SKRIFLESING: Joh. 18: 1 – 11
Ons leef in ’n wêreld van superhelde.

Kinders het hulle eie helde soos Tarzan, Superman, Spider-Man, Wonder Woman, Iron Man, Batman, Rambo, Karate-kid en Popeye wat spinasie eet om hom sterk te maak.
Ons leef in ’n “sterk wêreld”, waar daar nie plek is vir swakheid nie. In ons wêreld is daar nie plek vir sagmoedige Neelsies nie. Nee, op sagmoedige Neelsies word getrap, want hulle kan nie hulle man staan nie.
“Nice guys come second” in die politiek, in die sakewêreld en sommer oral oor. Mussolini het een maal gesê: “As ek kon kies: eerder een dag ’n leeu as ’n duisend jaar ’n lam.” Daarom is die Evangelie nie baie gewild op die ander ses dae van die week nie, want Nietzsche het gesê die Evangelie maak ’n mens nie sterk nie, eerder swak.
Hierdie wêreld is egter bekend vir sy magsvertoon, sy parades, sy politieke toesprake, vertoon van tegnologie en wapentuig, sy prestasies en rykdom. Tans is die wêreld in ’n staat van oorlog.

Daar is die oorlog tussen Rusland en die Oekraine, wat alreeds meer as twee jaar woed. Daar is die oorlog tussen Israel en Hamas, wat die hele Gaza-streek vernietig. Noord-Korea bedreig Suid-Korea met missiele wat afgevuur word oor die see. Die afgelope week het Isis vir Moskou aangeval. Ekstremistiese groepe teiken die skeepvaart in die Rooi See. Almal is bang die oorloë eskaleer in ’n groter oorlog.
TS Eliot het nie verniet gesê: “Die meeste probleme in die wêreld word veroorsaak deur mense wat belangrik wil wees.”
Daarom wil die Romeinse soldate en die Jode in Joh. 18 met magsvertoon en krag die Koninkryk van God stuit. Daarom kom hulle met ’n hele afdeling soldate, gewapen met stokke, spiese en swaarde.
Agter die hele episode sit natuurlik die Fariseërs en die Sadduseërs wat die meesterbrein agter alles is. Hulle kon niks teen hom vind nie, nou speel hulle vuil en misbruik hulle hul mag. As jy nie slim is nie, moet jy sterk wees. Dan lees ons van die verraad. Die wolf in skaapklere is niemand anders as Judas Iskariot nie. Met geld kan jy enigiets regkry.
Die groot gevaar is egter as die kerk ook deur krag en magsvertoon sy saak wil bevorder.
Dit is dan inderdaad wat Petrus doen, hy pluk sy swaard uit en kap Malgus se oor af. ’n Mens wil as’t ware vir Petrus gelukwens, vir hom ’n medalje gee vir sy flinke optrede. Petrus is ’n ware ridder.
In die Middeleeue het die kerk ook onder Konstantyn verskeie kruistogte met die swaard uitgevoer, om die wêreld vir Christus te wen. Dit het egter tragiese gevolge vir die kerk gehad. Dit was ’n donker tyd in die kerk se geskiedenis. Maar wat sê Jesus vir Petrus? “Sit die swaard in sy skede terug. Moet ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?” Inderdaad verander die Here die swaard in ’n kruis.

Daar is grafiese ooreenkomste tussen ’n swaard en ’n kruis. Hulle lyk amper dieselfde, maar daar is tog ’n reuse-verskil. Die swaard vernietig en die kruis genees.
Toe Petrus se swaard weg is, word hy bang. Hy hardloop weg en verloën die Here. Toe hy nie meer met die swaard kon regeer nie, val sy bravade weg. Eers later sou Petrus leer dat selfverloëning, diensbaarheid en die kruis die weg van God in hierdie wêreld is.
Eindelik, baie jare later sou Petrus aan ’n kruis sterf vir sy geloof. Hy het daarop aangedring om onderstebo gekruisig te word, kop onder en voete bo. Hy het homself nie waardig geag om op dieselfde wyse as die Here te sterf nie.
Nie deur ‘n swaard-Evangelie nie, maar deur ’n Kruis-Evangelie verander die Here dié wêreld.
In Romeine 13 het die Here vir die staat die swaardmag gegee om te heers met die swaard. Maar die kerk het ’n ander styl, die kerk moet nie deur die swaard en deur mag heers nie, maar met die kruis dien.
As Christen moet ek in my huwelik, in my gesin, in my werksplek, en in die samelewing met die kruis dien en nie met die swaard probeer regeer nie. Die swaard staan vir magsmisbruik, maar die kruis staan vir gedienstigheid. Die huwelik, gesin, werksplek en samelewing moet nie deur mag beheer word nie. Nee, ons moet mekaar in die huwelik, gesin, kerk en samelewing dien.
In Fil. 2: 3 staan daar: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”
Juis so kom die verandering in die wêreld. Juis so konfronteer God die werklikheid van die kwaad.
Teenoor die grootdoenerigheid van die wêreld – ’n kruis.
Teenoor die mag en geweld van hierdie wêreld – ’n kruis.
Teenoor die skynbaar onkeerbare triomf van die bose – ’n kruis.
Ons het iets meer aanskoulik verwag, ’n goue swaard, maar vind ’n bloederige houtkruis.

Op Palmsondag kom Jesus Jerusalem ingery op ’n donkie. Die skares gooi palmtakke en klere voor Hom uit. Hulle was onder die indruk Hy kom met die swaard die Romeine verslaan, sodat die Jode vry kon wees. Hulle het Hom as ’n politieke en militêre bevryder aangesien. In die groot Lydensweek, sou Jesus hulle egter teleurstel. Daarom het hulle ook op Goeie Vrydag geskree: “Kruisig Hom, kruisig Hom.” Hy kom wys dat hy nie politieke bevryding bring nie, maar die bevryding van sonde. Hy regeer nie met ’n swaard nie, maar met ’n kruis.
God kom die geskiedenis van die wêreld nie ingery as ’n ridder op ’n perd met ’n swaard om te regeer nie. God kom die geskiedenis van die wêreld ingery as ’n Nederige op ’n donkie op Palmsondag en Hy dien met ’n kruis. Daardeur het die wêreld verander!

Die kruis het ’n keerpunt geword in die jaartelling, naamlik voor Christus en na Christus. Die kruis het ’n kruispunt geword in mense se lewens. Die kruis sny dieper as wat enige swaard ooit kan sny. Dit sny die kanker van sonde weg.
Die swaard kloof oop, maak seer en bring vyandskap.
Die kruis genees en bring heling en versoening.
Ons mense is lief om die swaard uit te haal en mekaar by te kom. Dit bring vervreemding van mekaar en die kanker van haat versprei.
Daarom is die styl van die kerk nie die swaard nie, maar die kruis. Wat hanteer u en ek elke dag, die swaard of die kruis? Wat is u en my styl? Die swaard of die kruis?
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
