Om met dapperheid die dood te trotseer

Skriflesing: 2 Samuel 12: 16 – 23

Oom Jakkie le Roux het met dapperheid die dood trotseer. Hy het lewerkanker gehad, waarvoor daar nie werklik genesing is nie. Toe hy by die dokter hoor dat sy liggaam binnekort gaan beswyk en sterwe, het hy dit met sy familie gedeel en spesiaal oorgestap na my om dit vir my ook te vertel. Ek en hy was diep bewus  van sy lewe wat binnekort beëindig gaan word deur die siekte. Daar was geen hoop van behandeling of chemoterapie of medisyne wat hom kon genees nie. Daar was geen hoop dat hy miskien gesond sou word nie.  Al wat seker was, was dat die dood binnekort gaan intree.      

Ek het onmiddellik by myself gewonder hoe ek sal reageer. Ek het min woorde vir Oom Jakkie gehad, behalwe om vir hom te bid. Oom Jakkie was letterlik soos ’n soldaat wat die gevegsone betree en geweet het, hier gaan ek sterf. Hy het geen uitkomkans gehad nie. Hy het die dood in die oë gekyk.

Maar hy was ’n dapper soldaat. Hy het nie teruggedeins vir die dood nie. Hy het nie in selfbejammering of in opstandigheid verval nie. Hy het aangegaan met sy roetine. Elke dag het hy nog voldag gewerk in sy werkkamer en houtwerk vir mense gedoen. Hy het selfs nog vir die kerkkantoor ook gratis skrynwerk kom doen. Na werk het hy en Rienie die aande saam deurgebring en het hy nog die Wêreldbeker Rugby se wedstryde ook gekyk. Ek was verstom hoe grasieus hy sy dood aanvaar het. Hy het in sy roetine gebly. Hy het nie op ’n hopie gaan sit nie. Hy was dapper tot die einde.

In sy laaste dae was hy baie swak. Maar hy het sy volle samewerking gegee vir Rienie en Jacques wat hom versorg het. Hy was ’n maklike pasiënt. Op die einde het hy net gesmeek dat die Here hom moet kom haal. Dr Haggis Black het hom bygestaan in die laaste dae. Hy het waardig, rustig en eervol gesterf. Hy was ’n dapper soldaat wat eerbaar gesterf het. Ons salueer hom daarvoor.

’n Mens kan so dapper sterf as jou saak met die Here reg is. Oom Jakkie was ’n opregte kind van die Here en een van ons gemeente se getrouste kerkgangers. Hy het in geloof gesterf. Hy het gesterf in die teenwoordigheid van die Here en van sy geliefde vrou Rienie.

In ons gelese gedeelte lees ons van Dawid wie se eerste kind by Batseba baie ernstig siek was. Dawid het streng gevas, binnekant toe gegaan en die nagte op die grond deurgebring in hoopvolle verwagting dat die Here die kind genadiglik sal spaar. Hy wou niks eet nie. Dan lees ons dat die kind op die sewende dag gesterf het.     

Maar dan staan daar in 2 Samuel 12: 19 – 23 die volgende: “Maar Dawid het gemerk dat sy dienaars onder mekaar staan en fluister, en hy het besef dat die kind dood is. Dawid vra toe vir sy dienaars: ‘Is die kind dood?’ Hulle het gesê: ‘Ja, hy is.’ Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: ‘Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.’ Hy het geantwoord: ‘Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.’

’n Mens kan dapper sterf. Maar ’n mens kan ook soos Dawid die dood van ’n geliefde dapper aanvaar. Dawid was in sak en as toe die kind siek was. Hy het gevas en niks geëet nie. Toe die kind na sewe dae sterf, het hy opgestaan, gewas, nuwe klere aangetrek en by die tempel gaan aanbid. Hy het dapper aanvaar die kind het gesterf en dat hy nou die kind se dood moet aanvaar. Die kind kan nie terugkom na hom nie, maar hy sal eendag na die kind gaan. Die dienaars van Dawid was verstom oor die optrede van Dawid.

Soos Prediker ook predik: dat daar ’n tyd vir alles is. Daar is ’n tyd om te treur en ’n tyd om getroos te wees. In Christus Jesus, ons enigste troos in lewe en in sterwe, kan ons dapper die dood in die gesig staar en die dood ook aanvaar met die troos en wete dat Christus klaar die dood oorwin het.

So is dit ook die wil van die Here dat ons mettertyd die dood van Jakkie aanvaar en leer om dapper aan te gaan met die lewe.

Die wil van die Here is dat ons getroos moet word, met die wete dat Jesus Christus die eersteling is wat uit die dood opgestaan het. Daarom kan ons die dood dapper aanvaar.

Ek het al begrafnisse bygewoon waar ongelowige mense letterlik met die sak van die kis, saam in die graf geklouter het, want hulle kan nie met dapperheid die dood hanteer nie, want vir hulle is ’n begrafnis die eindpunt van alles.

Maar die “dal van doodskaduwee” van Ps 23:4 in die 1953 vertaling is nie ’n maklik plek om te wees nie. Dit vra dapperheid. Daar staan: Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” Die dal waarvan gepraat word, is die diep dal of vallei in die bergagtige gedeeltes van Israel, waar die son eerste ondergaan. Omdat dit ook laagliggend is, vloei die water ook van die berge in die dale af. Daarom is ’n dal ook dig bebos. Die donkerte en die bebostheid maak dit die ideale skuilplek vir struikrowers. As Dawid as jong seun die vallei afsak om deur die dal te trek met sy skape, is hy bang wat in die dal vir hom voorlê. Dit is soos doodskaduwees.  Maar dan is hy getroos met die wete dat die Here se stok en staf hom sal beskerm in daardie gevaarlike dal van die dood.

Wat het ek geleer  in Jakkie le Roux se sterwensproses? As jy swaar kry, bly in jou roetine. Moenie gaan lê nie. Lewe nog elke dag voluit – tot die einde. Wees elke dag dapper. Fritz Grobbelaar het my vertel toe hy twee jaar in Antarktika was, was dit ses maande bykans net dag en ses maande bykans net nag. As jy nie in jou roetine bly nie en volgens die horlosie opstaan en gaan slaap nie, gaan jy dit nie maak in Antarktika nie. Jy móét in ’n roetine bly.

So moet jy ook in jou swaarkry in ’n roetine bly. Ook in jou geestelike dissiplines moet jy in ’n roetine bly. Bid gereeld en bly standvastig in jou geloof. Wanneer ek by Oom Jakkie besoek gebring het en hy al baie swak was en ek vir hom ’n gebed gedoen het, het hy my hand ekstra styf vasgehou. Op die einde het hy na die Here geroep en die Here het hom gehoor en saggies weggeneem om by Hom te wees.

Ek respekteer die dapper en waardige manier waarop Jakkie sy laaste weke deurgebring het. Hy was dapper tot die einde.

Almal is bang vir die dood. Dood is ons grootste vyand. Maar in Christus word die dood ons vriend. Dit verlos ons van aardse sorge, bekommernisse, siekte, lyding en swaarkry. Daarom het ons ’n wederkomsverwagting, dat die dood die deur is na die ewige lewe, waar ons in ’n totale toestand van vrede sal wees.

Die Here sal ons die krag gee om hierdie grootste vyand, die dood, te verslaan.

Ons eer die lewe van broer Jakkie le Roux. Hy was dapper in sy dood. Ons wat agterbly, en veral sy familie, moet nou dapper wees om sy dood te aanvaar en verder sinvol met ons lewens aan te gaan. Jakkie le Roux kan nie terugkom na ons nie, maar ons gaan eendag na hom. 

Jakkie le Roux sal altyd deel wees van ons kosbare herinneringe.  Ons eer sy nagedagtenis.             Amen  

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Moenie die hasepad kies nie

Skriflesing: Eksodus 3: 1 –  4: 18

Het u al agter ’n troetelhaas aangehardloop? Hoe harder jy agter hom aanhardloop, hoe harder hardloop hy vir jou weg, want hy dink dat die mens hom wil seermaak. Eers as ’n mens hom gevang het en teen jou vasdruk, ontdek die haas dat hy oorweldig word deur liefde.

Toe ek ’n kind was, het my ouers vir ons kinders hase gekoop by die jaarlikse Bloemfontein Skou. Die hase se pels was van verskillende kleure en ons kinders was so opgewonde oor die hase. As hulle uit die hok kom, dan moes jy al agter die hase aan hardloop om hulle te vang. Ek ken van agter hase aan hardloop!

Moses herinner my ook aan ’n haas wat vir God  weggehardloop en daar in die bosse van Midian gaan wegkruip het. Ja, Moses was so rats soos ’n haas. Hy het Farao se toorn ontsnap en gedink dat hy van God ook ontsnap het.

Ons ken almal die verhaal van Moses in Egipte. Moses het in Egipte gesien dat ’n Egiptenaar een van die Jode aangerand het. Hy het so kwaad geword dat hy die Egiptenaar doodgeslaan het. Uit vrees vir die toorn van Farao het hy ontvlug na Midian en daar ’n nuwe begin gemaak. Inderdaad het Moses die hasepad gevat.

Maar is ons nie miskien vanoggend ook soos ’n haas wat vir God wegkruip nie? Miskien hardloop ons vanoggend vir die Here weg. Ons kan weg hardloop van ’n oorgegewe lewe van gehoorsaamheid aan die Here. Ons kan weg hardloop van ons stiltetyd. Ons kan weg hardloop van die eise van God se Woord. Ons kan weg hardloop van God se vergiffenis in ons lewe. (Partymaal kan iemand nie glo dat God hom of haar vergewe het nie.) Ons kan weg hardloop van God se plan met my lewe.

Maar God het Moses agtervolg. Ja, God het Moses se spoor daar tussen die bosse van Midian gevat. God het warm op die spoor van Moses gebly.

Maar onthou, as ons weg hardloop van God in ons lewe, is God ook warm op ons spoor. God is altyd soekend na die mens, daarom agtervolg Hy ons altyd.

Met respek gesê: God is soos ’n Boesman – as Hy op jou spoor is, verloor Hy jou nie. Wat die Here begin, maak Hy klaar. Die Here Jesus het nie net die saligheid vir my verdien nie, Hy bewerk ook die saligheid in ons lewe.

Ons kan maar vlug – die Here is op ons spoor. Die Here gaan vir jou in ’n hoek dryf, soos Hy ook met Jona gedoen het. Die Here het vir Moses ingehaal, Hy gaan vir ons ook inhaal. In Eksodus 3 en 4  lees ons dat Moses God se plan met die volk Israel laat verongeluk het. Toe het Moses soos ’n haas vir God weggehardloop en daar in Midian gaan wegkruip. Maar God het Moses agtervolg en hom daar tussen die bosse van Midian gekry.

Maar die vangslag is die probleem. Vir ’n haas hou ’n mens ’n wortel uit as lokaas. Dit werk keer op keer. Wel, Moses het dalk nie van wortels gehou nie, maar God het geweet Moses is ’n nuuskierige man. Daarom prikkel God Moses se nuuskierigheid deur ’n brandende doringbos. Die brandende doringbos word die wortel, die lokaas. God roep Moses deur ’n brandende doringbos wat nie uitbrand nie.

Dan lees ons hoe Moses nadergekom het. En raai wie ontdek Moses daar? Niemand anders as die lewende God nie. Moses het nie vir God daar in Midian verwag nie. So dikwels sien ons God se hand op plekke waar ons dit nie verwag nie.

So gee God vir Sy kinders almal seine langs hulle lewenspad, as ons oë dit maar net kan raaksien. Moses het dit raakgesien. Aan die anderkant is daar waarskynlik duisende mense met wie die Here al jare lank op tientalle maniere probeer praat, maar hulle hoor en sien Hom nie.

Oor hoe blind ’n mens kan wees, word daar ’n mooi storie vertel: ’n Man wat nie juis bekend was as ’n gelowige nie, het in die woestyn verdwaal. Na ’n paar dae was hy so hoog in die nood dat hy ten einde raad besluit het om maar tog te bid en te kyk of dit nie dalk help nie. Toe hy op ’n dag, na die episode, sy verhaal vir ’n vriend vertel, vra die vriend nuuskierig: “En toe, het die Here jou gebed gehoor en jou gehelp?” “Nee,” het die man sinies geantwoord. “Hy het niks gedoen nie. As dit nie was dat ’n man op ’n kameel kort daarna daar verbygekom het nie, het ek seker vandag nog daar gesit.” Nooit het die man besef dat die man op die kameel wat hom gered het, die Here se antwoord op sy gebed was nie.

Dit is net ongelooflik hoe blind ons somtyds vir die Here se seine kan wees. Sien ons die seine raak wat God vir ons gee? God gee vir ons elkeen seine, brandende doringbosse op ons pad.

Somtyds kan God deur ’n droogte vir ons so ’n sein gee. Miskien wil God in ’n droogte vir ons sê: “Is jy nie meer begaan oor die droogte op jou plaas as oor die droogte in jou geestelike lewe nie?” Miskien is ’n ekonomiese resessie so ’n sein? Miskien wil die Here deur ’n ekonomiese resessie vir jou sê: “Is jy nie meer begaan oor jou lewenstandaard as oor jou lewenswaardes nie?”

Soos die Here vir Moses geroep het deur ’n brandende doringbos, kan die Here ons miskien roep deur ’n droogte of ’n ekonomiese resessie of deur ’n genadige ingryping in ons lewe of doodeenvoudig deur wonderbare gebedsverhoring in ons lewe.  

Maar God het nie net vir Moses geroep nie. Nee, Hy het hom ook oortuig. Vang ’n bietjie ’n haas en kyk hoe bons sy hart. Sy hart is vol twyfel oor wat met hom gaan gebeur. Waarskynlik het Moses ook so gevoel. Dan lees ons hoedat die Here sy opdrag aan Moses gee, naamlik dat hy die volk Israel moet uitlei uit die slawerny in Egipte.       

Dan kom Moses met sy twyfelvrae:

  1. Wie is ek?
  2. Wie is God?
  3. Is ek geskik?

Die eerste twyfelvraag wat Moses stel, is: “Wie is ek?” Daardeur openbaar hy sy eie swak selfbeeld. Hy beleef dat hy alleen nie opgewasse vir hierdie taak is nie. Maar weet u, die Here wil nie hê ons moet ’n oordrewe selfbeeld hê wat grens aan narcisme nie. Die Here Jesus sê mos in sy bergpredikasie: “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van die Here is.” Met daardie woorde het die Here Jesus ’n streep deur die humanistiese lewensfilosofie getrek. Die humanisme beweer mos jy moet positief oor jouself en jou eie vermoëns dink, tot op ’n ekstreme vlak van selfliefde. Hulle sê mos: “It’s all in the mind.” “Nee,” sê die Here: “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van die Here is.”

Dan lees ons die Here se antwoord. Die Here beloof dat Hy met Moses sal saamgaan. Hy sal Moses se krag en wysheid wees.

Die tweede twyfelvraag wat Moses stel is: “Wie is God?” Wat vra Moses eintlik hier? Hy vra die diepste van alle vrae: die vraag na die hart en wese van God. Wie is God? Hoe is God? Nie net ’n diepgaande vraag nie, maar ook ’n nodige vraag. Hoe kan ’n mens groot dade gaan probeer doen as jy nie weet wie of hoe groot die God is wat jou stuur nie?

In Eksodus 3:14 kry ons dan die Here se bekende antwoord aan Moses: “Ek is wat Ek is.” Jy moet vir die Israeliete sê: “ ‘Ek is’, het my na julle toe gestuur.” Die Here gee egter nie ’n definitiewe antwoord op die vraag nie.

Hy sê net: “Ek is wat Ek is.” Daardeur sê die Here dat Hy hom nie laat verklaar of inperk deur ’n mens nie. Hy laat Homself nie definieer deur ’n mens nie, want dan sou Hy nie meer God gewees het nie.   

Ons kan ’n watermolekule ontleed as ’n verbinding van twee waterstof-atome met een suurstof-atoom. So kan ons alles onder die son analiseer, behalwe vir God. Hoe kan ’n skepsel immers sy Skepper ontleed. Die maaksels kan mos nie die Maker begryp nie. Dit is onmoontlik.

Die teologie is die een wetenskap wat met sy hande in die hare sit. Ons kan God nie analiseer nie, ons kan Hom net aanbid.

Nee, ons weet nie wie God is nie, maar God openbaar wel aan ons wat Hy kan doen. Dan doen God twee wonderdade. Moses se kierie word ’n slang en omgekeer. Verder word Moses se hand melaats en omgekeerd.

Nee, geliefdes, ons kan God nie in ’n proefbuis of in ’n definisie of formule vasvang nie. Die Here sê: “Ek is wat Ek is.”

Die laaste twyfelvraag van Moses was die vraag of hy geskik is om in die Here se diens te staan, aangesien hy ’n hakkelaar is. Moses het eerder kans gesien om vir ’n ongeskiktheidsfonds aansoek te doen as om in die Here se diens te staan.

Ook vir hierdie probleem van Moses toon die Here begrip en Hy besluit om hom weer eens tegemoet te kom. Maar in Sy wysheid doen die Here dit op Sy eie manier. Hy raak nie Moses se mond of tong aan om hom van sy spraakgebrek te genees nie. Nee, die Here “toor” meestal nie ons swakheid of beperkinge weg nie, Hy maak ’n ander plan. Hy los vir Moses so met sy swakheid, maar gee vir hom sy broer Aäron om langs hom te staan en saam met hom te gaan. Die Here gee vir ons broers en susters om ons in ons swakheid by te staan. Dit is ’n groot troos van die Evangelie, naamlik as jy die Here dien, is jy nooit alleen nie. Ons sal dit wat die Here van ons verwag, nooit alleen kan doen nie en gelukkig hoef ons ook nie. Ons het broers en susters.

Dit bring ons by die laaste deel van die preek. Ons het gesien dat die Here die mens roep en oortuig. Nou gaan ons sien dat die Here ook saamgaan met die mense wat hy geroep het.

Wanneer ’n haas eers eenmaal gevang is en mak geword het, sal hy al agter ’n mens aanspring. So het God vir Moses daar tussen die bosse van Midian mak gemaak.

Nou was God en sy haas Moses op pad terug na Egipte om die volk Israel te bevry. In vers 18 lees ons hoedat Moses sy skoonfamilie gegroet het en op weg gegaan het terug na Egipte. Saam met hom het die lewende God gereis.

As God u geroep en oortuig het dat u ’n lewe van oorgawe volgens God se plan moet leef, weet dan dat God met u sal saamgaan. God sal u nooit verlaat nie. God het eenmaal Sy Seun op Golgota verlaat, sodat Hy ons nooit sal verlaat nie. As God ’n plan met jou het, sal God jou bystaan in Sy krag en wysheid.

Ten slotte: Moenie eers probeer om vir God weg te hardloop nie. Hy is warm op u spoor. Hy gaan u in ’n hoek dryf. Luister daarom na die roepstem van die Here. Waartoe wil die Here jou vandag roep? Die Here sal u oortuig wat u moet doen en Hy belowe Hy sal met u saamgaan in dit waartoe Hy u roep.             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

[Verskeie bronne is gebruik om die preek te skryf.]

Moenie koppe was nie, maar was voete

Skriflesing: Markus 6: 17 – 29

Geskenke beteken om iets van jouself vir ’n ander te gee. ’n Mens kry gekoopte geskenke, selfgemaakte geskenke of geskenke waar jy jouself moet gee. Ons waardeer gekoopte geskenke, maar ons het groter waardering vir ’n geskenk wat iemand met sy eie hand gemaak het en vir ons gegee het. Dit kan wees ’n koek, beskuit, kerriebeet, naaldwerk of ’n handgewerkte artikel en so kan ons aangaan.

Baie jare gelede het ’n arm bruin man van die VG Kerk op Strydenburg vir my een Sondagmiddag by die pastorie ’n paar mooi klippe wat hy in die veld opgetel het,  kom gee omdat hy aan my gedink het. Ek het dit so waardeer en tot vandag toe nog bewaar ek die klippe. Daar is Lizzie Brouwers van die VG Kerk Strydenburg wat ook vir my kosbare geraamde naaldwerkstukke gegee het. Dit is spesiaal vir my.

Maar ’n mens kry ook iets soos ’n geskenk waar jy jouself gee. Somtyds is ons aandag, liefde en opoffering vir ’n ander een so goed soos ’n geskenk. So kan enigiets wat ek vir ’n ander een doen, ’n geskenk wees. Die grootste geskenk was met Christus se geboorte toe God Homself persoonlik vir hierdie wêreld gegee het.

In ons skrifgedeelte lees ons ook van ’n geskenk wat iemand vir iemand anders  gegee het.  Ons lees van Herodus wat vir sy dogter, die afgekapte kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord gegee het. Voorwaar ’n afskuwelike geskenk. ’n Mens sal miskien sê die geweldsvlakke is te hoog vir die Bybel. Dit moet ’n 18+ ouderdomsperk kry. Ongelukkig is dit die realiteit. Baie dae gee ons ook sulke afskuwelike “geskenke” vir mekaar. Mense bedrieg mekaar, steek mekaar in die rug, beswadder en beskinder mekaar en leef afgunstig op mekaar.

Herodias het gedink sy is baie slim toe sy vir haar dogter vra om vir haar pa die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord as geskenk te vra.

Herodus het Herodias by sy halfbroer afgevry en Herodias het maklik ingestem, want om die vrou van Herodus te wees, sou beteken dat sy meer mag en invloed het as voorheen. Toe Johannes die Doper preek teen die owerspel was sy die joos in, want haar nuwe huwelik het haar meer mag besorg, en sy wou nie van hierdie mag afstand doen nie. Sy het ’n manier gesoek om vir Johannes die Doper om die lewe te bring. Die tyd en plek was die verjaarsdagparty van Herodus. As Herodus dronk is, is hy baie vrygewig. Herodus se dogter dans toe so mooi vir hom voor die gaste dat hy vir haar sê dat sy enigiets van hom kan vra. Dit was Herodias se kans. Sy oorreed haar dogter om die kop van Johannes die Doper te vra. ’n Afskuwelike geskenk! ’n Koning se woord is wet en so word Johannes die Doper  onthoof en sy kop as geskenk gegee vir Herodus se dogter, en Herodias is in die wolke.

 Tog sit die gees en slinksheid van Herodias ook maar in ons elkeen. Ons kan so maklik ’n ander een te na kom. Ons kan mekaar so maklik kopwas of op mekaar se koppe sit. Ons kan so maklik koppe eis en oor koppe heenpraat. Wanneer iemand se kop rol, is ons baiekeer so verheug oor sy of haar val. Ons laat koppe rol, maar ons was nie voete nie. Ons was mekaar se koppe, maar ons was nie mekaar se voete nie. Nee ons trap eerder op mekaar se tone.

Maar die Here Jesus wil vir ons vandag leer dat ons onsself moet gee as ’n geskenk vir ander. Want die Here Jesus het ons so lief gehad dat Hy sy eie Seun op die eerste Kersnag gestuur het om die hele wêreld te red. Christus het homself as geskenk gegee.

Nou leer Hy ons om onsself ook elke dag te gee as ’n geskenk vir ander. My liefde, deernis en barmhartigheid moet ek aan ander betoon en sodoende myself as geskenk gee. Deur my tyd af te staan en deur opofferings te maak vir ander, gee ek myself. Wie liefde, deernis, vreugde, blydskap, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel, deel homself of haarself met ander. So iemand word self ’n geskenk vir ander.

Ek het ’n negentiende-eeuse verhaal gelees van ’n meisie wat op was vanuit Ierland na Sussex in Engeland om by Hertog Henry van Arundel Castle te werk op die aartappellande. Haar nuwe werkgewer was die vyftiende hertog van Norfolk. Hertog Henry was baie lief vir werk en het baie dikwels saam met sy arbeiders op die aartappellande gewerk.

Die meisie, haar naam word nie genoem nie, het op die stasie aangekom. Haar besittings was in ’n baie groot tas verpak – veels te swaar vir haar om te dra. Die kasteel was goed ’n paar kilometer heuwel-op en sy sou dit beslis nie alleen regkry met die swaar tas nie. Op die stasie het sy na ’n kruier geloop en vir hom gevra om haar te help: “Meneer, asseblief Meneer, sal u my nie met my tas help nie? Ek kan dit nie so maklik dra nie. Sien, my broer in London het my daar gehelp …” Die kruier het nie eers opgekyk nie. Hy was slegs in vet fooitjies geïnteresseerd. “Wat kan jy betaal?” wou hy kortaf weet.

“’n Sjieling (10c), Meneer, dis al wat ek het. Maar ek sal Meneer die hele sjieling betaal.” Die kruier het uitbundig gelag: “’n Sjieling! Jou klein dwaas. Jy’s van jou sinne beroof. Vir ’n sjieling sal ek nie eers jou tas tot in die straat dra nie. Wie dink jy is jy? Dra jou tas en skoert!”

Die Ierse meisie was verslae. Sy het gereken dat ’n sjieling baie geld was, daarom het sy dit so sorgvuldig gebêre.

Maar ’n man in gewone arbeidersklere het die hele petalje so eenkant staan en aanhoor. Hy staan nader en vra haar: “Kan ek dalk help, juffrou?” wou hy weet. “Ag, asseblief Meneer, ek moet na die kasteel gaan. Ek het daar werk gekry, maar my tas is so swaar. Kan Meneer my nie miskien help nie? Ek sal Meneer ’n sjieling betaal … (en sy wys vir hom die muntstuk)”

Die vreemdeling het haar tas stilswyend opgetel en langs die meisie begin aanstap na die kasteel. Voor die poort van die kasteel het die meisie vasgesteek en gesê: “Toemaar Meneer, hiervandaan sal ek self regkom.” Sy gee hom die muntstuk en hul groet. Die man stap toe aan, na die aartappellande. Sy dink toe maar dat hy ook een van die arbeiders is.

Die volgende oggend moes sy voor die hertog verskyn. Sy stap deur die sale en verkyk haar aan die eeue-oue skatte wat deur geslagte van ridders versamel is. Uiteindelik swaai die swaar houtdeure oop en daar staan die hertog voor haar. Geskok kyk sy na hom … dit is die man wat haar tas help dra het en sy het hom nog met ’n sjieling betaal ook! Die hertog het net geglimlag en gesê dat hy graag mense help en hulle het mos vir ’n sjieling ooreengekom.

’n Pragtige verhaal van iemand wat groot is, maar nie bang is om te dien nie. Die hertog het nie oor die kop van die diensmeisie gekyk nie. Hy het in haar oë gekyk en was bereid om as geskenk vir haar te help met die tas. Hy het ’n mooi gebaar getoon deur so ’n geskenk vir haar te gee.

Materiële geskenke is alles goed en wel, maar jou man, jou vrou, jou kind, jou medemens en die vreemdeling wil graag ervaar dat ons onsself gee. Dit is die diepste bewys dat ons hulle waarlik liefhet.

Mag ons ook in die naderende Adventstyd ervaar en leer om onsself vir ander te gee as geskenk. Mag ons dit ook toepas elke dag van die jaar.

Moenie koppe was nie, maar was voete. Eers dan word jou lewe ’n geskenk aan ander. Gee met jou lewe goeie geskenke aan ander.                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Hoogmoed en nederigheid is teenpole

Skriflesing: Jesaja 2: 11 – 17, Jesaja 10: 33 – 34  en Jesaja 11: 1 – 10

Daar is ’n spreekwoord wat sê dat alle hoogmoed tot ’n val kom. Miskien het hierdie spreekwoord sy ontstaan uit die boek Jesaja. Die boek Jesaja handel oor die ongelooflike hoogmoed van die volk Israel in die tyd van die profeet Jesaja.

Jesaja praat in die oorspronklike Hebreeus van die “hoë oë van mense” wat afkyk op ander. Daarmee bedoel hy dat mense nie meer opgekyk het nie, nog minder rondgekyk het na ander, maar eerder neergesien het op ander mense.

Hulle het die wese en weduwees nie meer raakgesien nie. Hulle oë het nie meer nat geword as hulle lyding sien nie. Hulle sien net splinters raak in die oë van ander. Reg en geregtigheid het vir hulle niks meer getel nie.

Al wat vir hulle getel het, was hul persoonlike rykdom, eie aansien en gemak. Hulle het vergeet van hulle mede-Israeliet.

Jesaja gebruik verskillende woorde vir die begrip hoogmoed. Dit wissel van “hoog wees” en “trots” en “arrogant” en “meerderwaardig” en selfs “verhewe”. Hoogmoedige mense is geneig om die “hoogtes” te bestyg om ander gode te aanbid. Daarom lees ons van verskillende heiligdomme op hoogtes wat mense gebou het om hulle afgodsbeelde te bou. ’n God wat jy self bou, besit jy ook, kan jy manipuleer … en dit pas in die kraal van ’n hoogmoedige mens.

Die uitvinders van hoogmoed was natuurlik Adam en Eva. Hulle wou soos God wees, daarom het hulle geval vir die duiwel se set dat as hulle die verbode vrug sou eet, hulle soos God sou wees.

Kain het sy broer Abel ook doodgeslaan omdat hy hoogmoedig jaloers was dat die Here sy broer Abel se offerande aangeneem het en nie syne nie.

Hoogmoed is egter ’n tydlose sonde. Hoogmoed veroorsaak rusie en oorlog. Telkens in die geskiedenis lees ons van die hoogmoed van een mens of ’n volk oor ’n ander, byvoorbeeld:

  • Slawerny – ontworteling van mense en die neersien op ander mense, sou hulle objekte wees
  • Brittanje wat groot leed vir die Afrikanervolk besorg het in die Anglo-Boere Oorlog
  • Hitler en sy Nazi-idees wat gelei het tot die dood van miljoene Jode en ’n vernietigende wêreldoorlog
  • Kommunisme wat die wêreld wou beheer
  • Afrikaner-nasionalisme wat neergesien het op ander mense, as sou hulle tweede-klas mense wees
  • Swart-nasionalisme wat glo “Black is beautiful” en wittes wil verdryf
  • Rusland wat die Oekraïne binnegeval het
  • Haat tussen die Israeliete en Palestyne in die Gaza strook

Hoogmoed verdryf selfs geslagte uitmekaar:

  • Manlike chauvinisme wat die vrou tweede klas wil stel en as ’n gebruikersartikel wil sien
  • Feminisme, wat natuurlike geslagtelikheid wil negeer

Hoogmoed verdryf nie net mense nie, dit verdryf God ook. Daarom het Israel afgode op die hoogtes gebou, daarom streef die mens vandag na geld, roem en status.

As jy nie geld het nie, is jy niks. As jy nie mooi en slank is nie, is jy nie in nie. As jy nie die regte vriende op die regte plekke het nie, het jy geen invloed nie. As my kind nie presteer in akademie of sport nie, is hy/sy een van die valetjies in die skool.

Geld, skoonheid, prestasie, invloed – dit tel … dit word ons god.

Ons kan kloneer, harte oorplant, ons kan in vitro bevrug en mense se lewens verleng, ons kan wolkekrabbers tot aan die hemel bou en met internet word die wêreld skielik ’n klein dorpie. Kunsmatige intelligensie is nou die nuwe gons-woord. Ons kan selfs ons eie Armageddon skep met kernwapens.

Daarom kyk ons nie meer op na God nie, ook nie meer rondom ons na ander mense nie. Nee, ons kyk afwaarts na hoe ons die wêreld en ander mense kan gebruik en manipuleer.

Ook in die kerk gaan dit nie veel beter nie. Om die eerste Nagmaalstafel wonder die dissipels wie gaan hulle voete was en wie gaan aan die Here se regterkant sit. Daarom het die kerkgeskiedenis ook maar op elke bladsy sy paragrawe van menslike hoogmoed wat die Evangelie in skaak wil sit.

Dan sê God baie duidelik dat Hy alle hoogmoed tot ’n val sal laat kom. Jesaja beskryf hoe die volk Israel afgekap sal word soos ’n boom deur Assirië. Hulle maaksels, hulle torings en skansmure en handelskepe sal vergaan. Politieke en ekonomiese stelsels sal afgebreek word.

Hulle wat selfversekerd lewe sal van niks meer verseker wees nie.

Vers 19 sê die hoogmoedige mens sal soos ’n velddier in gate kruip om van sy oordeel weg te kom. Ons silwer en goud waarvoor ons so werk en so leef, sal so nutteloos wees soos die outydse goed op die solder, waaroor die rotte en vlermuise waak. So sal ook die aandelebeurs wisselvallig wees.

Op daardie dag sal almal weet dat daar net een God is, naamlik die Almagtige.

Die volk Israel het dit onder die Assiriërs ervaar, hoe hulle soos ’n boom afgekap word en van niks meer seker is nie. Daar staan in Jesaja 10: 33 – 34 die volgende: “ Kyk, die Heer, die Here, Heerser oor alle magte, gaan met skrikwekkende krag die blaredak wegkap; dié wat hoog uitgegroei het, word afgekap, die hoës sink neer. Hy sal die struikgewas in die bos uitkap met ’n ysterwerktuig, en die Libanon, die magtige, sal val.”

Ek dink baie van ons Afrikaners voel ook so. Ons voel ons is afgekap en van niks meer seker nie. Die toekoms het vir ons duister geword. Ons selfversekerdheid  eens het plek gemaak vir onsekerheid.

Maar Jesaja het ook ’n genade-kant. God bly nie vir altyd kwaad nie. Jesaja sê dat die volk Israel soos ’n afgekapte boom lê, maar uit sy stam se wortels sal ’n nuwe loot spruit wat vrugte dra. Daar staan in Jesaja 11: 1 die volgende: “Maar ’n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.”

Uit hierdie loot is Jesus Christus gebore. Hy sal regspreek en vir die armes ’n billike verhoor gee. Hy sal barmhartigheid betoon. Daar sal weer vrede wees en die wolf sal nie oor die skaap heers nie en die beer nie oor die koei nie. Daar sal nie meer hoogmoed wees nie, want Fil 2: 7 sê dat Jesus Christus soos ’n dienskneg, soos ’n slaaf, gekom het.

Jesus Christus  het vir ons kom leer om op te kyk na ons Vader en neer te buig sodat ons ons medemens reg in die oë kan kyk. Sodat ons oë soos syne nat kan word as ons lyding sien. Dat ons ore oop sal wees om die gekerm van die mens in nood te hoor. Dat ons oë oop sal wees om die seer in ’n ander een se lewe raak te sien. Dat ons hande oop sal wees om te help, te genees en te heel.

Daarom het die Here Jesus op sy knieë gegaan met die eerste Nagmaal en geskuifel van stinkende voet tot stinkende voet en hulle almal gewas. Die volgende dag, op Goeie Vrydag het hy ons stinkende harte gewas … sodat ons nederig kan wees soos Hy.

Hy het ons geleer om op te kyk en te bid: “Onse Vader” en Hy het ons geleer om op ons knieë te gaan en vir mekaar te sê: “ My broer, my suster”. Daarom mag ons nooit weer meerderwaardig afkyk op ander nie.

By een geleentheid het ’n orkes Handel se Messias so pragtig aangebied dat die applous dawerend was, en almal na die komponis gedraai het. Handel het opgestaan en met sy vinger stilweg boontoe beduie dat die eer aan God gegee moet word eerder as aan homself. Dit is presies wat die Maagd Maria gedoen het toe sy met Elizabeth gepraat het. Dit is asof sy sê: “Moenie my loof nie, maar loof die Here wat my Verlosser is.”

Die tak wat die meeste vrugte dra, buig die laagste na die grond terwyl die tak met min of geen vrugte regop staan. So is dit met nederigheid en verwaandheid. Nederigheid dra die gewig van wysheid saam terwyl hoogmoed min vrugte voortbring.

’n Groep Amerikaners het Kaïro in Egipte verlaat om op ’n reis deur die woestyn te gaan. Hulle het vir hulle waterhouers gekoop om water in te vervoer. Elkeen het die soort houer gekies waarvan hulle die meeste gehou het. Een het koperpotte gevind. ’n Ander het porseleinhouers van seldsame mooiheid gekoop. ’n Derde het egter ’n paar gewone erdebottels geneem. Die pad deur die woestyn was lank en vermoeiend. Die hitte was intens. Elke druppel water was van waarde. Die koperhouers het egter verhit en die water het ’n vreemde kopersmaak gekry. Die duur porseleinflesse het in die hitte gekraak en die water is verlore. Maar die gewone erdebottels het die water suiwer en vars gehou tot die reis se einde.

Die grootheid van ’n man word bewys deur sy nederigheid. In die woorde van ’n ou Filippynse gesegde: “Hoe hoër die bamboes groei, hoe laer buig dit.”

’n Dogtertjie geklee in ’n langbroek het by ’n troeteldierwinkel ingestap en gevra of hulle ’n hondjie met ’n lam been het. Sy het ’n dollar gehad waarmee sy dit wou koop. Die verkoopspersoon was verbaas dat die dogtertjie ’n lam hondjie wou koop. Sy het gevra: “Hoekom, wil jy nie ’n hondjie koop wat kan rondhardloop en speel nie?” “Nee, ek wil ’n kreupel een hê.” Uiteindelik het sy een been van haar langbroek opgetrek en haar stut en prostese gewys en gesê: “Ek loop ook nie so goed nie.” Die dogtertjie met ’n lam been het haar met ’n lam hondjie geïdentifiseer. Die Here Jesus het ’n mens geword en ’n menslike liggaam met sy swakhede op Hom geneem om Homself met ons in ons liggaamlike, emosionele en geestelike swakhede te identifiseer (Heb 4:15). Daarom glo ons in die menswording van Christus en Sy menslike natuur, naas Sy Goddelike natuur. Jesus Christus het Homself verneder deur die menslike natuur aan te neem.

Hoogmoed kom tot ’n val. Nederigheid laat jou laag buig van al die vrugte van die Gees wat jy dra.

Hoogmoed maak jou steriel. Nederigheid maak jou vrugbaar.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)