Skriflesing: Mat 6: 9 – 13
In die Bybelse tyd was die betekenis van name baie belangrik. Gewoonlik het die name van mense iets beteken. Jou naam het baie maal verwys na ’n spesifieke eienskap. So het dit dikwels gebeur dat as mense verander as gevolg van gebeure of omstandighede, hulle naam ook verander. Dink sommer aan Abram, wat Abraham geword het. Dink aan Naomi wat haarself Mara genoem het, wat beteken “bitter”. Dan is daar natuurlik Saulus wat op die pad van Damaskus tot bekering gekom het wie se naam verander het na Paulus.
Mense is geneig om vir hulself “naam” te maak. Mense doen dinge om naam te maak. Baie mense streef daarna om eendag wanneer hulle sterwe ’n legacy agter te laat. Dit is nie noodwendig verkeerd nie. As jou lewe getuig van lewenskwaliteite en karakter, kan die nageslag daaruit leer. Maar as jy obsessief daarna strewe om jou eie naam te bevorder, kan jy maklik narsisties word en dit vir baie mense moeilik maak om met jou saam te leef.
Mense is lief vir hul eie name en sal dit ten alle koste beskerm, al moet hulle ook hof toe gaan daaroor. Elkeen se naam het ’n reputasie. Jy wil jou reputasie beskerm.

Tog sleep die mense God se naam deur die modder deur daarvan ’n vloekwoord te maak. Van alle vloekwoorde word die name van die Here seker die meeste misbruik. Mense is openlik “ateïste”, maar hulle gebruik die name van die Here, selfs al ontken hulle die Here in hulle lewe. Dit kan ek nie verstaan nie. Die Persoon in die wêreld wie se Naam die meeste misbruik word, is juis die Here se Naam. Mense vloek hulle Skepper en die Een wat hulle elke dag versorg.
Ons as gelowiges kan ook Sondae die Naam van die Here ydellik gebruik as ons geestelike liedere sing, sonder om te konsentreer op wat ons sing. Ons sing maar net sommer, sonder om te dink wat ons sing. Die lied kom nie uit ons hart nie. Dit word sommer net meganies gesing. Dan gebruik ons die Here se Naam ydellik. (Louis Jordaan)
Ds. Hennie Fouché vertel van die ware staaltjie wat op sy pa, Pieter, se plaas gebeur het. Daar was ’n werker Klaas op die plaas wat die Here se Naam byna in elke sin gebruik het. Die situasie het later vir Oom Pieter onhoudbaar geword. Toe hy sien sy pratery met Klaas werp geen vrugte af nie het hy ’n ander tegniek gebruik. Toe die werker weer die Here se naam uitroep, roep Oom Pieter hard uit: “Klaas!”
“Ja, Meneer?” vra Klaas, maar Oom Pieter ignoreer hom. Hy gaan net aan met sy werk. Na ’n paar minute volg dieselfde ritueel: Die werker gebruik weer die Here se naam as vloekwoord. Net daar roep oom Pieter weer Klaas se naam uit, maar ignoreer sy “Ja, Meneer?”
Toe dit die derde keer gebeur, kan Klaas dit nie meer verduur nie en hy konfronteer Oom Pieter: “ Meneer, ek verstaan nou nie mooi nie. Jy roep gedurig my naam, maar as ek reageer, ignoreer jy my. Jy maak of niks gebeur het nie.”
Toe kom Oom Pieter se wyse antwoord: “Wel, dit is presies wat jy met die Here doen, Klaas. Jy roep sy Naam uit, en as Hy wag dat jy verder moet praat, ignoreer jy Hom. Hoe dink jy moet die Here voel?
Klaas het blykbaar nooit weer die Naam van die Here as vloekwoord gebruik nie …
Daar was ook in die sewentigerjare op Strydenburg ’n oom wat soos ’n matroos kon vloek. Hy het nie eers geweet hy vloek so baie nie. Dit was in sy tweede natuur om die Here se naam ydellik te gebruik. Die predikant van die dorp het gereeld saam met die oom ’n koppie koffie gedrink by die straatkafee. Later kon die predikant nie meer die vloekery van die oom hanteer nie. Hy het dosies vuurhoutjies gekoop en elke keer as die Oom vloek, het hy ’n vuurhoutjie gebreek. Die oom kon nie glo dat hy so baie gevloek het nie. Later het die oom geleer om minder te vloek en nog later om op te hou vloek.
Jou opvoeding en jou vriendekring bepaal in ’n groot mate of iemand gaan vloek. Daarom rus daar ’n groot verantwoordelikheid op ouers om vir hulle kinders die regte voorbeeld te stel. Verder moet ’n mens jou vriende reg kies, anders kan jy later soos hulle praat.
Jare gelede was die gebruik om kinders se monde uit te spoel met peperwater as hulle gevloek het. Die kinders het die grootste vrees daarvoor gehad.
Mense wat erg vloek, het gewoonlik ’n swak selfbeeld en moet kragwoorde en vloekwoorde gebruik om hulself te laat geld.
Juis daarom leer die Here Jesus vir ons in die “Onse Vader”-gebed om te bid met die woorde: “Laat U Naam geheilig word”. Wat beteken dit dat ons bid dat die Here se naam geheilig word? Dit beteken om die Here se Naam opsy te sit of eenkant te sit en dit met spesiale respek te hanteer. Dit beteken om nie God se Naam goedkoop te maak nie. God se Naam is ver verhewe bo elke naam.
’n Christen se woordgebruik moet altyd voorbeeldig wees. Behalwe om die Naam van die Here ydellik te gebruik, moet ’n mens ook kragwoorde vermy. Jou woordgebruik moet suiwer wees.
Ons aanbid die Here deur Sy Naam. Die kerkvader Augustinus het min of meer die volgende gesê: “God dors om na gedors te word.” God wil hoor dat ons tot hom bid en Sy Naam aanroep – maar ons moet dit met eerbied en respek doen.
Mag ons in die nuwe jaar opnuut in aanbidding en verwondering staan oor die Naam van God. Mag ons God se Naam heilig hou. Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
BRONNELYS:
Cleddie, Keith. Praying the Lord’s Prayer. Kindle Edition.
Clasen, Ferdie. 2001. Ons Vader – die gebed wat jou wêreld verander. Wellington: Lux Verbi.
Van Rensburg, Ewald. 2013. Keer jou familielewe om met die 10 gebooie. Wellington: Bybelkor.
