‘n Lewende God wat roep

Skriflesing: Eksodus 3: 1 – 4: 18

Van die wonderlikste verhale in die Bybel en ook ander mense se ervarings is die verhale waar God mense roep tot ’n bepaalde opdrag of taak.

Dink aan Jakob wat by die Jabbokdrif met God geworstel het en uiteindelik gedwing is om sy werk en taak as aartsvader op te neem. Ook Jeremia het hom aanvanklik teëgesit, maar is deur die Here oortuig om sy taak as profeet uit te voer. Na die wonderlike visvangs swig Petrus ook voor die Here Jesus om sy taak as apostel op te neem. Natuurlik is daar dan ook die verhaal van Saulus wat op pad na Damaskus deur die Here met blindheid geslaan word, sodat hy tot bekering kom en gedring word om ’n apostel te word.  Sy nuwe naam was nou Paulus.

Daar is ook die verhaal van Jona wat deur die Here gestuur is na Ninevé. Jona ontduik toe sy roeping en vlug na Tarsis, die heel verste wat hy kan wegkom van Ninevé. Die Here gebied ’n storm en die matrose gooi hom oorboord. Daar in die vis se ingewande kom hy tot bekering en gaan voltooi sy roeping om aan die mense van Ninevé die Here se boodskap oor te dra. Ons kan maar wegkruip of wegvlug, die Here sal ons altyd inhaal.  

Dink aan Luther, wat op pad huis toe was, toe ’n vreeslike donderstorm losgebars het. Net daar verander hy sy roeping van Regte na Teologie. Dit was die begin van die Reformasie en die wêreld het nooit weer dieselfde gelyk nie.

Ons ken almal die wonderlike bekering van die skrywer CS Lewis wat as ateïs tot bekering gekom het en ongelooflik wonderlike Christelike werke geskryf het. In sy boek Surprised by Joy, beskryf hy sy bekering breedvoerig. Hy skryf onder andere die volgende gewaarwording: “The hardness of God is kinder than the softness of men, and his compulsion is our liberation.”

Die roeping van Moses is ook so. Moses het nadat hy die Egiptenaar doodgeslaan het, gevlug na die woestyn in Midian. Daar het hy getrou en vir sy skoonpa Jetro gewerk. Sy lewe was eenvoudig, maar leersaam, in die woestyn. Tot op ’n dag dat die Here hom geroep het terwyl hy skape oppas.

Toe sien hy ’n brandende doringbos, maar die bos brand nie uit nie. Moses sê vir homself dat hy ’n bietjie nader wil gaan om ondersoek in te stel. In die naderstap na die bos ontmoet hy die Here self.  Die Here het na hom geroep en toe Moses antwoord, het die Here gesê hy moet sy sandale uittrek, want die grond waarop hy staan is heilige grond. Toe begin die gesprek tussen die Here en Moses waarin die Here vir Moses opdrag gee om sy volk uit Egipte uit te lei na die beloofde land.

As’t ware ontvang Moses sy vocatio, sy lewensroeping, van die Here. Sy roeping was om die Here se volk uit Egipte, die plek van slawerny, uit te lei na die beloofde land. Die Here wil elke mens laat ontdek wat sy of haar lewensroeping is, maar ook wat jou dag tot dag se roeping is. Elke dag kan die Here dalk ’n persoon of saak op jou lewenspad plaas, waar jy ’n roeping ontdek om die persoon te help of die saak te bevorder. Ons moet luister en kyk  om die hand van die Here te sien op plekke waar ons dit die minste verwag. (John en Adrienne Carr)

Daar was die man wat nie juis bekend was as ’n gelowige nie. Toe verdwaal hy in die woestyn. Later is hy doodmoeg en het hy al sy water opgebruik. Toe besluit hy om maar te bid. Dalk help dit. Toe hy ’n paar dae later by sy vriend sit en hom vertel wat alles gebeur het in die woestyn, vra sy vriend of dit toe gehelp het toe hy gebid het. Die man het sinies geantwoord: “Nee, Hy het niks gedoen nie. As dit nie was vir ’n persoon op ’n kameel nie, het ek sekerlik gesterf”.

Bogenoemde man het nooit besef dat God in klein alledaagse gebeure kan werk en dat die man op die kameel juis die Here se antwoord op sy gebed was nie. Luther het genoem dat jy God ook leer ken deur jou “ervarings” van Hom.

 Daarom moet ons elke dag ontvanklik wees om ons persoonlike en daaglikse vocatio of roeping te ontvang.  Die Here wil hê ons moet ons roeping of taak elke dag uitleef.

Maar ons is dikwels vol verskonings waarom ons nie ons daaglikse roeping kan uitleef nie. Ons maak net soos Moses, met sy rits verskonings.

Moses se eerste verskoning was dat hy ’n lae selfbeeld het. Hy het getwyfel of hy dit durf waag om voor die Farao te verskyn en het getwyfel of hy die volk uit Egipte sou kon lei. Dan help God vir Moses met sy swak selfbeeld, en beloof om elke tree saam met Moses te gaan.

In die tweede verskoning het Moses  getwyfel wat hy gaan sê vir die Israeliete, naamlik by watter naam hy gestuur is om die verlossing vir die Israeliete uit Egipte aan te kondig. Eintlik vra Moses vir God: Wie is God? Hoe is God? Dan antwoord God vir Moses in Eksodus 3:14 met die volgende woorde: “God sê toe vir Moses: ‘EK IS WIE EK IS.’ Hy sê toe ook: ‘So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ”

God gee nie Sy naam nie. Hy is net die groot “IS”. God laat Hom nie verklaar deur definisies of verklarings nie. God laat Hom ook nie in ’n formule of ’n proefbuis of in ’n Teologie-handboek gevange neem nie. As God ’n formule, of ’n definisie was, sou God nie meer God gewees het nie. Daarom is God die groot misterieuse. Jy kan niks van God verstaan nie. Jy kan net in verwondering voor Hom staan.

Coenie Burger skryf hieroor, dat God die Almagtige is, wat altyd daar sal wees en dat Hy sy volk sal vergesel uit Egipte na die beloofde land.   

Die laaste beswaar van Moses was dat hy gehakkel het en dus ongeskik is vir die taak as leier. Die Here vat nie noodwendig jou gebreke en tekortkominge weg nie. Hy gee vir Moses sy broer Aäron, wat sy spreekbuis is. Daarom is die troos dat jy nooit alleen werk nie, maar God gee vir jou die gemeenskap van gelowiges om jou taak ligter te maak. Jou broers en susters vul jou tekortkominge en gebreke aan.    

Dan gebeur die merkwaardige. Moses gaan na sy skoonpa en deel hom die nuus mee dat hy graag wil teruggaan na sy mense om hulle te help.

Dan is Moses gereed om sy vocatio, sy roeping, op te neem.

Wat is jou roeping in die lewe? Wat is jou roeping vandag? Wat wil die Here hê moet jy vanjaar doen?

Jy moet net nie jou talente en roeping onder die grond begrawe nie. Vergelyk die eienaar wat aan sy slawe muntstukke uitgedeel het om mee te woeker. Die wat vyf en twee muntstukke gekry het, het dit verdubbel. Maar die slaaf wat een muntstuk gekry het, het dit begrawe en dit het geen wins opgelewer nie. Dit is ’n mooi voorbeeld om te demonstreer dat jy nie jou roeping in die lewe moet  begrawe nie, maar juis uitleef, sodat jy deur jou roeping tot seën kan wees vir ander mense of ’n saak kan bevorder wat jou na aan die hart lê. 

Alle mense het ’n lewensroeping, nie net predikante, dokters, onderwysers, maatskaplike werkers of verpleegsusters nie. Ook die ingenieur, die sakeman, die boer, die ambagsman, die haarkapster het ’n roeping. So kan ons aangaan: Almal het ’n lewensroeping. Jou belangstellingsveld is heel dikwels jou roeping. God roep alle mense tot ’n taak en lewensdoel.

Jou lewensroeping moet vir jou ’n passie wees. Daarom verdien ’n mens nie net met jou werk jou salaris nie. Nog belangriker is dat jy lewensvreugde ervaar in jou werk.

Ongelukkig is daar soveel mense vir wie hulle werk nie ’n roeping is nie, wat nog te sê van lewensvervulling. 

Jy kry ook die roeping om ’n huweliksmaat te wees. Jy moet die roeping uitleef om ’n goeie vader of moeder te wees. Jy het ’n roeping om jou werkers goed te behandel en hulle op te bou in die lewe. 

 Wees soos ’n veer, sensitief vir die Here wat jou roep.                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.) 

BRONNELYS:

Burger, Coenie. 1992.Vergesel van die Almagtige. Kaapstad: Lux Verbi

Om grense te verskuif

SKRIFLESING: Luk 15: 1- 10

Daar was ’n diep gelowige Katolieke Christenvrou wie se seun in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het. Die weermag het die seun se lyk na sy moeder teruggestuur om begrawe te word. Die seun was egter ’n jongman wat alreeds voor die oorlog ’n Protestant geword het.

Die Katolieke het nie toegelaat dat Protestante in hulle kerkhowe begrawe word nie. Die moeder het egter probeer en na haar priester gegaan en gevra of haar seun in die begraafplaas begrawe mag word. Die priester was in ’n dilemma, want die kerkwet sê dat geen Protestant in hulle kerkhof begrawe mag word nie. Hy moes na die moeder gaan en vir haar sê hy is jammer, maar hy kan nie aan haar versoek voldoen nie. Die priester was baie ontroerd deur haar teleurstelling en het dié nag sleg geslaap en baie gedink. Die volgende oggend het hy ’n plan. Hy sê vir die moeder: “Begrawe jou seun net aan die buitekant van die begraafplaas se muur”. Sy sê toe: Maar ek wil hom nie buitekant die begraafplaas se muur begrawe nie, ek wil hom binnekant begrawe.” Die priester sê toe vir haar : “Vertrou vir my”. So het die vrou toe haar seun net buite langs die begraafplaas se muur begrawe. ’n Week later is sy verbaas toe haar seun se graf aan die binnekant van die begraafplaas is, want sien, die priester het die muur herbou om ook die graf in te sluit. Vervolgens sê die priester: “Die kerkwet sê dat die seun nie in die kerkhof begrawe mag word nie, maar daar is geen wet wat verbied dat die kerkhof se grense verlê mag word nie”. Omdat die priester vir die vrou omgegee het, en vir haar jammer was, het hy ’n plan beraam.

God maak ook so! Sy liefde maak dat Hy die wêreld sal omkeer om ons te red. Hy het inderdaad aan die kruis ook die wêreld omgekeer om ons te red.   God se liefde is grensverskuiwend!

God is soos die Herder wat sy 99 skape los om die een te soek wat verlore is. God is soos die vrou wat haar huis omkeer om een verlore penning te soek.

Daarom die tema vanoggend: Om grense te verskuif….

Ons gaan kyk na die gelykenisse van die verlore skaap en die verlore penning.  Kom ons kyk eerstens na dié van die verlore skaap. Jesus vertel die gelykenis juis na aanleiding van die Fariseërs se lelike opmerking omdat Jesus saam met sondaars eet. Deur hierdie gelykenis wil Hy aantoon dat God se genade en barmhartigheid geen grense het nie. God se genade is nie beperk tot die 99, die vroom groepie, die beter klas nie. Nee, God gaan na die verlorenes.

Jesus Christus het grense verlê om ook die nie-Jood, die prostituut, die dief, die sondaar in te sluit. Wat wonderlik is, is dat dit nie die skaap is wat die herder soek nie, maar dat dit die herder is wat die verlore skaap soek. Dit is nie mense wat God soek nie. God soek mense! En hierdie sekerheid van ons heil is die onvervangbare basis van ’n gesonde Skrifbeskouing – daarsonder is dit bloot ’n vertoning van goeie werke.

Maar is dit nie dom van die herder om 99 skape te los en net een verlorene te gaan soek nie? Nee, dit is juis die sekuriteit vir die nege-en-negentig. As God soveel vir die enkeling omgee, sal God ook vir my kom soek of vir enige een van die 99 wat dalk verlore sal raak.

Juis daarom kan ons die vreugde verstaan as die enkeling, die enkele skaap, gevind word. In Palestina was al die eiendom die besit van die hele familie. Die verlies van een skaap is die verlies van die hele groep. Juis daarom moet God se vreugde oor die redding van ’n verlorene ook ons vreugde word.

Is dit nie vir u aandoenlik dat God bekommerd is, besorgd is, jammer is, bewoë is oor die enkeling nie – ook oor jou. Juis daarom verstaan ons God se vreugde in die vind van ’n verlorene.

Dit bring ons by die tweede soort vreugde, naamlik die vind van die verlore penning. Wanneer die vrou na die penning verwys wat sy gevind het, beskryf sy nie die verlore toestand van die penning nie. Sy sê:  “Die penning wat ek verloor het”. Sy laat die klem val op haar eie skade en verlies. Wanneer die vrou die penning soek, soek sy die penning nie omdat sy vir die penning jammer is nie, maar omdat sy vir haarself jammer is. Sy het iets kosbaars verloor.

Onmiddellik moet ons die doel van die penning verduidelik. Wanneer ’n vrou in die antieke tyd getrou het, het sy ’n bruidskat van haar man ontvang. Dit was in die vorm van ’n juweelstuk wat sy aan haar voorkop gedra het. Die juweelstuk het verskeie pennings ingehad, afhangende van hoe ryk die man was. As een penning wegraak en uitval, is die juweelstuk onvolledig. As die vrou dan die bruidskat sou dra, sal almal vra: “Mevrou, ek sien jou bruidskat is onvolledig. Daar kort ’n penning.” Sy sou skaam kry. Dit is amper soos vandag se verloofringe met ’n paar diamante in. As een diamant uitval, is die diamantring ’n verleentheid.

Wanneer die vrou haar penning vind, vind sy haar heelheid terug. Wanneer God ’n sondaar soek en vind, herstel Hy die skepping. God maak heel wat onvolledig is. God maak volledig met sy uitverkiesende genade. Daarom is God vreugdevol. Hy bring sy eiendom tot volledigheid en heelheid.

God is nie ’n God wat “’n leë-huis-sindroom” kan hanteer nie. Daarom maak Hy sy gesin, sy kerk, voltallig.

God het sy Heilige Gees gegee om kragtig te werk in hierdie wêreld en vir hom ’n volk, ’n kerk, te versamel. Die Pinkster-Gees bewerk dat God sy kinders terugkry.

In albei gelykenisse gaan dit oor grense wat verskuif word. Die herder gaan  soek die een verlore skaap. Hy verlaat die bekende en gaan soek elders vir die verlore skaap.

In die verhaal van die verlore penning word ook grense verskuif. Die vrou keer haar huis om totdat sy die penning gekry het.

In albei gelykenisse gaan dit oor vreugde. Die vreugde van die herder oor sy verlore skaap en die vreugde van die vrou oor haar verlore penning. Hulle het weer hulle heelheid terug gekry. Die herder het weer al 100 sy skape. En die vrou se bruidskat is weer volledig, want al die pennings is nou in haar bruidskat.

In hierdie twee gelykenisse gaan dit oor God se ontfermende liefde. Liefde wat grense verlê en ander insluit. So moet ons as Christene ook wees. Ons moet liefdevol grense verlê en ander insluit en God se Koninkryk tot heelheid bring.

Ons kan so maklik grense trek en mense uitsluit. Ons kan so maklik mense afskryf. Maar God se kinders moet grense oorsteek na alle mense. Dan sal ons vir God vreugde verskaf en die engele sal juig oor elke bekeerde sondaar.

Mag ons daaraan herinner word dat die Heilige Gees grense oorsteek na alle mense. Ons moet net aansluit by die Heilige Gees se werk.

Dan sal daar vreugde in die hemel wees.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)