Brag jy of confess jy?


SKRIFLESING: Lukas 18: 9 – 14 en 2 Kor 12: 1 – 10

Ek het die staaltjie gehoor wat in die goeie ou Kaap tydens ’n evangelisasieveldtog afgespeel het. ’n Persoon het geleentheid gehad om sy persoonlike getuienis te lewer. Hy het begin deur breedvoerig te vertel hoe ’n groot sondaar hy was. Voorts het hy vertel hoe hy tot bekering gekom het en watter groot hoogtes hy as bekeerde Christen bereik het. Na sy getuienis het iemand agter in die gehoor opgestaan en baie verontwaardig gevra: “Mister, confess jy nou of brag jy nou?”

Sommige godsdiensprogramme wat op TV-kanale uitgesaai word, laat ’n mens ook dink dat daar eerder ge-brag as ge-confess word.  Daar word luid handegeklap en toejuigings gedoen op getuienisse. Met geloofstoertjies kan die prediker die hoorders “emosioneel manipuleer” en uit sy hand laat eet. Godsdiens wat manipulerend is, is geen egte godsdiens nie.

Die Here Jesus vertel die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar, vanweë “sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het”. (Luk 18:9) Daar is in die kerk nie plek vir geestelike hoogmoed nie.

Die Fariseërs was die geestelike elite van die Jode. Hulle was gesteld daarop om geen wet van Moses te oortree nie. Hulle het perfeksionisme nagestreef om nie die Wet en die bepalinge te oortree nie. Hulle was byvoorbeeld so erg dat ’n man op die Sabbat nie ’n vlooi in sy baard mag dooddruk nie, want dan jag hy. ’n Man mag ook nie op die Sabbat sy baard skeer nie, want dan oes hy. Hulle het tientalle reinigheidsgebruike ook gehad, net om rein te bly. Hulle het as’t ware in die gemeenskap met hulle godsdienstigheid gespog deur in die openbaar lang gebede op te sê. Hulle was hoogmoedig oor hulle geestelike vermoëns.

Die tollenaars, aan die ander kant, het die belasting vir die Romeinse owerheid ingesamel. Hulle het as’t ware by die poorte van elke stad gesit en die tolgeld ingesamel. Die meeste van hulle was skelm en het meer as die normale belasting ingevorder en die geld in hulle eie sak gesit.

Dan vergelyk die Here die gebede van die Fariseër en die tollenaar met mekaar. Die Fariseër het hoogmoedig gebid: “God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer per week, en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien.”(Luk 18: 11 – 12)

Die tollenaar se gebed was egter ’n nederige gebed. Daar staan in Luk 18:13: “Die tollenaar het egter op ’n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ ”

Dan sê die Here Jesus dat die laaste man huis toe gegaan het en dat sy saak met God reg is. In Luk 18:14 staan daar: “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.”

Die Here soek nederigheid in ons geloofslewe.

As jy  jouself op die skouer klop en sê “Ek doen goed in my geestelike lewe …”, dan spog jy. Dan is jy hoogmoedig.

Maar as jy alleen maar vandag kan sê: “Omdat God se genade vir my genoeg was, omdat God iets met my stukkende lewe reggekry het … ” , dan is jy besig met ’n eerlike confession of eerlike belydenis.

Die gelykenis van die Fariseër en tollenaar word opgevolg in Luk 18:16 – 17 met die Here se woorde dat ons klein en nederig soos kindertjies moet word. Daarom staan daar: “Jesus het hulle egter nader geroep en gesê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle.  Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’ ”

Dit is een van die geweldigste versoekings waaraan die kind van God blootgestel kan word, naamlik dat hy / sy geestelik hoogmoedig kan word. Die lis van die Bose is dat hy elkeen van ons op ons swakste plek aanval. Die oortuigde Christen sal dikwels nie so maklik ten prooi val van allerlei versoekings van ’n growwe aard nie. Miskien sal die Bose hom nie eens in hierdie opsig probeer versoek nie. Hy onderwerp die kind van God egter aan ’n veel gevaarliker soort versoeking, naamlik om te begin roem in sy / haar geestelike voortreflikhede.

Dit is soveel gevaarliker, omdat ’n mens dan in jouself roem en nie meer in Christus nie. Daarom gebeur dit ook so dikwels dat Christene roem in hulle geestelike ervaringe, maar eintlik vol van hulleself is.

Hoogmoediges maak gewoonlik op die volgende vermoëns staat, soos my goeie lewe. Ek het Jesus aangeneem. Ek het my bekeer. Ek glo … ek twyfel nie. Hoor jy die gevaarlike “ek”? Dan maak ek op myself staat en op my keuses en nie meer op God se genade nie. Dan gee ek alle eer aan myself en maak nie eers melding van die werk van die Heilige Gees nie. Dan word ek ’n meewerker van my verlossing.

Paulus weet dat God se genade genoeg is om gered te word. Juis dit is die inhoud van die hele Evangelie. Dit is God wat ’n mens uitverkies in Sy groot genade. Dit is God wat onweerstaanbaar red. Dit is God wat ons aanneem om Sy kinders te wees. Dit is God wat die geloof en die bekering in ons harte bewerk.

Daarom kan ons oor niks roem, of spog of brag nie – dit is alles God se genadige werk. Daarom kan ons alleen maar confess of bely dat God se genade vir my genoeg is.

Paulus weet egter hoe maklik dit kan gebeur dat ’n Christen hoogmoedig kan raak. Hy is daarvan bewus hoe maklik dit gebeur dat ’n mens jouself kan verhef, selfs oor die wonderlike genadegeskenke van God in jou lewe.

Daarom dank Paulus vir God oor die doring in sy vlees. Ons weet nie presies wat hierdie doring was nie. Ons weet egter dat dit vir Paulus op sy knieë gehou het.

Paulus het verstaan dat swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en moeilikhede ter wille van Christus hom ten goede kom, sodat Christus se krag sterk kan wees in hom. Dit is ’n geweldige les om te leer. Ons natuurlike neiging is om lyding, leed, beledigings en vervolgings van ons af weg te bid. Ons wil dit nie graag ervaar nie. Ons kla daaroor as dergelike dinge oor ons kom. Ons pleit in die gebed by die Here om dit tog van ons weg te neem. En tog kan juis beledigings, miskenning, teenspoed, laster en al die dinge wat Paulus ervaar het, ook vir ons van die allergrootste betekenis wees, omdat juis sulke dinge ons uitdryf na Christus en na die genade alleen.

Die fokus van jou verlossing moet jy nie in jouself soek nie, maar buite jouself in Jesus Christus se soenverdienste. Die boot word nie geanker deur die anker op die dek te los nie. Die anker moet buite die boot in die diepblou see gegooi word om geanker te kan word. Jou ankerpunt is nie jouself en jou goeie eienskappe nie, maar lê buite jouself in Christus Jesus. Vanuit Christus se soenverdienste skenk die Gees vir my die geloof en die bekering om as verloste mens te lewe. Dan verstaan jy die Evangelie. Kom dan, kom bely dan vandag dat jy uit genade gered is deur Jesus Christus se soenverdienste.

“God gebruik stukkende goed. Dit verg gebreekte grond om ’n oes te produseer, gebreekte wolke om reën te produseer, gebreekte graan om brood te gee en gebreekte brood om krag te gee. Dit is die gebreekte albaste-fles wat parfuum voortbring. Dit is die gebroke Petrus, wat bitterlik huil, wat terugkeer na groter mag as ooit.” (Anonieme aanhaling)

Toe iemand vir St. Franciskus van Assisi gevra het hoekom hy soveel kon bereik, het hy geantwoord: “Dit is dalk hoekom: Die Here het uit die hemel op die aarde neergekyk en gesê: ‘Waar kan ek die swakste, die kleinste, die geringste mens op die aarde kry?’ Toe sien Hy my en sê: ‘Nou het ek hom gekry, en ek sal deur hom werk. Hy sal nie trots wees daarop nie. Hy sal sien dat ek hom net gebruik weens sy kleinheid en onbeduidendheid.’ ”

F.B. Meyer het eenkeer gesê: “Ek het vroeër gedink dat God se gawes bo mekaar op die rakke was, en dat hoe groter ons in Christelike karakter gegroei het, hoe makliker kon ons dit bereik. Ek vind nou dat God se gawes op die rakke onder mekaar is. Dit is nie ’n kwessie van langer word nie, maar van laer buig; dat ons moet afgaan, altyd af, om Sy beste gawes te kry.”

“By een geleentheid het ’n orkes Handel se ‘Messias’ so pragtig aangebied dat die applous dawerend was, en almal na die komponis gedraai het. Handel het opgestaan en met sy vinger boontoe beduie, stilweg, dat die eer aan God gegee moet word eerder as aan homself. Dit is presies wat die Maagd Maria gedoen het toe sy met Elizabeth gepraat het. Dit is asof sy sê: ‘Moenie my loof nie, maar loof die Here wat my Verlosser is.’” (Anoniem aangehaal)

In die Christelike lewe is daar nie plek vir brag nie. Alles, maar alles, is slegs genade. Ons kan maar slegs confess dat wat ons is, is uit genade.

Wie klein oor homself / haarself down en optree, sal groot wees in God se Koninkryk.                                                                            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Lewer kommentaar