Skriflesing: Psalm 23: 1 – 6
Psalm 23 is ’n roep tot God in ’n tyd van nood. Wanneer ’n geliefde sterf en ons hart groot verdriet ervaar, is dit reg om na God te gaan om hulp. Hierdie Psalm 23 word deur baie genoem die pêrel van die Psalms. Mag die pêrel in die Psalmboek julle vandag vertroos met Karin se dood.
Die fokus van die Psalm gaan nie oor die Psalmis wat in nood verkeer nie, maar val eerder op die karakter van God. Die karakter van God word besing in tye van nood. Die Here is my Herder. Wat doen herders in die tyd van die Bybel? Hulle het die skape opgepas teen rowers en ongediertes en die skape gelei na waar kos en drinkwater is.

Tussen die Herder en die skape is daar ’n intieme verhouding. Is Psalm 23 kom die woorde “ek” en “my” altesaam sewentien keer voor. Die woorde “Hy”, “Sy” en “U” kom altesaam tien keer voor. Dit alles net in ses kort verse. Daarom is Psalm 23 ’n baie persoonlike Psalm, wat persoonlik beleef moet word. Dit is vir ons elkeen ’n persoonlike troos.
Die goeie Herder laat ons die volheid van die lewe beleef. In Hom is ons ten volle versorg. Hy laat my eerstens ten volle die rus beleef, deur my na groen weivelde van rus te bring. Hy gee my ten volle die verkwikking, deur my te lei na water waar daar vrede is. Hy verkwik my ten volle met nuwe lewenskrag. Die goeie Herder lei my ook ten volle op die regte pad. Skape het geen ingeboude sin vir rigting nie. Hulle is ten volle afhanklik van die herder wat hulle lei. So lei die goeie Herder ons op die regte pad.
Vers vier handel oor die Here wat ons lei deur die vrese en angste van die lewe. Het ons nie genoeg vrese en angste deur ons lewe nie? Hierdie vers het ook die laaste angs van die lewe in die oog, naamlik die Dood. Maar dan beskryf Dawid dat die Here Sy stok en staf gebruik om ons te help. Met die staf lei Hy ons en kan Hy ’n afgedwaalde skaap met die haak van die staf nader trek. Met die stok jaag die Herder al die vyande weg. Dit was soos ’n knuppel met een swaar kant en versterk met spykers. So kom loop die Here saam met ons as ons in gevaar verkeer.
Let op hoe die grammatika verander in die gedeelte. Die Psalmdigter praat aanvanklik van God in die derde persoon, maar van vers 4 – 6 praat hy in die tweede persoon. Nou, in die donker kloof, draai die psalmdigter om en praat met God in die tweede persoon. God word ’n werklikheid wanneer hy ’n noodsaaklikheid word. Die donker kloof maak God vir ons meer werklik as ooit tevore.
Ron Mehl het baie jare kanker gehad. Met hierdie ervaring het hy baie geleer oor die lewe en oor God en hy skryf: “Shadows can cause us no harm; the shadow of a bear can’t bite you, the shadow of a lion can’t defeat you, the shadow of a giant can’t intimidate you, the shadow of death can’t conquer you.”
So het die skaduwee van kanker nie vir Karin oorweldig nie. Sy beleef nie die ewige dood nie. Jesus se dood het haar dood kom doodmaak.
Klein seuntjies doen soms die vreemdste goed vir opwinding. Om die eentonigheid van hul jong lewens te breek, het twee klein seuntjies langs die treinspoor gaan lê om die spoorvibrasies van die aankomende trein te voel, asook om sy donderende geluid te hoor. Nadat dit verby is en slegs die skaduwee van die trein oor hulle gegaan het, was hulle veilig en geen skade is hulle aangedoen nie, selfs in hierdie oënskynlik benarde posisie.
Net so, wanneer ons deur die “vallei van die skaduwee” gaan, ervaar ons net die “skaduwee”.
Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat D. L. Moody van East Northfield dood is. Glo jy nie ’n woord daarvan nie. Op daardie oomblik sal ek meer lewend wees as nou. Ek sal hemel toe gaan, dit is al – uit hierdie ou kleihut na ’n huis wat onsterflik is; ’n liggaam wat die dood nie kan aanraak nie, wat sonde nie kan besoedel nie, ’n liggaam wat gevorm is soos Sy glorieryke liggaam. Wat uit die vlees gebore is, kan sterwe. Wat uit die Gees gebore is, sal vir ewig lewe.”
In die middel van die skaduwee van die dood, het die Here ’n feesmaal kom voorberei. Die Here verlang dat ons by Hom moet wees. Vir ons is die dood afskeid, maar vir die Here beteken dit ontvangs. In die Oosterse kultuur beteken gasvryheid ook beskerming.
Daarom is die Here bly om Karin te ontvang, omdat sy nou ontslae is van siekte en kanker. Sy is nou uiteindelik vry van kanker.
In vers 5 is daar geskryf: “U verfris my kop met olie.” Hierdie olie beteken genesende krag. So sal die Here Jesus ook vir elkeen van julle wat agtergebly het, seën met Sy olie van genesing, om die stukkende en treurende harte en emosies te genees.
Daarom is dit ’n wonderlike troos om te weet ons het ’n ewige Herder wat ons lei en bewaar en ons met ons dood ontvang om tuis te wees in die huis van die Here.
’n Boer het sy seuntjie op ’n besoek aan ’n verafgeleë dorpie geneem. Langs die pad kom hulle by ’n sterk stroompie wat deur ’n wankelrige ou brug oorspan is, wat die seuntjie bang gemaak het, al was dit daglig. Toe hy teen skemer terugkeer, het die seun die stroompie en die ou brug onthou en paniekerig geraak. Hoe sou hulle met daardie wankelende brug daardie onstuimige stroom in die donker oorsteek? Die pa het sy angs opgemerk, die seun opgetel en hom in sy arms gedra. Voordat hulle by die brug kom, was hy vas aan die slaap teen sy pa se skouer. Terwyl die volgende oggend se son by sy slaapkamervenster ingestroom het, het die seun wakker geword en ontdek hy is veilig by die huis. By die dood raak die gelowige aan die slaap in die Verlosser se arms om wakker te word in Sy helder land van geen nag en geen vrees nie.
Twee voëltjies het ’n nes in die bosse in die agterste deel van ’n tuin gehad. Die vyfjarige Amy het die nes gevind. Dit het vier gespikkelde eiers in gehad. Op ’n dag, nadat sy ’n geruime tyd weg was, het sy die tuin ingehardloop om weer na die mooi eiers te gaan kyk. Tot haar ontsteltenis het sy net gebreekte skulpe gevind. “O,” het sy gehuil, “die pragtige eiers is almal bederf en gebreek!” “Nee, Amy,” sê haar broer, “hulle is nie bederf nie. Die beste deel van hulle het vlerke gekry en weggevlieg.” So is dit ook met die dood. Die liggaam wat agterbly is net ’n leë dop, terwyl die siel, die beter deel, vlerke ontvang het en weggevlieg het na die hemel.
In ons diepste hartseer word God ’n absolute werklikheid. Ons diepste troos in die wrede werklikheid van die dood is dat Jesus opgestaan het uit die dood en dat ons in Sy opstanding Hom sal volg. Amen
(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS:
Henry, Jim. A Minister’s Treasury of Funeral and Memorial Messages. B&H Publishing Group. Kindle Edition.
Bible Illustrations. AMG Internasional, Inc
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
