Skriflesing: Psalm 42 en Psalm 43
Verlang mense deesdae nog? Hoe dikwels pak die verlange na iemand spesiaal ons nog beet? Vroeër was verlange ’n baie meer algemene ervaring. In toeka se tyd was daar nog nie telefone en elektroniese kommunikasie soos WhatsApps nie. Selfs briewe het maande per skip geneem om hul bestemmings te bereik. Daarom het ouer mense meer dikwels die ervaring gehad wat verlang beteken.
Maar verlang ons nog na God? Wanneer laas het ons heimwee gehad, gesmag, gehunker en verlang na God se nabyheid? Wanneer het ons gehunker na ’n diepe ervaring van God se teenwoordigheid in ons lewe?
Vroeër was verlang vir baie gelowiges ’n ervaring waarmee hulle vertroud was. Daar was selfs ’n Verlang-Sondag, die sewende Sondag na Pase, die een tussen Hemelvaart en Pinkster, die sogenaamde Exaudi-Sondag, ’n soort heimwee-Sondag. Die Here Jesus het opgevaar na die hemel. Hy was weg, skynbaar het Hy hulle verlaat.
Op hierdie Verlang-Sondag, heimwee-Sondag is daar veral gepreek oor Psalm 42 en Psalm 43 wat eintlik ’n eenheid vorm. In hierdie twee Psalms verlang die Psalm-skrywer met ’n dubbele verlange: na gemeenskap met God en na gemeenskap met die mense van God …
Die Psalmdigter voel soos ’n dorstige dier, ’n hert, ’n wildsbok wat smag na waterstrome. Ja, so smag die Psalmdigter na gemeenskap met God en met sy medemens.
Daar staan in Psalm 42: 2 – 3 die volgende: “Soos ’n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die tempel ingaan en voor God verskyn?” Die Psalmdigter verlang na waterstrome, terwyl hy letterlik by die fonteine sit, waar die water opborrel. Daar staan in Psalm 42: verse 7 – 8 die volgende: “My God! My siel kwyn weg in my, daarom dink ek aan U hier uit die Jordaanstreek en by die Hermonberge, hier van berg Misar af. Die diep water laat die geluid van u watervalle weergalm. Al u deinings en golwe het oor my gespoel.” Die Psalmskrywer sit as’t ware by die waterstrome. Hy begeer dus nie letterlike water nie, maar hy verlang na die geestelike water. Sy verlange is na God en die tempel.

Ons leef egter nie in ’n verlang-wêreld nie. Ons leef eerder in ’n begeer-wêreld. In die plek van verlange na God en na mekaar het die begeerte na dinge en na onsself gekom. In plaas van om te verlang na God en na ons naaste, begeer ons goed, eer en sukses en veral ons eie belange.
Ons begeerte is na dinge en na afgode. Daarom sê Martin Luther dan ook dat die mens se hart ’n afgodefabriek is wat gedurig besig is om afgode te maak. Hierdie afgode word dan deur ons begeer.
Ons lê nie meer wakker van verlange nie, maar ons lê wakker van begeertes, begeertes na dinge en na onsself. Dit was nooit so erg in die geskiedenis van die wêreld as juis nou nie. In die vroeë kerk, in die armer kerke, was die verlange na God en na die medemens baie sterker as wat dit vandag is.
’n Ou kerkvader uit Noord-Afrika, Augustinus, het een maal gesê: “ God het ons vir Homself gemaak, en ons harte bly onrustig tot dit rus vind in Hom”.
In Psalm 51 bely koning Dawid sy skuld voor die Here. Hy weet hy het erg gesondig deur met Batseba owerspel te pleeg en haar man Uriah te laat vermoor. In die mooi Psalm begeer Dawid nie meer sy koningskap of sy rykdom nie. Hy verlang egter om een met God te wees en om weer die nabyheid van die Here te ervaar. Hy verlang daarna dat God nie van hom sal wyk nie, maar met hom sal wees elke dag. Sy begeertes na Batseba het nou plek gemaak vir ’n verlange na God.

Dink maar aan die beroemde boek van John Bunyan Die pelgrim se reis na die ewigheid. Vir ’n lang tyd was dit die mees gelese boek ter wêreld. Waarom? Dit is ’n boek van soeke, van strewe na gemeenskap met die lewende God.
Dink maar aan die geestelike dissipline van “Practising the presence of God”, waardeur mense voortdurend daarvan bewus gemaak word om te konsentreer op die nabyheid van God in hulle lewe. Vandag verskyn daar ook uitstekende boeke op die boekemark wat handel oor meditasie; dit is om na te dink oor God en God te beleef.
Europa is ’n voorbeeld waar die verlange na God gesterf het en die begeerte na lewenstandaard, rykdom en tegnologie toegeneem het. Verlange het plek gemaak vir begeertes.
’n Mens kan die wortels van ’n plant vergelyk met die verlange na God, wat ander mense nie kan raaksien nie. Die stam, takke en die blare wat ander mense kan raaksien, is die begeertes van die mens. Die belangrikste deel van ’n plant is sy wortelstelsel. Jou verlange na God en jou medemens moet belangriker wees as jou begeertes na goed, besittings en jou drome.
Verlang-mense is soekende mense, soekende na God, maar ook soekend na ander mense. Begeer-mense leef in ’n wegvlug-of-onttrek-wêreld. Hulle wil nie betrokke raak nie. Hulle is afsydig.
Miskien is juis die tipiese van vandag se mense dat hulle met ’n stuk ongeërgheid, met ’n traak-my-nie-agtigheid leef. Ons houding is “Who cares”? Wat die Middeleeuse kerk die doodsonde van askedia genoem het, is vandag die “aanvaarbare” praktyk van afsydigheid en belangeloosheid teenoor God en ander mense.
Ons leef in ’n tyd van groeiende indiwidualisme. Ons begin toenemend los van mekaar te leef. Ons is nie meer beskikbaar vir mekaar nie. Daar is te veel goed waarmee ons ons besig hou dat daar nie tyd is vir ander mense nie.
In die proses ervaar ons God en ons naaste as ’n bedreiging, eerder as ’n verryking. My naaste word my mededingers. Hulle word lastig, hulle mors my kragte, energie, besittings en tyd. Daar is nie meer tyd oor vir my medemens nie.

Ons is nie meer verlang-mense nie, ons het begeer-mense geword. Ons verlang nie meer na God en na ons medemens nie. Nee, ons begeer dinge en ons eie belange. Daarom is ons so arm in ons geestelike lewe, in ons gemeenskap van gelowiges en in ons onderlinge sorg aan mekaar.
Daarom is dit goed om myself weer te ondersoek en uit te vind of ek werklik nog verlang na God se teenwoordigheid in my lewe en na gemeenskap met my medemens. Of het ons begeer-mense geword wat dinge en onsself eerder begeer? Waaroor tob ons die meeste, oor God of oor dinge? Wat soek ons die meeste, vir God en my medemens of my eie belange?

Daarom moet ons begeertes verander in verlangens. Ek moet minder aardse goed begeer en meer en meer na God en die geestelike seëninge verlang.
Mag die Heilige Gees ons begeer-harte verander in verlang-harte. Verlang-harte wat weer verlang daarna om God te beleef en te ervaar; verlang-harte wat weer begeer om ’n medemens vir ’n ander te wees. Amen
(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
