Littekens kan van jou ‘n “wounded healer” maak


SKRIFLESING: Joh 20:  19 – 23

Elkeen van ons het littekens. 

Dit kan fisiese littekens wees, soos grys hare wat van ouderdom getuig, of ’n af-vinger wat getuig van ’n vinger wat in die slag gebly het op ’n bandsaag.  Dit kan bysiendheid of ’n geringe graad van doofheid wees.  Dalk ’n merk wat ’n boorpunt of ’n hamerhou ons toegedien het.

Daar is ook die sielkundige littekens soos ’n stuk seerkry vroeër in my lewe wat ek nog glad nie verwerk het nie.  Dalk ’n swak selfbeeld, of angstigheid of depressie of net ’n bang gevoel in my lewe.  Daar is dalk ’n oordrewe skuldgevoel in my lewe teenwoordig. Dit kan my “inner child” wees wat seergekry het in my kinderjare.

Daar is ook die emosionele littekens soos die van iemand wat ’n ouer of kind aan die dood afgestaan het.  Toe my ouer of my kind gesterf het, het iets ook hier binne my doodgegaan. Almal het littekens.

Ja, die tydskrifte en die televisie bedrieg ons as net die mooiste meisies en die sterkste ouens in advertensies verskyn.  Dit lyk of die TV-modelle ook net die mooiste en rykste is.  Vir baie jare het ons in die kerk ook ’n Evangelie van littekenloses verkondig.  Ons het geleef asof Jesus slegs die vleklose, die goeie en suksesvolle mense aanneem.  Ordentlike,  fatsoenlike en op hul-plek-mense was die verkorenes.  Sulke Christene hoort op die glansblaaie van die tydskrifte.

Op die dowwe bladsye van die Bybel lees ek egter van ’n Jesus wat hom vereenselwig met die armes, die melaatses, die straatvrouens, die dronkies, die dwelmslawe, die straatkinders, die tronkvoëls, die hongeres, die dakloses, die vissers, die oneerlike tollenaars, die huilendes en die versteurdes.

Ja, Jesus het Hom vereenselwig met die littekens van die:

* Arme …  litteken van verslete klere

* Melaatses … litteken van hande en vingers wat soos kloue staan

*Straatvrouens … litteken van om opgebruik te wees

*Hongeres … litteken van hol oë

*Dakloses … litteken van mense wat kartondose wat hul saamsleep

*Tollenaars … litteken van skuldgevoelens.

Jesus Christus lees ’n mens nie raak op die glansbladsye van die tydskrifte nie, maar op die dowwe bladsye van die Bybel.

Jesus sal nie poseer tussen glanssterre nie, maar tussen hulle wat merktekens dra.

Toe die Here Jesus aan die dissipels verskyn daardie Sondagaand was hulle verskrik en bang bymekaar, en die deure was gesluit. Nie glanssterre nie, maar ’n klomp verskriktes, vol littekens. Sommiges het geslaap toe hulle moes waghou, sommiges het weggehardloop toe hulle moes getuig, een het die Here blatant verloën, daar was selfs ’n twyfelaar of meer onder hulle.

Dan verskyn die Here aan hulle. Hy het deur die deur beweeg, amper soos ’n spook. Maar Hy was nie ’n spook nie, hulle kon aan hom vat.

Twee keer het Hy vir hulle gesê: “Vrede vir julle”. Johannes probeer deur die dubbele seëngroet vir ons aantoon dat dit meer was as maar net ’n groet. Eintlik het die seëngroet die begin van die nuwe lewe ingelei. Jesus gee aan hulle Sy werklik volkome vrede.

Dan blaas die Here oor hierdie bang, verwarde, glanslose dissipels en vroue sy asem en sê: “Ontvang die Heilige Gees”.

Aan mense vol littekens, gee God sy Heilige Gees. God se Gees is nie alleen vir die volmaaktes, die vlekloses, die geloofsreuse en die suksesvolle kerke nie. God se Gees is nie vir die “Hoera-mense” nie. Nee, dit is vir hulle wat gemerk is met littekens, die onvolmaaktes.

God blaas sy Gees oor die dissipels soos wat God in die begin sy asem oor die eerste mensepaar geblaas het. Jesus gee aan hulle ’n tweede lewe. Hulle het die Heilige Gees, asem, lewe, krag en energie ontvang. Dit “empower” ons. Dit gee aan mense vol littekens krag vir vandag en vir môre. Dit laat ons dinge doen wat ons andersins nooit sou doen nie.

Agt dae later sou Jesus Christus, die Vleklose Lam van God, Sy littekens aan die ongelowige Thomas wys. Die vleklose Lam van God het littekens opgedoen deur ons sondes. Daardeur het hy die Joodse wetboek kom nietig verklaar. In die Joodse offersisteem kon diere met gebreke nie geoffer word nie. “Geen littekens” het die reëlboekie gesê! Geen lelikheid nie! En hier strek Jesus Sy hande en voete uit. God openbaar Homself met littekens. Hy kom identifiseer Homself met ons littekens.

Maar daarmee saam kom ook die opdrag aan die kerk, dat die kerk die Evangelie van “Hom met die Littekens” aan die wêreld wat vol  littekens is, moet verkondig. Dit is ’n Evangelie wat empatie, deernis en toewyding verg.

Eers moet ek self as gevolg van my littekens ly, voor ek hoop kan bring aan ander met littekens. Vandag is daar baie mense wat liggaamlik of geestelik gelitteken is vanweë ’n trauma. Van hulle beman sopkombuise en is vrywilligers in die hospitaal se terminaalafdeling en probeer straatkinders onder dak kry.

Riana Raab skryf in Psychology Today die volgende: “Gewonde genesers is mense wie se pynlike ervarings hulle in staat stel om ander te help. Gewonde genesers is goeie luisteraars, empaties, aanvaardend en vindingryk. Hulle beskou alle ervarings as geleenthede. Gewonde genesers kan binne of buite die helpende beroepe wees.”

“Wounded healer” is ’n term wat deur sielkundige Carl Jung geskep is. Die gedagte is verleen aan die veronderstelling dat pasiënte die beste behandel kan word as die helper self “gewond” is. Die idee het moontlik ’n  Griekse mitologiese oorsprong. Victor et al. (2022) het bevind dat 82% van Toegepaste Sielkunde gegradueerde studente en fakulteitslede in die Verenigde State en Kanada op een of ander stadium in hul lewens  geestesgesondheidsprobleme ervaar het. Dit maak dat hulle baie beter empaties na mense kan luister.

Henri Nouwen het ’n aangrypende boek geskryf: “The wounded healer”, waar hy juis getuig oor sy eie gewondheid en hoedat hy vreugde vind om met mense te werk wat gewond is in die lewe. Nouwen skryf onder andere: “In our own woundedness, we can become a source of life for others.”

 Mense met littekens het begrip vir ander mense wat swaarkry of wat stukkend is. Jesus wil vir ons met littekens Sy “wounded healers” maak.  Ja, as “gewonde genesers” moet ons gewondes, wat langs die pad seergekry het, die wonde van ander versorg en genees.

Littekens kan ’n mens òf versag òf verhard. Littekens kan ’n mens òf met innerlike vrede dra, òf ’n mens kan verbitterd word. Dit hang af of ’n mens dit bring na die Gekruisigde Jesus? Dit maak al die verskil.

Toe Jesus daardie Sondagaand aan die dissipels met sy littekens verskyn het, het Hy waardigheid aan ons littekens gegee.

Met elke Nagmaal herdenk ons die tekens, die littekens van Sy sterwe, naamlik die brood en wyn. God blaas oor ons elkeen opnuut Sy Gees, gee ons die lewe en moedig ons aan om die Evangelie van Hom met die littekens aan ’n stukkende wêreld te verkondig.

Is u bereid om ’n “wounded healer”, ’n “gewonde geneser” te wees vir die seerkry-mense op u pad?  Dit is ’n geneesmiddel vir jou eie pyn en seer. Dit is in elk geval beter as om jouself te bejammer.

Daarom kan jou innerlike seerkry sin gee aan jou lewe, deurdat jy ander mense verstaan en hulle kan help.

So kan ons die Minus (-) in ons lewens deurkruis met die kruis van Christus om ’n Plus (+) te word.

So kry ons littekens (ons pyn en seerkry) betekenis. Dit word die moeite werd om met jou littekens saam te leef.  

Ons lyding gee sin aan ons eie bestaan.

Amen.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Lewer kommentaar