Van begeer na verlang

Skriflesing: Psalm 42 en Psalm 43

Verlang mense deesdae nog? Hoe dikwels pak die verlange na iemand spesiaal ons nog beet? Vroeër was verlange ’n baie meer algemene ervaring. In toeka se tyd was daar nog nie telefone en elektroniese kommunikasie soos WhatsApps nie. Selfs briewe het maande per skip geneem om hul bestemmings te bereik. Daarom het ouer mense meer dikwels die ervaring gehad wat verlang beteken.

Maar verlang ons nog na God? Wanneer laas het ons heimwee gehad, gesmag, gehunker en verlang na God se nabyheid? Wanneer het ons gehunker na ’n diepe ervaring van God se teenwoordigheid in ons lewe?

Vroeër was verlang vir baie gelowiges ’n ervaring waarmee hulle vertroud was. Daar was selfs ’n Verlang-Sondag, die sewende Sondag na Pase, die een tussen Hemelvaart en Pinkster, die sogenaamde Exaudi-Sondag, ’n soort heimwee-Sondag. Die Here Jesus het opgevaar na die hemel. Hy was weg, skynbaar het Hy hulle verlaat.

Op hierdie Verlang-Sondag, heimwee-Sondag is daar veral gepreek oor Psalm 42 en Psalm 43 wat eintlik ’n eenheid vorm. In hierdie twee Psalms verlang die Psalm-skrywer met ’n dubbele verlange: na gemeenskap met God en na gemeenskap met die mense van God …

Die Psalmdigter voel soos ’n dorstige dier, ’n hert, ’n wildsbok wat smag na waterstrome. Ja, so smag die Psalmdigter na gemeenskap met God en met sy medemens.

Daar staan in Psalm 42: 2 – 3 die volgende: “Soos ’n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die tempel ingaan en voor God verskyn?” Die Psalmdigter verlang na waterstrome, terwyl hy letterlik by die fonteine sit, waar die water opborrel. Daar staan in Psalm 42: verse 7 – 8 die volgende:  “My God!   My siel kwyn weg in my, daarom dink ek aan U hier uit die Jordaanstreek   en by die Hermonberge, hier van berg Misar af. Die diep water laat die geluid van u watervalle weergalm. Al u deinings en golwe het oor my gespoel.” Die Psalmskrywer sit as’t ware by die waterstrome. Hy begeer dus nie letterlike water nie, maar hy verlang na die geestelike water. Sy verlange is na God en die tempel.

Ons leef egter nie in ’n verlang-wêreld nie. Ons leef eerder in ’n begeer-wêreld. In die plek van verlange na God en na mekaar het die begeerte na dinge en na onsself gekom. In plaas van om te verlang na God en na ons naaste, begeer ons goed, eer en sukses en veral ons eie belange.

Ons begeerte is na dinge en na afgode. Daarom sê Martin Luther dan ook dat die mens se hart ’n afgodefabriek is wat gedurig besig is om afgode te maak. Hierdie afgode word dan deur ons begeer.

Ons lê nie meer wakker van verlange nie, maar ons lê wakker van begeertes, begeertes na dinge en na onsself. Dit was nooit so erg in die geskiedenis van die wêreld as juis nou nie. In die vroeë kerk, in die armer kerke, was die verlange na God en na die medemens baie sterker as wat dit vandag is.

’n Ou kerkvader uit Noord-Afrika, Augustinus, het een maal gesê: “ God het ons vir Homself gemaak, en ons harte bly onrustig tot dit rus vind in Hom”.

In Psalm 51 bely koning Dawid sy skuld voor die Here. Hy weet hy het erg gesondig deur met Batseba owerspel te pleeg en haar man Uriah te laat vermoor. In die mooi Psalm begeer Dawid nie meer sy koningskap of sy rykdom nie. Hy verlang egter om een met God te wees en om weer die nabyheid van die Here te ervaar. Hy verlang daarna dat God nie van hom sal wyk nie, maar met hom sal wees elke dag.  Sy begeertes na Batseba het nou plek gemaak vir ’n verlange na God.

Dink maar aan die beroemde boek van John Bunyan Die pelgrim se reis na die ewigheid. Vir ’n lang tyd was dit die mees gelese boek ter wêreld. Waarom? Dit is ’n boek van soeke, van strewe na gemeenskap met die lewende God.

Dink maar aan die geestelike dissipline van “Practising the presence of God”, waardeur mense voortdurend daarvan bewus gemaak word om te konsentreer op die nabyheid van God in hulle lewe. Vandag verskyn daar ook uitstekende boeke op die boekemark wat handel oor meditasie; dit is om na te dink oor God en God te beleef.

Europa is ’n voorbeeld waar die verlange na God gesterf het en die begeerte na lewenstandaard, rykdom en tegnologie toegeneem het. Verlange het plek gemaak vir begeertes.

’n Mens kan die wortels van ’n plant vergelyk met die verlange na God, wat ander mense nie kan raaksien nie. Die stam, takke en die blare wat ander mense kan raaksien, is die begeertes van die mens. Die belangrikste deel van ’n plant is sy wortelstelsel. Jou verlange na God en jou medemens moet belangriker wees as jou begeertes na goed, besittings en jou drome. 

Verlang-mense is soekende mense, soekende na God, maar ook soekend na ander mense. Begeer-mense leef in ’n wegvlug-of-onttrek-wêreld. Hulle wil nie betrokke raak nie. Hulle is afsydig.

Miskien is juis die tipiese van vandag se mense dat hulle met ’n stuk ongeërgheid, met ’n traak-my-nie-agtigheid leef. Ons houding is “Who cares”? Wat die Middeleeuse kerk die doodsonde van askedia genoem het, is vandag die “aanvaarbare” praktyk van afsydigheid en belangeloosheid teenoor God en ander mense.

Ons leef in ’n tyd van groeiende indiwidualisme. Ons begin toenemend los van mekaar te leef. Ons is nie meer beskikbaar vir mekaar nie. Daar is te veel goed waarmee ons ons besig hou dat daar nie tyd is vir ander mense nie.

In die proses ervaar ons God en ons naaste as ’n bedreiging, eerder as ’n verryking. My naaste word my mededingers. Hulle word lastig, hulle mors my kragte, energie, besittings en tyd. Daar is nie meer tyd oor vir my medemens nie.

Ons is nie meer verlang-mense nie, ons het begeer-mense geword. Ons verlang nie meer na God en na ons medemens nie. Nee, ons begeer dinge en ons eie belange. Daarom is ons so arm in ons geestelike lewe, in ons gemeenskap van gelowiges en in ons onderlinge sorg aan mekaar.

Daarom is dit goed om myself weer te ondersoek en uit te vind of ek werklik nog verlang na God se teenwoordigheid in my lewe en na gemeenskap met my medemens. Of het ons begeer-mense geword wat dinge en onsself eerder begeer? Waaroor tob ons die meeste, oor God of oor dinge? Wat soek ons die meeste, vir God en my medemens of my eie belange?

Daarom moet ons begeertes verander in verlangens. Ek moet minder aardse goed begeer en meer en meer na God en die geestelike seëninge verlang.

Mag die Heilige Gees ons begeer-harte verander in verlang-harte. Verlang-harte wat weer verlang daarna om God te beleef en te ervaar; verlang-harte wat weer begeer om ’n medemens vir ’n ander te wees. Amen

(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Swak begin en sterk geëindig

Skriflesing: Rigters 11: 1 – 15 en Rigters 11: 28 – 40

Die verhaal van Jefta is die verhaal van ’n man wat met ’n agterstand gebore is. Sy gene, maar ook sy omgewing, het vir Jefta gedoem tot ’n lewe van mislukking.

Ons lees net die naam van Jefta se pa. Sy pa se naam is Gilead. Een nag het hy plesier gaan soek by ’n prostituut. Uit die plesier is ’n hoerkind, ’n sondekind, gebore met die naam van Jefta. Gilead het ook nog twee seuns by sy eie vrou gehad.

Jefta die hoerkind, die sondekind, word gou-gou uitgestoot. Jefta se twee halfbroers wil niks met hom te doen hê nie. Hulle wil nie hulle erfporsie met hierdie sondekind deel nie. Hy beland op die straat. Die hoerkind, die sondekind, word nou ook ’n straatkind. 

In die strate word hy bevriend met ’n klomp leeglêers. Sy berugtheid groei. Jefta, die hoerkind, die sondekind, die straatkind, die leeglêer … Gou word hy ook die leier van die bende leeglêers, ja, hy word ’n bendeleier. Hulle maak hulself skuldig aan rebelsheid, strooptogte en misdaad.

Jefta die hoerkind, die sondekind, die straatkind, die leeglêer, die bendeleier. Jefta sou pragtig inpas by die bendeleiers van die Kaapse vlakte. Hy is ’n uitstekende kandidaat om ’n motorkaper en ’n dwelmbaas te word. Hy sou vir Stagiet iets kon leer. Suid-Afrika sou sy misdaad-paradys wees.

Jefta, jou lewe is gedoem. Dit is die einde. Die volgende is om ’n tronkvoël te word. Hy sou dalk nog ’n bendeleier in die tronk ook word. Maar moenie bekommerd wees nie. Suid-Afrika is misdadiger-vriendelik.

“Wanneer ’n mens egter dink dit is ‘die einde’, blaai God om en skryf ‘die begin’”. (Andries Cilliers)

God gee vir Jefta ’n ander roeping, naamlik om die leier van God se volk te word. Nie meer ’n bendeleier nie, maar ’n leier van God se mense. Jefta se roeping is nou nie meer misdaad nie, maar om God se volk te lei tot oorwinning oor die Ammoniete.

Aanvanklik was Jefta ontsteld oor sy roeping. Hy antwoord die oudstes in Rigters 11: 7 as volg: “Maar Jefta het die oudstes van Gilead geantwoord: ‘Is dit dan nie julle wat my verag en uit my vader se huis weggejaag het nie? Waarom kom julle nou na my toe, noudat julle in die nood is?’”

Maar die Gees van God het van hom besit geneem om sy nuwe roeping uit te voer. So verander hy dan as mens:

Die hoerkind, die sondekind … word ’n kind van God.

Die straatkind … word ’n paleiskind.

Die leeglêer … word ’n geroepene.

Die bendeleier … word ’n volksleier.

Die uitgestotene … word die gewilde leier.

Wanneer God jou lewe aanraak, verander jou hele lewe. Jy kry ’n splinternuwe identiteit. Ja, Jesus se kruis deurkruis ons swak gene en ons swak omgewing. God maak van agtergeblewenes … voorlopers.

Nie die ANC of president Cheril Ramaphosa kan agtergeblewenes ophef nie. Alleen hulle wie se agterstand deurkruis word deur Jesus se kruis, kan voorlopers word.

En wat ’n voorloper was Jefta nie. Hy onderskei hom as ’n uitstekende onderhandelaar, diplomaat, politieke ontleder en militaris. Hy sien dwarsdeur die skelmstreke van die Ammonitiese koning, want hy ken elke skelmstreek van die onderwêreld. Hy onderskei hom as militaris, want hy weet alles van bendegeweld. Hy verslaan die Ammoniete en vir ses jaar tree hy as rigter op van die volk van God.

Al fout wat hy maak, is dat hy God wantrou om hom te help. Maar ook dit is te verstane, want hy kom uit die onderwêreld waar almal mekaar wantrou.

Hy maak ’n onnodige gelofte, naamlik dat as God hom help, hy die eerste persoon wat hom tegemoet sou hardloop ná die oorwinning, sou offer. Sy dogter hardloop hom eerste tegemoet. Hy moes haar offer … sy mog nooit geslagsgemeenskap met ’n man hê nie. Sy wantroue in God het hom duur te staan gekom.

Ja, dit is juis ons wantroue in God wat ons siek maak. Ons word so dikwels wantrouig in God as droogtes ons tref of as die politiek skeefloop. Ons word morpotte en verbitterde mense.

Jefta begin met ’n agterstand, maar God wis die agterstand uit. ’n Agtergeblewene word ’n rigter van God se volk.

Oorerwing en omgewing spreek beslis nie die laaste woord nie. In Jesus Christus se geslagsregister lees ons van ’n prostituut. Jesus het mens geword in ’n agtergeblewe stal tussen skape en donkies. Hy het die swak sondige menslike genetiese geen van Maria ontvang, maar Sy Goddelike geen het die sondige geen kom deurkruis, sodat Hy sondeloos was en is.

In Moses se geval het hý ook swak begin. Hy het ’n Egiptenaar doodgeslaan en daarna woestyn toe gevlug. Baie jare later het God hom kom roep by die brandende doringbos. Die doringbos het nie uitgebrand nie. Moses moes selfs sy skoene uittrek, want die grond waarop hy gestaan het, was heilige grond. Toe gee die Here vir Moses ook ’n nuwe roeping, naamlik om Sy volk uit Egipte te lei, na die beloofde land.  

Ook Jesus se dissipels het swak begin, maar het na Sy Hemelvaart, kragdadige en onverskrokke apostels geword, waarvan die meeste ’n marteldood gesterf het.

Die Here het ook eenmaal vir Augustinus, die onverskillige jongman wat gehoer en gedrink en sy lewe vermors het, aangeraak. Op ’n dag het hy kinders hoor sing: “ … tola lé, tola lé”, wat beteken : “ … neem op en lees”. Omdat hy geen kinders gesien het nie, was hy seker God praat met hom. Hy het onder ’n vyeboom neergeval en die boek Romeine begin lees. Hy het tot bekering gekom en een van die grootste kerkvaders van alle tye geword. Hy en sy buite-egtelike seun is saam gedoop. Sy lewe het swak begin, maar het kragtig geëindig.

Daar is ’n bekende aanhaling van Oscar Wilde: “Every saint has a past, every sinner has a future”.

Daar is soveel verhale van mense wat met swakheid en ’n agterstand gebore word en wat later suksesvol eindig. Daar is duisende verhale van mense wat uit swak omstandighede kom, maar deur die Here se genade uitstyg en suksesvol eindig.

Die Here Jesus het toe Hy op aarde was ook al die siekes, randfigure en sondaars wat swak begin het, opgesoek en saam met hulle geëet en hulle verander sodat hulle sterk geëindig het. Dink maar aan Saggéüs wat swak begin het, as ’n skelm tollenaar en uiteindelik na sy bekering alles teruggegee het aan die mense wat hy onregverdig besteel het.  

Dalk voel u dat die lewe vir u ook ’n streep getrek het. Dalk verwyt u u genetiese samestelling of dalk verwyt u die omgewing en die gebrek aan geleenthede wat u gehad het. Dink dan egter aan Jefta. Jefta se agterstand was sy leerskool, sodat hy later ’n suksesvolle rigter geword het.

Aristoteles, die groot filosoof, het ’n probleem met hakkel gehad. Hy het langs die see geloop en met die see gepraat, totdat hy ophou hakkel het. Hy het een van die grootste redenaars geword.

God se kruis deurkruis my swak gene, my agterstande en my omgewing … sodat ek in Hom ’n oorwinnaar kan wees.

Jefta het swak begin en sterk geëindig. Mag u en ek ook sterk eindig, wanneer ons sterf.                          AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

BRONNELYS:

Cilliers, A. 1998. God skryf ‘n storie. Kaapstad: Lux Verbi

Albasters of lewende lote

Skriflesing: Johannes 15: 1 – 8
Vanoggend is ons bymekaar vir die doop van Luhan Bosch, die tweede seuntjie van Hannes en Charleé Bosch. Wat ’n wonderlike geleentheid is dit nie.

’n Mens word deel van Christus se kerk met jou doop en nie met jou belydenisaflegging nie. Met jou belydenisaflegging aanvaar jy net die verantwoordelikheid van lidmaatskap van die kerk. Maar met jou doop word jy volle deel van die kerk en die liggaam van Christus.
Die tema van vandag se doop is dat die doop jou nie soos ’n albaster in die kerk maak nie, maar eerder soos ’n lewende loot wat groei uit die wingerdstok.
Toe ek ’n skoolseun was in die 70’s was die speel van albasters voor die skool begin en tydens pouse hoog in die mode. Elke seun het ’n sakkie albasters gehad en as jy baie albasters gehad het, was jy ryk. Met die speletjie kon jy ook van jou maats se albasters wen en dan het jy regtig baie albasters gehad.

In ons individualistiese moderne beeld van geloof, sien ons onsself dikwels as albasters wat uniek uitgesoek, gered en bewaar is. In die albaster-geloof glo ons dat ons gedoop is en heeltemal onafhanklik van mekaar deel vorm van die Koninkryk van God. Alhoewel ons saam bewaar word, is ons heeltemal onafhanklik van mekaar. In ’n albaster-geloof is ons lede van die kerk, maar nie geloofsfamilie van mekaar nie. Ons plaas die mooiste Christelike goed op Facebook en Instagram, maar ons leef nie ons geloof in die gemeente en binne die gemeenskap van gelowiges uit nie. Ons is nie aan mekaar verbind nie, ons staan nie tot mekaar in ’n verhouding nie, ons is net lede van die kerk. In ’n albaster-geloof is ons gered, ter wille van onsself, nooit ter wille van ’n gemeenskap nie.

Die Bybelse beeld wat die doop die beste verduidelik is die wingerdstok en lote. Die Vader is die landbouer, Christus is die wingerdstok en ons as gelowiges is die lote wat uit die wingerdstok groei. In die doop staan die dopeling met Christus in ’n lewende verhouding, soos die loot bioties met die wingerdstok verbind is. Die loot is intrinsiek deel van die wingerdstok. So maak die doop jou intrinsiek deel van ’n lewende verhouding met Christus Jesus, die Wingerdstok. Die ongelowiges wat tot bekering kom, word weer as lote ingeënt op die wingerdstok, wat Christus is.
Ons as geloofsouers is lewende lote wat groei uit die wingerdstok Jesus Christus. Ons kinders wat gedoop is, groei uit ons lote en daarom loop die sap wat uit die wingerdstok deur ons as ouers loop, ook deur ons kinders. Daarom moet ons kinders die seël en teken van die doop ontvang as bewys dat hulle ingelyf is in Christus, wat die wingerdstok is.
Voorbeelde van gesinne waar ouers en kinders saam gedoop is, kan ons vind in Handelinge 16: 15 waar Lidia en haar huisgesin gedoop is. In Handelinge 16: 33 lees ons van die tronkbewaarder in Filippi en sy huisgesin wat gedoop is. In 1 Kor 1: 16 lees ons hoedat Stefanus en sy huisgesin gedoop is. Daarom was kinderdoop en familiedoop algemeen in die Nuwe Testament.
Die doop maak ons deel van die kerk en daarom lewe ons in die gemeenskap van gelowiges. Dit bely ons in die Credo van die kerk, naamlik: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges.” Verbondsdoop skep die gemeenskap van gelowiges, wat uit lewendige goeie verhoudings bestaan.
Daarom kan ons nie ons geloof individualisties of privaat uitleef nie. Geloof is ’n openbare belydenis wat in die publieke sfeer uitgeleef moet word. Daarom sê Jesus is ons “sout van die aarde” en “lig vir die wêreld”. Geloof en godsdiens is nie iets wat jy in die privaatheid van jou huis uitleef nie, maar dit is eerder ’n publieke uitlewing van jou geloof in praktiese alledaagse situasies.
Daarom kan ons ook nie die doop bedien in die privaatheid van slegs die familie en vriendekring nie. Dit is nie ’n privaat aangeleentheid nie, maar hoort in die erediens van die gemeente, want die dopeling word ingelyf in die gemeente en geloofsgemeenskap. Dit word in die openbaar gedoen, soos ons geloof ook in die openbaar uitgeleef word. Daarom moet die dopeling in die kerk en in die erediens grootword.
In die Anglikaanse kerk is die gebruik dat aan die begin van die erediens die baba in die ingangsportaal van die kerk deur die priester gedoop word. Dan dra die priester die dopeling die erediens binne en word die dopeling voorgestel aan die gemeente as die nuutste lidmaat van die kerk. Deur die doop word die dopeling deel van die gemeente.
Daarom geld die doopbelofte nie alleen vir die ouers nie, maar ook vir die gemeente. Beide die ouers en die gemeente moet so leef dat dit vir die dopeling maklik is om Christus te volg. In Mat 18: 6 – 7 staan daar: “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n maalklip van ’n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see. Wee die wêreld as gevolg van die struikelblokke. Struikelblokke sal onvermydelik kom; nogtans, wee die mens deur wie die struikelblok kom.”
Daarom mag ouers en die gemeente nie hulle kinders laat struikel of ’n struikelblok in hulle pad sit nie. ’n Gemeente laat die dopeling en die kinders struikel as die gemeente oneg is of nie die warmte van die gemeenskap van gelowiges uitstraal nie. Ouers laat die dopeling en hulle kinders struikel as hulle wêreldgesind leef en die voorbeeld van Christus nie uitleef in die ouerhuis nie.
Ons praat dikwels so van die gevaar van verkeerde vriende vir ons kinders. Maar daar is ook die gevaar van verkeerde ouers wat wêrelds leef en nie hulle doopbelofte uitleef nie. ’n Kind copy en paste ook die verkeerde goed wat hulle in hulle ouers se lewe sien. Daarom moet ons erns maak daarvan om voorbeeldig voor ons kinders te leef.
Die sap wat deur Christus, die wingerdstok, stroom, vloei na die lote en ook na ons kinders. Dit moet lei tot vrugte (druiweoes). Daarom moet ons kinders ook die vrugte van die Gees uitleef en moet hulle leer wat die vrugte van die Gees is. Daarom moet ons as sap, geestelike voeding vir ons kinders gee.
Daarom het die ouers en ook die gemeente ’n geweldige verantwoordelikheid om kinders op die regte pad te hou en hulle vrugbaar te maak vir die Koninkryk van God.
’n Wingerd of boom moet gedurig gesnoei word om meer vrug te dra. Wanneer ’n wingerd gesnoei word, dra dit meer vrug. Wanneer ’n boom, soos ’n Kareeboom, nie gesnoei word nie, word dit ’n lelike bos. Maar as jy ’n Kareeboom gereeld snoei, het die boom ’n pragtige vorm en sê ons dit is ’n mooi boom. Daarom moet ons elke dag ons kinders snoei met die Woord en tugtiging, sodat hulle eendag pragtige jongmense kan word.

Die doop maak nie van ons albasters, waar elkeen maar indiwidueel kinders van God is nie. Nee, die doop plaas ons as loot in verhouding met Christus, die Wingerdstok, en in verhouding met die ander lote, die gelowiges. In die doop en die Evangelie gaan dit oor verhoudings. Luhan word vandag in ’n verhouding geplaas met Christus, die Wingerdstok, en met sy mede-gelowiges, die ander lote. Dit dien vir ons tot geloofsversterking en tot troos.
Hannes en Charleé, mag julle twee seuns eendag twee Godsmanne wees wat die Christelike geloof uitleef in die wêreld. Dan sal julle nooit bekommerd oor hulle wees nie.
Kinders is ’n sieraad vir hulle ouers en grootouers. Koester hierdie sieraad.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

God is ons bergvesting, ons skaduwee en ons skuil onder Sy vlerke

Skriflesing: Psalm 91: 1 – 16

Psalm 91 is gebore vanuit ’n plek waar hoop nodig was.  Baie mense het al na Psalm 91 as hulle Rescue 911 verwys. Veral vers 1 en 2 van Psalm 91 is vandag ons fokus. Dit lees as volg:  “Hy wat in die beskutting  van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee   van die Almagtige. Ek sê vir die Here: ‘My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!’

Waarom bou ’n mens ’n huis? ’n Mens bou ’n huis om verskillende redes. Natuurlik om koelte te verskaf in somerhitte en warmte in die winter. ’n Huis hou reën en hael uit. ’n Mens kan ’n huis sluit en sodoende jou lewe en besittings beskerm.

In die Bybelse tyd het ’n stad die funksie vervul wat ’n huis vandag vervul.

In Bybelse tye was ’n stad dikwels op ’n berg of heuwel gebou vir beskerming. Die stad was verskans met hoë mure. Daar was wagte op die mure. Daar was ook dikwels ’n grag of diep sloot buite die stadsmure, sodat stormramme nie die muur kon beskadig nie. Daar was ook ’n stadspoort wat in die nag gesluit is, om almal in die stad veilig te hou. Elke stad het ook gesorg dat dit genoeg water en kos het indien die stad ’n lang tyd onder beleg sou wees. Dink maar aan die stad Masada, wat baie lank weerstand kon bied teen die vyand.

In die nag het die stad beskerming gebied teen ongediertes en rowers en die koue van die nag. In die dag het die stad koelte verskaf, ’n plek van water en kos, asook beskerming teen die vyand.

In vers 2 lees ons dat die Psalmdigter sê dat God vir hom soos ’n bergvesting, soos ’n stad is. Hy kan dag en nag na God toe vlug. God is ’n bergvesting en ’n skuilplek teen: ouderdom, siekte, droefheid, swakheid, probleme en emosionele storms. God is ’n bergvesting waar daar water en voedsel is en waar ’n mens kan rus teen somerhitte.

God is ons bergvesting, ons skuilplek. Ons kan na Hom toe vlug – Hy sal die poort optrek as ons binne is.

In plaas van God ons bergvesting te maak, maak ons baie keer ons eie skuilplek. Dit is gevaarlik as my plaas, my finansies, my beroep, my besittings, my gesin of enigiets anders my bergvesting en skuiling word. Dit is so goed jy maak van ’n paar geroeste sinkplate vir jou ’n plakkershuis om in te skuil as die gevaar dreig. Dikwels verkies ons om in “plakkerskampe” te woon, in plaas van die ewige bergvesting van die Here.

Vlug na die bergvesting. Vlug na God. Maak God jou skuilplek.

God kan op vreemde maniere jou Beskermer en Bergvesting wees, soos die volgende verhaal aantoon: “’n Rabbi is deur vervolging gedwing om sy vaderland te verlaat, volgens ’n antieke Hebreeuse verhaal, en om in verre lande rond te dwaal. Sy enigste aardse besittings, buiten die klere wat hy gedra het en ’n afskrif van die Skrif, was ’n lamp waarmee hy die Skrif kon bestudeer en ’n donkie waarop hy gery het.

Een aand laat, na ’n lang dag se reis, het hy op ’n klein dorpie afgekom waar hy skuiling vir die nag gesoek het. Die dorpenaars het hom egter weggewys. Die enigste skuiling wat hierdie moeë rabbi kon vind, was langs ’n muur wat ’n put aan die buitewyke van die dorp omring het.

Hy het probeer om die beste van die situasie te maak; hy het sy lamp aangesteek en uit die Skrif begin lees. Gou het ’n hewige wind opgekom en die lamp se vlam herhaaldelik doodgewaai. Omdat hy nie in die donker kon lees nie, het hy teen die muur gaan lê en probeer slaap. Sy rus is egter gou versteur deur die nabygeleë gebrul van ’n leeu. Hy het net betyds oor die muur gekyk om te sien hoe die leeu sy verskeurde donkie die bosse insleep.

Die rabbi was oorweldig deur benoudheid, hartseer en ’n gevoel van selfbejammering. Hy het probeer om tot God te bid, maar sy gebede is verhinder deur die baie probleme en verbittering  wat deur sy gedagtes bly gaan het. Uiteindelik, uitgeput, het hy in ’n diep slaap verval.

Die volgende oggend toe hy wakker word en van agter die beskutting van die muur uitkom, het hy ’n skokkende gesig gesien. Op die strate van die dorp lê die verminkte liggame van die dorpenaars; gedood deur ’n bose bende plunderaars wat gedurende die nag van die heuwels afgesak het.

Dit was eers toe dat die rabbi begin verstaan en sy verliese in perspektief stel. As die dorpenaars hom ontvang het, sou hy ook doodgemaak gewees het. As die leeu nie sy donkie doodgemaak en weggesleep het nie, het sy teenwoordigheid hóm dalk weggegee. As die wind nie herhaaldelik die lamp doodgewaai het nie, sou die plunderaars gekom het om hom ook dood te maak. Hy het ’n waardevolle les geleer: Soms kom groot wins uit groot verlies.” (Al Maxey) So is God dikwels op onverstaanbare maniere besig om ons te red en te bewaar.

Die Psalmdigter skryf verder dat om in God se bergvesting skuiling te vind, is om in die skaduwee van God te sit (vers 1). Jy moet net God volg, dan bly jy in God se skaduwee. Helena Smith skryf: “Om in iemand anders se skaduwee te leef, het ’n baie negatiewe konnotasie. Daar is egter Iemand in wie se skadu ek graag permanent wil bly. In Psalm 91: 1 lees ons: ‘Hy, wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige.’ Hoe bly ’n mens in God se skaduwee? Deur die hele dag naby aan die Here te bly en konstant met Hom te praat. Dit beteken dat jy jou dag met God begin. Dat jy oor Hom en met Hom praat en jou dag ook eindig deur met God te praat.”

“In Handelinge 5:15 lees ons dat selfs wanneer net Petrus se skaduwee op siekes geval het, hulle genees is. As die skaduwee van ’n apostel van die Here Jesus Christus dan soveel krag het om die goeie te laat geskied, hoeveel te meer dan die werklike skadu van God Almagtig.” (Gereformeerde Kerk Phalaborwa)

God sal vir jou ’n toevlug, ’n bergvesting,’n skuilplek en ’n skaduwee wees as jy God liefhet (vers 14). Jy moet as’t ware met lewensoorgawe lewe. Voorts moet jy God ken en met God ’n pad stap (vers 14). Die teks sê ook in vers 15 dat jy God moet aanroep.   

Daar is ’n stad op die berg waarheen jy kan vlug. Daar is ’n God waarheen jy kan vlug. God se skaduwee is daar om in te sit.

Psalm 91: 4 lees as volg: “Met sy vlerke sal Hy jou bedek, onder sy vleuels sal jy skuiling vind. ’n Skild en ’n skans is sy trou.”

“Voëls se vere is ’n verstommende voorbeeld van God se kreatiwiteit. Die vere het ’n gladde asook ’n donsige deel. Die gladde deel van die veer het stywe baarde, wat waterdig is. Die donsige deel hou die voël warm, en saam beskerm albei dele van die veer die voël teen wind en reën. Kuikens is met dons bedek en hul vere het nog nie ten volle ontwikkel nie. Die moedervoël moet haar kuikens dus met haar eie vere in die nes oordek om hulle teen die wind en die reën te beskerm.” (Linda Washington)

So sal die Here ons ook beskerm onder Sy vlerke van genade.    

Dit is ons troos, dat ons in die bergvesting van God leef en in God se skaduwee sit en dat God se vlerke ons bedek. Daarom is ons ten volle getroos.                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lyding is nie God se wil nie, maar Hy gebruik dit tot my beswil

Skriflesing: Klaagliedere 3: 18 – 33

Daar is niemand van ons in hierdie kerkgebou vanoggend, wat nog nie gehuil het nie. Seerkry en swaarkry is deel van ons bestaan.

Fotokrediet: Paul Quenon

Hoor wat skryf Totius na die dood van sy kinders: “ O die pyngedagte: My kind is dood! … dit brand soos ’n pyl in my. Die mense sien daar niks nie van, en die Here alleen weet wat ek ly… Ek wou my ganse digkuns waag om ál my hartpyn uit te klaag; om in my klanke uit te sê, om soos in marmer vas te lê die beelt’nis van my pyn … wanneer ek dieper kyk en dink as wat ’n sondaar pas. En steek ek dan my hande uit na u besluit, dan gryp ek in die dorings vas.” Kan u iets van die pyn in Totius se hart aanvoel? Tereg skryf hy dan ook dat hierdie wêreld nie ons woning is nie. Ja, ek wil amper sê dit is ’n wrede wêreld. Ja, ’n wêreld wat met sy kloue alles wat vir my liefdevol en kosbaar is, wil wegskeur. Dan bly net die pyn oor. Die waarom-vrae … Die hoekom-vrae …

Die pyn en gebrokenheid word werklik wanneer ’n klein kindjie sterf, wanneer jou geliefde jou ontval, wanneer natuurrampe alles wegvee, wanneer 130 miljoen Jode na die konsentrasiekampe toe is om te sterf, tydens die wreedheid van oorlog, werkloosheid, armoede, hongersnood, Vigs, stukkende huwelike en gesinne, motorongelukke, terreurdade en so kan ons die lysie langer maak.

Elke dag verloor mense hulle werk. Mense beleef erge finansiële probleme. Daar is soveel stukkende verhoudinge, verbrokkelde huwelike, siektes en daaglikse angs wat mense beleef.

Tereg sê Jeremia in vers 20: “As ek daaraan dink, dan draai my gedagtes vas.” Maar wat sê God se Woord daaroor? Klaagliedere 3 sê: LYDING IS NIE GOD SE WIL NIE, MAAR HY GEBRUIK DIT WEL.

Die twee dele van die preek is:

a.) Lyding is nie God se wil nie.

b.) Maar God gebruik wel lyding.

Pars 1: Lyding is nie God se wil nie.

Geliefdes, ons is soos stout kinders wat aan God die skuld gee as ons verbrou het. Want gemeente, dit is tipies mens om skuld te verplaas op iemand anders.

Ons bedoel so goed as ons vir iemand in nood sê: “Toemaar, dit was God se wil.” God het dit toegelaat. Maar dit is onwaar. PYN kan nooit God se wil wees nie. Die Bybel sê baie duidelik dat die liefdevolle God wat alles met soveel liefde geskape het, nooit ’n welbehae in menslike pyn en hartseer kan hê nie.

Gemeente, u sien dus die God van liefde is die groot outeur, die groot komponis van die liefde en hoe kan die groot komponis van die liefde, vals note van pyn ook skep?

Wanneer ’n klein kindjie wreed van sy ouers af weggeneem word, of wanneer ’n bus vol jong, talentvolle kinders met ’n blink toekoms in die Westdene-dam verdrink of wanneer gekaapte Boeings vasvlieg in die Twin Tower Wêreldhandelsentrum, of as duisende mense sterf in die oorlog in Oekraine, of as ’n jong mens wreed sterf aan kanker, IS DIT NIE GOD SE WIL NIE.

Die God van liefde voel saam met ons die pyn. So het Jesus byvoorbeeld gehuil oor Lasarus se dood. Die outeur van pyn en hartseer, is u en ekself. Ek en u is die komponiste van al daardie vals note van pyn en hartseer. Met die sondeval het God se skepping stukkend gebreek, ja soos ’n kind wat ’n kosbare pottebakkerspot afstamp. Deur ons eie sondige wil, het pyn in hierdie wêreld gekom. Voor die sondeval was daar net trane van vreugde. Met die sondeval, het die eerste trane van pyn en hartseer gevloei. Daarvandaan het seerkry en dood net gedomino en vermeerder in ons lewe. Die sondeval het die wêreld en die mensdom in ellende gedompel.

En wanneer iemand onverskillig is, byvoorbeeld te vinnig ry en hy maak ’n ongeluk en iemand sterf, dan sê ons so maklik – dit was God se wil. So maak ons God die gewillige pakdier van ons mislukkings.

Nee, God is die onskuldige party. Ons is die skuldiges. Kan u dus verstaan dat ons nie sommer maar so ligweg al die skuld op God kan plaas nie? Daarom kan ons geen vinger wys na God in die hemel nie. Nee, ons kan maar net ons hande uitstrek na die hemel en van God genade afbedel – ook krag om die pyn in ons harte te kan verduur.

Pars 2: Maar God gebruik wel lyding.

Pyn is nou wel nie God se wil nie, maar dit vind nooit buite Sy Raad plaas nie. Daarmee bedoel ek dat God pyn gebruik binne die lewens van mense. God is betrokke by my pyn. Met ander woorde, ons dompel onsself in die pyn in, maar God gebruik hierdie pyn tot die beswil van myself.

So gebruik God byvoorbeeld pyn om die mens tot verootmoediging te bring, tot ’n bekering of tot ’n verdieping van sy of haar geloofslewe. Klaagliedere 3: 29 tot 30 is baie duidelik hieroor, dat God partykeer pyn en ellende gebruik om die mens te laat besef hoe verganklik hy is. Vanuit die ellende, vanuit die pyn van my sonde, word die kreet gebore: “Ek, ellendige sondaar!”, wat eintlik maar die geboortepyne van ’n mens is tot die ware lewe.

Maar God kan ook pyn gebruik om mense nog nader aan hom te trek. Deur pyn en seerkry word die mens se karakter inderdaad gevorm.

Baie van God se kinders het in hulle diepe pyn die Here die diepste leer ken. Tereg skryf IL de Villiers dat heel dikwels die donkerste menslike ondervinding tot ’n sinvolle pad van die mens geweef word. Heel dikwels wil God pyn gebruik om ons opreg te leer bid uit afhanklikheid. Om ootmoed vir my medemens te kweek. Om my lewe reserweloos in God se hand te waag.

Dit werk amper soos ’n mooi weefstuk. Die voorkant is pragtig en foutloos. Maar die agterkant is vol knope. Die knope is nodig om die voorkant af te rond tot ’n kunswerk. Net so is lyding soos knope wat my lewe afrond om ’n pragtige geheelprent te skep. Lyding vorm jou lewe.

U sien, eers wanneer ek die pyn in my eie lewe ervaar het, kan ek iets verstaan van die traan wat brand in my medemens se ooglede. Sommige mense se lewens drup van hemelse dou, omdat hulle die bitter van die lewe so goed ken. Maar nou sal u vir my sê dit is goed en wel, maar daar kom ook ’n einde aan al my kragte. Somtyds kom ’n mens aan die einde van jou emosionele kragte. Soms huil ’n mens jouself leeg, maar die pyn sit nog soos ‘n stuk kanker in jou siel. Dan moet u Klaagliedere 3: 22 – 25 lees. Dit wil sê, God se trou ken geen einde nie. God se trou is die verbond waarvan ons doop die teken is. As alles vir u te veel raak, kan u vashou aan die doop. Met my doop wil God vir my sê: “Ek wil jou God wees. Ek wil hê jy moet my kind wees.” Die doop is die reënboog van God se verbondstrou. Ek kan maar in my diepste pyn en vertwyfeling vashou aan my doop. Ja, ons kan maar hang aan ons doop en God se liefde. Martin Luther het op sy houtlessenaar uitgekerf dat hy gedoop is. Dit was vir hom ’n herinnering in tye van aanvegtinge dat hy as gedoopte aan God behoort en dat niks hom van die liefde van God kan skei nie.

Na die donderstorm volg die reënboog van God se trou. Maar die doop is die reënboog van God se trou wat verskyn nog voor die donderstorms van beproewinge losbrand oor my lewe. Wanneer alles wankel, is Hy die Rots der eeue, wat ewig vas bly staan. God sal red. God sal krag gee, want God voel soos ’n Vader sáám met ons.

Hoe moet ons maak met ons daaglikse sorge en bekommernisse? Ek het die volgende mooi illustrasie raakgelees: Iemand het ’n skrynwerker gehuur om vir hom te help om ’n ou plaashuis te herstel. Die skrynwerker het ’n rowwe eerste dag by die werk gehad. ’n Pap band het hom ’n uur se werk laat verloor, sy elektriese saag het gebreek, en toe wou sy ou bakkie nie aan die gang kom nie. Die  werkgewer het toe vir die skrynwerker ’n geleentheid terug huis toe gegee. Met sy aankoms het die skrynwerker die man genooi om sy gesin te ontmoet. Terwyl hulle na die voordeur gestap het, het hy by ’n boompie stilgestaan en met albei hande aan die punte van die takke geraak. Toe hy die deur oopmaak, het hy ’n wonderlike transformasie ondergaan. Sy bruingebrande gesig het geglimlag, en hy het sy twee klein kinders omhels en sy vrou ’n soen gegee. Daarna het die skrynwerker saam met die man na sy motor gestap. Hulle het verby die boom geloop en uit nuuskierigheid vra die werkgewer hoekom hy sy hande oor die boom gehou het. “O, dit is my ‘moeilikheidsboom’,” het hy geantwoord. “Ek weet dit kan nie help om werksprobleme huis toe te vat nie, maar een ding is seker – probleme hoort nie in die huis met my vrou en die kinders nie. So, ek hang hulle maar elke aand aan die boom as ek by die huis kom; dan, in die oggend, tel ek hulle weer op.”

“Snaakse ding is,” het hy glimlaggend gesê, “as ek in die oggend uitkom om hulle op te tel, is daar nie soveel as wat ek onthou dat ek die vorige aand opgehang het nie.”

Ons kan ons swaarkry, angste en pyn ook elke dag ophang aan die kruis, die “moeilikheidsboom”, sodat ons getransformeer kan word om met vreugde en blydskap te lewe.

Wanneer ’n kind ontsteld is, dan kan hy op sy vader se skoot klim en die vader sal hom vertroos. Hoeveel te meer ons Hemelse Vader nie. U sien dus dat ons die klei is en dat God die pottebakker is wat ons in ons lyding vorm tot voorwerpe van Sy ontferming. Ons moet toelaat dat God ons, wat die klei is, vorm op die pottebakkerswiel van die lewe. Hoe kan ons vir die Pottebakker sê: “Waarom het u ons so gemaak? Waarom die pyn? Hoekom?” God wil van die mislukte lewens van mense nuwe moontlikhede vorm.

Miskien kan Bonhoëffer iets vir ons sê. Hy was ’n groot teoloog wat ook die Tweede Wêreldoorlog deurgemaak het. Hy het gesê: “Ek vertroos my daaraan dat die koeël wat my tref eers verby God moet gaan. Die koeël is nou wel nie God se wil nie, maar God weet van daardie koeël.” Bonhoëffer het ook gesterf, maar met die troos: “Ek kan nooit uit God se hande val nie.”

U sien dus, pyn is nie God se wil nie, maar God kan dit wel gebruik. God laat soms pyn toe, om my op die pottebakkerswiel van die lewe te omvorm tot Sy eer. Pyn is ’n besielende emosie! Dit is wanneer ek met leë hande, met betraande oë, inhardloop in God se Vaderhande. Heel dikwels word uit pyn menslike karakter gebou. Soos daardie veldblommetjies wat op die sementpaadjies in die groot stede, tussen al die harde sementblokke opkom – lieflik!

“Berusting in pyn is soet. God is goed.”                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)