   Laat u genade ons                   

   beveilig teen gevaar,               

   in donker ure ons                   

   van struikeling bewaar.             

3. Lof, eer sing ons voor God,         

   die bron van alle lewe –            

   die Vader, Seun en Gees,            

   almagtig en verhewe.                

   Drie-enige God, ons roem            

   U krag en majesteit.                

   o Heer, ons wil u noem:             

   ons God in ewigheid !    

Ds. Martin Rinkart het alle rede gehad om net Klaagliedere te skryf, maar ten spyte van al die teenkantinge en aanvegtinge, verkies hy om die goeie te soek om voor dankbaar te wees.

Onmiddellik roep dit die woorde van Fil 4: 4 – 7 op: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!  Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” 

Paulus sit in die tronk, nogtans sing hy lofliedere. Hy roep sy medegelowiges op tot blydskap. Die beste teenvoeter vir ’n negatiewe omgewing, is om iets te soek om voor dankbaar te wees en daaroor lofliedere te sing.

Ek was 100 dae binne die Covid-pandemie vir ’n erediens by Huis Corrie Dreyer. Die bejaardes het meer as 100 dae laas ’n erediens gehad, as gevolg van die inperking. Hulle verlang toe nie net na die Woord nie. Hulle wil ook sing, lofliedere sing. Maar hulle mag nie. Tannie Jenny Fourie moedig my toe aan om musiek op die rekenaar te speel. Tannie Lina Swanepoel en die verpleegsuster het vir hulle gesing, terwyl Tannie Rita van Vuuren die klavier speel. Almal kon toe luister na die lofsange.  Lofsange tel die gees op.

Ja, ons moet klaagliedere sing. Maar ons klaagliedere moet oorgaan in lofliedere – ook wanneer ons in die middel van ’n krisis is.

Daar is ’n Halleluja-lied “Tel jou seëninge, tel hul een vir een”. As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

’n Blymoedige en dankbare mens het baie vriende en skep energie. Maar ’n pessimistiese en ondankbare mens tap ander se energie.

Die Heidelbergse Kategismus bestaan uit drie dele naamlik:

  • Hoe groot my SONDE is.
  • Hoe ek van my sonde VERLOS word.
  • Hoe ek DANKBAARHEID moet bewys vir my verlossing.

DANKBAARHEID vorm dan ook die grootste deel van die Kategismus.

Kol 2: 6 – 7 lees: “Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid”. Paulus gebruik hier die beeld van die boom wat gewortel is in Christus. Die boom is die gelowige wat sy / haar voedingstowwe in Christus vind en wat dan blare en vrugte van dankbaarheid dra.

Kol 3: 15 – 17 lees as volg: “Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.”

Ons moet elke dag iets soek om voor dankbaar te wees. Ons moet vir ons lysies op papier of in ons kop saamstel van die dinge wat ons dankbaar maak. Dit kan sekere mense in jou lewe wees wat jou dankbaar maak, soos jou ouers of kinders of ’n vriend of ’n rolmodel. Jy kan dankbaar wees dat God jou in ’n tyd toe jy gely het, gehelp het en die gebed van jou hart verhoor het. Jy kan dankbaar wees vir jou aardse besittings, of die geleenthede in jou lewe wat op sukses uitgeloop het. Jy kan dankbaar wees vir jou gesondheid, as jy hoor van ander mense se siekte. ’n Mens moet net een maal in ’n hospitaalbed lê en jy sal skielik dankbaar wees vir jou gesondheid.  Jy kan dankbaar wees vir God se voorsiening op jou lewenspad. ’n Bemoedigende woord, ’n WhatsApp, ’n kaartjie of ’n presentjie kan jou tot dankbaarheid dring.

Dit kan makliker gebeur dat ’n armer mens meer dankbaar is as ’n suksesvolle en ryk mens. Die suksesvolle mens kan maklik die krediet vir homself gee en sê hy het daarvoor gewerk en God nie in die prentjie raaksien nie.

John Ortberg skryf pragtig: “Meer dankbaarheid sal nie uit meer dinge in die lewe  kom nie, maar uit meer bewustheid van God se teenwoordigheid en God se goedheid.”

Dankbaarheid maak jou altyd nederig. Dit is een van die opregte eienskappe van dankbaarheid: dit dring jou tot nederigheid, want jy verdien dit nie.

Ondankbare mense beskou seëninge as regte en skree daarom ook vir menseregte. Hulle beskou kos, klere, geld, geleerdheid, en posisies in die samelewing as ’n reg. Eintlik is hulle diep ongelukkige mense, want hulle sien nie die seëninge in die lewe raak nie. “Waarom toon mense wat steeds meer en meer kry, al hoe minder dankbaarheid? Hoe groter ons gevoel van geregtigheid, hoe kleiner ons gevoel van dankbaarheid.” (John Ortberg)

Die Bybel se woord vir ondankbaarheid is “murmureer” of om “brommerig” te wees. Die Ou Testament is vol daarvan. Toe Moses die volk uit Egipteland gelei het, het hulle gedurig gemurmureer dat dit beter in Egipte was. Hulle het oor alles gekla en arme Moses skoon moedeloos gehad.

Jesus het egter vir ons die voorbeeld gestel van ware dankbaarheid, ten spyte daarvan dat Hy niks gehad het nie. 

My persoonlike ervaring, soos ek ouer word, is dat ek meer dankbaar vir my lewe is as toe ek jonk was. Ek besef nou eers hoe God vir my en my gesin gesorg het en vir my ’n erfdeel afgemeet het, wat genoeg vir my is. Dit is ’n wonderlike berusting.

Wees dankbaar. Tel jou seëninge en jy sal gelukkig wees.

Leer om in eenvoud en in vreugde te lewe. Ons grootste skat is nie wat ons besit nie, maar wat in ons is, naamlik die geloof in Jesus Christus ons Here. Niks en niemand kan ons hiervan beroof nie. Daarom sê die Heidelbergse Kategismis dan ook by Vraag 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”

Dan antwoord die Kategismus: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien …”

Dankbaarheid genees ons gekneusde gemoed en gees, ook in krisistye. Klaagliedere word dan dankliedere. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar