Skriflesing: Eksodus 1: 1 – 2: 10
Vir die Israeliete begin die verhaal van Eksodus op ’n uiterste laagtepunt. Hulle is al 400 jaar in slawerny. Aanvanklik was Egipte vir hulle ’n toevlug tydens die sewe jaar droogte en hongersnood. Josef, een van die broers, was tweede hoogste in bevel in die Egiptiese ryk. Toe het dit goed gegaan met hulle. Maar Josef het gesterwe en die Farao’s het mekaar een na die ander opgevolg. Vierhonderd jaar later het die Farao nie eens geweet wie Josef was nie.

Die Israeliete het mettertyd slawe in Egipte geword en hulle is veral gebruik om stene te maak vir die bouwerk van dié land se stede. Walter Brueggemann teken in sy Living Towards a vision ’n prentjie wat iets vertel van die Israeliete se swaarkry in Egipte. Die steengroewe was volgens hom:

- ’n plek met ’n strawwe produksiekwota wat daagliks gelewer moes word.
- ’n plek van werksdrukte en profyt, met min tyd vir ontspanning.
- ’n plek van ongelukkigheid en verdrukking.
- ’n plek van aggressie en vyandigheid; en
- uiteindelik ’n plek van wanhoop en lyding.

’n Bepaalde aantal stene moes daagliks gemaak word. Dit was slawewerk. Brueggemann skryf verder dat ons ook elkeen op ’n manier gebind is aan ’n sisteem. Dit kan wees om jou base gelukkig te hou. Dit kan ’n huisvrou wees wat haar elke dag moet afsloof en die huisgenote waardeer dit nie. Dit kan wees ’n verkoopspersoon wie se verwagte kwota verkope elke maand opgestoot word. Dit kan ’n maatskaplike werker wees wat ’n onmoontlike werkslading het. In ’n sekere sin is ons almal slawe van ’n sisteem.
Dan vra Coenie Burger die vraag of ons nie maar elkeen aan ons lot oorgelaat is nie. Gee God om? Hoor God as ons roep? Die volk Israel sit al 400 jaar in slawerny! Waar is God?
Coenie Burger vergelyk die buite-Bybelse verlossings- en roepingsverhale met die Bybelse verhaal. In die buite-Bybelse verlossingsverhale is die gode altyd op die voorgrond. Dit verskil egter drasties van die Bybelse verlossingsverhale, soos in Eksodus uitgebeeld word. In Eksodus is daar ’n verhoog en net die mense tree op, as akteurs. God is egter agter die skerms aan die werk as regisseur, maar veel meer nog – ook as die draaiboekskrywer.
God is nie lief daarvoor om op die voorgrond op te tree nie. Hy is altyd agter die skerms aan die werk. Omdat God agter die skerms werk, gee Hy altyd om. Daarom is ons nie aan ons lot oorgelaat nie. Kom ons kyk hoe die Here agter die skerms werk.
Die Israeliete het net meer en meer geword en die Farao was later bang dat die Israeliete te veel sal word en Egipte sou oorneem. Telkens gebruik die Here onmagtige vroue om die Farao te uitoorlê.
Die Farao gebied toe twee eenvoudige Hebreeuse vroedvroue om, as daar seuntjies gebore word, hulle om die lewe te bring. Die vroue se name is Sifra en Pua. In vers 15 lees ons hoedat die Here in Sifra en Pua se harte werk om nie die Farao te gehoorsaam nie en as’t ware die Farao se planne te fnuik.

Daarna was dit die suster van Moses, met die naam Miriam, wat hom as baba in ’n biesiemandjie wat met pik besmeer is, weggesteek het tussen die riete van die Nylrivier en oor Moses gewaak het.
Dan was dit ook die prinses, dogter van die Farao, wat deur die Here gebruik is om vir Moses in die paleis groot te maak en vir hom alles oor leierskap te leer. Toe sy die kindjie Moses vind in die biesiemandjie in die Nyl, het sy hom aanvanklik teruggegee vir sy moeder om hom te borsvoed en groot te maak, totdat hy groot genoeg was om in die paleis te woon. Sy het boonop die moeder van Moses betaal om hom groot te maak.
In Eksodus 1 en 2 sien ’n mens hoe God agter die skerms werk. Hy bewaar Moses van ’n gewisse kinderdood. Moses word in die paleis van die Farao groot, waar hy geleerd word en baie kennis van leierskap opdoen. Toe hy later vlug nadat hy ’n Egiptenaar doodgeslaan het en in die woestyn beland, leer hy vir 40 jaar alles van ’n lewe in ’n woestyn. Hy is as’t ware deur God se beskikking opgelei om as ’n leier in woestynomstandighede op te tree. Daarom kon God vir Moses gebruik om Sy volk uit Egipte te lei en vir 40 jaar deur die woestyn na die beloofde land te lei.
So het God agter die skerms gewerk, juis omdat Hy omgee wat met sy volk gebeur. Skynbaar was God afwesig, maar agter die skerms het God beskik om vir Sy volk verlossing te gee vanuit slawerny in Egipte.
As God agter die skerms werk omdat Hy omgee, hoekom was ’n ompad van 430 jaar nodig? Lester Meyer verklaar dit in sy boek The message of Exodus.
Eerstens het die Here die ompad gekies, sodat Hy sy uitverkore volk kon red van die hongersnood wat in die aartsvader Jakob se tyd uitgebreek het en die posisie van Josef (as tweede hoogste in bevel in die Egiptiese ryk) kon gebruik om sy uitverkore volk te red.
Tweedens, juis in Egipte, die plek van slawerny, het God Sy belofte van ’n groot nageslag vir Abraham waar gemaak. Toe Jakob en sy familie in Egipte aangekom het, was hulle maar ongeveer 70 mense. Maar nou, na 400 jaar, was die afstammelinge so talryk dat die Farao bang geword het vir die menigte Israeliete en het hy in hulle ’n bedreiging gesien.
Derdens het die Here vir Israel 400 jaar in Egipte geplaas, sodat hulle moes swaarkry. As jy eers swaargekry het, kan jy werklik ’n ander mens se lyding verstaan. Daarom moet ons nie moedeloos raak as ons deur moeilike tye gaan nie. Die duidelikste kenmerk van Israel as volk moes wees dat hulle as God se volk moes oorbuig na mense, kon omgee vir die wat sukkel en swaarkry in die lewe, die wat wees en weduwees is en énige mens wat in nood was. Lyding kan ons dikwels help om te groei in ons menswees of voorberei vir iets besonders. Daar is altyd ’n hoër doel agter elke stukkie swaarkry. Later in die Bybel sou ons telkens hoor dat die Here vir Sy volk Israel sê om goed te doen aan die vreemdeling, die arme en die uitgestotene, want hulle het geweet hoe dit gevoel het om as vreemdelinge en slawe in die land Egipte te wees.

So het God agter die skerms gewerk, omdat hy omgee. In vele Skrifgedeeltes lees ’n mens hoedat God as’t ware ongesiens werk. Dink aan die boek Ester, waar God se naam nie een keer genoem word nie, maar waar God agter die skerms optree om die Jode te red van ’n gewisse dood.
Daarom werk God in die verborgenheid. Daar waar ons God nie kan sien nie, daar werk God. God werk as die Onsienlike. God werk dikwels as die groot Anonieme wat Sy werk in die geheimenis uitvoer.
Soos Jesus ons leer dat jou regterhand nie moet weet wat jou linkerhand doen nie, bewerk God dan ook dikwels anoniem die goeie vir die mens, omdat Hy regtig omgee.
God gee regtig om vir elkeen van Sy kinders. Daarom het die Here ’n plan vir elke mens se lewe. Op elke bladsy van die geskiedenis is die Here se Naam geskrywe. In ons biografie is die Here se Naam geskryf boaan elke lewensdag. Ons lewensdae is afgetel met Goddelike sorg. Die Here is besig met ons, want Hy gee om vir ons.
Die Here gee regtig om. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS:
Burger, Coenie. 1992.Vergesel van die Almagtige. Kaapstad: Lux Verbi.
































