‘n Liefdevolle God soek Sy twee probleemseuns op

SKRIFLESING: Luk 15: 11 – 32

Dit gaan in hierdie gelykenis oor ’n liefdevolle God en Sy twee probleemseuns. Die een is ’n wegbreek-seun (wêreldling) en die ander een is die tuisbly-seun (kerkmens). Waarom het die Here Jesus hierdie gelykenis vertel? Die antwoord vind ons in vers 1 en 2 van Luk 15. Die wegbreek-seun is eintlik die tollenaars en die tuisbly-seun verwys na die Fariseërs. Kom ons kyk na die twee seuns:

  1. Eerste probleemseun is ’n wegbreker

Die eerste seun eis sy gedeelte van sy erfporsie op. Hy wil hê dat sy pa se besittings verdeel word, tot nadeel van sy pa.

Erfeniswette in Israel is ontwerp om die ouer seun te bevoordeel, en gee hom ’n dubbele deel (waarskynlik met die doel om ’n familie se grondbesit bymekaar te hou en die familieplaas ongeskonde te bewaar (Numeri 27:8–11; 36:7–9; Deuteronomium 21:17). As daar vier seuns was, sou die ouer seun twee aandele ontvang, en elk van die ander drie seuns een aandeel elk. Tipies sou die ouer seun die eksekuteur wees en die rol as familiehoof na sy pa se dood aanvaar. Soms het ’n ouer seun besluit om nie die familieplase tussen die broers te verdeel nie (Lukas 12:13). (Ralph F. Wilson) Waarskynlik sou die gelykenis daarop sinspeel dat die wegbreek-seun een derde van sy pa se goed ontvang en sy ouer broer op twee derdes kon aanspraak maak.

Die verdeling van ’n vader se boedel voor sy dood was bekend, maar is deur die Ou Testament afgekeur. In hierdie geval sou die eiendom oorgaan na die seuns, maar die vader sou voortgaan om die vruggebruik te geniet, dit wil sê, “die reg om die winste te benut en te geniet asook die voordele van iets wat aan ’n ander behoort, solank die eiendom nie beskadig of verander word nie.” (Ralph F. Wilson)

Die feit dat die jongste seun sy deel van sy erfporsie opeis, getuig van ’n swak verhouding tussen hom en sy pa. Die seun het sy deel gevat en weggebreek van God.

Hy het sy erfporsie gevat en in geld omgesit en op ’n reis na ’n ver land vertrek,  ver weg van sy pa, ver weg van sy ouer broer, en ver weg van enige verantwoordelikheidsin en morele selfbeheersing. Solank sy pa leef, het hy ’n verantwoordelikheid om sy pa te onderhou met sy deel van die familie se rykdom, maar hy ignoreer dit en spandeer alles op homself.

Waarskynlik het hy verval tussen verkeerde vriende, los meisies, wilde partytjies  en losbandigheid. Hy het sy erfporsie uitgemors op verkeerde goed. Baie geld beteken baie vriende. Hy het nie ’n tekort aan vriende gehad nie.

Hy het weggebreek uit die verbond en uit die kerk. Dan lees ons hoedat hy sy lewe opgemors het en skande veroorsaak het, want sien, hy wou op sy eie bene staan en vry wees. Verwêreldliking het deel van sy lewe geword.

Toe hy sy erfporsie klaar uitgemors het, lees ons het ’n groot hongersnood die land getref. Sonder geld en sonder vriende, was hy ontwortel en rigtingloos. As die geld opraak, raak die vriende ook weg. Die hongersnood beteken ook dat werk baie skaars was. Al waar hy kon regkom, was op ’n varkplaas.

Daar eindig hy by die varkhok. Dit is die grootste moontlike belediging vir ’n Jood, want Jode eet nie varkvleis nie. Hier wens hy hy kon sy honger stil met die peule wat die varke, hierdie onrein diere, eet. Maar niemand wou eers vir hom die varke se kos gee nie. So ver het hy geval in sy ellende. Hy word self soos een van die varke. Dit wil sê daar is geen werklike lewe sonder God moontlik nie. Wie uit die hande van God klim – eindig altyd in ellende.

Maar geliefdes, hier hoef dit nie te eindig nie. Ook hierdie seun se droewige verhaal eindig nie hier by die varkhokke nie. Want daar wag ’n liefdevolle Vader by die huis. Dan lees ons hoedat God bekering in sy hart werk.

Hy begin na te dink hoe lekker sy pa se huis was en dat hy van alles oorgenoeg gehad het. Selfs sy pa se dagloners het meer gehad om te eet as hy.

Hy besluit om terug te keer. Hy oorweeg sy woorde versigtig. Hy weet hy is nie meer werd om sy pa se seun genoem te word nie, maar hy is bereid om as dagloner deur sy pa in diens geneem te word.

Hy kom skoorvoetende nader, maar sy vader hardloop hom tegemoet. Sy vader kry hom jammer. Hy veroordeel nie sy seun nie. Sy vader neem as’t ware die inisiatief, want sy vader wag vir hom. Sy pa het nog altyd gewag vir hom om terug te kom. Dan lees ons hoedat sy vader hom omhels en soen, as teken dat hy vergewe is. Daar word geen boetes of pligte op hom gelê as straf nie.

Dan lees ons hoedat die seun geskenke kry. Hy kry ’n nuwe stola of kleed, ’n kledingstuk wat  waardigheid en respek simboliseer. Die seun wat sy erfporsie verkwis het, word weer in ere beklee, terug verwelkom as ’n regmatige erfgenaam.

Die ring wat hy gekry het was ’n simbool van gesag. Destyds was ’n seëlring ’n teken van vertroue en verantwoordelikheid. Met hierdie geskenk word die verlore seun nie net terug verwelkom nie, hy word ook bemagtig. Hy is toevertrou met die familieseël, wat verklaar dat hy die vader se seun is en nie ’n dienskneg nie. ’n Ring as familieseël het vir jou onbeperkte vryheid gegee.

Slawe en bediendes het nie sandale gedra nie. Toe die seun sandale kry, het hy sy kindskap en vryheid terug gekry. Hy kon nou met die sandale op ’n nuwe pad loop in totale vryheid.

Die nuwe stola is dus simbool dat hy sy status as kind van God terugkry. Ook die ring en skoene wat hy kry, dien as simbool van ’n herstelde status en outoriteit.

  • Tweede probleemseun is ’n tuisbly-seun.

Dit is die Fariseërs, die kerkmens, die een wat tuis is in die kerk. Die Fariseërs was pligmense, nie dankbaarheidsmense nie. Hierdie tuisbly-seun het goed gedoen, was getrou, het hard gewerk, was lojaal en het niks verkeerds gedoen nie. Maar hy het dit uit plig gedoen, soos wat ’n kneg sy baas dien. Hy het uit plig gedien en nie uit dankbaarheid nie.

Wanneer die oudste seun tuiskom en die feesklanke hoor, stuur hy sy bediende om te gaan kyk. Toe hy verneem sy verlore broer het tuisgekom, was hy onmiddellik opgeruk. Hy wil nie eers die feesmaal bywoon nie. Hy is kwaad oor sy vader ’n vetgemaakte kalf vir sy verlore broer geslag het, maar nog nie eens vir hom ’n bokkie gegee het sodat hy met sy vriende kan feesvier nie.

Ook vir hom soek die vader op, deur uit te gaan na hom. Sy vader verseker hom ook van sy liefde vir hom. Hy sê vir sy seun: “ Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.”

Die fout wat die seun maak, is dat hy vergelykings tref. Hy vergelyk homself met sy broer wat weggeloop het. Omdat hy verbitterd is, beland hy in ’n tronk van selfopgelegde verwerping. Hy verwerp homself uit die liefde van sy Vader uit. So beland hierdie seun in die sel van verbittering. Hy verloor sy Vader ook boonop. Hy verloor sy lewensvreugde. Moenie uself met ander mense vergelyk nie. Kyk na wat u het, nie na wat ander het nie.

Die oudste seun het geglo dat hy die hemel verdien. Hy het neergekyk op sy jonger broer – die tollenaar. Hy wou niks met hom te doen gehad het nie. Hy is ook sommer kwaad vir sy pa, vir God wat so maklik vergewe. Hy is besig om sy vader te verloor omdat hy sy broer verloor het. Kerkmense, tuisbly-mense kan dikwels hard en afgunstig optree teen hulle wat deur God se genade vrygespreek is. Vergelyk byvoorbeeld ook Jona se woede teenoor God omdat God Ninevé se mense vrygespreek het.

Dikwels verset ons ons nie daadwerklik nie – maar ons is ongeërg en onbekommerd oor ons medemens se sieleheil. Ons kan baie keer traak-my-nie-agtig wees teenoor die redding van ander mense.

Die gelykenis vertel ons nie of die oudste seun se hart verander het en sagter geword het teenoor sy jonger broer nie. Eintlik is dit ’n oop antwoord. Ons moet dit in ons eie lewe beantwoord. Ons wat kerkmense is, tuisblyers is in die Vaderhuis, is ons waarlik bly oor elke nuwe broer of suster in die Vaderhuis of leef ons ongeërg voort in ons eie klein hoekie?

Die oop vraag vanoggend is of ons nie dalk een van die twee probleemseuns is nie. Dalk ’n wegloop-seun, wat nog nie tuis is in die Vaderhuis nie. Dalk ’n tuisblyer wat jaloers is oor die bietjie genade wat ’n broer of suster te beurt geval het.

Daar is ’n wagtende, soekende en liefdevolle Vader. Kom terug, my seun! Kom terug, my dogter! Die Here soek ons op.                                  AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God gee vir ons tekens

SKRIFLESING: Eksodus 4: 1 – 9 en Rigters 6: 36 – 40

God gee op ons lewenspad vir ons tekens, waarin Hy self aan ons verskyn. Dit vra ’n geloofsoog om dit raak te sien as komende uit die hand van God. God se tekens kan openbarend of geloofsversterkend wees. Ons glo mos volgens die Heidelbergse Kategismus dat God Homself openbaar deur die algemene en die besondere openbaring. Die algemene openbaring is deur die natuur, geskiedenis, besondere insidente of deur jou gewete. Die  besondere openbaring is deur die Woord van die Here self.

Met die aankondiging van Jesus se geboorte het God ook in tekens verskyn. Hy het Sy engel gestuur om die boodskap aan Maria en ook later aan Josef te bring. Die skaapherders het die teken gekry van ’n engelekoor wat die boodskap van Jesus se geboorte gebring het.

Die wyse manne (sterrekykers) het die teken van die Betlehem-ster gehad om hulle te bring tot by die Jesus-kind. Wat belangrik is, is dat ’n mens altyd tekens moet evalueer aan die hand van die Woord. So het die sterrekykers hulle dokumente geraadpleeg en Herodus het opdrag gegee dat die skrifgeleerders die Joodse dokumente moet raadpleeg. Die algemene openbaring word altyd getoets aan die besondere openbaring, naamlik die Woord van God.

’n Mens kan jou maklik mislei en dink dat jy ’n teken van God gekry het om van jou vrou te skei om met ’n ander een te trou. Dan was dit eerder ’n versoeking van die duiwel, want die Woord sê jy mag nie owerspel pleeg nie. Toets altyd tekens, of dit ooreenstem met die woord van God.

Die Bybel is vol tekens wat God gee om rigting aan te dui en boodskappe vir mense te stuur. Noag het die teken gekry van die duif met die olyftakkie wat teruggekom het na die ark. Dit was ’n teken dat die vloed besig is om op te klaar. Boonop het die Here die teken van die reënboog gegee, waardeur Hy Sy genade belowe het.

Skets: Jan van ‘t Hoff

Moses het by die brandende braambos gekom en dit was die teken dat God regtig met Moses praat en hom roep om Sy volk uit Egipte te lei. Moses was nie heeltemal oortuig dat dit God is wat met hom praat nie. Die Here gee toe vir Moses drie wondertekens. Hy moes sy staf op die grond gooi. Met die gooi op die grond het dit in ’n slang verander.

Moses moes toe die slang aan die stert vang en dit het weer in ’n herderstaf verander. Daarna moes Moses sy hand by sy bors in die kleed insteek. Toe hy dit uithaal, was dit melaats. Moses moes wéér sy hand insteek by sy kleed en toe hy dit uithaal, was dit gesond. Die derde teken was dat hy water uit die Nyl skep en dit op die grond gooi. Dit het in bloed verander. So het God vir Moses oortuig deur tekens dat Hy hom werklik roep om Sy volk uit Egipte te red en na die beloofde land te lei.

 Die tien plae was tekens aan die Farao om God se volk te laat trek uit Egipte, maar telkens was Farao daaraan ongehoorsaam. In die woestyn was daar die kwartels, die manna, die wolkkolom, die vuurkolom, die water uit ’n rots en nog vele ander tekens van God se troue sorg.

Hiskia het ’n teken gevra dat God hom sal gesond maak. Toe het God die skaduwee tien trappe laat afsak teen die Trappe van Agas.

Met die roeping van Gideon as rigter (Rigters 6), het God ook van tekens gebruik gemaak om vir Gideon te oortuig van sy roeping.

Gideon het vir die Here gesê dat hy ’n skaapvelletjie buite gaan los in die nag. As die grond die volgende oggend droog is en net die skaapvelletjie is nat van die dou, dan sal hy weet die Here roep hom. Die volgende oggend was dit toe so. Maar toe wil Gideon ’n verdere teken hê. Hy vra dat die grond die volgende dag nat sal wees van die dou, maar dat die skaapvelletjie droog sal wees. Die Here het ook dié teken toegestaan. So het die Here vir Gideon oortuig van sy roeping as rigter. 

Die hele Ou Testament is vol van honderde tekens van God se besondere bemoeienis met sy volk Israel. Daarom gebruik die profete ook baie metafore (beelde) wat dien as tekens van die Here se oordeel en verlossing.

Die Nuwe Testament is ook nie anders nie. Daar staan dat Jesus Christus Homself openbaar het as die Seun van God deur wondertekens. Die opgevoude doeke in die graf was ’n teken van sy fisiese opstanding uit die dood. Die teken van die opgevoude doeke beteken dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, maar dat Jesus self die doeke opgevou het met Sy opstanding. Ook die apostels het wondertekens gedoen om die vroeë Christelike kerk te vestig.

Die Nuwe Testament praat ook van die tekens van die Wederkoms wat ons sal sien. Ons lees daar sal onder andere aardbewings, oorloë, afvalligheid en vele ander tekens wees wat die wederkoms voorspel.   

Historici Will en Ariel Durant skryf in hul bekende boek, The Lessons of History, wat in 1968 uitgegee is: “Gedurende die afgelope 3,421 jaar van aangetekende geskiedenis, het slegs 268 geen oorlog beleef nie” (bl. 81). “In ons moderne tyd is daar egter ’n verskil – slegs in die laaste 70 jaar of so beskik mense oor die tegnologie, deur chemiese, biologiese en kernwapens, om alle lewe op die planeet Aarde uit te wis. Wanneer u die beskrywings van die eindtydse oorloë in die boek Openbaring lees, besef u dat aan die einde van die tydvak, oorloë nie slegs streke raak nie; dit sluit die hele aardbol in.” (Richard F. Ames) Kyk maar net na die talle oorloë waarin die wêreld op hierdie oomblik verkeer. Dit kort net een mal man om ’n kernoorlog te begin. 

Die sakramente, die doop en die Nagmaal, is ook heilige tekens dat God by ons teenwoordig is en ons in die geloof wil versterk. Luther het in tye van aanvegtinge teruggedink aan sy doop, as teken dat God by hom is. Daarom het hy die duiwel met die inkpot gegooi.

Daarom openbaar God Homself gedurig deur tekens aan die mens. Wanneer jy vir ’n betrekking aansoek doen en jy kry dit nie, is dit ’n teken dat God se wil vir jou anders is. Wanneer jy wel die betrekking kry, kan jy weet dit is God se wil. Daarom, as jy vir ’n pos aansoek doen, vra jy as’t ware dat God vir jou die teken moet gee of dit Sy wil is. Wanneer mense ’n liefdesteleurstelling ervaar, is dit ’n teken dat God vir jou iemand beter in die vooruitsig bespreek het. Daarom werk God deur die alledaagse gebeurtenisse in ’n mens se lewe.

Ek onthou toe ons as gesin eenkeer van Bloemfontein teruggekeer het na Strydenburg, was ek oor baie dinge besorgd. Tien kilometer buite Strydenburg was die mooiste reënboog gespan oor die dorp en die kerk. Toe weet ek God is met ons.

Eenkeer in Adelaide se pastorie se studeerkamer was ek onder verskriklike aanvegtinge, oor wat God se wil vir my is. Ek kon die heelnag niks slaap nie. Hier teen vieruur die oggend tel ek die Apokriewe Ou Testament wat daar rondgelê het op en slaan sommer moedeloos by ’n plek oop. Presies op daardie plek, wat my oog vang, kry ek die volmaakte antwoord op my geloofsaanvegting. Dit het vir my so werklik gevoel, dat ek in die kamer gekyk het of ek nie die Here sien nie. Ek het toe rustig aan die slaap geraak.

Somtyds is ’n mens amper in ’n motorongeluk en dan beskerm God jou op ’n ongelooflike wyse. Dan dien dit as ’n teken van God se sorg en trou. Dikwels ervaar mense kontantvloeiprobleme wat hulle wakker laat lê. Dan word ’n mens verras hoe God elke dag die regte hoeveelheid kwartels en manna voorsien.

Die lewe is vol tekens van God se troue sorg. Dikwels ervaar kankerlyers en mense wat swaarkry, die Goddelike tekens baie spesifiek wat vir hulle moed gee op die pad vorentoe.

Martin Luther het  beleef en geskryf dat ’n mens God leer ken op vier maniere, naamlik deur die Woord, die gebed, meditasie en die ervaring van Sy tekens.

Martin Luther het in sy lewe ernstig met depressie geworstel. Hy het daarvan gepraat as die swart hond. Eendag toe hy ook geworstel het met depressie, onthou hy toe hy is mos gedoop. Hierdie teken van die doop het sy depressie gelig en hy het uitgegraveer op sy houttafel dat hy mos gedoop is.

Die Wesleyaanse vierhoek praat van die vier pilare waarop Goddelike openbaring rus, naamlik die Skrif, die tradisie, die rede en dan ook die ervaring.

Mense moet oor hulle ervarings van God praat. Ons kerk kan dikwels arm wees aan getuienisse. In baie ander kerke word daar geleenthede vir lidmate gegee om te getuig van hulle ervarings met die Here en hoe die Here in tekens met hulle gepraat het. Ons moet nie skaam wees om oor ons ervarings met die Here te praat nie. Deel jou ervarings van God met ander. Daardeur bemoedig jy hulle in die geloof.

Mag ons ook vertellers wees van ons ervarings met God en van die wonderlike tekens wat God ook in die afgelope jare vir ons gegee het van Sy troue sorg en liefdevolle bemoeienis met ons.

Kyk rondom jou. Elke dag sal jy ervaar hoe die Here met jou praat deur persoonlike ervarings en met tekens. Beleef dit as ’n persoonlike verhouding met die Here.                                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Moenie kerk-kerk speel nie

SKRIFLESING: Luk 7: 29 – 35

Ons word grootgemaak om nie ander mense aanstoot te gee nie.

Selfs al is jy reg en die ander een verkeerd, hou jy liewer jou mond … want ’n mens wil mos nie aanstoot gee nie. As iemand vloek, bly ons stil. As iemand sondig, help ons hom of haar nie reg nie. Ons “kliek” ook net met die mense wat in die openbaar by ons status pas. Ons wil niemand kwets nie. Ons wil nie hê mense moet sleg van ons praat nie. Ons volg die pad van die minste weerstand.

Ons sê niks of doen niks wat dalk vir ’n ander een beledigend is nie. Eintlik speel ons dan kerk-kerk. Juis daarom het ons ’n stilswyende kerk geword. ’n Niksdoenende kerk, want ons wil nie in die wêreld daarbuite aanstoot gee nie.

Ons tugtig ook nie meer mense in die kerk nie, want netnou neem hulle ons hof toe.

Jesus was anders. Hy het gesê wat Hy wil. Hy het gedoen wat Hy wil. Hy het gemeng met mense met wie Hy wil. Hy het Hom geensins gesteur aan die openbare opinie van mense nie. Op hierdie Sondagoggend wil die Here ons oproep om op te hou om te probeer om altyd gewild te wees of in tel te wees of om by almal aanvaarbaar te wees. Jy moet eerder guns vind in die oë van God as guns in die oë van mense.

Dan vergelyk Jesus Christus homself met Johannes die Doper. Hulle albei het dieselfde Evangelie gebring. Maar met al twee het die Fariseërs en wetgeleerdes fout gevind. Daarom is dié gedeelte in die Skrif gerig op die Fariseërs en wetgeleerdes, wat nie soos die tollenaars tot bekering gekom het nie.

Johannes die Doper was die eksentrieke profeet wat snaaks aangetrek en vreemd geëet het en in die woestyn gebly het. Hy het klere gedra wat van kameelhare gemaak is met ’n leergordel om sy heupe. Hy het van sprinkane en veldheuning geleef. God het vir Johannes die Doper gestuur om ’n treurliedjie te sing, sodat die mense van sy tyd moes huil oor hul huigel-godsdiens. Daarom was die tema van Johannes die Doper se preke altyd: “Bekeer julle, skeur julle klere, want die Koninkryk van God het naby gekom!”

Johannes die Doper se preke het as voorbereiding vir die Here Jesus se koms gedien. Johannes die Doper wou hê dat mense hulle sonde moes raaksien en daaroor berou moes hê sodat hulle die nodigheid van ’n Verlosser kon insien. Daarom wil die Here hê ons moet treur en huil as ons ons eie sonde en die sonde van die wêreld raaksien. Die kern van Johannes die Doper se godsdiens was dus dat die mens moet huil oor sy sonde.

Die Here Jesus het egter die lag-en-bly-wees kant van die Evangelie gebring. Hy het vir my sondes gesterf en daarom kan ek bly wees. Die Here Jesus het mos gesê: “Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is.” Hy het gesê dat Hy die lewende water en die brood van die lewe is.

Johannes die Doper het die huil-kant van die Evangelie gebring en Jesus Christus het die bly-kant van die Evangelie gebring. Tog was die mense met altwee se preke ongelukkig.

Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: “Hy is van die duiwel besete.” Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink en julle sê: “Kyk daar, ’n vraat en wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.”

Ware verkondigers van die Woord beland altyd in die diep water. Johannes die Doper se kop is afgekap. Jesus Christus is aan ’n kruis dood gespyker. Petrus is onderstebo gekruisig. Stefanus is gestenig, die vroeë Christene is vir leeus gegooi of met pik besmeer en aan die brand gesteek. Die kerkhervormers het al singende op brandstapels gesterf. Johan Heyns, die groot profeet van die NG Kerk, is doodgeskiet voor sy eie vrou en kleinkinders.

Ons kan dankbaar wees dat die Here Jesus nie die plaaslike predikant of die moderator van die kerk is nie. Hy sou uiters ongewild gewees het. Ons sou Hom ook uitgedryf het uit ons dorpie of uit ons kerk, soos die mense van Nasaret met Jesus gemaak het. Want sien, Jesus draai nie doekies om nie. Hy praat die waarheid, maak nie saak wat die openbare opinie is nie. Jesus was nie skaam om aanstoot te gee nie.

Die ware Jesus Christus was geen romantiese, gewilde of hoogs aanvaarbare Persoon nie. Nee, Hy het die mense die hel in gemaak. Hy het tafels omgegooi by die basaar en mense sonder skroom skynheilig of witgepleisterde grafte genoem op die trappe van die sinagoge.

Daarom sê die Here dat die mense maak soos die kinders op die markplein. Sommige is vrolik en speel op die fluit. Dit verwys na Jesus Christus se vrolike omgang met sondige mense. Hy het saam met hulle geëet en gedrink en hulle Sy vriende gemaak. Maar die kinders het nie gedans nie; die mense in die tyd van Jesus was daaroor ongelukkig en daarom het hulle hom skelwoorde toegesnou.

Die kinders wat weer ’n treurlied gesing het, verwys na die bekeer-boodskap van Johannes die Doper. Maar daaroor was die mense ook nie tevrede nie. Daarom staan daar: “Julle (die kinders) het nie gehuil nie”.

Die mense wil nie lag nie, hulle wil nie huil nie, hulle is met alles in die Evangelie ontevrede.

Ons neem so gou aanstoot oor ’n preek of oor ’n gebeurtenis in my lewe, dat ons so maklik ons nie steur aan Sy waarskuwings nie. Ons herken nie Sy hand in ons lewe nie. Ons verstaan nie Sy stem as Hy met ons praat nie.

Ons is soos kinders wat dink die Evangelie is ’n spel. As die spel, die Evangelie, nie volgens my reëls is nie, dan ruk ek my op en speel nie saam nie. Dit het deur die eeue die kerk ligsinnig en oppervlakkig gemaak.

Ons lewe word maklik in beslag geneem deur beuselagtigheid, deur minder belangrike dinge. Ons is soos kinders wat nog stry oor of ampsdrag nog nodig is, wie aan die Nagmaalstafel mag aansit, wie welkom in ons eredienste is, hoeveel liedere gesing moet word en hoe lank die erediens moet wees, ensovoorts.

Maar die wesenlike, die verspreiding van die liefde en barmhartigheid van God na ’n stukkende verlore-gaande wêreld gaan by ons verby.

Dirkie Smit sê: “God openbaar God self deur die eenvoudige, verborge gedaante van die Woord wat ons lees, deur die verkondiging van die eenvoudige, deur nie-indrukwekkende predikers waarna ons luister, mensies uit die stof, noem Calvyn hulle. God openbaar Hom deur ouderlinge en diakens wat ons besoek, mense wat ons so goed ken, deur die getuienisse van gewone mede-Christene in die skole, by die huis, by die werk, deur die tekens van brood en wyn wat ons eet en drink, deur die naaste in nood wat op ons lewenspad verskyn, en ons harte aangryp … Meer hoef ons nie te verwag nie. Meer gaan ons nie ontvang nie. So roep God ons om Sy kerk in die wêreld te wees. So werk Sy Evangelie. So kom Sy ryk.

Kom ons hou op om ons te steur aan die openbare mening van mense. Daar sal altyd dié wees wat mor en kla en soos die kinders in Lukas 7 sal maak. Daar sal altyd die wees wat kerk-kerk wil speel.

Kom ons verlang eerder om God se volle waarheid onvervals te verkondig en uit te leef. Getuig van die Here, leef vir die Here … al beteken dit dat jy vir sommige mense aanstoot gee. Verlang u om gewild by God of gewild by mense te wees? Waarna verlang u?        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Klaagliedere moet dankliedere word

SKRIFLESING: Kol 2: 6 – 7 en Kol 3: 15 – 17

Ons lees in die Bybel uit die boek Klaagliedere.

Om Klaagliedere te sing is goed. Jy kan die slegte goed in woorde omsit en dit uit jou gestel kry. Klaagliedere gee vir jou ’n klankbord dat jou pyn gehoor word. Sielkundiges moedig mense aan om oor die slegte goed in hulle lewe te praat, sodat daar genesing kan kom. Dit is ook goed vir ’n volk of nasie om in rou te gaan wanneer ’n nasionale ramp hulle tref. Klaagliedere is goed vir ontlading van ’n klomp negatiewe emosies.

Maar ’n mens moet nie vashaak by Klaagliedere nie. Klaagliedere moet groei en dankliedere word.

Ek wil graag die historiese verhaal vertel van Ds. Martin Rinkart wat gebore is op 23 April 1586, te Eilenburg en oorlede is op 8 Desember 1649, te Eilenburg.

Hy was ’n Duits-Lutherse predikant, maar ook ’n begaafde musikant. In 1617, op die ouderdom van 31 jaar, het Rinkart die predikant geword van sy geboortedorp Eilenburg. Met sy bevestiging as nuwe predikant het die Dertigjarige Oorlog uitgebreek. Tydens sy volle bedieningstyd in Eilenburg was die stad deel van die oorlogsone. Die soldate het gereeld die stad geplunder vir kos. Daar was ’n konstante invloei van vlugtelinge na die stad. Daarom was daar armoede, broodsgebrek en hongersnood in die stad. Mense het oor kos baklei. In die moeilike tyd het Ds. Rinkart by sy kudde gestaan en as predikant die Woord bedien en gehelp waar hy kon, selfs ten spyte van homself.

Asof dít nog nie erg genoeg was nie, het daar in 1637 ’n plaag in die stad en land uitgebreek. Hierdie plaag het 8 000 van die stad se inwoners gedood, asook meer as die helfte van die stadsraad. Sy een kollega het ook gesterf en die ander een het weggetrek.  Toe moes hy die werk van drie predikante doen. Hy het 40 tot 50 mense per dag begrawe. In totaal het hy daardie jaar 4 480 mense begrawe. Later het hy massa-begrafnisse gehou. Sy eie vrou het ook as gevolg van die pes gesterf. Hy het gesukkel om vir sy kinders kos op die tafel te sit, as gevolg van die hongersnood en die plundertogte van die soldate.

Boonop het die Sweedse weermag ’n geweldige hoë belasting op die stad Eilenburg geplaas, wat hulle nooit sou kon betaal nie. Van al sy versoeke het niks gekom nie. Hy het toe die stad Eilenburg tot gebed opgeroep. Later het hy voor die Sweedse generaals gekniel en hulle gevra om hul belasting te verlig. God het hulle gebed verhoor en die Sweedse generaals het hulle belasting drasties minder gemaak.

Dwarsdeur die Dertigjarige Oorlog en die groot pes, het hy getrou sy kudde versorg en geestelik bedien. ’n Mens sou ’n klaaglied oor die stad en gemeente van Eilenburg wou skryf. Soveel ellende vra ’n klaaglied.

Maar dan skryf Ds Martin Rinkart in 1636 die beroemde gesang: “ Nun danket alle Gott”. In Afrikaans natuurlik die bekende gesang: “Kom dank nou almal God”.

 1. Kom dank nou almal God              

   met hart en mond en hande;          

   loof hom wat wonders doen           

   tot in die verste lande.            

   van vroeg van kindsbeen af,         

   het hy ons trou bewaar              

   en tot vandag toe nog               

   geseën en gespaar.                  

2. O God so ryk en goed,               

   gee ons solank ons lewe             

   altyd ’n blye hart;                 

   as dit u wil is: vrede.             

   Laat u genade ons                   

   beveilig teen gevaar,               

   in donker ure ons                   

   van struikeling bewaar.             

3. Lof, eer sing ons voor God,         

   die bron van alle lewe –            

   die Vader, Seun en Gees,            

   almagtig en verhewe.                

   Drie-enige God, ons roem            

   U krag en majesteit.                

   o Heer, ons wil u noem:             

   ons God in ewigheid !    

Ds. Martin Rinkart het alle rede gehad om net Klaagliedere te skryf, maar ten spyte van al die teenkantinge en aanvegtinge, verkies hy om die goeie te soek om voor dankbaar te wees.

Onmiddellik roep dit die woorde van Fil 4: 4 – 7 op: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!  Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” 

Paulus sit in die tronk, nogtans sing hy lofliedere. Hy roep sy medegelowiges op tot blydskap. Die beste teenvoeter vir ’n negatiewe omgewing, is om iets te soek om voor dankbaar te wees en daaroor lofliedere te sing.

Ek was 100 dae binne die Covid-pandemie vir ’n erediens by Huis Corrie Dreyer. Die bejaardes het meer as 100 dae laas ’n erediens gehad, as gevolg van die inperking. Hulle verlang toe nie net na die Woord nie. Hulle wil ook sing, lofliedere sing. Maar hulle mag nie. Tannie Jenny Fourie moedig my toe aan om musiek op die rekenaar te speel. Tannie Lina Swanepoel en die verpleegsuster het vir hulle gesing, terwyl Tannie Rita van Vuuren die klavier speel. Almal kon toe luister na die lofsange.  Lofsange tel die gees op.

Ja, ons moet klaagliedere sing. Maar ons klaagliedere moet oorgaan in lofliedere – ook wanneer ons in die middel van ’n krisis is.

Daar is ’n Halleluja-lied “Tel jou seëninge, tel hul een vir een”. As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

’n Blymoedige en dankbare mens het baie vriende en skep energie. Maar ’n pessimistiese en ondankbare mens tap ander se energie.

Die Heidelbergse Kategismus bestaan uit drie dele naamlik:

  • Hoe groot my SONDE is.
  • Hoe ek van my sonde VERLOS word.
  • Hoe ek DANKBAARHEID moet bewys vir my verlossing.

DANKBAARHEID vorm dan ook die grootste deel van die Kategismus.

Kol 2: 6 – 7 lees: “Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid”. Paulus gebruik hier die beeld van die boom wat gewortel is in Christus. Die boom is die gelowige wat sy / haar voedingstowwe in Christus vind en wat dan blare en vrugte van dankbaarheid dra.

Kol 3: 15 – 17 lees as volg: “Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.”

Ons moet elke dag iets soek om voor dankbaar te wees. Ons moet vir ons lysies op papier of in ons kop saamstel van die dinge wat ons dankbaar maak. Dit kan sekere mense in jou lewe wees wat jou dankbaar maak, soos jou ouers of kinders of ’n vriend of ’n rolmodel. Jy kan dankbaar wees dat God jou in ’n tyd toe jy gely het, gehelp het en die gebed van jou hart verhoor het. Jy kan dankbaar wees vir jou aardse besittings, of die geleenthede in jou lewe wat op sukses uitgeloop het. Jy kan dankbaar wees vir jou gesondheid, as jy hoor van ander mense se siekte. ’n Mens moet net een maal in ’n hospitaalbed lê en jy sal skielik dankbaar wees vir jou gesondheid.  Jy kan dankbaar wees vir God se voorsiening op jou lewenspad. ’n Bemoedigende woord, ’n WhatsApp, ’n kaartjie of ’n presentjie kan jou tot dankbaarheid dring.

Dit kan makliker gebeur dat ’n armer mens meer dankbaar is as ’n suksesvolle en ryk mens. Die suksesvolle mens kan maklik die krediet vir homself gee en sê hy het daarvoor gewerk en God nie in die prentjie raaksien nie.

John Ortberg skryf pragtig: “Meer dankbaarheid sal nie uit meer dinge in die lewe  kom nie, maar uit meer bewustheid van God se teenwoordigheid en God se goedheid.”

Dankbaarheid maak jou altyd nederig. Dit is een van die opregte eienskappe van dankbaarheid: dit dring jou tot nederigheid, want jy verdien dit nie.

Ondankbare mense beskou seëninge as regte en skree daarom ook vir menseregte. Hulle beskou kos, klere, geld, geleerdheid, en posisies in die samelewing as ’n reg. Eintlik is hulle diep ongelukkige mense, want hulle sien nie die seëninge in die lewe raak nie. “Waarom toon mense wat steeds meer en meer kry, al hoe minder dankbaarheid? Hoe groter ons gevoel van geregtigheid, hoe kleiner ons gevoel van dankbaarheid.” (John Ortberg)

Die Bybel se woord vir ondankbaarheid is “murmureer” of om “brommerig” te wees. Die Ou Testament is vol daarvan. Toe Moses die volk uit Egipteland gelei het, het hulle gedurig gemurmureer dat dit beter in Egipte was. Hulle het oor alles gekla en arme Moses skoon moedeloos gehad.

Jesus het egter vir ons die voorbeeld gestel van ware dankbaarheid, ten spyte daarvan dat Hy niks gehad het nie. 

My persoonlike ervaring, soos ek ouer word, is dat ek meer dankbaar vir my lewe is as toe ek jonk was. Ek besef nou eers hoe God vir my en my gesin gesorg het en vir my ’n erfdeel afgemeet het, wat genoeg vir my is. Dit is ’n wonderlike berusting.

Wees dankbaar. Tel jou seëninge en jy sal gelukkig wees.

Leer om in eenvoud en in vreugde te lewe. Ons grootste skat is nie wat ons besit nie, maar wat in ons is, naamlik die geloof in Jesus Christus ons Here. Niks en niemand kan ons hiervan beroof nie. Daarom sê die Heidelbergse Kategismis dan ook by Vraag 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?”

Dan antwoord die Kategismus: “Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien …”

Dankbaarheid genees ons gekneusde gemoed en gees, ook in krisistye. Klaagliedere word dan dankliedere. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)