Geen donkerte kan die Lig verdryf nie


Skriflesing: Joh 1: 1 – 14

Waar het die gebruik ontstaan om tydens Kersfees kerse te brand in die venster?

Die gebruik is baie algemeen in Amerika en ook ander lande van die wêreld. Die gebruik het in Ierland ontstaan. Die Protestantse Engelse het die Katolieke Kerk se gelowiges vervolg en hulle mag nie in hulle kerke aanbid nie. Die Ierse Katolieke gelowiges het dan oor die Kersgety brandende kerse in die vensters geplaas en die deure van hulle huise oopgelos. Hulle grootste verwagting was dat daar darem net een keer in hulle lewe, ’n priester in die nag uit die woude en bosse sou kom en aan hulle die Nagmaal (mis) bedien.

Aan die Engelse Protestante het hulle vertel hulle wag vir Josef en Maria om te kom. Daarom brand hulle kerse in die venster en hou die deur oop. Die Protestante het hulle dan gelos, want dit is volgens hulle onskuldig en slegs bygeloof.  

So het die gebruik van die Iere om kerse in die venters te sit en die deure oop te los, ’n gebruik geword wat oorgespoel het ook na Amerika.  (Roger Thompson)   

Daarom speel lig so ’n sentrale rol in die Kersgety. Johannes 1 begin sommer met die woorde dat die Lig gekom het.

Kom ons kyk na die Ligmetafoor:  

In die begin het God gesê: “Laat daar lig wees”. En daar was lig. Adam en Eva het fisiese en geestelike lig gehad. God het elke aand in die aandwind aan hulle verskyn. Toe kom die sondeval en ’n groot donkerte het oor die skepping neergedaal. Nie ’n fisiese donkerte nie, maar ’n geestelike en emosionele donkerte.

In die Nuwe Testament met Kersfees het die Here as’t ware weer gesê: “Laat daar Lig wees”. Christus is gebore as die Lig vir die wêreld. Hy het gekom om die duisternis, die geestelike duisternis, te verdryf.

JH Denison skryf dat naby die Noordpool die nag vir maande aanhou. Wanneer die mense verwag het dat die son moet opkom, het hulle boodskappers na die hoogste punte gestuur om die dagbreek aan te kondig. Wanneer die son sy verskyning maak, het hulle hard uitgeroep: “Aanskou die son!” Die wekroep is dan oor die hele land voortgedra: “Aanskou die son”. Dan het almal nuwe klere aangetrek om aan te toon dat dit uiteindelik dag geword het. Met die Christusfees het die Son van geregtigheid die duistere wêreld kom verlig. (In die woorde van JH Denison.)

Daarom is Joh 1: 1 – 14 die klassieke gedeelte wat Jesus in die Bybel voorhou as die Lig wat aan die kom was na die donker wêreld. Christus as Lig skyn in hierdie donker wêreld. Sedert Christus se koms het Sy lig die lig van miljoene gelowiges geword wat in Hom glo. Christus verlig die lewens van elkeen wat met sy sonde, hartseer en gebrokenheid na Hom toe vlug. Met een kers kan jy ’n oneindige hoeveelheid ander kerse aansteek. So het Christus die Ligbron van die wêreld geword.

Daarom gaan Kersfees oor kerse en lig. Dit beteken dat elkeen van ons ook ligdraers moet wees in hierdie donker wêreld. Ons kerslig moet aansteeklik wees vir ander wat nog in die duisternis lewe. Daarom het Jesus ook gesê dat ’n lig wat op ’n berg is, nie weggesteek kan word nie. Maar ’n lig onder ’n maatemmer is nutteloos.

Die vraag kan gevra word: Waarom is Jesus die Lig van die wêreld, maar daar is soveel donkerte in mense se lewens? Waarom is die wêreld nog in duisternis? Daar is soveel misdaad en armoede in hierdie wêreld. Dink aan die onnodige oorlog wat Rusland, onder leiding van Poetin, teen die Oekraine voer. Dan is daar die bloedige en hoë, intense oorlog in Gasa. Hamas het ’n bloedbad veroorsaak teen Israel. Nou is dit ’n oorlog tussen die Jode en die Palestyne. Waarom soveel lyding in die wêreld? Johan Cilliers beantwoord dit mooi met ’n verduideliking: Die Koninkryk van God kan vergelyk word met ’n toneel uit die Eerste Wêreldoorlog. Groot dele van Europa is deur vyandelike magte beset. Soldate was die strate vol en vrouens en kinders het vir die soldate gevlug. Toe kom die berig dat die hoofleërs van die vyand beslissend verslaan is by die Mamreveldslag. Dit was net ’n kwessie van tyd, dan sou die vyandelike magte moes terugtrek. Vier jaar later was die soldate steeds in die dorpies. Maar alles was nou anders. Dit was ’n tyd van opruiming, ’n kwessie van tyd. Mense kon weer met hoop lewe.

Met Christus se koms was dit net so. Jesus se koms het alles verander, maar tog het almal nie verander nie, skryf Johan Cilliers. Die Herodusse is nog daar en die kindermoorde het nie opgehou nie. Soldate marsjeer steeds voort op die oorlogsfronte en mense steek mekaar nog steeds in die rug. Geweldsmisdade en menslike ellende duur voort.

Maar die Kindjie wat gebore is, is reeds deur die heidene wat van ver gekom het, as Koning vereer. Dit is nou die tyd van opruiming van Satan se invloed en ’n kwessie van tyd. Fil 2: 10 – 11 sê daar kom ’n tyd wat elkeen wat in die hemel en op die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is Here.

Hoor wat sê Openbaring 21: 23 – 25: “Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie”.

Daarom ontwikkel die lig-metafoor dwarsdeur die Bybel in vier fases:

  1. In Gen 1: God het lig geskep (bedoelende die son)
  2. In Gen 3: Die mensdom val in ’n geestelike duisternis en donkerte as gevolg van die sonde.
  3. In Joh 1: Christus Jesus is die Lig vir ’n donker wêreld.
  4. In Openb 21: 23 – 25: Daar sal geen son en geen donkerte meer wees nie, want Christus is die Lam, wat die lamp is.

As jy verskoning maak oor jy nie ’n verskil in die lewe kan maak nie, dink anders daaroor. As jy jou kers laat brand, is daar nie genoeg donkerte om dit uit te doof nie. Elke gelowige wat ’n brandende kers is, behaal ’n geweldige oorwinning oor die duisternis.

Ons kan nie ’n pad hemel toe (boontoe) maak nie. Met Kersfees het God ’n pad (ondertoe) na ons gemaak. Dit het gebeur op Kersfees. Die Ligdraer het na ons gekom, om ons ook aan te steek om lig vir die wêreld te wees.

Laat jou liggie skyn in hierdie donker wêreld.                          

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Lewer kommentaar