God se saad vir Sy nuwe somer


SKRIFLESING: 1 Korintiërs 15: 36

Johan Cillie vertel op sy oupa se familieplaas in die familiekerkhof het ’n boom gegroei in die middel van sy oupa se graf. Dit het hulle ontdek, baie jare later toe hulle weer by die kerkhof ’n besoek gebring het. Ontstellend, maar hulle het met ander oë gekyk, verwonderend oor die troosryke getuienis, dat groter dinge kom uit die dood. Lewe uit die dood, groei uit die graf.

In Korinte was daar skynbaar mense wat probleme gehad het met die opstandingsliggaam. Daar is nie in die opstanding geglo nie. Om dit nie te glo nie, is dom sê Paulus (vers 36).

As jy twyfel, gaan vir ’n wandeling deur jou tuin. Buk af en pluk ’n blom, ’n grasspriet of iets in jou tuin. Om elke hoekie en draaitjie in jou tuin, sal jy plantsoorte kry wat van ’n saadvorm gedaante verander het in ’n nuwe plant.

Vers 36 – 38: “Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as ’n blote saadkorrel, of dit nou ‘n koringkorrel is, of een van die ander sade. Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade ’n eie vorm gee.”

Wanneer jy ’n koringkorrel of ’n mieliepit in die grond begrawe, kom daar ’n nuwe plant te voorskyn. Dit verander van gedaante – van saad na ’n nuwe plant.

Alles in die natuur spreek van lewe: bome, plante, struike, blomme, gras ensovoorts. God skep lewe. God skep lewe na die dood.

Dit is soos die metamorfose van ’n wurm. Die wurm verander later in ’n papie. Die papie lyk dood, maar mettertyd word dit ’n wonderskone vlinder.

Ons sal sterwe, maar ons sal ook weer lewe.

As jy in die kerkhof of by die gedenkmuur van die kerk kom, moet jy jou nie blindstaar teen die grafte en die grafstene of die nissies in die gedenkmuur nie.

God is besig met ’n saaiproses. Luther het aangrypend oor 1 Kor 15 gepreek tydens die Advent van Desember 1532, toe hy self fisiek al swak begin word het. Hy skryf dan tereg dat tydens die saaiproses dit lyk of die saad verlore gaan, weggegooi word. Uitgelewer aan die wind en weer, aan die wurms wat wag hou.

Natuurlik verdien ons die ewige dood. Die loon van die sonde is die dood. Maar God is genadig:

  • Hy het ons verlos van sonde
  • Hy het ons verlos van die ewige dood

Met die dood dra God die saaisak. Ons is saad, maar ons is God se saad. ’n Handjievol hier en ’n handjievol daar word gestrooi. Wanneer ons sterf, beteken dit daarom nie werklik dat ons dóód is nie, maar eerder saad wat gesaai is vir die komende somer. En die begraafplaas is nie bloot ’n bergplek vir die dooies nie, maar ’n landery vol saad, God se saad; nie ’n versameling van geraamtes nie, maar ’n plek vol somer-beloftes … (Martin Luther)

Het jy al ooit ’n boer sien huil terwyl hy saad in die grond geplaas het en dit met die vars grond bedek het? Natuurlik nie, want daardie soort “begrafnis” veroorsaak geen hartseer nie. Die boer weet dat die saad wat begrawe is, mettertyd in welige plantegroei sal opspring.

God het Sy seun as saad na die wêreld toe gestuur. Die Seun het ’n saadkorrel geword, gesaai aan die kruis en weer op die derde dag gegroei uit die graf.

Soos wat Jesus se opstanding ’n lewende werklikheid is, so is ons eie opstanding uit die dood ook ’n lewende werklikheid.

Ons sien net die een kant van die saaiproses. Daar is ook ’n ander kant. Ek moet kan sê: “Hier is ek, Here, saai my! Laat ek sterf aan myself en as dit dan moet, laat ek self sterf – solank dit net U is wat my oes. Hier is ek Here, oes my!”

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat D. L. Moody van East Northfield dood is. Jy moet nie ’n woord daarvan glo nie. Op daardie oomblik sal ek springlewendig wees. Ek sal  uit hierdie ou kleihut na my ewige huis gaan. Ek sal ’n nuwe geestelike liggaam hê wat die dood nie kan aanraak nie, wat sonde nie kan besoedel nie. My vleeslike liggaam sal sterwe. My liggaam wat uit die vlees gebore is kan sterwe, maar wat uit die gees gebore is, sal vir ewig lewe.”

Die uitdrukking wat gebruik word na iemand sterwe, is dikwels: “Rus in vrede” of die Engelse uitdrukking “Rest in peace (RIP)”. Ek oordeel dat die uitdrukking nie Bybels is nie. Ons gaan nie om te rus nie. Ons gaan springlewendig wees met ’n nuwe geestelike liggaam. Ons gaan nie hemel toe om te rus nie, maar om elke dag die Here te loof en te prys voor Sy troon.

My oom het eenmaal opgemerk: “Ons wil almal hemel toe gaan, maar niemand wil sterwe nie.”

Ons moet soos Paulus verlang om heen te gaan om by die Here te wees, maar vir eers moet ons in ons stoflike liggame bly om ons taak hier op die aarde klaar te maak.

Oom Leslie Brown was ’n diep gelowige kind van God. Hy het sy Skepper en Verlosser innig liefgehad. Hy het ook sy Christelike getuienis in woord en daad uitgeleef. Ek het hom nooit hoor skinder of kwaadpraat van ’n ander een nie. Hy was ’n getroue kerkganger, diaken, ouderling en ook later leierouderling. Hy was nederig en opreg. Hy was ook ’n dankbare mens wat nooit gekla het nie. Selfs toe hy in Huis Corrie Dreyer was, het hy nooit gekla nie.

Ek het Oom Leslie negentien jaar gelede leer ken as ’n frisgeboude man. Mettertyd het die ouderdom hom afgetakel en verswak. Hy was ’n skaduwee van die man wat hy eers was. Daarom moet ons elkeen ook onthou, ons is vandag dalk gesond, mooi en fris. Mettertyd sal die ouderdom ons ook aftakel en broos laat. Ons liggame kan oud word, maar ons gees sal altyd jonk bly. Ons liggame is van stof gemaak, maar God het self Sy Gees in ons geblaas en vir ons asem gegee. Die liggaam kan oud word en sterf, maar ons gees sal vir altyd jonk bly, want ons gees is onsterflik.

Die boom op Johan Cilliers se oupa se graf is nog steeds daar. Dit het intussen seker hoër en groter geword. So groei ons wete en geloof ook elke dag, dat ons die ewige lewe sal beërwe.

Uit die dood kom nuwe lewe! Kyk na die lente wat besig is om aan te breek. Die bloeisels en blomme en grasspriete getuig van nuwe lewe wat ontwaak.

Vir Oom Leslie het dit nou ook lente geraak. Die ewige somer wag op hom.

Ons rus nie in die dood nie, ons is lewendig na ons dood om vir alle ewigheid die Here se roem te besing. Amen    

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar