Skriflesing: Lukas 17: 11 – 19
Veronderstel daar is ’n klomp ysterskaafsels in ’n bak vol sand.

As jy die skaafsels met jou lomp vingers soek, gaan jy niks kry nie. Maar vee net met ’n magneet oor die sand en siedaar! Die magneet trek al die ysterskaafsels maklik aan. Die ondankbare hart is soos jou lomp vingers, dit vind niks om oor dankbaar te wees nie. Die dankbare hart is soos die magneet wat die ysterskaafsels vind, en wat in alles dankbaarheid en hemelse seëninge vind.
Dankbare mense is mooi mense. Dankbare mense is blymoedige mense.

In ons gelese gedeelte hoor ons van tien melaatses wat op die grensgebied van Galilea en Samaria gebly het. Waarskynlik was daar Jode en Samaritane in die groep teenwoordig. Wanneer jy melaats is, tel kultuur of afkoms niks nie. Die gemeenskaplike siekte, verwerping en swaarkry bind mense aan mekaar. Eertydse aartsvyande bly nou saam in die groep melaatses.
’n Mens sien dit vandag ook in hoë intensiewe-sorgeenhede, waar mense veg vir hulle lewe of veral in onkologie-eenhede, waar mense dieselfde nood het en as’t ware amper soos familie van mekaar word. Alle kleur- of klasseverskille val weg – daar is ’n gemeenskaplike empatie met mekaar, want elkeen loop op dieselfde paadjie. Nood bind mense saam.
Melaatsheid is in die Bybelse tyd as ’n hoogs aansteeklike siekte beskou en daarom moes melaatses altyd 100 meter van gesonde mense wegbly. Dit was ook gebruik dat die melaatses ’n stok met ’n lap dra, sodat gesonde mense kon weet dat hulle nie moes naderkom nie.

Vandag weet ons meer omtrent die siekte. Dit word veroorsaak deur bakterieë wat die senuweestelsel buite die brein en ruggraat aanval. Dit kan lei tot verswakte spiere wat aan die hande ’n klouagtige voorkoms gee en later meebring dat die voete nie kan beweeg nie. Die vel verbleek, sere ontstaan en permanente swelsels, knoppe en uitgroeisels skend die liggaam en gesig. Die siekte veroorsaak dat ledemate hulle gevoel verloor en dit kan ernstige skade aanrig aan die ledemate sonder dat die melaatse daarvan bewus is. Sekondêre gevolge behels dan ook die verlies van ledemate. (Ben Lubbe, Die Pottebakker)
Melaatses is as uitgestote mense behandel. Die dorpe het vir hulle kos op ’n sentrale punt neergesit om te kom haal en hulle het meestal in grotte gebly.
Boonop was melaatses volgens die wet van Moses onrein. Daarom staan daar in Lev. 13: 45 – 46 die volgende: “ Iemand wat velsiekte êrens aan hom het, se klere moet geskeur wees, sy hare moet los hang en hy moet sy snor bedek. ‘Onrein! Onrein!’ moet hy uitroep. So lank as wat hy die velaandoening het, sal hy onrein wees; hy is onrein. Hy moet eenkant woon. Sy blyplek moet buite die kamp wees.” Dit het ook geïmpliseer dat hy of sy ook geestelik onrein is. Daarom was melaatsheid beide ’n siekte asook ’n religieuse probleem. Daar is geglo dat sonde met melaatsheid gestraf word. Daarom moes mense na die priester gaan, sou hulle gesond word, om deur die priester weer opgeneem te word in die gemeenskap.
’n Melaatse verloor sy posisie in die samelewing; hy verloor sy familie, gesin en vriende. Hy verloor sy huis en besittings. Dit is die eensaamste pad wat jy kan stap.
Dit was die posisie van die tien melaatse mans. Daarom, toe hulle Jesus sien, het hulle op ’n afstand gestaan en geroep dat die Here hulle moet genees.
Die Here het hulle nie onmiddellik genees nie, maar vir hulle opdrag gegee om na die priesters te gaan om hulle gesond te verklaar. Dit vra geloof. Jy is nog nie gesond nie, maar jy stap na die priester om jou rein te verklaar. Dit is geloof in werking. Hulle het eers, al lopende na die priester, gesien hoe hulle gesond word. Daarom is geloof om sonder enige sekerhede die pad te loop, al het jy geen waarborge nie. Dit is as’t ware om te glo en vas te hou aan dit wat nog onsienlik is. Daarom vat Hebreërs 11: 1 dit so mooi saam: “Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ’n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.”
Toe die tien mans ontdek dat hulle gesond is, was daar groot vreugde onder hulle. Maar net een man, ’n Samaritaan, het omgedraai om vir Jesus dankie te sê. Hy het op sy gesig voor Jesus neergeval en Hom geloof. Jesus vra toe of daar nie tien melaatses was wat gesond geword het nie?

Waar is die ander nege? Net hierdie vreemdeling (’n Samaritaan) het kom dankie sê. Jesus sê toe vir die man: “Staan op en gaan! Jou geloof het jou gered.” Die ander nege het net liggaamlik gesond geword, terwyl die Samaritaan liggaamlik en geestelik gesond geword het. Sy saak was nou reg met God.
Dankbare mense lewe stadiger, skryf Ds André Oosthuizen (Geloofsentrum Universitas in Bloemfontein). Gejaagde mense fokus en kyk net vorentoe en wil die beste uit die toekoms haal.

Hulle is so gefokus op tyd, dagboeke en produktiwiteit dat hulle nooit stilstaan om alles te waardeer en dankie te sê vir die seëninge wat rondom en agter hulle lê nie. Oosthuizen skryf dat bemarking se doelwit is om mense ondankbaar te maak met wat hulle het en te strewe na beter, groter en duurder goed. Want, sien, dankbaarheid verkoop nie. Jy word as ’t ware ondankbaar gemaak deur bemarkingsfoefies, om jou ou goed in te ruil vir nuwer en beter goed. Ons word gebombardeer met ondankbaarheid, sodat die ekonomie kan groei, aldus Oosthuizen.
Maar mense wat stadiger lewe, kan rond kyk en terug kyk en die baie seëninge op hulle lewenspad ervaar en daarom dankbaar wees. As die lewe stadiger draai, sien jy meer dinge om voor dankbaar te wees. Swaarkry en krisisse kom dikwels op tye wanneer jy tot stilstand gedwing word om meer dankbaar te lewe en meer waarderend te wees.

’n Dankbare mens praat van ’n halfvol glas water en ’n ondankbare mens van ’n halfleë glas water. Dit het alles met perspektief te doen. Dankbaarheid sien meer raak en ondankbaarheid sien minder raak. Stel jouself in om in 2024 die potensiaal en die moontlikhede in die nuwe jaar raak te sien. Dankbare mense sien altyd geleenthede raak.

’n Mediese dokter het een maal ’n dankie-sê brief aan ’n oud-onderwyser geskryf omdat sy vir hom soveel bemoediging gegee het toe hy 30 jaar tevore in haar klas was. Hy het later hierdie antwoord terug ontvang: “Ek wil hê jy moet weet dat jou brief vir my baie beteken het. Ek is nou ’n ou dame in my tagtigs, wat alleen in ’n kamertjie woon, my eie maaltye kook, eensaam is, en ek voel soos die laaste blaar aan die boom. My geslag het heeltemal uitgesterf. Jy sal belangstel om te weet dat ek vir 50 jaar skoolgehou het, en joune is die eerste brief van waardering wat ek nog ooit ontvang het. Dit het op ’n koue en triestige oggend gekom en my eensame ou hart opgebeur, aangesien niks my in baie jare opgebeur het nie.”
Charles Dickens het gesê die mense is ietwat agterstevoor daar in Amerika. Hy het aan ’n gehoor gesê dat in plaas daarvan om een “Thanksgiving Day” elke jaar te hê, hulle eintlik 364 moet hê. “Gebruik die een dag wat oorbly net om te kla en te kla,” het hy gesê. “Gebruik die ander 364 dae om God elke dag te dank vir die baie seëninge wat Hy oor jou uitgestort het.”

Daarom moet ons magneet-mense word, wat dankbaarheid soos die ysterskaafsels in ’n sandbak aantrek in ons lewe. Ons moet wees soos daardie een melaatse wat gesond geword het en vir Jesus kom dankie sê het. Om magneet-mense te word, wat dankbaarheid aantrek, moet ons vol van die Heilige Gees wees. Deur die werking van die Heilige Gees, leer ons om die dinge raak te sien waarvoor ons dankbaar moet wees.
Die derde en grootste deel van die Heidelbergse Kategismus handel oor die dankbaarheid in die Christelike lewe. Daarom moet ons hoogste strewe wees om altyd in alles dankbaar te wees teenoor God en ’n lewe van dankbaarheid te leef. Dan sal jy merk dat jy werklik gelukkig word. Oefen ’n lewe van dankbaarheid in 2024.
Dankbaarheid kweek ’n gelukkige lewe. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
