SKRIFLESING: Luk 15: 1- 10
Daar was ’n diep gelowige Katolieke Christenvrou wie se seun in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het. Die weermag het die seun se lyk na sy moeder teruggestuur om begrawe te word. Die seun was egter ’n jongman wat alreeds voor die oorlog ’n Protestant geword het.

Die Katolieke het nie toegelaat dat Protestante in hulle kerkhowe begrawe word nie. Die moeder het egter probeer en na haar priester gegaan en gevra of haar seun in die begraafplaas begrawe mag word. Die priester was in ’n dilemma, want die kerkwet sê dat geen Protestant in hulle kerkhof begrawe mag word nie. Hy moes na die moeder gaan en vir haar sê hy is jammer, maar hy kan nie aan haar versoek voldoen nie. Die priester was baie ontroerd deur haar teleurstelling en het dié nag sleg geslaap en baie gedink. Die volgende oggend het hy ’n plan. Hy sê vir die moeder: “Begrawe jou seun net aan die buitekant van die begraafplaas se muur”. Sy sê toe: Maar ek wil hom nie buitekant die begraafplaas se muur begrawe nie, ek wil hom binnekant begrawe.” Die priester sê toe vir haar : “Vertrou vir my”. So het die vrou toe haar seun net buite langs die begraafplaas se muur begrawe. ’n Week later is sy verbaas toe haar seun se graf aan die binnekant van die begraafplaas is, want sien, die priester het die muur herbou om ook die graf in te sluit. Vervolgens sê die priester: “Die kerkwet sê dat die seun nie in die kerkhof begrawe mag word nie, maar daar is geen wet wat verbied dat die kerkhof se grense verlê mag word nie”. Omdat die priester vir die vrou omgegee het, en vir haar jammer was, het hy ’n plan beraam.
God maak ook so! Sy liefde maak dat Hy die wêreld sal omkeer om ons te red. Hy het inderdaad aan die kruis ook die wêreld omgekeer om ons te red. God se liefde is grensverskuiwend!
God is soos die Herder wat sy 99 skape los om die een te soek wat verlore is. God is soos die vrou wat haar huis omkeer om een verlore penning te soek.
Daarom die tema vanoggend: Om grense te verskuif….
Ons gaan kyk na die gelykenisse van die verlore skaap en die verlore penning. Kom ons kyk eerstens na dié van die verlore skaap. Jesus vertel die gelykenis juis na aanleiding van die Fariseërs se lelike opmerking omdat Jesus saam met sondaars eet. Deur hierdie gelykenis wil Hy aantoon dat God se genade en barmhartigheid geen grense het nie. God se genade is nie beperk tot die 99, die vroom groepie, die beter klas nie. Nee, God gaan na die verlorenes.
Jesus Christus het grense verlê om ook die nie-Jood, die prostituut, die dief, die sondaar in te sluit. Wat wonderlik is, is dat dit nie die skaap is wat die herder soek nie, maar dat dit die herder is wat die verlore skaap soek. Dit is nie mense wat God soek nie. God soek mense! En hierdie sekerheid van ons heil is die onvervangbare basis van ’n gesonde Skrifbeskouing – daarsonder is dit bloot ’n vertoning van goeie werke.

Maar is dit nie dom van die herder om 99 skape te los en net een verlorene te gaan soek nie? Nee, dit is juis die sekuriteit vir die nege-en-negentig. As God soveel vir die enkeling omgee, sal God ook vir my kom soek of vir enige een van die 99 wat dalk verlore sal raak.
Juis daarom kan ons die vreugde verstaan as die enkeling, die enkele skaap, gevind word. In Palestina was al die eiendom die besit van die hele familie. Die verlies van een skaap is die verlies van die hele groep. Juis daarom moet God se vreugde oor die redding van ’n verlorene ook ons vreugde word.
Is dit nie vir u aandoenlik dat God bekommerd is, besorgd is, jammer is, bewoë is oor die enkeling nie – ook oor jou. Juis daarom verstaan ons God se vreugde in die vind van ’n verlorene.

Dit bring ons by die tweede soort vreugde, naamlik die vind van die verlore penning. Wanneer die vrou na die penning verwys wat sy gevind het, beskryf sy nie die verlore toestand van die penning nie. Sy sê: “Die penning wat ek verloor het”. Sy laat die klem val op haar eie skade en verlies. Wanneer die vrou die penning soek, soek sy die penning nie omdat sy vir die penning jammer is nie, maar omdat sy vir haarself jammer is. Sy het iets kosbaars verloor.

Onmiddellik moet ons die doel van die penning verduidelik. Wanneer ’n vrou in die antieke tyd getrou het, het sy ’n bruidskat van haar man ontvang. Dit was in die vorm van ’n juweelstuk wat sy aan haar voorkop gedra het. Die juweelstuk het verskeie pennings ingehad, afhangende van hoe ryk die man was. As een penning wegraak en uitval, is die juweelstuk onvolledig. As die vrou dan die bruidskat sou dra, sal almal vra: “Mevrou, ek sien jou bruidskat is onvolledig. Daar kort ’n penning.” Sy sou skaam kry. Dit is amper soos vandag se verloofringe met ’n paar diamante in. As een diamant uitval, is die diamantring ’n verleentheid.

Wanneer die vrou haar penning vind, vind sy haar heelheid terug. Wanneer God ’n sondaar soek en vind, herstel Hy die skepping. God maak heel wat onvolledig is. God maak volledig met sy uitverkiesende genade. Daarom is God vreugdevol. Hy bring sy eiendom tot volledigheid en heelheid.
God is nie ’n God wat “’n leë-huis-sindroom” kan hanteer nie. Daarom maak Hy sy gesin, sy kerk, voltallig.
God het sy Heilige Gees gegee om kragtig te werk in hierdie wêreld en vir hom ’n volk, ’n kerk, te versamel. Die Pinkster-Gees bewerk dat God sy kinders terugkry.
In albei gelykenisse gaan dit oor grense wat verskuif word. Die herder gaan soek die een verlore skaap. Hy verlaat die bekende en gaan soek elders vir die verlore skaap.
In die verhaal van die verlore penning word ook grense verskuif. Die vrou keer haar huis om totdat sy die penning gekry het.
In albei gelykenisse gaan dit oor vreugde. Die vreugde van die herder oor sy verlore skaap en die vreugde van die vrou oor haar verlore penning. Hulle het weer hulle heelheid terug gekry. Die herder het weer al 100 sy skape. En die vrou se bruidskat is weer volledig, want al die pennings is nou in haar bruidskat.
In hierdie twee gelykenisse gaan dit oor God se ontfermende liefde. Liefde wat grense verlê en ander insluit. So moet ons as Christene ook wees. Ons moet liefdevol grense verlê en ander insluit en God se Koninkryk tot heelheid bring.
Ons kan so maklik grense trek en mense uitsluit. Ons kan so maklik mense afskryf. Maar God se kinders moet grense oorsteek na alle mense. Dan sal ons vir God vreugde verskaf en die engele sal juig oor elke bekeerde sondaar.
Mag ons daaraan herinner word dat die Heilige Gees grense oorsteek na alle mense. Ons moet net aansluit by die Heilige Gees se werk.
Dan sal daar vreugde in die hemel wees.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
