Skriflesing: Mat 6: 9 – 13 en Mat 13: 31 – 33
Koning Lodewyk XV (1710 tot 1774) wat in Frankryk geheers het, was loshande beskou as Frankryk se swakste koning ooit.

In plaas van regeer het hy hom besig gehou met jag en verhoudinge met vroue. Sy swak regering het byvoorbeeld aanleiding gegee tot die Franse Rewolusie wat tydens sy opvolger se bewind uitgebreek het. Hy was ook nie juis ’n nederige mens nie, aangesien hy in 1732 die volgende kennisgewing laat aanbring het in die St Medard begraafplaas in Parys:
“God word hiermee verbied om in hierdie plek wonderwerke te doen. Op las van Koning Lodewyk XV, koning van Frankryk.”
Die rede vir hierdie kennisgewing was blykbaar, beweer sommiges, dat Lodewyk so ’n sedelose lewe gelei het dat hy die oordeelsdag gevrees het, en daarom God wou verbied om iets te kom doen daar waar hy eendag begrawe sou lê. Dit is asof hy met sy kennisgewing wou sê: Hier mag God se koninkryk nie kom nie. Hier mag God nie kom nie. Dit is Lodewyk XV se koninkryk en plek hierdie! (Verhaal aangehaal uit anonieme bron)
Ons kan vanaand se boodskap as volg saamvat: SOEK GOD SE KONINKRYK EN NIE JOU EIE NIE.

Die term “Koninkryk van God” verskyn 68 keer in tien verskillende Nuwe Testamentiese boeke, terwyl “Koninkryk van die hemel” slegs 32 keer voorkom en net in die Evangelie van Matteus.
Die mens se bekommernis is oor sy mees basiese behoeftes, maar ook oor luukshede in die lewe. Die gevaar is egter wanneer ek begin leef net vir my eie behoeftes. Wanneer ek slaaf word wat net leef, werk en bekommerd is oor my behoeftes, dan is my prioriteite verkeerd. Dan is ek besig met my eie klein koninkryk. Wanneer my motor, beeste, donkies, my geluk, my huis vir my belangriker as God word, is daar iets groots verkeerd. Wanneer my posisie in die gemeenskap belangriker is as God se eer of wanneer my goeie naam vir my meer kosbaar is as God se Naam. Wie so besig is om aan sy eie empire, sy eie “koninkryk” te werk, is met sy eie godsdiens besig. So ’n gesindheid bring geen vrede nie, net bekommernisse.

Mat 6: 33 wil vir ons leer dat wanneer ons die Onse Vader-gebed bid: “Lord, let your Kingdom come” moet ons terselfdertyd bid: “Lord, let my kingdom go.” Laat u Koninkryk kom en laat my koninkryk in duie stort. Wat bedoel ons as ons bid: “Laat u Koninkryk kom” of as Jesus sê: “Beywer julle allereers vir die Koninkryk van God”? Ons bedoel daarmee: Here, laat u grondgebied wen in my lewe.

Dit beteken hoe langer, hoe meer kom ek onder die heerskappy van God. Elke sentimeter van my lewe, my huwelik, my besittings, my werk, moet onder die heerskappy van God geplaas word. Wanneer ons bid: “Laat u Koninkryk kom”, bid ons om die ondergang, om die neerlaag van ons eie koninkryke. Ons moet die wil van God najaag. Wie ’n einde maak aan sy eie koninkryk, maak daarmee ook ’n einde aan sy eie wil. Voortaan jaag hy/sy eerder God se wil na. Hy stel God aan as die Pottebakker van sy lewe. Hy is nie meer die pottebakker van sy eie lewe nie. Bekommer julle oor die Koninkryk van God en oor hoe sy Koninkryk grondgebied mag wen in julle lewe en in die wêreld. Moenie oor julleself bekommerd wees nie. Dit is immers God se wil om oor julle bekommerd te wees.
Daarom is die Koninkryk van die hemel nie soseer ’n plek nie, maar gebeure. Die Koninkryk van God breek deur in my lewe en in die geskiedenis van hierdie wêreld, waar ons sout van die aarde en lig vir die wêreld word. Jesus se Bergpredikasie handel hoofsaaklik oor die lewe in die koninkryk van die hemel. Die Here het ook ’n klomp Koninkryksgelykenisse vertel vir die dissipels.

Elke era se koninkryke spog met hulle grootheid, of dit nou hul wapentuig is, of bouwerk, of finansiële grootheid, of ekonomiese handelsbetrekkinge en of dit hulle kernplofkoppe is. Van die antieke koninkryke tot die moderne koninkryke van vandag, maak almal hulle skuldig aan ’n grootheidswaan. So spog mense ook met hulle eie koninkrykies. Met God se Koninkryk is dit so gans anders.

Dit begin met niks, word in kleinheid gebore en groei stadig ongemerk, sonder enige vertoon. Daarom vertel Jesus die gelykenis van die mosterdsaad en die suurdeeg om ons iets te leer van God se Koninkryk. (Mat 13: 31 – 33) ’n Mosterdsaad is skaars 1 – 2 mm in deursnee, maar dit kan ’n baie groot boom word, waarin die voëls van die hemel kan nesmaak. Die suurdeeg werk ook ongemerk, maar as jy weer sien, het die brood gerys.
So werk God deur die eeue. God werk in die klein, onbelangrike en onaanskoulike goed. Daar waar mense in die geloof klein treetjies in gehoorsaamheid gee, word God se Koninkryk gebore. God se Koninkryk kom stadig, want dit is ewig. ’n Pampoen groei ’n paar weke vinnig en dan is alles verby met die pampoenplant. ’n Eikeboom of olyfboom groei stadig, maar kan baie dekades, selfs eeue oud word. Hoe stadiger die groeiproses, hoe langer is die lewensduur van die boom. Daarom moet ons geduldig met God wees as Hy nie vinnig genoeg na ons sin werk nie.

God se Koninkryk is nie ’n pampoenkoninkryk (wat vinnig groei) nie, maar ’n mosterdsaad-Koninkryk. God werk in die geheimenis van die mens se hart. Daar laat Hy die Koninkryk ontkiem en wortelskiet. Hy laat Sy Koninkryk groei in die harte van mense. Daarom lyk elke mens se lewe soos die jaarringe van ’n groot boom. Elke jaarring vertel van die reis saam met God. Sommige van die jaarringe vertel van voorspoed en ander van teenspoed. Maar in elke jaarring van jou lewe kan jy God se teenwoordigheid raaksien.
Geloofsvorming vra waagmoed en ’n profetiese ingesteldheid. Dit vra dat die geloofsgemeenskap ’n profetiese gemeenskap word, wat nie narsisties die kerk preserveer om maar net in stand gehou te word nie. Dit vra om te engage met die wêreld. Jesus Christus het die gelykenis nie vertel om die kerk in stand te hou nie, maar om die wêreld deel van Sy Koninkryk te maak. Die kerk moet die wêreld in “domino”. Die kerk moenie torings bou, soos die toring van Babel nie. Ons kan so maklik die kerk verafgod as ons geestelike tuiste, in plaas daarvan om God se kerk eerder as ’n beweging uitwaarts na die wêreld te verstaan. Die Pinkstergees het ons bemagtig en begeester om God se Koninkryk te domino op al die plekke waar God se Koninkryk nog nie sigbaar is nie. Soos suurdeeg moet ons die wêreld verander en ’n beter plek maak.
Almal van ons het ’n begeerte om ’n verskil te maak en van die wêreld ’n beter plek te maak. Die fout wat ons maak, is dat ons groot dink, in plaas daarvan dat ons klein dink en begin. Iemand het gesê: “Big journeys begin with small steps.” Die Here verwag nie van ons om groot dinge aan te pak nie. Deur klein treetjies te gee, kan ek ’n verskil in die lewe maak. Maar dan moet ek die mosterdsaad plant in die grond en ek moet die suurdeeg inknie in my elke dag se bestaan. Ek moet besluit om ’n aksie te neem in my lewe. Dissipelskap is om aksie te neem.
As ons maar net ons lewensjare so kan deurbring om werklik ’n verskil te maak in ons omgewing en konteks. Om een lewe aan te raak, is beter as om niemand aan te raak nie. As ek elke dag net in liefde na een persoon uitreik, het ek in ’n jaar ’n verskil aan 365 lewens gemaak. Daarom moet ons godsdiens nie maar net rasioneel beoefen nie. Nee, dit moet werklik lewensveranderend in my lewe en in die mense rondom my se lewens wees.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
