Skriflesing: Mat 6: 9 – 13
Paternoster is ’n klein vissersdorpie langs die Weskus. Vandag is dit ’n moderne dorp, met vele luukse huise.

Destyds, baie jare gelede, was dit die tuiste van ’n arm vissersgemeenskap, met armoedige huisies van vissers wat baie eenvoudig gelewe het. Die ou vissermanne van Paternoster het letterlik van die hand na die mond gelewe. Die Here was ook hul goeie Vader wat hulle elke dag gelei het na die seewater, waar daar genoeg vis is. Daar was storms; partykeer het ’n skuit nie teruggekeer nie. Somtyds was daar baie vis, ander dae niks nie. Soms was die see vir dae stormagtig en kon hulle nie uitgaan met hulle bote nie. Sommige dae het die vis goed verkoop, ander dae het dit weer swak verkoop. Hulle was daagliks afhanklik van die Here en daarom het hulle hul dorpie die naam “Paternoster” gegee, wat in Latyn beteken “Onse Vader”.
Die Onse Vader-gebed begin met “Onse Vader”. Die woord “Vader” skep by die meeste mense ’n warm gevoel van geborgenheid en sekuriteit. Die woord “Vader” kom twaalf keer in die Bergrede voor en meer as 100 keer in die Johannes Evangelie. In die Ou Testament is die woord “Vader” baie skaars. Dit word in die Ou Testament net veertien keer genoem. Die rede hoekom dit so min in die Ou Testament voorkom, was omdat die Jode bang was om die Here direk aan te spreek. Toe Jesus Christus Homself openbaar in die Nuwe Testament, word die woord “Vader” baie gereeld gebruik, om die unieke verhouding van die Here Jesus teenoor Sy Vader uit te druk.

Jesus het die Aramese woord “Abba” begin gebruik, wat as “Pappa” vertaal kan word. Die Aramese woord vir Moeder is “Imma”. “Abba” en “Imma” was as’t ware die eerste woorde wat ’n Joodse kindjie geleer het. In die Joodse gebedsliteratuur kon Joaquim Jeremias (’n Rooms Katolieke teoloog), nie die woord “Abba” vind nie. As’t ware het Jesus Christus self die gebruik gevestig om sy Vader as “Abba” aan te spreek. Hy het ons geleer om elkeen ook so ons hemelse Vader aan te spreek.
Daarom is die “Onse Vader” ’n intieme gebed. Uit Sy Vaderhart is die mensdom gebore. Hy was, is en sal altyd die Inisieerder, die Skepper, die Beskermer, die Voorsiener en die Onderhouer wees, omdat Hy die begin en einde van alle dinge is. Hy is die Vader van die hele wêreld en mensdom.

Die “onse” in “Onse Vader” beteken dat ek nie selfsugtig kan bid nie. Ek bid nie net namens myself nie. Ek bid saam met mense wat verskil van my wat politiek, kultuur, ras en klas betref. Ek bid selfs vir my vyand ook. Daarom is die “Onse Vader” ’n “gevaarlike” gebed, want ek bid saam met mense en vir mense wat dalk drasties van my verskil wat siening of kultuur betref. Die “Onse Vader” gebed maak dat my medegelowiges en my medebidders, my broers en susters word.
My gebed kan maar eenvoudig en vol gebreke wees. Net soos ’n klein kindjie nie ’n lelike prentjie kan teken nie, net so min kan ’n bidder ’n slegte gebed bid tot sy Vader. Ek kan met alledaagse sake na God gaan, want God luister na die eenvoudigste gebed. Wanneer ek bid, vertaal die Heilige Gees my swak en gebrekkige gebed in ’n gebed wat duidelik is vir die Vader.
Daar was op ’n keer drie kluisenaars wat op ’n eiland gebly het. So eenvoudig soos wat hulle was en geleef het, so eenvoudig en opreg was hulle daaglikse gebed. Dit het min of meer so geklink: “Ons is drie, U is drie; wees ons asseblief genadig. Amen.” Soms het daar ’n wonderwerk gebeur wanneer hulle so gebid het. Op ’n dag het ’n sekere biskop van die kluisenaars te hore gekom en hy het besluit dat hulle moet leiding kry in hulle gebedslewe. Hy is toe per boot na die eiland toe en hy het die monnike onderrig in die gebed. Na ’n paar dae is hy met sy bootjie terug na die vasteland. Skielik sien hy agter hom ’n beweging op die water, wat al hoe nader kom. Toe hy mooi kyk, sien hy dat dit die drie kluisenaars is wat op die water aangehardloop kom. Toe hulle uiteindelik by die bootjie is, sê hulle vir die biskop: “Ons is jammer, maar daar is ’n paar dinge wat jy vir ons geleer het wat ons vergeet het. Sal jy omgee om dit net vir ons te herhaal?” Die biskop het sy kop geskud en nederig en half skaam geantwoord: “Vergeet alles wat ek julle geleer het en hou aan om te bid soos altyd.” (Ferdi Clasen)
Om die eerste twee woorde van die modelgebed te bid, is veel meer as net twee woorde. Dit beteken ’n lewe wat ek voortdurend in die teenwoordigheid van my hemelse Vader leef.
Maar soms ervaar ons nie die Vader se teenwoordigheid nie. Die kerkvaders het hiervan gepraat as die “Deus Absconditus” – die God wat verborge of weggesteek is. Teologies weet ons God is elke dag by ons, maar ons kry tye wat ons God nie ervaar nie. Dan ervaar ’n mens dat jy deur ’n woestyn gaan. Maar God lei jou elke keer weer uit daardie woestyn, soos Hy sy volk ook uit die woestyn gelei het.
Daarom begin hierdie modelgebed met die aanroep: “Onse Vader”. Die Vader is die Gans-Andere, met wie ons in ’n intieme en persoonlike verhouding kan staan.
Maar die modelgebed se eerste sinsnede verklaar dat die Vader in die hemel woon. Die Vader is in die posisie van almag en wonderskone heerlikheid. Die hemel en die aarde staan in ’n verhouding met mekaar. Genesis 1 leer ons dat God eers die hemel en toe die aarde geskep het. Hemel kom voor aarde.

Mense wil so graag hemel toe gaan, maar hulle vergeet dat God die hemel aarde toe wil bring. Daarom staan daar: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde”. Die Here wil as’t ware hê ons moet iets van die hemelse heerlikheid en volmaaktheid ook hier op die aarde reeds belewe. God se werke op aarde kom uit die hemel en ons is getuienis daarvan.

Paternoster was dekades terug ’n eenvoudige, arm vissersdorpie. Die dorp se inwoners het met skaarste gelewe. Hulle was uitgelewer aan die nukke en grille van die see. Hulle moes saamleef met die emosies van die see. Daarom moes hulle elke dag die “Onse Vader” bid. Daarom is die naam van hulle dorpie Paternoster, wat in Latyn beteken “Onse Vader”. Mag ons ook so intiem met God saamlewe. Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS
Cleddie, Keith. Praying the Lord’s Prayer. Kindle Edition.
Clasen, Ferdie. 2001. Ons Vader – die gebed wat jou wêreld verander. Wellington: Lux Verbi.
