Skriflesing: Jeremia 18: 1 – 6
Wat is die eerste wat ’n mens van God leer in die Bybel? Dat God liefde is of dat God genadig is? Nee, wat ’n mens heel eerste van God leer, is dat Hy die Skeppergod is. Hy is die God wat kreatief Sy skepping geskep het en nog steeds daarmee voortgaan. Hy het miljoene verskillende spesies geskep in die plante- en diereryk; die vis-, die voël-, die reptiel-, die insekteryk en so kan ons aangaan. Hy het ook verskillende soorte mense gemaak. Die menseryk is die kroon van Sy skepping.
Die mens is gemaak na die beeld van God. God is die Skeppergod uit wie en deur wie alle dinge ontstaan het. Net God kan skep, maar omdat die mens na die beeld van God geskep is, kan die mens ook kreatief en dus skeppend optree. Die hoogste doel in die mens se lewe is om kreatief voor God se aangesig te lewe deur sy kreatiewe vermoëns te gebruik. Wanneer die mens bloot lewe om te oorleef, is hy niks beter as die diere en plante van die natuur nie. Maar God het aan die mens die besondere gawe gegee om kreatief besig te wees.
Daarom het God by die skepping aan die mens die opdrag gegee om die wêreld te bewoon en te bewerk en vir alles name te gee.
In ons gelese gedeelte lees ons van die metafoor wat Jeremia gebruik om te verduidelik dat die Here vir Israel gaan herskep, soos wat ’n pottebakker die klei wat platgeval het, weer knie en daaruit iets anders skep. Die Pottebakker is die Here en die ongehoorsame Israel is die klei.

Die Here nooi ons vandag om saam met Jeremia te stap na die pottebakker se huis. Israel het heel dikwels ’n gemors aangevang met die geleenthede wat God vir hulle gegee het. Israel se geskiedenis is telkens gekenmerk deur verkeerde keuses en sondige afdraaipaaie. Telkens maak Israel ’n mislukking van sy bestaan. Baie dikwels het Israel die drop–out volk geword tussen die volkere van destyds. Israel is moedeloos en die profeet Jeremia nog meer moedeloos. Daarom het God dit nodig geag om Jeremia op ’n opvoedkundige toer te neem na die pottebakker se huis. Wil u nie saamgaan nie? Die Here het vandag ook vir ons ’n opvoedkundige les.

Dan is ons saam met Jeremia by die pottebakker se huis. Kyk, die pottebakker is juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak: ’n Pragtige kruik word geskep. Skielik stort die klei inmekaar op die wiel en alles is ’n mislukking. Gaan die pottebakker die klei weggooi? Nee, hy knie dit van voor af, plaas dit weer op die wiel en begin om iets anders te skep. Uiteindelik neem dit die pragtige vorm van ’n skottel aan.
Maar eintlik lees ons die Evangelie van Jesus Christus daar op die pottebakkerswiel. Dikwels stort ons lewens ook in duie op die wentelende ratte van die wiel van die lewe. Somtyds val ’n mens se kinderjare, jou studies, jou huwelik, jou gesin, jou loopbaan, jou gesondheid of jou lewe uitmekaar. Dit is traumaties as jou lewe so uitmekaar val of inplof. Soms is dit jou eie skuld – ’n stukkie hardheid in jou lewensklei. Soms is dit dinge buite jou beheer.

Die troos van die Evangelie is egter dat God ons nie weggooi as ons stukkend breek in die geweld en hardheid van die lewe nie. Mense is anders as God. Mense veroordeel mekaar en gooi mekaar weg as ’n ander een misluk of nie so suksesvol soos ek is nie. God is egter anders: God knie ons in ons beproewinge en teenslae saam, om ons in iets nuuts te herskep. Soos die pottebakker wat uit die inmekaargesakte kruik ’n pragtige skottel skep.
Die pottebakker skep nie uit elke hopie klei dieselfde voorwerp nie. Hy skep wat hy wil met die klei. Hy verander selfs van plan om sodoende iets beters te skep. Die stuk klei kan nie ’n kruik wees nie; nou skep hy daaruit ’n skottel. God raak nie ontslae van die klei wat nie uitgekom het soos Hy dit wou gehad het nie; Hy herskep dit eenvoudig in iets anders.
Sommige mense kla dat as God die pottebakker is en ons die klei, dan beteken dit dat die mens geen vryheid het nie. Dat ons slegs maar magtelose klei is in die hande van die Vader. Maar dan verstaan ons “vryheid” verkeerd. ’n Vis is ook vry, maar slegs as die vis in die water is. Martin Luther het gesê: “Ons is vry van die wet, maar nooit vry van God en ons naaste nie. Sonder God en ons naaste is daar geen vryheid moontlik nie.”
Wanneer God die pottebakker is, wil Hy ons tot iets meer skep as wat ons is, soos die Engelse skrywer CS Lewis in sy boek “Mere Christianity” skryf: “Verbeel jou jy is ’n lewende huis. God kom om dié huis te herbou. Daklekke en stukkende vloerplanke word byvoorbeeld reggemaak. Maar dan begin Hy met verbrekings aan die huis wat nie vir jou sin maak nie. Wat is Hy besig om te doen? Die verduideliking is dat Hy ’n totaal ander huis skep as die een wat jy in gedagte het. Jy dink dat God ’n klein, netjiese huisie gaan skep. God het egter ’n paleis in gedagte … waarin Hyself wil kom woon.” Ja, in God se hande word ons ons vryheid nie ontneem nie. Nee, ons is in beter hande.
Jesus is die groot Herskepper. Die Here Jesus aan die kruis het kom versoening skep.

’n Mens leer by God van kreatiwiteit. Omdat God geskep en ook kom herskep het, kan ons by God leer om ook skeppend en herskeppend te leef. Dit sal vir ons geluk en nuwe energie bring in 2024.
Daarom kan ons in 2024 elke dag kreatief ook nuwe en beter menseverhoudings skep, sodat ons opregte verhoudingsmense kan wees, wat in kwaliteit-verhoudings staan met ander mense.

Wanneer mense intense emosionele pyn ervaar, vind hul gewoonlik diepe genesing daarin “om iets te skep”. Daarom het die meeste psigiatriese hospitale elke dag ’n tydgleuf waarin pasiënte aangemoedig word om in die kunsklas iets te skep. Dit kan verf, naaldwerk, skryf, krale of enigiets wees wat weer vir hul ’n gevoel van “sukses” gee.
In die meeste mense se alledaagse lewe is hul vasgevang in die sleur van die lewe sodat hulle doodgewoon verveeld raak en hul energie vir die lewe verloor. Wanneer jy worstel met min lewensenergie is dit ’n baie goeie begin deur die vraag te vra: “ Wat het ek die afgelope dag of week geskep?” Gewoonlik is die antwoord negatief, want instandhouding van die lewe het geen tyd gelaat vir kreatiwiteit nie. Die herstel van lewensenergie begin deur vir jouself duidelike doelwitte te stel om weer jou kreatiewe self te ontdek. Elke mens het ’n kreatiewe self, want jy is gemaak na die beeld van God. God se ryke verskeidenheid mense verskil almal egter wat kreatiewe talente betref. Sommige vind hul kreatiwiteit in naaldwerk, houtwerk, krale, skryf, kosmaak, tuinmaak, skilder, verf, binnenshuise versiering, navorsing of enigiets onder die son, wat geboorte gee aan iets nuuts. Wie leer om kreatief te skep, skep vir homself nuwe sin en betekenis in die lewe. Kreatiewe energie is positiewe energie, dit genees emosioneel. Gewoonlik sneeubal energie in iets groters, in ’n nuwe JY. Ons samelewing plaas groot klem op gewigsbeheer, fiksheid, fisiese voorkoms en diëte. Ongelukkig plaas ons min klem op emosionele lewensenergie. Tog is dit dikwels juis ons lewensenergie wat vreugde in die lewe stimuleer en van ons gelukkige mense maak. Kreatiwiteit behels om met verbeelding ’n skeppingswerk te voltooi. Albert Einstein het gesê dat verbeelding belangriker as kennis is. Kennis is beperk.
’n Mens moet ook herskeppend werk in jou verhoudinge met ander mense. Net soos die Here herskeppend werk in Sy verhouding met die mensdom. Herskepping beteken dat ons ander mense sal vergeef en beter verhoudinge sal skep met ander mense.

Mag jy in 2024 leer om opnuut kreatief te leef. Dan sal jy geluk en nuwe lewensenergie ervaar. Mag jy ook in 2024 herskeppend jou verhoudinge met ander mense verbeter of herstel.
Oorleef jy of leef jy ? Skeppende kreatiwiteit laat jou LEEF!
Jy is gemaak om te skep. Mag 2024 vir jou ’n kreatiewe jaar wees.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
