Moenie die hasepad kies nie


Skriflesing: Eksodus 3: 1 –  4: 18

Het u al agter ’n troetelhaas aangehardloop? Hoe harder jy agter hom aanhardloop, hoe harder hardloop hy vir jou weg, want hy dink dat die mens hom wil seermaak. Eers as ’n mens hom gevang het en teen jou vasdruk, ontdek die haas dat hy oorweldig word deur liefde.

Toe ek ’n kind was, het my ouers vir ons kinders hase gekoop by die jaarlikse Bloemfontein Skou. Die hase se pels was van verskillende kleure en ons kinders was so opgewonde oor die hase. As hulle uit die hok kom, dan moes jy al agter die hase aan hardloop om hulle te vang. Ek ken van agter hase aan hardloop!

Moses herinner my ook aan ’n haas wat vir God  weggehardloop en daar in die bosse van Midian gaan wegkruip het. Ja, Moses was so rats soos ’n haas. Hy het Farao se toorn ontsnap en gedink dat hy van God ook ontsnap het.

Ons ken almal die verhaal van Moses in Egipte. Moses het in Egipte gesien dat ’n Egiptenaar een van die Jode aangerand het. Hy het so kwaad geword dat hy die Egiptenaar doodgeslaan het. Uit vrees vir die toorn van Farao het hy ontvlug na Midian en daar ’n nuwe begin gemaak. Inderdaad het Moses die hasepad gevat.

Maar is ons nie miskien vanoggend ook soos ’n haas wat vir God wegkruip nie? Miskien hardloop ons vanoggend vir die Here weg. Ons kan weg hardloop van ’n oorgegewe lewe van gehoorsaamheid aan die Here. Ons kan weg hardloop van ons stiltetyd. Ons kan weg hardloop van die eise van God se Woord. Ons kan weg hardloop van God se vergiffenis in ons lewe. (Partymaal kan iemand nie glo dat God hom of haar vergewe het nie.) Ons kan weg hardloop van God se plan met my lewe.

Maar God het Moses agtervolg. Ja, God het Moses se spoor daar tussen die bosse van Midian gevat. God het warm op die spoor van Moses gebly.

Maar onthou, as ons weg hardloop van God in ons lewe, is God ook warm op ons spoor. God is altyd soekend na die mens, daarom agtervolg Hy ons altyd.

Met respek gesê: God is soos ’n Boesman – as Hy op jou spoor is, verloor Hy jou nie. Wat die Here begin, maak Hy klaar. Die Here Jesus het nie net die saligheid vir my verdien nie, Hy bewerk ook die saligheid in ons lewe.

Ons kan maar vlug – die Here is op ons spoor. Die Here gaan vir jou in ’n hoek dryf, soos Hy ook met Jona gedoen het. Die Here het vir Moses ingehaal, Hy gaan vir ons ook inhaal. In Eksodus 3 en 4  lees ons dat Moses God se plan met die volk Israel laat verongeluk het. Toe het Moses soos ’n haas vir God weggehardloop en daar in Midian gaan wegkruip. Maar God het Moses agtervolg en hom daar tussen die bosse van Midian gekry.

Maar die vangslag is die probleem. Vir ’n haas hou ’n mens ’n wortel uit as lokaas. Dit werk keer op keer. Wel, Moses het dalk nie van wortels gehou nie, maar God het geweet Moses is ’n nuuskierige man. Daarom prikkel God Moses se nuuskierigheid deur ’n brandende doringbos. Die brandende doringbos word die wortel, die lokaas. God roep Moses deur ’n brandende doringbos wat nie uitbrand nie.

Dan lees ons hoe Moses nadergekom het. En raai wie ontdek Moses daar? Niemand anders as die lewende God nie. Moses het nie vir God daar in Midian verwag nie. So dikwels sien ons God se hand op plekke waar ons dit nie verwag nie.

So gee God vir Sy kinders almal seine langs hulle lewenspad, as ons oë dit maar net kan raaksien. Moses het dit raakgesien. Aan die anderkant is daar waarskynlik duisende mense met wie die Here al jare lank op tientalle maniere probeer praat, maar hulle hoor en sien Hom nie.

Oor hoe blind ’n mens kan wees, word daar ’n mooi storie vertel: ’n Man wat nie juis bekend was as ’n gelowige nie, het in die woestyn verdwaal. Na ’n paar dae was hy so hoog in die nood dat hy ten einde raad besluit het om maar tog te bid en te kyk of dit nie dalk help nie. Toe hy op ’n dag, na die episode, sy verhaal vir ’n vriend vertel, vra die vriend nuuskierig: “En toe, het die Here jou gebed gehoor en jou gehelp?” “Nee,” het die man sinies geantwoord. “Hy het niks gedoen nie. As dit nie was dat ’n man op ’n kameel kort daarna daar verbygekom het nie, het ek seker vandag nog daar gesit.” Nooit het die man besef dat die man op die kameel wat hom gered het, die Here se antwoord op sy gebed was nie.

Dit is net ongelooflik hoe blind ons somtyds vir die Here se seine kan wees. Sien ons die seine raak wat God vir ons gee? God gee vir ons elkeen seine, brandende doringbosse op ons pad.

Somtyds kan God deur ’n droogte vir ons so ’n sein gee. Miskien wil God in ’n droogte vir ons sê: “Is jy nie meer begaan oor die droogte op jou plaas as oor die droogte in jou geestelike lewe nie?” Miskien is ’n ekonomiese resessie so ’n sein? Miskien wil die Here deur ’n ekonomiese resessie vir jou sê: “Is jy nie meer begaan oor jou lewenstandaard as oor jou lewenswaardes nie?”

Soos die Here vir Moses geroep het deur ’n brandende doringbos, kan die Here ons miskien roep deur ’n droogte of ’n ekonomiese resessie of deur ’n genadige ingryping in ons lewe of doodeenvoudig deur wonderbare gebedsverhoring in ons lewe.  

Maar God het nie net vir Moses geroep nie. Nee, Hy het hom ook oortuig. Vang ’n bietjie ’n haas en kyk hoe bons sy hart. Sy hart is vol twyfel oor wat met hom gaan gebeur. Waarskynlik het Moses ook so gevoel. Dan lees ons hoedat die Here sy opdrag aan Moses gee, naamlik dat hy die volk Israel moet uitlei uit die slawerny in Egipte.       

Dan kom Moses met sy twyfelvrae:

  1. Wie is ek?
  2. Wie is God?
  3. Is ek geskik?

Die eerste twyfelvraag wat Moses stel, is: “Wie is ek?” Daardeur openbaar hy sy eie swak selfbeeld. Hy beleef dat hy alleen nie opgewasse vir hierdie taak is nie. Maar weet u, die Here wil nie hê ons moet ’n oordrewe selfbeeld hê wat grens aan narcisme nie. Die Here Jesus sê mos in sy bergpredikasie: “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van die Here is.” Met daardie woorde het die Here Jesus ’n streep deur die humanistiese lewensfilosofie getrek. Die humanisme beweer mos jy moet positief oor jouself en jou eie vermoëns dink, tot op ’n ekstreme vlak van selfliefde. Hulle sê mos: “It’s all in the mind.” “Nee,” sê die Here: “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van die Here is.”

Dan lees ons die Here se antwoord. Die Here beloof dat Hy met Moses sal saamgaan. Hy sal Moses se krag en wysheid wees.

Die tweede twyfelvraag wat Moses stel is: “Wie is God?” Wat vra Moses eintlik hier? Hy vra die diepste van alle vrae: die vraag na die hart en wese van God. Wie is God? Hoe is God? Nie net ’n diepgaande vraag nie, maar ook ’n nodige vraag. Hoe kan ’n mens groot dade gaan probeer doen as jy nie weet wie of hoe groot die God is wat jou stuur nie?

In Eksodus 3:14 kry ons dan die Here se bekende antwoord aan Moses: “Ek is wat Ek is.” Jy moet vir die Israeliete sê: “ ‘Ek is’, het my na julle toe gestuur.” Die Here gee egter nie ’n definitiewe antwoord op die vraag nie.

Hy sê net: “Ek is wat Ek is.” Daardeur sê die Here dat Hy hom nie laat verklaar of inperk deur ’n mens nie. Hy laat Homself nie definieer deur ’n mens nie, want dan sou Hy nie meer God gewees het nie.   

Ons kan ’n watermolekule ontleed as ’n verbinding van twee waterstof-atome met een suurstof-atoom. So kan ons alles onder die son analiseer, behalwe vir God. Hoe kan ’n skepsel immers sy Skepper ontleed. Die maaksels kan mos nie die Maker begryp nie. Dit is onmoontlik.

Die teologie is die een wetenskap wat met sy hande in die hare sit. Ons kan God nie analiseer nie, ons kan Hom net aanbid.

Nee, ons weet nie wie God is nie, maar God openbaar wel aan ons wat Hy kan doen. Dan doen God twee wonderdade. Moses se kierie word ’n slang en omgekeer. Verder word Moses se hand melaats en omgekeerd.

Nee, geliefdes, ons kan God nie in ’n proefbuis of in ’n definisie of formule vasvang nie. Die Here sê: “Ek is wat Ek is.”

Die laaste twyfelvraag van Moses was die vraag of hy geskik is om in die Here se diens te staan, aangesien hy ’n hakkelaar is. Moses het eerder kans gesien om vir ’n ongeskiktheidsfonds aansoek te doen as om in die Here se diens te staan.

Ook vir hierdie probleem van Moses toon die Here begrip en Hy besluit om hom weer eens tegemoet te kom. Maar in Sy wysheid doen die Here dit op Sy eie manier. Hy raak nie Moses se mond of tong aan om hom van sy spraakgebrek te genees nie. Nee, die Here “toor” meestal nie ons swakheid of beperkinge weg nie, Hy maak ’n ander plan. Hy los vir Moses so met sy swakheid, maar gee vir hom sy broer Aäron om langs hom te staan en saam met hom te gaan. Die Here gee vir ons broers en susters om ons in ons swakheid by te staan. Dit is ’n groot troos van die Evangelie, naamlik as jy die Here dien, is jy nooit alleen nie. Ons sal dit wat die Here van ons verwag, nooit alleen kan doen nie en gelukkig hoef ons ook nie. Ons het broers en susters.

Dit bring ons by die laaste deel van die preek. Ons het gesien dat die Here die mens roep en oortuig. Nou gaan ons sien dat die Here ook saamgaan met die mense wat hy geroep het.

Wanneer ’n haas eers eenmaal gevang is en mak geword het, sal hy al agter ’n mens aanspring. So het God vir Moses daar tussen die bosse van Midian mak gemaak.

Nou was God en sy haas Moses op pad terug na Egipte om die volk Israel te bevry. In vers 18 lees ons hoedat Moses sy skoonfamilie gegroet het en op weg gegaan het terug na Egipte. Saam met hom het die lewende God gereis.

As God u geroep en oortuig het dat u ’n lewe van oorgawe volgens God se plan moet leef, weet dan dat God met u sal saamgaan. God sal u nooit verlaat nie. God het eenmaal Sy Seun op Golgota verlaat, sodat Hy ons nooit sal verlaat nie. As God ’n plan met jou het, sal God jou bystaan in Sy krag en wysheid.

Ten slotte: Moenie eers probeer om vir God weg te hardloop nie. Hy is warm op u spoor. Hy gaan u in ’n hoek dryf. Luister daarom na die roepstem van die Here. Waartoe wil die Here jou vandag roep? Die Here sal u oortuig wat u moet doen en Hy belowe Hy sal met u saamgaan in dit waartoe Hy u roep.             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

[Verskeie bronne is gebruik om die preek te skryf.]

Lewer kommentaar