Skriflesing: Gal 4: 4 – 7
Die geboorte van Jesus was presies op die volmaakte tyd, soos voorspel is. Jesus Christus het op ’n kairos-moment die geskiedenis betree as die Seun van God. Hierdie datum is presies deur die profete voorspel.

Kom ons kyk na die onderskeiding van die gebruik van die volgende twee Griekse woorde: chronos en kairos. Chronos is “horlosietyd”, 24 ure in ’n dag, 60 minute in ’n uur en 60 sekondes in ’n minuut. Ons gebruik chronos-tyd om ons dag te beplan of om afsprake te bevestig. Kairos-tyd beteken die volmaakte oomblik op die regte tyd en regte plek. Dit is die volmaakte regte oomblik soos wat ’n foto op presies die regte oomblik geneem word.

Die meegaande foto was ’n tyd gelede sensasionele nuus aangesien ’n interessante verskynsel uiteindelik op film vasgelê is. Vir die eerste keer sedert vliegtuie deur die klankgrens gebreek het, kon die spesifieke oomblik verewig word.
Dit is ’n F-18 Hornet van die Amerikaanse vliegdekskip USS Constellation wat êrens oor die Atlantiese oseaan vir klank begin wegvlieg het teen 1123 km/h by standaard-atmosferiese toestande. So ’n aksie veroorsaak ’n blitsvinnige kondensasie van waterdamp, wat in die reël nog onsigbaar bly. In hierdie kairos-geval was die weerstoestande op daardie oomblik ideaal om die skouspel vir die eerste keer in die geskiedenis vas te vang. Selfs die fotograaf was op die regte tydstip op die regte plek.

Kairos-tyd is die spesifieke oomblik wat alles tegelyk gebeur. Dit is wanneer verskillende gebeurtenisse en omstandighede vir daardie oomblik bymekaar kom. Dit kan natuurlik ’n goeie of ’n slegte uitkoms wees. Ons as gelowiges glo dat God die goeie en die slegte goed wat met ons gebeur alles vir ons ten goede laat meewerk.
Aristoteles, ’n antieke Griekse filosoof sê dat kairos die tyd en spasie is waarbinne bewyse van ingrype plaasvind. Ons as Christene sou Aristoteles kon verfyn, deur te sê kairos-oomblikke is tye en spasies waar God Homself aan die mens bewys as die teenwoordige God. Ons almal het sulke Godsmomente waar God Homself helder en duidelik openbaar.
So was die tye en omstandighede vir die geboorte van Jesus Christus ook perfek. Daarom, toe die wyse manne by koning Herodus kom en navraag doen oor die Messias (die Koning) wat gebore is, het Herodus by die Joodse geleerdes navraag gedoen en is dit inderdaad bevestig dat die Messias gebore is.
Die tyd was perfek. In Gal 4: 4a staan daar: “Maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou …”

Eerstens het die Romeine feitlik oor die hele bekende wêreld regeer. Al was die Romeine ’n wrede nasie, was daar met die geboorte en tydens die eerste eeu na Christus ’n redelike mate van wêreldvrede. Daar is gepraat van die sogenaamde PAX ROMANA, wat beteken het daar was vrede in die Romeinse Ryk. Dit het tot gevolg gehad dat die Evangelie van Jesus Christus maklik versprei kon word in die destydse bekende wêreld.

Ook kultureel was dit die regte tyd. Grieks was toe een van die wêreldtale en oral bekend in die Romeinse Ryk. Daarom is die Bybel ook in Grieks geskryf, sodat dit alle mense kon bereik in die Romeinse Ryk.

Ook het die Romeine dwarsdeur die Romeinse wêreld effektiewe paaie gebou, wat reis baie maklik gemaak het. Die apostels kon maklik van een plek na ’n ander plek beweeg, as gevolg van die nuutste padnetwerk in die Romeinse Ryk. Ook dit het die bevordering van die Evangelie vergemaklik.
As gevolg van verskeie Joodse ballingskappe was daar duisende Jode oor die destydse wêreld versprei. Hulle het almal die boodskap gedra van die verwagte Messias wat sou kom. Daarom het duisende nie-Jode ook daarvan kennis geneem en was die wêreld gereed om die Messias te ontmoet.
Daar was ook onder die ander gelowe ’n teleurstelling in hulle gode. So het die Grieke die berg Olympus bestyg en teleurgesteld ontdek daar was geen gode nie. Daarom was baie ontvanklik vir die Christelike geloof.

Die Christengelowiges van die eerste eeu het sterk op hulle geloof gestaan en baie het ’n marteldood gesterf vir Christus. So het die bloed van die martelare die saad van die Evangelie geword, deurdat Christene gevlug het en oral waar hulle gekom het, die Evangelie verkondig het.
God beplan eers voor Hy oorgaan tot aksie. Daarom het God die koms van Sy Seun op Kersdag op die volmaakte tyd en plek beplan.
So maak God ook in die perfekte tyd mense se harte oop om volgelinge van Hom te word. Dit noem ons die bekering of die wedergeboorte. God bewerk dit in mense se harte op Sy tyd en manier. Dit kan kom deur ’n preek, deur ’n getuienis van iemand, deur ’n gebeurtenis in ons lewe of deur die perfekte sameloop van omstandighede. So raak God ook die gelowiges aan om hulle in hulle geloof te versterk.
Die troos van die gedeelte is om aan ons te toon dat ons Jesus dikwels sal vind werk op ’n spesifieke oomblik, spesifieke plek en spesifieke omstandigheid. Wanneer al die faktore volmaak is, sal Jesus ingryp. Daarom beteken die woord kairos (moderne en klassieke Grieks) ook “weersomstandighede”.

Soos daar in die eerste eeu die verwagting was van die komende Messias, leef daar in ons ’n nuwe verwagting, naamlik die wederkoms van Jesus Christus.
’n Spesifieke weersomstandigheid sal eers plaasvind wanneer al die faktore daarvoor gunstig is. Nie verniet word die wederkoms van die Here verbind met weerverskynsels nie. Die Here sal op die kairos-moment, die volmaakte tydstip, kom en die nuwe hemel en aarde vestig. Ons werk in die chronos. God werk in die kairos. Daarom verstaan ons God nie aldag so reg nie.
Ons lewe tussen die Bethlehemster en die Wederkomswolk. Albei vind plaas in die kairos-tyd, wanneer alles perfek saamloop volgens God se wil.
In die eerste eeu het die mense uitgesien na die koms van die Messias. Dit vier ons Maandag met Kersfees, maar ons het ’n ander “uitsien” naamlik na die wederkoms van die Here. Daarom het ons ’n lewende verwagting vir die toekoms, wanneer Christus weer kom op die wolke van die hemel. God werk in kairos-tyd. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS:
Thompson, Roger. Christmas Sermons by Roger L. Thompson . Michael L Thompson. Kindle Edition.
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
