Wat beteken: Die Woord het vlees geword?


Skriflesing: Johannes 1: 1 – 14

Die woord יהוה (Jahweh) beteken “Here” en het vier konsonante.

In die Joodse Ou Testamentiese geloof het die mense nooit die woord Jahweh gebruik nie. Dit was omdat hulle te bang is om die Here by die naam te noem. Daarom het hulle liewer van die “vierletter-woord” of van die “Woord” gepraat, om nie die Here se naam direk te gebruik nie.

Wanneer gepraat word in vers 14 van “Die Woord het vlees geword”, beteken dit eintlik: “Die Here het vlees geword.” In die teologie praat ons van die inkarnasie. Dit beteken dat die Here Jesus wat 100% God is, gekom het om ook 100% mens te wees. Inkarnasie beteken, met ander woorde, die menswording van Jesus Christus. Dit is natuurlik ’n moeilike begrip om te verstaan.

Daar is ’n oorgelewerde storie wat vertel word, wat so lui: ’n Egpaar het op ’n klein plattelandse dorpie gebly. Die vrou was ’n toegewyde Christen en kerkmens. Haar man was egter ’n ateïs, wat niks glo dat God kom mens word het nie. Elke Kersfees het dit in die dorpie gesneeu. Die gebruik was ook dat al die gelowiges van die dorpie op Oukersaand ’n erediens gehad het. Die betrokke Oukersaand het die vrou soos sy gewoond was, kerk toe gegaan. Dit het swaar gesneeu. Haar man het egter agtergebly en televisie gekyk. Toe hy by die venster uitkyk, sien hy ’n swerm voëls wat yskoud op die grond en in die takke van ’n boom sit. Hy het hulle jammer gekry. Hy gaan toe uit en maak die skuur se deure oop. Dit is heerlik beskut. Hy roep die voëltjies en hy beduie vir hulle. Maar hulle wil nie invlieg na die warmte van die skuur nie. Toe wens hy dat hy net ’n kort rukkie soos een van hulle kon word, met vlerkies en vere en so klein soos hulle. Dan kon hy met hulle kommunikeer en vooruit vlieg na die skuur en al die voëltjies sou hom volg. Toe skielik verstaan hy die geboorte van Christus. Die Here Jesus het mens geword, sodat elkeen van ons gered kan word om in die hemelse skuur in te gaan. Hy het net daar op sy knieë geval en ’n gelowige kind van die Here Jesus geword.

Die Here Jesus Christus (die Woord) moes vlees (mens) word om ons te red. Die inkarnasie van Jesus word onder andere deeglik geformuleer in die Belydenis van Athanasius, dat die Here Jesus bestaan het as God en mens. Besef u die wonder van dit alles?

Hoe wonderlik dat God van Sy hemelse troon geklim het en een van ons mense geword het. Van al die godsdienste van die wêreld is die Christelike geloof die enigste wat die geloof het dat die Godheid afgekom het en die vorm van die mens aangeneem het. Die Christelike geloof is ook die enigste geloof wat bely dat die Godheid in Jesus Christus gesterf het vir die sonde van die wêreld.

Daarom staan daar in vers 18 dat Jesus die unieke Seun van God is, wat ’n unieke taak gehad het om die wêreld te red.

Daar is ’n beroemde skildery wat hang in een van die paleise in Rome, Italië. Die skildery word genoem “The Aurora”. Die skildery is teen die dak van die paleis. Dit is amper onmoontlik om die skildery te bewonder, want jy kan nie so lank opkyk nie en jou nek word styf.

Die eienaar het toe ’n groot spieël reg onder die skildery geplaas. Nou kan jy rustig gaan sit en die skildery bewonder deur die spieël. So is Christus ook die Spieël waardeur ons die Vader kan sien.

Daar is ook die storie van die pa wat elke aand vir sy dogtertjie ’n storie gelees het voor slapenstyd. Dan het sy op haar pa se skoot gesit. Elke aand wou die dogtertjie dieselfde storie, herhaaldelik oor en oor, hoor. Later het die pa moeg geword om die storie oor en oor te vertel. Hy het die storie op ’n bandmasjien geplaas. Na drie aande kom die dogtertjie huilend by haar pa aan. Sy wil weer dat haar pa vir haar die storie lees. Hy sê toe vir haar maar sy het mos die storie op die bandmasjien. Sy antwoord toe dat sy nie op die bandmasjien se skoot kan sit nie. Netso het die Here nie net vir ons die Skrif gegee nie, Hy het afgekom na die mensdom, sodat die mensdom op Sy skoot kan sit. Daarom is Jesus Christus se menswording met Kersfees so ’n wonderlike gebeurtenis.

Joh 1: 14 begin: “En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon ….” Die woorde “en onder ons kom woon” beteken letterlik dat die Here Jesus “getabernakel” het in hierdie wêreld vir 33 jaar, net soos wat God by Sy volk in die woestyn vertoef het en Sy tabernakel laat opslaan het, as simbool van Sy teenwoordigheid. Die tabernakel was tydelik – so was Jesus se geboorte en lewe ook tydelik op hierdie aarde. Na Sy sterwe en hemelvaart het Hy die permanente tempel geword wat onder ons woon.

In ons teksgedeelte lees ons dat Jesus wat vlees geword het, lig gebring het vir die wêreld. Die donkerte van die wêreld kan nie hierdie Lig uitdoof nie. Hoe donkerder, hoe meer helder skyn die Lig. Jesus se vleeswording het al oor meer as 2000 jaar vir die mensdom lig gebring. Daarom word Kersfees met liggies gevier. Lig vir gebroke en sondige mense, lig vir huwelike, lig vir gesinne en families, lig in moeilike omstandighede, lig vir die siekes en bedroefdes en so kan ons voortgaan. Jesus wil ook jou Lig wees vir 2024.

Daarom moet ons ook in 2024 vir ander mense lig wees. Ons moet Christus beliggaam (embody) en Christ-like dissipels wees. “Thus the daring goal of the Christian life could be summarized as our being formed, conformed, and transformed into the image of Jesus Christ.” ( Richard J. Foster) Soos die vleeslike Jesus Christus opgetree het, moet ons ook optree in hierdie wêreld. Ons moet met liefde, ontferming, meegevoel, empatie en deernis ’n verskil kom maak in hierdie wêreld.

Jesus het kom mens word in die wêreld, sodat ons ook menslik kan optree teenoor mekaar en die vreemdeling op ons pad. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:
Thompson, Roger. Christmas Sermons by Roger L. Thompson. Michael L Thompson. Kindle Edition.

Leininger, David . The 2,000 Year-Old Preacher: Cycle B Sermons for Advent, Christmas, and Epiphany Based on the Gospel Texts. CSS Publishing. Kindle Edition.

https://renovare.org/articles/becoming-like-christ

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Lewer kommentaar