Skriflesing: Luk 5: 27 – 39
Galileo Galilei (15 Februarie 1564 – 8 Januarie 1642) was ’n Italiaanse fisikus, wiskundige, sterrekundige en filosoof, wat vir groot deurbrake gesorg het in die wetenskap en astronomie.

Hy het tientalle ontdekkings in verskillende velde gemaak; hy het ook onder andere die teleskoop ontwikkel waaruit baie astronomiese waarnemings gevolg het. Galilei het byvoorbeeld ontdek dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie. Die kerk van sy tyd het sy sieninge as kettery afgemaak en wou hom na die brandstapel stuur. Hy is egter onder huisarres geplaas. Jare later sou die Rooms Katolieke kerk wel erken dat Galilei reg was.
Mense pas nog altyd moeilik aan in hulle siening van God, soos die kerk in Galilei se tyd ook moeilik die nuwe aanvaar het. Die deursnee mens glo nog steeds dat jy deur jou goeie lewe (met ander woorde die wet) gered word. Hulle misverstaan die Evangelie, dat Jesus die Wet vervul het en met ’n nuwe verbond van genade begin het.
So kon die Fariseërs ook nie verstaan dat Jesus alles kom verander het en juis na mense toe gekom het wat buite die wet staan en boonop met hulle partytjie kom hou waar hulle eet en drink nie.
Jesus het graag met sondaars gemeng. In ons gelese gedeelte het Hy vir Levi, die tollenaar, gevra om Hom te volg. In ’n ander geval het Hy vir Saggéüs, die hooftollenaar, gevra of Hy in sy huis kon oornag. In albei die gevalle lees ons van ’n feesmaal wat die tollenaars vir hom voorberei het. In die oë van die Fariseërs het Jesus met die verkeerde mense en die sondaars gemeng. Jesus was vrolik en Hy was die hart van die partytjies saam met die tollenaars en sondaars. Daar staan in vers 30: “Die Fariseërs, en veral die skrifkenners onder hulle, het by sy dissipels gemor: ‘Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?’”
Die Fariseërs was sedig en vroom en het gereeld elke week gevas en op die vasgestelde tye van gebed na die straathoeke gegaan om te bid, sodat almal hulle geloof kon bewonder.
In vers 33 word Jesus dan aangeval: “Die mense het vir Hom gesê: ‘Johannes se dissipels vas en bid gereeld, en die Fariseërs se dissipels ook, maar u dissipels eet en drink maar voort.’” Eintlik was die beswaar dat Jesus altyd in die middel van ’n partytjie met sondaars was en dat die dissipels van Johannes en die Fariseërs hulle vroom gedra het en gereeld gevas het.
Jesus het hulle egter alreeds geantwoord in verse 31 en 32: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”

In vers 34 het Jesus hulle geantwoord: “Julle kan tog nie die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is nie?” Jesus het gekom om vreugde en blydskap te bring, deur sondes te vergewe. Daarom het Jesus met sondaars gemeng om hulle vry te maak van sonde. Jesus is die bruidegom wat vreugde en blydskap na die partytjie toe bring. Hy het kwytskelding van skuld gebring vir die tollenaars en sondaars en daarom was daar sulke uitbundige partytjievreugde waar Jesus was.
Jesus het ’n totale nuwe bedeling gebring. Sy nuwe verbond het gekom in die plek van die ou verbond, met sy strakke wette, vaste en regulering. Jesus het die nuwe bedeling gebring, waar daar kwytskelding is van sonde en van vormgodsdiens, en waar daar inteendeel net vreugde en vrede is.
Nou vertel die Here as’t ware in die volgende twee gelykenisse waarom die ou bedeling van vormgodsdiens en verstarde wette verby is en plek maak vir ’n nuwe verbond van genade.
Jesus sê ’n mens sny nie ’n nuwe kledingstuk in stukke op om ’n ou kledingstuk se gate te lap nie.

Jy skeur net die nuwe kledingstuk en die nuwe materiaal pas nie by die ou kledingstuk nie. So kan jy ook nie die ou verbond van wette en die nuwe verbond van genade met mekaar meng nie. Dit is die een óf die ander. Anders is dit lapwerk. Jy kan nie die Ou Testamentiese wette vermeng met die vars boodskap dat Christus gesterf het vir die sonde van die wêreld nie.
Die tweede gelykenis is dié van Jesus wat ’n nuwe wynsak as beeld gebruik. Daar staan in vers 37 – 39: “En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die leersakke laat oopbars. Dan sal die wyn uitloop en die sakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn behoort in nuwe leersakke gegooi te word. Boonop het niemand wat ou wyn gedrink het, lus vir nuwe wyn nie. ‘Die oue smaak goed,’ sê Hy.”

Wyn was in die Bybel ook ’n simbool van vreugde, blydskap en viering. Almal het geweet jy gooi nooit nuwe wyn in ’n ou wynsak nie. Want wynsakke is gemaak van bokvelle wat gebrei is en dan aanmekaar gewerk is. Nuwe geparste wyn , wat basies druiwesap was, is in die wynsak deur sy tuit gegooi en verseël. Oor ’n tyd sal die druiwesap fermenteer, sodat wyn gemaak kan word. Die gas van die fermentasie sal die wynsak aansienlik rek en die sak sal mettertyd sy elastisiteit verloor en baie groter word. Wanneer die wyn nou uitgegooi word, sal die wynsak nooit weer tot sy oorspronklike grootte terugkeer nie. Sou jy dan nuwe wyn in hierdie ou wynsak gooi, sal dit nog verder fermenteer en gas loslaat en dit sal die sak laat bars. Dan is die nuwe wyn en die ou wynsak daarmee heen.

Jesus sê as’t ware die nuwe kan nie met die oue gemeng word nie. Vir nuwe wynsakke sal slegs nuwe wyn werk. Dit beteken die ou wynsakke verteenwoordig die ou bedeling van wette en wetsonderhouding om gered te word. Die nuwe wynsakke verteenwoordig die nuwe bedeling wat Christus gebring het. Die nuwe wyn verteenwoordig Christus wat vir ons almal vreugde, genade en verlossing gebring het.
Die Ou Testamentiese wette (ou wyn in ou wynsakke), kan ons nie verlos en vreugde bring nie. Jesus skep vir Hom ’n partytjie met nuwe wynsakke en die nuwe wyn is Christus. Die wet is vervul in Jesus Christus, daarom bring Hy vreugde na die partytjie. Daarom nooi Hy al die tollenaars en sondaars om saam met Hom te eet en te drink. Hy het immers nie gekom vir die regverdiges nie, maar vir die sondaars.
Die Fariseërs het die tollenaars en sondaars heeltemal vermy. Hulle het hooghartig op hulle neergesien as sondaars. Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Meng jou met die semels en die varke eet jou.”
Maar dit is allermins wat Jesus kom doen het. Hy het juis met die sondaars gemeng om hulle te red. Saggéüs het Jesus in Sy huis laat oornag en in daardie nag het Saggéüs tot bekering gekom en sy lewe reggemaak. Daarom is daar iets soos die “Getroue Getuies se model van Vriendskapsevangelisasie.” Dit beteken dat jy op ’n informele manier vriende is met mense wat op die verkeerde pad is en hulle deur jou voorbeeld en getuienis geroep word om ook kinders van God te word.
Die wet maak dood. Die genade bring vryheid, vreugde en blydskap. Daarom het Jesus die water in wyn verander by die bruilof in Kana, sodat die blydskap kan voortgaan.
Die wet skep grense, en hoe het die Fariseërs nie daardie streep getrek tot die jota en titteltjie nie. Daar was geen plek en ruimte vir ’n sondaar nie.
Jesus Christus het egter alle grense kom deurbreek en vir alle sondaars ’n feesmaal kom voorberei, waarvan Hy self die hart is. Hy het die sondaars wat nie onder die Wet geleef het nie, baie lief gekry, met hulle gemeng en hulle gered.
As ons Jesus uit die hart van die Evangelie laat, verloor die Evangelie sy vreugde. Jesus is ons vreugde en blydskap en daarom is Hy die Bruidegom en die hart van die partytjie. Jesus het gekom om te red, nie om te veroordeel nie. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
BRONNELYS:
Myers. Jeremy. Luk 5: 33 – 39 Christ the Life of the Party. Redeeming God.
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
