Kersfees is nie ‘n feëverhaal nie, maar vind in harde realiteite plaas


Skriflesing: Luk 2: 1 – 7

Ons maak van die Kersboodskap ’n feëverhaal. Aan die einde van die jaar wil ons weggevoer word na ’n romantiese aand, lank gelede in Palestina.

Ons romantiseer die stal, dra die kruis as ornament, sing Maria-wiegeliedere en voer die geboorte op met vrolike, stralende kinders. Ons droom van Sinterklaas en sy sleë, van takbokke, van geskenke en kersbome, van Kersetes en die heerlikste kerspoeding daarna.

Ja gemeente, ons raak bedwelm deur die Kersfeesgees, ten einde ’n bietjie te kan vergeet van die harde werklikhede van elke dag. Aan die einde van elke jaar wil ons ’n bietjie wegvlug van alles. Ons wil wegvlug van die stryd van elke dag en daarom soek ons troos in die romantiese Kersfeesstemming.

So vlug ons as’t ware van hierdie harde feite van die lewe, om iets van die feëwêreld van Kersfees te ervaar.  Maar geliefdes, ’n feëverhaal bied slegs tydelike ontvlugting omdat dit nie rekening hou met die werklikheid nie. ’n Feëverhaal verander niks aan die harde feite van die lewe nie.

Daarom is die troos van die kersboodskap dat dit geen feëverhaal is nie, maar plaasvind in ’n harde realiteit. Ons gaan eerstens kyk hoe Kersfees realiseer in die harde realiteite van die wêreld en tweedens, hoe Kersfees realiseer in die harde realiteite van my persoonlike lewe.  

Eerstens realiseer Kersfees in die harde realiteit van die wêreld. Die Kersverhaal begin nie soos die meeste feëverhale met “Eendag, lank gelede was daar ’n …” nie.

Nee, dit begin met harde werklikheid. Dit begin met: “In daardie tyd het Keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig …”

Die eerste Kersfees het plaasgevind in die naakte werklikheid van politieke oorheersing, magstryde, bloed, broedertwis en ellende.

Wanneer Lukas in sy Evangelie die name Augustus en Sirenius gebruik, wil hy eintlik vir ons sê dat Jesus Christus gekom het in die harde politieke werklikhede van Sy dag.

Kom ons kyk hoe het Palestina met die geboorte van Jesus daar uitgesien. Palestina, en daarmee saam die hele Joodse volk, was onderwerp aan die Romeinse oorheersing. Vir die Jood was dit ’n groot belediging om onder ’n Romein te staan. Daarom was politieke opstande ook nie in hierdie tyd iets vreemds nie.

Ook onder die Joodse volk self het mense sekere groeperinge gevind. Ja, in hierdie tyd het broer ook teen broer die stryd aangesê.

Keiser Augustus het wel ’n sogenaamde wêreldvrede daargestel, die sogenaamde PAX ROMANA, maar dit was ook maar ’n gespanne vrede. Dit was ’n kunsmatige vrede.

Daarby was die Jood se ekonomiese situasie nie veel beter as ’n gemiddelde Derde Wêreld-land vandag nie. Armoede, droogtes en ekonomiese resessies was iets algemeens. Ek kan my indink dat die Joodse ouers ook maar diep bekommerd was oor wat van hulle kinders sou word.

As daar in daardie tyd televisie was, sou die agtuur-nuus seker maar ook gelaai gewees het met politieke, ekonomiese en maatskaplike probleme.

Binne hierdie harde werklikheid het Christus gekom, met die eerste Kersnag. Ons sing graag: “Stille nag, heilige nag …” Eintlik moet ons sing: “Ontstuimige nag, onheilige nag …”

Want sien, geliefdes, die Kersverhaal is geen feëverhaal nie, maar die kersgebeure speel af in die harde werklikheid van elke dag.

Christus het as’t ware die lig kom word wat moet skyn, ook binne die donker gemoed van die Jood en uiteindelik alle volke van die wêreld. God het kom bemoeienis maak met die Jode en uiteindelik alle volke van die wêreld wat vasgevang was in die harde probleme van hulle tyd.

Maar juis dit, liewe gemeente, is ons groot troos. Met Kersfees 2023 wil God binne-in die harde feite van ons wêreld kom staan. Hy wil kom staan binne-in die harde werklikhede van ons wêreld:

  • Die bloedige oorlog tussen Israel en Hamas (Palestyne)
  • Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne
  • Die magstryd tussen nasies en volkere
  • Die rassestryd oral in die wêreld
  • Die terreur en geweld in ons gemeenskappe
  • Die armoede van die wêreld

Kersfees is dus geen feëverhaal nie, dit is God se nuus, Sy agtuur-nuus vir hierdie wêreld. Met Christus se koms het Christus binne-in hierdie harde feite kom staan.

Daarom is Christus Jesus met Kersfees 2023 nog net so aktueel soos tydens die eerste Kersnag.

Daarom wil God van stukkende mense in ’n ou wêreld, vol menslike mislukkings, nuwe mense maak in ’n nuwe wêreld, vol nuwe moontlikhede.

Daar bestaan vir hierdie wêreld slegs maar een laaste uitweg, een laaste loopgraaf en dit is Jesus Christus. Jesus Christus is die laaste loopgraaf, die laaste moontlikheid vir ’n mal wêreld.

Die wêreld produseer baie maniere om te kan ontvlug uit die harde werklikhede van elke dag en die mensdom toets elke moontlikheid uit. Maar Christene is mense wat kan instap in die harde werklikhede van elke dag, omdat hul Heer afgedaal het in die harde werklikheid van die wêreld.

Daarom is Christene nie vlugtelinge van die harde werklikheid nie. Nee, hulle is frontvegters wat vir Christus Jesus ’n slag wil slaan op die front van hierdie wêreld, omdat hulle Here alreeds die grootste slag vir hulle geslaan het.

Daarom wil Kersfees 2023 vir jou sê – gaan trotseer die harde werklikhede van 2024, want met die eerste Kersnag het Christus Jesus die harde werklikheid van hierdie wêreld getrotseer.

Tweedens kyk ons hoe Kersfees realiseer in die harde realiteite van ons elkeen se persoonlike lewe. Verse 4 – 7 beskryf die persoonlike lewe van Josef en Maria. Hulle was twee jongmense wat binne die ontstuimige wêreld van daardie tyd, as pasgetroudes, die werklikheid van die lewe moes trotseer.

Die familie en gemeenskap het seer sekerlik vrae gevra – verwyte geslinger oor die kind wat buite die huwelik verwek is.

Dan, toe Maria op die punt was om haar eersteling in die wêreld te bring, moes hulle op reis gaan, want die harde wêreld buite die gesin dwing hulle deur ’n volkstelling daartoe. Hulle moes Bethlehem toe stap, met Maria op ’n donkie. Dit moes swaar gewees het vir haar.

Die kraamsaal is ’n stal – harde werklikheid! Want die dorp is vol mense, daarom sukkel Josef en Maria en moes hulle uiteindelik tevrede wees om in ’n stal ’n ruimte te skep vir liefde. (’n Klein stukkie tuiste in ’n harde wêreld.)

Maria het dan ook skaars herstel toe hulle vir Herodus moes vlug, en moes hulle politieke vlugtelinge word in Egipte om die Kindjie se lewe te spaar.

Honderde seuntjies word vermoor in Betlehem en Rama, op bevel van koning Herodus. ’n Ongekende hartseer tref die ouers van Rama.

Geliefdes, elke dag ervaar ons as gesinne hoe ons persoonlike lewe bedreig word. Daardie klein wêreldjie van geliefdes rondom my – aan wie ek emosioneel gebonde is – word elke dag bedreig.

Somtyds ervaar ons die haat en oorlog en eensaamheid van die groot wêreld ook hier binne-in my klein persoonlike wêreldjie.

Die harde werklikheid is my huwelikslewe, kinders grootmaak, siekte en gebreke en die roetine van elke dag. Daar is ook die eensaamheid in die bejaarde en weduwee / wewenaar of enkellopendes se lewe.  Die probleme wat gereeld oor ons kom, voel party dae of dit ’n mens wil oorweldig.

Maar geliefdes, nou is die troos van verse 4 – 7 dat Jesus Christus juis gekom het binne-in die harde werklikheid van ons persoonlike lewe. So baie mense vlug vandag van hulle persoonlike lewe, in plaas dat hulle vlug na Christus Jesus en met Christus Jesus die harde werklikheid van hulle persoonlike lewe instap.

Want Christus het juis mens geword binne die harde werklikheid van ’n gewone Joodse gesin. As alles vir jou te veel word, weet dan Jesus het in sulke omstandighede soos joune, kom mens word.

Hy het grootgeword in dieselfde ou wêreld, met dieselfde probleme. Hy het gesterf aan ’n kruis, en is begrawe. Maar Hy het opgestaan uit die dood.

Met Sy opstanding het Christus die harde werklikheid van hierdie wêreld en van my persoonlike lewe kom oorwin.

Nou is dit moontlik dat die hemel in die harde realiteite van elke dag kan waar word:

  • Hemel in die wêreld
  • Hemel in my persoonlike lewe

Maar dan mag ons nie hierdie wêreld ontvlug nie. Nee, ons moet dit instap en ’n stukkie hemel skep. U sien dus die Evangelie speel nie in ’n droomwêreld af nie, maar in hierdie wêreld met sy harde werklikhede.

Daarom mag God nooit vir ons ’n storieboekgod word, van wie ons graag hoor, maar wat nie werklik in ons lewens betrokke is nie.

Daarom kan ons 2024 binnestap, met al sy harde werklikhede, want ons God is betrokke in ons lewens.

Hy wil van stukkende mense in ’n ou wêreld, vol mislukkings,  nuwe mense maak in ’n nuwe wêreld, vol nuwe moontlikhede. Gelukkig is hierdie Evangelie geen feëverhaal nie, maar ’n Evangelie wat tred hou met die harde werklikheid van hierdie wêreld en van my persoonlike lewe. Dit is my allergrootste troos.                         AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar