Skriflesing: Johannes 15: 1 – 8
Vanoggend is ons bymekaar vir die doop van Luhan Bosch, die tweede seuntjie van Hannes en Charleé Bosch. Wat ’n wonderlike geleentheid is dit nie.

’n Mens word deel van Christus se kerk met jou doop en nie met jou belydenisaflegging nie. Met jou belydenisaflegging aanvaar jy net die verantwoordelikheid van lidmaatskap van die kerk. Maar met jou doop word jy volle deel van die kerk en die liggaam van Christus.
Die tema van vandag se doop is dat die doop jou nie soos ’n albaster in die kerk maak nie, maar eerder soos ’n lewende loot wat groei uit die wingerdstok.
Toe ek ’n skoolseun was in die 70’s was die speel van albasters voor die skool begin en tydens pouse hoog in die mode. Elke seun het ’n sakkie albasters gehad en as jy baie albasters gehad het, was jy ryk. Met die speletjie kon jy ook van jou maats se albasters wen en dan het jy regtig baie albasters gehad.

In ons individualistiese moderne beeld van geloof, sien ons onsself dikwels as albasters wat uniek uitgesoek, gered en bewaar is. In die albaster-geloof glo ons dat ons gedoop is en heeltemal onafhanklik van mekaar deel vorm van die Koninkryk van God. Alhoewel ons saam bewaar word, is ons heeltemal onafhanklik van mekaar. In ’n albaster-geloof is ons lede van die kerk, maar nie geloofsfamilie van mekaar nie. Ons plaas die mooiste Christelike goed op Facebook en Instagram, maar ons leef nie ons geloof in die gemeente en binne die gemeenskap van gelowiges uit nie. Ons is nie aan mekaar verbind nie, ons staan nie tot mekaar in ’n verhouding nie, ons is net lede van die kerk. In ’n albaster-geloof is ons gered, ter wille van onsself, nooit ter wille van ’n gemeenskap nie.

Die Bybelse beeld wat die doop die beste verduidelik is die wingerdstok en lote. Die Vader is die landbouer, Christus is die wingerdstok en ons as gelowiges is die lote wat uit die wingerdstok groei. In die doop staan die dopeling met Christus in ’n lewende verhouding, soos die loot bioties met die wingerdstok verbind is. Die loot is intrinsiek deel van die wingerdstok. So maak die doop jou intrinsiek deel van ’n lewende verhouding met Christus Jesus, die Wingerdstok. Die ongelowiges wat tot bekering kom, word weer as lote ingeënt op die wingerdstok, wat Christus is.
Ons as geloofsouers is lewende lote wat groei uit die wingerdstok Jesus Christus. Ons kinders wat gedoop is, groei uit ons lote en daarom loop die sap wat uit die wingerdstok deur ons as ouers loop, ook deur ons kinders. Daarom moet ons kinders die seël en teken van die doop ontvang as bewys dat hulle ingelyf is in Christus, wat die wingerdstok is.
Voorbeelde van gesinne waar ouers en kinders saam gedoop is, kan ons vind in Handelinge 16: 15 waar Lidia en haar huisgesin gedoop is. In Handelinge 16: 33 lees ons van die tronkbewaarder in Filippi en sy huisgesin wat gedoop is. In 1 Kor 1: 16 lees ons hoedat Stefanus en sy huisgesin gedoop is. Daarom was kinderdoop en familiedoop algemeen in die Nuwe Testament.
Die doop maak ons deel van die kerk en daarom lewe ons in die gemeenskap van gelowiges. Dit bely ons in die Credo van die kerk, naamlik: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.” Verbondsdoop skep die gemeenskap van gelowiges, wat uit lewendige goeie verhoudings bestaan.
Daarom kan ons nie ons geloof individualisties of privaat uitleef nie. Geloof is ’n openbare belydenis wat in die publieke sfeer uitgeleef moet word. Daarom sê Jesus is ons “sout van die aarde” en “lig vir die wêreld”. Geloof en godsdiens is nie iets wat jy in die privaatheid van jou huis uitleef nie, maar dit is eerder ’n publieke uitlewing van jou geloof in praktiese alledaagse situasies.
Daarom kan ons ook nie die doop bedien in die privaatheid van slegs die familie en vriendekring nie. Dit is nie ’n privaat aangeleentheid nie, maar hoort in die erediens van die gemeente, want die dopeling word ingelyf in die gemeente en geloofsgemeenskap. Dit word in die openbaar gedoen, soos ons geloof ook in die openbaar uitgeleef word. Daarom moet die dopeling in die kerk en in die erediens grootword.
In die Anglikaanse kerk is die gebruik dat aan die begin van die erediens die baba in die ingangsportaal van die kerk deur die priester gedoop word. Dan dra die priester die dopeling die erediens binne en word die dopeling voorgestel aan die gemeente as die nuutste lidmaat van die kerk. Deur die doop word die dopeling deel van die gemeente.
Daarom geld die doopbelofte nie alleen vir die ouers nie, maar ook vir die gemeente. Beide die ouers en die gemeente moet so leef dat dit vir die dopeling maklik is om Christus te volg. In Mat 18: 6 – 7 staan daar: “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n maalklip van ’n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see. Wee die wêreld as gevolg van die struikelblokke. Struikelblokke sal onvermydelik kom; nogtans, wee die mens deur wie die struikelblok kom.”
Daarom mag ouers en die gemeente nie hulle kinders laat struikel of ’n struikelblok in hulle pad sit nie. ’n Gemeente laat die dopeling en die kinders struikel as die gemeente oneg is of nie die warmte van die gemeenskap van gelowiges uitstraal nie. Ouers laat die dopeling en hulle kinders struikel as hulle wêreldgesind leef en die voorbeeld van Christus nie uitleef in die ouerhuis nie.
Ons praat dikwels so van die gevaar van verkeerde vriende vir ons kinders. Maar daar is ook die gevaar van verkeerde ouers wat wêrelds leef en nie hulle doopbelofte uitleef nie. ’n Kind copy en paste ook die verkeerde goed wat hulle in hulle ouers se lewe sien. Daarom moet ons erns maak daarvan om voorbeeldig voor ons kinders te leef.
Die sap wat deur Christus, die wingerdstok, stroom, vloei na die lote en ook na ons kinders. Dit moet lei tot vrugte (druiweoes). Daarom moet ons kinders ook die vrugte van die Gees uitleef en moet hulle leer wat die vrugte van die Gees is. Daarom moet ons as sap, geestelike voeding vir ons kinders gee.
Daarom het die ouers en ook die gemeente ’n geweldige verantwoordelikheid om kinders op die regte pad te hou en hulle vrugbaar te maak vir die Koninkryk van God.
’n Wingerd of boom moet gedurig gesnoei word om meer vrug te dra. Wanneer ’n wingerd gesnoei word, dra dit meer vrug. Wanneer ’n boom, soos ’n Kareeboom, nie gesnoei word nie, word dit ’n lelike bos. Maar as jy ’n Kareeboom gereeld snoei, het die boom ’n pragtige vorm en sê ons dit is ’n mooi boom. Daarom moet ons elke dag ons kinders snoei met die Woord en tugtiging, sodat hulle eendag pragtige jongmense kan word.

Die doop maak nie van ons albasters, waar elkeen maar indiwidueel kinders van God is nie. Nee, die doop plaas ons as loot in verhouding met Christus, die Wingerdstok, en in verhouding met die ander lote, die gelowiges. In die doop en die Evangelie gaan dit oor verhoudings. Luhan word vandag in ’n verhouding geplaas met Christus, die Wingerdstok, en met sy mede-gelowiges, die ander lote. Dit dien vir ons tot geloofsversterking en tot troos.
Hannes en Charleé, mag julle twee seuns eendag twee Godsmanne wees wat die Christelike geloof uitleef in die wêreld. Dan sal julle nooit bekommerd oor hulle wees nie.
Kinders is ’n sieraad vir hulle ouers en grootouers. Koester hierdie sieraad.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
