Skriflesing: Rigters 11: 1 – 15 en Rigters 11: 28 – 40
Die verhaal van Jefta is die verhaal van ’n man wat met ’n agterstand gebore is. Sy gene, maar ook sy omgewing, het vir Jefta gedoem tot ’n lewe van mislukking.
Ons lees net die naam van Jefta se pa. Sy pa se naam is Gilead. Een nag het hy plesier gaan soek by ’n prostituut. Uit die plesier is ’n hoerkind, ’n sondekind, gebore met die naam van Jefta. Gilead het ook nog twee seuns by sy eie vrou gehad.

Jefta die hoerkind, die sondekind, word gou-gou uitgestoot. Jefta se twee halfbroers wil niks met hom te doen hê nie. Hulle wil nie hulle erfporsie met hierdie sondekind deel nie. Hy beland op die straat. Die hoerkind, die sondekind, word nou ook ’n straatkind.
In die strate word hy bevriend met ’n klomp leeglêers. Sy berugtheid groei. Jefta, die hoerkind, die sondekind, die straatkind, die leeglêer … Gou word hy ook die leier van die bende leeglêers, ja, hy word ’n bendeleier. Hulle maak hulself skuldig aan rebelsheid, strooptogte en misdaad.
Jefta die hoerkind, die sondekind, die straatkind, die leeglêer, die bendeleier. Jefta sou pragtig inpas by die bendeleiers van die Kaapse vlakte. Hy is ’n uitstekende kandidaat om ’n motorkaper en ’n dwelmbaas te word. Hy sou vir Stagiet iets kon leer. Suid-Afrika sou sy misdaad-paradys wees.
Jefta, jou lewe is gedoem. Dit is die einde. Die volgende is om ’n tronkvoël te word. Hy sou dalk nog ’n bendeleier in die tronk ook word. Maar moenie bekommerd wees nie. Suid-Afrika is misdadiger-vriendelik.
“Wanneer ’n mens egter dink dit is ‘die einde’, blaai God om en skryf ‘die begin’”. (Andries Cilliers)
God gee vir Jefta ’n ander roeping, naamlik om die leier van God se volk te word. Nie meer ’n bendeleier nie, maar ’n leier van God se mense. Jefta se roeping is nou nie meer misdaad nie, maar om God se volk te lei tot oorwinning oor die Ammoniete.

Aanvanklik was Jefta ontsteld oor sy roeping. Hy antwoord die oudstes in Rigters 11: 7 as volg: “Maar Jefta het die oudstes van Gilead geantwoord: ‘Is dit dan nie julle wat my verag en uit my vader se huis weggejaag het nie? Waarom kom julle nou na my toe, noudat julle in die nood is?’”
Maar die Gees van God het van hom besit geneem om sy nuwe roeping uit te voer. So verander hy dan as mens:
Die hoerkind, die sondekind … word ’n kind van God.
Die straatkind … word ’n paleiskind.
Die leeglêer … word ’n geroepene.
Die bendeleier … word ’n volksleier.
Die uitgestotene … word die gewilde leier.
Wanneer God jou lewe aanraak, verander jou hele lewe. Jy kry ’n splinternuwe identiteit. Ja, Jesus se kruis deurkruis ons swak gene en ons swak omgewing. God maak van agtergeblewenes … voorlopers.
Nie die ANC of president Cheril Ramaphosa kan agtergeblewenes ophef nie. Alleen hulle wie se agterstand deurkruis word deur Jesus se kruis, kan voorlopers word.

En wat ’n voorloper was Jefta nie. Hy onderskei hom as ’n uitstekende onderhandelaar, diplomaat, politieke ontleder en militaris. Hy sien dwarsdeur die skelmstreke van die Ammonitiese koning, want hy ken elke skelmstreek van die onderwêreld. Hy onderskei hom as militaris, want hy weet alles van bendegeweld. Hy verslaan die Ammoniete en vir ses jaar tree hy as rigter op van die volk van God.
Al fout wat hy maak, is dat hy God wantrou om hom te help. Maar ook dit is te verstane, want hy kom uit die onderwêreld waar almal mekaar wantrou.

Hy maak ’n onnodige gelofte, naamlik dat as God hom help, hy die eerste persoon wat hom tegemoet sou hardloop ná die oorwinning, sou offer. Sy dogter hardloop hom eerste tegemoet. Hy moes haar offer … sy mog nooit geslagsgemeenskap met ’n man hê nie. Sy wantroue in God het hom duur te staan gekom.
Ja, dit is juis ons wantroue in God wat ons siek maak. Ons word so dikwels wantrouig in God as droogtes ons tref of as die politiek skeefloop. Ons word morpotte en verbitterde mense.
Jefta begin met ’n agterstand, maar God wis die agterstand uit. ’n Agtergeblewene word ’n rigter van God se volk.
Oorerwing en omgewing spreek beslis nie die laaste woord nie. In Jesus Christus se geslagsregister lees ons van ’n prostituut. Jesus het mens geword in ’n agtergeblewe stal tussen skape en donkies. Hy het die swak sondige menslike genetiese geen van Maria ontvang, maar Sy Goddelike geen het die sondige geen kom deurkruis, sodat Hy sondeloos was en is.
In Moses se geval het hý ook swak begin. Hy het ’n Egiptenaar doodgeslaan en daarna woestyn toe gevlug. Baie jare later het God hom kom roep by die brandende doringbos. Die doringbos het nie uitgebrand nie. Moses moes selfs sy skoene uittrek, want die grond waarop hy gestaan het, was heilige grond. Toe gee die Here vir Moses ook ’n nuwe roeping, naamlik om Sy volk uit Egipte te lei, na die beloofde land.
Ook Jesus se dissipels het swak begin, maar het na Sy Hemelvaart, kragdadige en onverskrokke apostels geword, waarvan die meeste ’n marteldood gesterf het.
Die Here het ook eenmaal vir Augustinus, die onverskillige jongman wat gehoer en gedrink en sy lewe vermors het, aangeraak. Op ’n dag het hy kinders hoor sing: “ … tola lé, tola lé”, wat beteken : “ … neem op en lees”. Omdat hy geen kinders gesien het nie, was hy seker God praat met hom. Hy het onder ’n vyeboom neergeval en die boek Romeine begin lees. Hy het tot bekering gekom en een van die grootste kerkvaders van alle tye geword. Hy en sy buite-egtelike seun is saam gedoop. Sy lewe het swak begin, maar het kragtig geëindig.

Daar is ’n bekende aanhaling van Oscar Wilde: “Every saint has a past, every sinner has a future”.
Daar is soveel verhale van mense wat met swakheid en ’n agterstand gebore word en wat later suksesvol eindig. Daar is duisende verhale van mense wat uit swak omstandighede kom, maar deur die Here se genade uitstyg en suksesvol eindig.
Die Here Jesus het toe Hy op aarde was ook al die siekes, randfigure en sondaars wat swak begin het, opgesoek en saam met hulle geëet en hulle verander sodat hulle sterk geëindig het. Dink maar aan Saggéüs wat swak begin het, as ’n skelm tollenaar en uiteindelik na sy bekering alles teruggegee het aan die mense wat hy onregverdig besteel het.
Dalk voel u dat die lewe vir u ook ’n streep getrek het. Dalk verwyt u u genetiese samestelling of dalk verwyt u die omgewing en die gebrek aan geleenthede wat u gehad het. Dink dan egter aan Jefta. Jefta se agterstand was sy leerskool, sodat hy later ’n suksesvolle rigter geword het.
Aristoteles, die groot filosoof, het ’n probleem met hakkel gehad. Hy het langs die see geloop en met die see gepraat, totdat hy ophou hakkel het. Hy het een van die grootste redenaars geword.
God se kruis deurkruis my swak gene, my agterstande en my omgewing … sodat ek in Hom ’n oorwinnaar kan wees.
Jefta het swak begin en sterk geëindig. Mag u en ek ook sterk eindig, wanneer ons sterf. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
BRONNELYS:
Cilliers, A. 1998. God skryf ‘n storie. Kaapstad: Lux Verbi

One thought on “Swak begin en sterk geëindig”