Verstandigheid seëvier oor twee korrelkoppe


Skriflesing: 1 Samuel 25

In ons skrifgedeelte lees ons van twee korrelkoppe wat koppe stamp. Hulle is soos twee bulle in ’n porseleinwinkel, wat op die punt staan om te baklei. Dinge kon lelik skeefgeloop het, was dit nie vir ’n verstandige skoonheid wat tussenbeide getree het nie.

Ons lees dat die profeet Samuel gesterf het en dat sy begrafnis by Rama was. In dié tyd was Dawid nog op vlug om van Koning Saul se toorn weg te kom. Dawid het na die Paranwoestyn afgegaan.

Daar was ’n man in Maon, wie sea border in Karmel was. Die man was baie ryk en het 3000 skape en 1 000 bokke gehad. Toe Dawid en sy manskappe daar rondgetrek het, was hy juis besig om te skeer. Die man se naam was Nabal. In Hebreeus beteken sy naam “dwaas”. Hardy man was hard, ongenaakbaar en ’n regte boosdoener. Hy was ’n afstammeling van Kaleb. Sy vrou se naam was Abigajil en sy was ’n mooi vrou met ’n verstandigheid wat boekdele gespreek het.

Toe Dawid hoor dat Nabal skape skeer in Karmel, het hy tien jongmanne gestuur  om by Nabal te hoor of hy nie vir hulle kos het nie. Dawid en sy manskappe het met hulle teenwoordigheid in die streek gesorg dat Nabal nie vee verloor as gevolg van diefstal nie. Dawid en sy manskappe het dus indirek beskerming verskaf aan Nabal, sy veewagters en sy vee. Nou het Dawid as’t ware vergoeding of erkenning gevra vir die sekuriteit wat hy na die gebied gebring het.

Toe Nabal dit hoor, het hy hom bloedig vererg vir Dawid se voorbarigheid en wou uitvind wie hierdie Dawid is en of hy nie maar net ’n wegloop-slaaf was nie. Nabal was heeltemal onwillig om sy werkers se kos te deel met Dawid en sy manskappe.

Toe die tyding van Nabal se onbeskoftheid vir Dawid bereik, het Dawid hom net so bloedig vererg en vir sy manskappe gesê hulle moet hulle swaarde omgord. Vierhonderd manskappe het saam met Dawid opgeruk na Nabal en tweehonderd manne het by die pakgoed gebly.

Die twee bulle was nou los in die porseleinwinkel. Die spanning was op breekpunt. Een van Nabal se werkers het vir Abigajil kom sê wat gebeur het en dat haar man met Dawid ongeskik was; en dat Dawid nou met ’n groot aantal  manskappe opruk om met Nabal af te reken. Abigajil het nou besef daar is moeilikheid op hande en sy is die enigste een wat hierdie bloedbad tussen die twee korrelkoppe kan keer.

Abigajil het dadelik ’n plan gemaak en sy het tweehonderd brode, twee kruike wyn, vyf voorbereide skape, vyf emmers geroosterde graan, ’n honderd blokke saamgeperste rosyne en tweehonderd blokke saamgeperste droë vye geneem en dit op donkies gelaai  en vir haar diensmeisies gesê: “Gaan voor my uit. Kyk, ek kom agterna.” Vir haar man Nabal het sy egter niks van haar planne vertel nie.

Toe Abigajil vir Dawid tegemoet gaan, het sy van haar donkie afgeklim en voor Dawid se voete neergeval en by Dawid gepleit om asseblief afstand te doen van sy voorneme om Nabal en sy manne dood te maak. Sy het as’t ware verantwoordelikheid aanvaar vir haar man Nabal se dwaasheid en gesmeek om hulle lewens te spaar. Sy het toe al die kos voor Dawid gesit, sodat hulle kon eet.  Sy het ook die lof en voorspoed van Dawid besing.

Dawid was so diep geraak deur haar verstandigheid en wyse woorde, dat hy afgesien het daarvan om Nabal en sy manne met die swaard te dood. Dawid het die kos aanvaar en haar in vrede weggestuur.

Terug by Nabal, kom Abigajil toe af op ’n feesmaal, soos vir ’n koning. Nabal was dronk en sy het hom niks vertel nie, tot die volgende oggend toe hy nugter geword het. Toe Nabal die waarheid hoor, staan daar “het hy in sy binneste gesterf en hy het soos ’n klip geword”. Tien dae later het Nabal gesterf.

Toe Dawid hoor van die afsterwe van Nabal, het hy vir Abigajil laat roep om sy vrou te word. Sy het ingestem en so die vrou van Dawid geword.

So het ’n verstandige vrou met wysheid gehandel en gekeer dat daar bloedvergieting tussen die twee korrelkoppe kom.

Beide die twee korrelkoppe Nabal en Dawid het hulle humeur verloor. As jy jou humeur verloor, kan jy baie skade aanrig aan jou verhoudinge met ander mense, asook aan jou saak.

Prof Piet Naudé vertel die verhaal van die Middeleeuse Koning Genghis Kahn wat oor die magtige Mongoolse Ryk in Oos-Europa geheers het (1162 – 1227).

Die koning was lief vir jag en hulle het valke gebruik om die prooi vir hulle uit te wys. Wanneer die valk byvoorbeeld afpyl op ’n haas, het hulle geweet waar om die haas te jag.

Aan die einde van een van sy middagjagtogte, het hy sy jaggeselskap huis toe gestuur sodat hy nog ’n bietjie alleen in die woud kon vertoef.

 Dit was ’n warm dag en die koning was moeg. Hy was baie dors en hy kon nêrens ’n fonteintjie of poeletjie water vind om te drink nie. Uiteindelik sien hy water afdrup van ’n krans en hy hou sy perd in.

Hy haal sy silwer beker uit die saalsak en probeer om die druppende water op te vang met die beker. Dit gaan maar tydsaam. Net toe die koning die beker na sy mond toe neem, peil sy valk op hom af en stamp met sy vlerke die beker uit sy  hand.

Die valk gaan sit toe op ’n hoë rots vir die koning en kyk. Die koning is vies, maar dink dit was ’n ongeluk. Hy tel toe maar weer die silwer beker op en hou dit onder die druppende water teen die krans. Na ’n lang gesukkel is die beker halfpad vol. Net toe hy dit weer na sy mond toe bring om te drink, swiep die valk weer eens oor sy kop en stamp die beker ’n tweede keer uit sy hand. Nou is die koning kwaad en waarsku die valk dat hy volgende keer die valk sal doodmaak as hy dit weer doen. Na ’n lang gesukkel kry hy die beker weer halfpad vol. Weer swiep die valk oor die koning en stamp die beker uit sy hand. Dit rol in ’n rotsgleuf in, onbereikbaar vir die koning. Die koning is so woedend dat hy sy swaard rondswaai en die valk doodkap, sodat jy net vere en bloed sien. Sonder ’n beker moet die koning nou opklim teen die krans om die water met sy hande op te vang. Toe hy aan die bokant van die krans kom, sien hy tot sy skok ’n erg ontbinde slang, van die heel giftigste slange in die Mongoolse Ryk. Sou hy van die water gedrink het, sou hy gesterf het. Skielik besef hy dat hy sy eie valk onskuldig doodgemaak het, en dié wou hom van ’n gewisse dood gered het. Sy humeur het sy kosbare vriend se lewe gekos. Daar word voorts vertel dat koning Genghis Kahn toe opdrag gegee het dat ouers en onderwysers hul kinders moet leer om nooit uit woede oorhaastig op te tree nie.

In Spreuke 16: 32 staan: “’n Geduldige mens het meer waarde as ’n bedrewe vegter, ’n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.” Duidelik kan ’n mens aflei dat Koning Salomo ’n groot premie plaas op GEDULD en SELFBEHEERSING. Met dié twee deugde kan jy ’n stad inneem.

Beide Nabal en Dawid het die toets vir selfbeheersing gedop. Hulle was gou op hulle perdjie. Die definisie van ’n korrelkop is: “Iemand wat gou kwaad word en rusie maak”. Hierdie definisie pas Nabal en Dawid baie goed. Altwee het ’n opvlieënde geaardheid gehad. Dit is baie moeilik om saam met ’n korrelkop te leef.

Nabal het nie tot inkeer gekom wat sy humeur betref nie en het ’n ontydige dood gesterf. Dawid het deur die verstandigheid van Abigajil tot inkeer gekom en sy woede oor Nabal laat staan.

So moet ons ook vir die Heilige Gees vra om ons te verlos van woede, humeurigheid en ’n opvlieënde geaardheid. Dit laat ons soos dwase optree. Ons moet Abigajil se voorbeeld volg deur met verstandigheid op te tree en as vredemaker op te tree.

Laat ons nie 2024 versuur met ons koppigheid nie, maar eerder met verstandigheid optree en van die wêreld ’n beter plek maak.

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar