God is ons bergvesting, ons skaduwee en ons skuil onder Sy vlerke


Skriflesing: Psalm 91: 1 – 16

Psalm 91 is gebore vanuit ’n plek waar hoop nodig was.  Baie mense het al na Psalm 91 as hulle Rescue 911 verwys. Veral vers 1 en 2 van Psalm 91 is vandag ons fokus. Dit lees as volg:  “Hy wat in die beskutting  van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee   van die Almagtige. Ek sê vir die Here: ‘My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!’

Waarom bou ’n mens ’n huis? ’n Mens bou ’n huis om verskillende redes. Natuurlik om koelte te verskaf in somerhitte en warmte in die winter. ’n Huis hou reën en hael uit. ’n Mens kan ’n huis sluit en sodoende jou lewe en besittings beskerm.

In die Bybelse tyd het ’n stad die funksie vervul wat ’n huis vandag vervul.

In Bybelse tye was ’n stad dikwels op ’n berg of heuwel gebou vir beskerming. Die stad was verskans met hoë mure. Daar was wagte op die mure. Daar was ook dikwels ’n grag of diep sloot buite die stadsmure, sodat stormramme nie die muur kon beskadig nie. Daar was ook ’n stadspoort wat in die nag gesluit is, om almal in die stad veilig te hou. Elke stad het ook gesorg dat dit genoeg water en kos het indien die stad ’n lang tyd onder beleg sou wees. Dink maar aan die stad Masada, wat baie lank weerstand kon bied teen die vyand.

In die nag het die stad beskerming gebied teen ongediertes en rowers en die koue van die nag. In die dag het die stad koelte verskaf, ’n plek van water en kos, asook beskerming teen die vyand.

In vers 2 lees ons dat die Psalmdigter sê dat God vir hom soos ’n bergvesting, soos ’n stad is. Hy kan dag en nag na God toe vlug. God is ’n bergvesting en ’n skuilplek teen: ouderdom, siekte, droefheid, swakheid, probleme en emosionele storms. God is ’n bergvesting waar daar water en voedsel is en waar ’n mens kan rus teen somerhitte.

God is ons bergvesting, ons skuilplek. Ons kan na Hom toe vlug – Hy sal die poort optrek as ons binne is.

In plaas van God ons bergvesting te maak, maak ons baie keer ons eie skuilplek. Dit is gevaarlik as my plaas, my finansies, my beroep, my besittings, my gesin of enigiets anders my bergvesting en skuiling word. Dit is so goed jy maak van ’n paar geroeste sinkplate vir jou ’n plakkershuis om in te skuil as die gevaar dreig. Dikwels verkies ons om in “plakkerskampe” te woon, in plaas van die ewige bergvesting van die Here.

Vlug na die bergvesting. Vlug na God. Maak God jou skuilplek.

God kan op vreemde maniere jou Beskermer en Bergvesting wees, soos die volgende verhaal aantoon: “’n Rabbi is deur vervolging gedwing om sy vaderland te verlaat, volgens ’n antieke Hebreeuse verhaal, en om in verre lande rond te dwaal. Sy enigste aardse besittings, buiten die klere wat hy gedra het en ’n afskrif van die Skrif, was ’n lamp waarmee hy die Skrif kon bestudeer en ’n donkie waarop hy gery het.

Een aand laat, na ’n lang dag se reis, het hy op ’n klein dorpie afgekom waar hy skuiling vir die nag gesoek het. Die dorpenaars het hom egter weggewys. Die enigste skuiling wat hierdie moeë rabbi kon vind, was langs ’n muur wat ’n put aan die buitewyke van die dorp omring het.

Hy het probeer om die beste van die situasie te maak; hy het sy lamp aangesteek en uit die Skrif begin lees. Gou het ’n hewige wind opgekom en die lamp se vlam herhaaldelik doodgewaai. Omdat hy nie in die donker kon lees nie, het hy teen die muur gaan lê en probeer slaap. Sy rus is egter gou versteur deur die nabygeleë gebrul van ’n leeu. Hy het net betyds oor die muur gekyk om te sien hoe die leeu sy verskeurde donkie die bosse insleep.

Die rabbi was oorweldig deur benoudheid, hartseer en ’n gevoel van selfbejammering. Hy het probeer om tot God te bid, maar sy gebede is verhinder deur die baie probleme en verbittering  wat deur sy gedagtes bly gaan het. Uiteindelik, uitgeput, het hy in ’n diep slaap verval.

Die volgende oggend toe hy wakker word en van agter die beskutting van die muur uitkom, het hy ’n skokkende gesig gesien. Op die strate van die dorp lê die verminkte liggame van die dorpenaars; gedood deur ’n bose bende plunderaars wat gedurende die nag van die heuwels afgesak het.

Dit was eers toe dat die rabbi begin verstaan en sy verliese in perspektief stel. As die dorpenaars hom ontvang het, sou hy ook doodgemaak gewees het. As die leeu nie sy donkie doodgemaak en weggesleep het nie, het sy teenwoordigheid hóm dalk weggegee. As die wind nie herhaaldelik die lamp doodgewaai het nie, sou die plunderaars gekom het om hom ook dood te maak. Hy het ’n waardevolle les geleer: Soms kom groot wins uit groot verlies.” (Al Maxey) So is God dikwels op onverstaanbare maniere besig om ons te red en te bewaar.

Die Psalmdigter skryf verder dat om in God se bergvesting skuiling te vind, is om in die skaduwee van God te sit (vers 1). Jy moet net God volg, dan bly jy in God se skaduwee. Helena Smith skryf: “Om in iemand anders se skaduwee te leef, het ’n baie negatiewe konnotasie. Daar is egter Iemand in wie se skadu ek graag permanent wil bly. In Psalm 91: 1 lees ons: ‘Hy, wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige.’ Hoe bly ’n mens in God se skaduwee? Deur die hele dag naby aan die Here te bly en konstant met Hom te praat. Dit beteken dat jy jou dag met God begin. Dat jy oor Hom en met Hom praat en jou dag ook eindig deur met God te praat.”

“In Handelinge 5:15 lees ons dat selfs wanneer net Petrus se skaduwee op siekes geval het, hulle genees is. As die skaduwee van ’n apostel van die Here Jesus Christus dan soveel krag het om die goeie te laat geskied, hoeveel te meer dan die werklike skadu van God Almagtig.” (Gereformeerde Kerk Phalaborwa)

God sal vir jou ’n toevlug, ’n bergvesting,’n skuilplek en ’n skaduwee wees as jy God liefhet (vers 14). Jy moet as’t ware met lewensoorgawe lewe. Voorts moet jy God ken en met God ’n pad stap (vers 14). Die teks sê ook in vers 15 dat jy God moet aanroep.   

Daar is ’n stad op die berg waarheen jy kan vlug. Daar is ’n God waarheen jy kan vlug. God se skaduwee is daar om in te sit.

Psalm 91: 4 lees as volg: “Met sy vlerke sal Hy jou bedek, onder sy vleuels sal jy skuiling vind. ’n Skild en ’n skans is sy trou.”

“Voëls se vere is ’n verstommende voorbeeld van God se kreatiwiteit. Die vere het ’n gladde asook ’n donsige deel. Die gladde deel van die veer het stywe baarde, wat waterdig is. Die donsige deel hou die voël warm, en saam beskerm albei dele van die veer die voël teen wind en reën. Kuikens is met dons bedek en hul vere het nog nie ten volle ontwikkel nie. Die moedervoël moet haar kuikens dus met haar eie vere in die nes oordek om hulle teen die wind en die reën te beskerm.” (Linda Washington)

So sal die Here ons ook beskerm onder Sy vlerke van genade.    

Dit is ons troos, dat ons in die bergvesting van God leef en in God se skaduwee sit en dat God se vlerke ons bedek. Daarom is ons ten volle getroos.                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar