Skriflesing: Jesaja 2: 11 – 17, Jesaja 10: 33 – 34 en Jesaja 11: 1 – 10
Daar is ’n spreekwoord wat sê dat alle hoogmoed tot ’n val kom. Miskien het hierdie spreekwoord sy ontstaan uit die boek Jesaja. Die boek Jesaja handel oor die ongelooflike hoogmoed van die volk Israel in die tyd van die profeet Jesaja.

Jesaja praat in die oorspronklike Hebreeus van die “hoë oë van mense” wat afkyk op ander. Daarmee bedoel hy dat mense nie meer opgekyk het nie, nog minder rondgekyk het na ander, maar eerder neergesien het op ander mense.
Hulle het die wese en weduwees nie meer raakgesien nie. Hulle oë het nie meer nat geword as hulle lyding sien nie. Hulle sien net splinters raak in die oë van ander. Reg en geregtigheid het vir hulle niks meer getel nie.
Al wat vir hulle getel het, was hul persoonlike rykdom, eie aansien en gemak. Hulle het vergeet van hulle mede-Israeliet.
Jesaja gebruik verskillende woorde vir die begrip hoogmoed. Dit wissel van “hoog wees” en “trots” en “arrogant” en “meerderwaardig” en selfs “verhewe”. Hoogmoedige mense is geneig om die “hoogtes” te bestyg om ander gode te aanbid. Daarom lees ons van verskillende heiligdomme op hoogtes wat mense gebou het om hulle afgodsbeelde te bou. ’n God wat jy self bou, besit jy ook, kan jy manipuleer … en dit pas in die kraal van ’n hoogmoedige mens.
Die uitvinders van hoogmoed was natuurlik Adam en Eva. Hulle wou soos God wees, daarom het hulle geval vir die duiwel se set dat as hulle die verbode vrug sou eet, hulle soos God sou wees.
Kain het sy broer Abel ook doodgeslaan omdat hy hoogmoedig jaloers was dat die Here sy broer Abel se offerande aangeneem het en nie syne nie.
Hoogmoed is egter ’n tydlose sonde. Hoogmoed veroorsaak rusie en oorlog. Telkens in die geskiedenis lees ons van die hoogmoed van een mens of ’n volk oor ’n ander, byvoorbeeld:
- Slawerny – ontworteling van mense en die neersien op ander mense, sou hulle objekte wees
- Brittanje wat groot leed vir die Afrikanervolk besorg het in die Anglo-Boere Oorlog
- Hitler en sy Nazi-idees wat gelei het tot die dood van miljoene Jode en ’n vernietigende wêreldoorlog
- Kommunisme wat die wêreld wou beheer
- Afrikaner-nasionalisme wat neergesien het op ander mense, as sou hulle tweede-klas mense wees
- Swart-nasionalisme wat glo “Black is beautiful” en wittes wil verdryf
- Rusland wat die Oekraïne binnegeval het
- Haat tussen die Israeliete en Palestyne in die Gaza strook
Hoogmoed verdryf selfs geslagte uitmekaar:
- Manlike chauvinisme wat die vrou tweede klas wil stel en as ’n gebruikersartikel wil sien
- Feminisme, wat natuurlike geslagtelikheid wil negeer
Hoogmoed verdryf nie net mense nie, dit verdryf God ook. Daarom het Israel afgode op die hoogtes gebou, daarom streef die mens vandag na geld, roem en status.

As jy nie geld het nie, is jy niks. As jy nie mooi en slank is nie, is jy nie in nie. As jy nie die regte vriende op die regte plekke het nie, het jy geen invloed nie. As my kind nie presteer in akademie of sport nie, is hy/sy een van die valetjies in die skool.
Geld, skoonheid, prestasie, invloed – dit tel … dit word ons god.
Ons kan kloneer, harte oorplant, ons kan in vitro bevrug en mense se lewens verleng, ons kan wolkekrabbers tot aan die hemel bou en met internet word die wêreld skielik ’n klein dorpie. Kunsmatige intelligensie is nou die nuwe gons-woord. Ons kan selfs ons eie Armageddon skep met kernwapens.

Daarom kyk ons nie meer op na God nie, ook nie meer rondom ons na ander mense nie. Nee, ons kyk afwaarts na hoe ons die wêreld en ander mense kan gebruik en manipuleer.
Ook in die kerk gaan dit nie veel beter nie. Om die eerste Nagmaalstafel wonder die dissipels wie gaan hulle voete was en wie gaan aan die Here se regterkant sit. Daarom het die kerkgeskiedenis ook maar op elke bladsy sy paragrawe van menslike hoogmoed wat die Evangelie in skaak wil sit.
Dan sê God baie duidelik dat Hy alle hoogmoed tot ’n val sal laat kom. Jesaja beskryf hoe die volk Israel afgekap sal word soos ’n boom deur Assirië. Hulle maaksels, hulle torings en skansmure en handelskepe sal vergaan. Politieke en ekonomiese stelsels sal afgebreek word.
Hulle wat selfversekerd lewe sal van niks meer verseker wees nie.
Vers 19 sê die hoogmoedige mens sal soos ’n velddier in gate kruip om van sy oordeel weg te kom. Ons silwer en goud waarvoor ons so werk en so leef, sal so nutteloos wees soos die outydse goed op die solder, waaroor die rotte en vlermuise waak. So sal ook die aandelebeurs wisselvallig wees.
Op daardie dag sal almal weet dat daar net een God is, naamlik die Almagtige.

Die volk Israel het dit onder die Assiriërs ervaar, hoe hulle soos ’n boom afgekap word en van niks meer seker is nie. Daar staan in Jesaja 10: 33 – 34 die volgende: “ Kyk, die Heer, die Here, Heerser oor alle magte, gaan met skrikwekkende krag die blaredak wegkap; dié wat hoog uitgegroei het, word afgekap, die hoës sink neer. Hy sal die struikgewas in die bos uitkap met ’n ysterwerktuig, en die Libanon, die magtige, sal val.”
Ek dink baie van ons Afrikaners voel ook so. Ons voel ons is afgekap en van niks meer seker nie. Die toekoms het vir ons duister geword. Ons selfversekerdheid eens het plek gemaak vir onsekerheid.

Maar Jesaja het ook ’n genade-kant. God bly nie vir altyd kwaad nie. Jesaja sê dat die volk Israel soos ’n afgekapte boom lê, maar uit sy stam se wortels sal ’n nuwe loot spruit wat vrugte dra. Daar staan in Jesaja 11: 1 die volgende: “Maar ’n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.”
Uit hierdie loot is Jesus Christus gebore. Hy sal regspreek en vir die armes ’n billike verhoor gee. Hy sal barmhartigheid betoon. Daar sal weer vrede wees en die wolf sal nie oor die skaap heers nie en die beer nie oor die koei nie. Daar sal nie meer hoogmoed wees nie, want Fil 2: 7 sê dat Jesus Christus soos ’n dienskneg, soos ’n slaaf, gekom het.

Jesus Christus het vir ons kom leer om op te kyk na ons Vader en neer te buig sodat ons ons medemens reg in die oë kan kyk. Sodat ons oë soos syne nat kan word as ons lyding sien. Dat ons ore oop sal wees om die gekerm van die mens in nood te hoor. Dat ons oë oop sal wees om die seer in ’n ander een se lewe raak te sien. Dat ons hande oop sal wees om te help, te genees en te heel.

Daarom het die Here Jesus op sy knieë gegaan met die eerste Nagmaal en geskuifel van stinkende voet tot stinkende voet en hulle almal gewas. Die volgende dag, op Goeie Vrydag het hy ons stinkende harte gewas … sodat ons nederig kan wees soos Hy.

Hy het ons geleer om op te kyk en te bid: “Onse Vader” en Hy het ons geleer om op ons knieë te gaan en vir mekaar te sê: “ My broer, my suster”. Daarom mag ons nooit weer meerderwaardig afkyk op ander nie.
By een geleentheid het ’n orkes Handel se Messias so pragtig aangebied dat die applous dawerend was, en almal na die komponis gedraai het. Handel het opgestaan en met sy vinger stilweg boontoe beduie dat die eer aan God gegee moet word eerder as aan homself. Dit is presies wat die Maagd Maria gedoen het toe sy met Elizabeth gepraat het. Dit is asof sy sê: “Moenie my loof nie, maar loof die Here wat my Verlosser is.”
Die tak wat die meeste vrugte dra, buig die laagste na die grond terwyl die tak met min of geen vrugte regop staan. So is dit met nederigheid en verwaandheid. Nederigheid dra die gewig van wysheid saam terwyl hoogmoed min vrugte voortbring.
’n Groep Amerikaners het Kaïro in Egipte verlaat om op ’n reis deur die woestyn te gaan. Hulle het vir hulle waterhouers gekoop om water in te vervoer. Elkeen het die soort houer gekies waarvan hulle die meeste gehou het. Een het koperpotte gevind. ’n Ander het porseleinhouers van seldsame mooiheid gekoop. ’n Derde het egter ’n paar gewone erdebottels geneem. Die pad deur die woestyn was lank en vermoeiend. Die hitte was intens. Elke druppel water was van waarde. Die koperhouers het egter verhit en die water het ’n vreemde kopersmaak gekry. Die duur porseleinflesse het in die hitte gekraak en die water is verlore. Maar die gewone erdebottels het die water suiwer en vars gehou tot die reis se einde.
Die grootheid van ’n man word bewys deur sy nederigheid. In die woorde van ’n ou Filippynse gesegde: “Hoe hoër die bamboes groei, hoe laer buig dit.”
’n Dogtertjie geklee in ’n langbroek het by ’n troeteldierwinkel ingestap en gevra of hulle ’n hondjie met ’n lam been het. Sy het ’n dollar gehad waarmee sy dit wou koop. Die verkoopspersoon was verbaas dat die dogtertjie ’n lam hondjie wou koop. Sy het gevra: “Hoekom, wil jy nie ’n hondjie koop wat kan rondhardloop en speel nie?” “Nee, ek wil ’n kreupel een hê.” Uiteindelik het sy een been van haar langbroek opgetrek en haar stut en prostese gewys en gesê: “Ek loop ook nie so goed nie.” Die dogtertjie met ’n lam been het haar met ’n lam hondjie geïdentifiseer. Die Here Jesus het ’n mens geword en ’n menslike liggaam met sy swakhede op Hom geneem om Homself met ons in ons liggaamlike, emosionele en geestelike swakhede te identifiseer (Heb 4:15). Daarom glo ons in die menswording van Christus en Sy menslike natuur, naas Sy Goddelike natuur. Jesus Christus het Homself verneder deur die menslike natuur aan te neem.
Hoogmoed kom tot ’n val. Nederigheid laat jou laag buig van al die vrugte van die Gees wat jy dra.
Hoogmoed maak jou steriel. Nederigheid maak jou vrugbaar.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
