Moenie koppe was nie, maar was voete


Skriflesing: Markus 6: 17 – 29

Geskenke beteken om iets van jouself vir ’n ander te gee. ’n Mens kry gekoopte geskenke, selfgemaakte geskenke of geskenke waar jy jouself moet gee. Ons waardeer gekoopte geskenke, maar ons het groter waardering vir ’n geskenk wat iemand met sy eie hand gemaak het en vir ons gegee het. Dit kan wees ’n koek, beskuit, kerriebeet, naaldwerk of ’n handgewerkte artikel en so kan ons aangaan.

Baie jare gelede het ’n arm bruin man van die VG Kerk op Strydenburg vir my een Sondagmiddag by die pastorie ’n paar mooi klippe wat hy in die veld opgetel het,  kom gee omdat hy aan my gedink het. Ek het dit so waardeer en tot vandag toe nog bewaar ek die klippe. Daar is Lizzie Brouwers van die VG Kerk Strydenburg wat ook vir my kosbare geraamde naaldwerkstukke gegee het. Dit is spesiaal vir my.

Maar ’n mens kry ook iets soos ’n geskenk waar jy jouself gee. Somtyds is ons aandag, liefde en opoffering vir ’n ander een so goed soos ’n geskenk. So kan enigiets wat ek vir ’n ander een doen, ’n geskenk wees. Die grootste geskenk was met Christus se geboorte toe God Homself persoonlik vir hierdie wêreld gegee het.

In ons skrifgedeelte lees ons ook van ’n geskenk wat iemand vir iemand anders  gegee het.  Ons lees van Herodus wat vir sy dogter, die afgekapte kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord gegee het. Voorwaar ’n afskuwelike geskenk. ’n Mens sal miskien sê die geweldsvlakke is te hoog vir die Bybel. Dit moet ’n 18+ ouderdomsperk kry. Ongelukkig is dit die realiteit. Baie dae gee ons ook sulke afskuwelike “geskenke” vir mekaar. Mense bedrieg mekaar, steek mekaar in die rug, beswadder en beskinder mekaar en leef afgunstig op mekaar.

Herodias het gedink sy is baie slim toe sy vir haar dogter vra om vir haar pa die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord as geskenk te vra.

Herodus het Herodias by sy halfbroer afgevry en Herodias het maklik ingestem, want om die vrou van Herodus te wees, sou beteken dat sy meer mag en invloed het as voorheen. Toe Johannes die Doper preek teen die owerspel was sy die joos in, want haar nuwe huwelik het haar meer mag besorg, en sy wou nie van hierdie mag afstand doen nie. Sy het ’n manier gesoek om vir Johannes die Doper om die lewe te bring. Die tyd en plek was die verjaarsdagparty van Herodus. As Herodus dronk is, is hy baie vrygewig. Herodus se dogter dans toe so mooi vir hom voor die gaste dat hy vir haar sê dat sy enigiets van hom kan vra. Dit was Herodias se kans. Sy oorreed haar dogter om die kop van Johannes die Doper te vra. ’n Afskuwelike geskenk! ’n Koning se woord is wet en so word Johannes die Doper  onthoof en sy kop as geskenk gegee vir Herodus se dogter, en Herodias is in die wolke.

 Tog sit die gees en slinksheid van Herodias ook maar in ons elkeen. Ons kan so maklik ’n ander een te na kom. Ons kan mekaar so maklik kopwas of op mekaar se koppe sit. Ons kan so maklik koppe eis en oor koppe heenpraat. Wanneer iemand se kop rol, is ons baiekeer so verheug oor sy of haar val. Ons laat koppe rol, maar ons was nie voete nie. Ons was mekaar se koppe, maar ons was nie mekaar se voete nie. Nee ons trap eerder op mekaar se tone.

Maar die Here Jesus wil vir ons vandag leer dat ons onsself moet gee as ’n geskenk vir ander. Want die Here Jesus het ons so lief gehad dat Hy sy eie Seun op die eerste Kersnag gestuur het om die hele wêreld te red. Christus het homself as geskenk gegee.

Nou leer Hy ons om onsself ook elke dag te gee as ’n geskenk vir ander. My liefde, deernis en barmhartigheid moet ek aan ander betoon en sodoende myself as geskenk gee. Deur my tyd af te staan en deur opofferings te maak vir ander, gee ek myself. Wie liefde, deernis, vreugde, blydskap, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel, deel homself of haarself met ander. So iemand word self ’n geskenk vir ander.

Ek het ’n negentiende-eeuse verhaal gelees van ’n meisie wat op was vanuit Ierland na Sussex in Engeland om by Hertog Henry van Arundel Castle te werk op die aartappellande. Haar nuwe werkgewer was die vyftiende hertog van Norfolk. Hertog Henry was baie lief vir werk en het baie dikwels saam met sy arbeiders op die aartappellande gewerk.

Die meisie, haar naam word nie genoem nie, het op die stasie aangekom. Haar besittings was in ’n baie groot tas verpak – veels te swaar vir haar om te dra. Die kasteel was goed ’n paar kilometer heuwel-op en sy sou dit beslis nie alleen regkry met die swaar tas nie. Op die stasie het sy na ’n kruier geloop en vir hom gevra om haar te help: “Meneer, asseblief Meneer, sal u my nie met my tas help nie? Ek kan dit nie so maklik dra nie. Sien, my broer in London het my daar gehelp …” Die kruier het nie eers opgekyk nie. Hy was slegs in vet fooitjies geïnteresseerd. “Wat kan jy betaal?” wou hy kortaf weet.

“’n Sjieling (10c), Meneer, dis al wat ek het. Maar ek sal Meneer die hele sjieling betaal.” Die kruier het uitbundig gelag: “’n Sjieling! Jou klein dwaas. Jy’s van jou sinne beroof. Vir ’n sjieling sal ek nie eers jou tas tot in die straat dra nie. Wie dink jy is jy? Dra jou tas en skoert!”

Die Ierse meisie was verslae. Sy het gereken dat ’n sjieling baie geld was, daarom het sy dit so sorgvuldig gebêre.

Maar ’n man in gewone arbeidersklere het die hele petalje so eenkant staan en aanhoor. Hy staan nader en vra haar: “Kan ek dalk help, juffrou?” wou hy weet. “Ag, asseblief Meneer, ek moet na die kasteel gaan. Ek het daar werk gekry, maar my tas is so swaar. Kan Meneer my nie miskien help nie? Ek sal Meneer ’n sjieling betaal … (en sy wys vir hom die muntstuk)”

Die vreemdeling het haar tas stilswyend opgetel en langs die meisie begin aanstap na die kasteel. Voor die poort van die kasteel het die meisie vasgesteek en gesê: “Toemaar Meneer, hiervandaan sal ek self regkom.” Sy gee hom die muntstuk en hul groet. Die man stap toe aan, na die aartappellande. Sy dink toe maar dat hy ook een van die arbeiders is.

Die volgende oggend moes sy voor die hertog verskyn. Sy stap deur die sale en verkyk haar aan die eeue-oue skatte wat deur geslagte van ridders versamel is. Uiteindelik swaai die swaar houtdeure oop en daar staan die hertog voor haar. Geskok kyk sy na hom … dit is die man wat haar tas help dra het en sy het hom nog met ’n sjieling betaal ook! Die hertog het net geglimlag en gesê dat hy graag mense help en hulle het mos vir ’n sjieling ooreengekom.

’n Pragtige verhaal van iemand wat groot is, maar nie bang is om te dien nie. Die hertog het nie oor die kop van die diensmeisie gekyk nie. Hy het in haar oë gekyk en was bereid om as geskenk vir haar te help met die tas. Hy het ’n mooi gebaar getoon deur so ’n geskenk vir haar te gee.

Materiële geskenke is alles goed en wel, maar jou man, jou vrou, jou kind, jou medemens en die vreemdeling wil graag ervaar dat ons onsself gee. Dit is die diepste bewys dat ons hulle waarlik liefhet.

Mag ons ook in die naderende Adventstyd ervaar en leer om onsself vir ander te gee as geskenk. Mag ons dit ook toepas elke dag van die jaar.

Moenie koppe was nie, maar was voete. Eers dan word jou lewe ’n geskenk aan ander. Gee met jou lewe goeie geskenke aan ander.                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar