Skriflesing: 2 Samuel 12: 16 – 23
Oom Jakkie le Roux het met dapperheid die dood trotseer. Hy het lewerkanker gehad, waarvoor daar nie werklik genesing is nie. Toe hy by die dokter hoor dat sy liggaam binnekort gaan beswyk en sterwe, het hy dit met sy familie gedeel en spesiaal oorgestap na my om dit vir my ook te vertel. Ek en hy was diep bewus van sy lewe wat binnekort beëindig gaan word deur die siekte. Daar was geen hoop van behandeling of chemoterapie of medisyne wat hom kon genees nie. Daar was geen hoop dat hy miskien gesond sou word nie. Al wat seker was, was dat die dood binnekort gaan intree.
Ek het onmiddellik by myself gewonder hoe ek sal reageer. Ek het min woorde vir Oom Jakkie gehad, behalwe om vir hom te bid. Oom Jakkie was letterlik soos ’n soldaat wat die gevegsone betree en geweet het, hier gaan ek sterf. Hy het geen uitkomkans gehad nie. Hy het die dood in die oë gekyk.
Maar hy was ’n dapper soldaat. Hy het nie teruggedeins vir die dood nie. Hy het nie in selfbejammering of in opstandigheid verval nie. Hy het aangegaan met sy roetine. Elke dag het hy nog voldag gewerk in sy werkkamer en houtwerk vir mense gedoen. Hy het selfs nog vir die kerkkantoor ook gratis skrynwerk kom doen. Na werk het hy en Rienie die aande saam deurgebring en het hy nog die Wêreldbeker Rugby se wedstryde ook gekyk. Ek was verstom hoe grasieus hy sy dood aanvaar het. Hy het in sy roetine gebly. Hy het nie op ’n hopie gaan sit nie. Hy was dapper tot die einde.

In sy laaste dae was hy baie swak. Maar hy het sy volle samewerking gegee vir Rienie en Jacques wat hom versorg het. Hy was ’n maklike pasiënt. Op die einde het hy net gesmeek dat die Here hom moet kom haal. Dr Haggis Black het hom bygestaan in die laaste dae. Hy het waardig, rustig en eervol gesterf. Hy was ’n dapper soldaat wat eerbaar gesterf het. Ons salueer hom daarvoor.
’n Mens kan so dapper sterf as jou saak met die Here reg is. Oom Jakkie was ’n opregte kind van die Here en een van ons gemeente se getrouste kerkgangers. Hy het in geloof gesterf. Hy het gesterf in die teenwoordigheid van die Here en van sy geliefde vrou Rienie.
In ons gelese gedeelte lees ons van Dawid wie se eerste kind by Batseba baie ernstig siek was. Dawid het streng gevas, binnekant toe gegaan en die nagte op die grond deurgebring in hoopvolle verwagting dat die Here die kind genadiglik sal spaar. Hy wou niks eet nie. Dan lees ons dat die kind op die sewende dag gesterf het.
Maar dan staan daar in 2 Samuel 12: 19 – 23 die volgende: “Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: ‘Is die kind dood?’ Hulle het gesê: ‘Ja, hy is.’ Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: ‘Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.’ Hy het geantwoord: ‘Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.’”
’n Mens kan dapper sterf. Maar ’n mens kan ook soos Dawid die dood van ’n geliefde dapper aanvaar. Dawid was in sak en as toe die kind siek was. Hy het gevas en niks geëet nie. Toe die kind na sewe dae sterf, het hy opgestaan, gewas, nuwe klere aangetrek en by die tempel gaan aanbid. Hy het dapper aanvaar die kind het gesterf en dat hy nou die kind se dood moet aanvaar. Die kind kan nie terugkom na hom nie, maar hy sal eendag na die kind gaan. Die dienaars van Dawid was verstom oor die optrede van Dawid.
Soos Prediker ook predik: dat daar ’n tyd vir alles is. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om getroos te wees. In Christus Jesus, ons enigste troos in lewe en in sterwe, kan ons dapper die dood in die gesig staar en die dood ook aanvaar met die troos en wete dat Christus klaar die dood oorwin het.
So is dit ook die wil van die Here dat ons mettertyd die dood van Jakkie aanvaar en leer om dapper aan te gaan met die lewe.
Die wil van die Here is dat ons getroos moet word, met die wete dat Jesus Christus die eersteling is wat uit die dood opgestaan het. Daarom kan ons die dood dapper aanvaar.
Ek het al begrafnisse bygewoon waar ongelowige mense letterlik met die sak van die kis, saam in die graf geklouter het, want hulle kan nie met dapperheid die dood hanteer nie, want vir hulle is ’n begrafnis die eindpunt van alles.
Maar die “dal van doodskaduwee” van Ps 23:4 in die 1953 vertaling is nie ’n maklik plek om te wees nie. Dit vra dapperheid. Daar staan: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” Die dal waarvan gepraat word, is die diep dal of vallei in die bergagtige gedeeltes van Israel, waar die son eerste ondergaan. Omdat dit ook laagliggend is, vloei die water ook van die berge in die dale af. Daarom is ’n dal ook dig bebos. Die donkerte en die bebostheid maak dit die ideale skuilplek vir struikrowers. As Dawid as jong seun die vallei afsak om deur die dal te trek met sy skape, is hy bang wat in die dal vir hom voorlê. Dit is soos doodskaduwees. Maar dan is hy getroos met die wete dat die Here se stok en staf hom sal beskerm in daardie gevaarlike dal van die dood.
Wat het ek geleer in Jakkie le Roux se sterwensproses? As jy swaar kry, bly in jou roetine. Moenie gaan lê nie. Lewe nog elke dag voluit – tot die einde. Wees elke dag dapper. Fritz Grobbelaar het my vertel toe hy twee jaar in Antarktika was, was dit ses maande bykans net dag en ses maande bykans net nag. As jy nie in jou roetine bly nie en volgens die horlosie opstaan en gaan slaap nie, gaan jy dit nie maak in Antarktika nie. Jy móét in ’n roetine bly.
So moet jy ook in jou swaarkry in ’n roetine bly. Ook in jou geestelike dissiplines moet jy in ’n roetine bly. Bid gereeld en bly standvastig in jou geloof. Wanneer ek by Oom Jakkie besoek gebring het en hy al baie swak was en ek vir hom ’n gebed gedoen het, het hy my hand ekstra styf vasgehou. Op die einde het hy na die Here geroep en die Here het hom gehoor en saggies weggeneem om by Hom te wees.
Ek respekteer die dapper en waardige manier waarop Jakkie sy laaste weke deurgebring het. Hy was dapper tot die einde.
Almal is bang vir die dood. Dood is ons grootste vyand. Maar in Christus word die dood ons vriend. Dit verlos ons van aardse sorge, bekommernisse, siekte, lyding en swaarkry. Daarom het ons ’n wederkomsverwagting, dat die dood die deur is na die ewige lewe, waar ons in ’n totale toestand van vrede sal wees.
Die Here sal ons die krag gee om hierdie grootste vyand, die dood, te verslaan.
Ons eer die lewe van broer Jakkie le Roux. Hy was dapper in sy dood. Ons wat agterbly, en veral sy familie, moet nou dapper wees om sy dood te aanvaar en verder sinvol met ons lewens aan te gaan. Jakkie le Roux kan nie terugkom na ons nie, maar ons gaan eendag na hom.
Jakkie le Roux sal altyd deel wees van ons kosbare herinneringe. Ons eer sy nagedagtenis. Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
