Die sin van die lewe is om met betekenis te lewe


SKRIFLESING: Luk 10: 25 – 37

Die vraag na die sin van die lewe is vandag ’n baie aktuele vraag. Wat gee werklik aan ’n mens se lewe sin en betekenis? Wat maak dit die moeite werd om vandag te leef? Het ek aan hierdie dag sin en betekenis gegee?

Verkeerdelik dink ’n mens dat as jy goed kan koop, kwalifikasies en bevorderings kan verwerf en vooruit in die lewe gaan,  jy dan ’n gelukkige mens sal wees, wat die sin van die lewe ontdek. Maar dit werk nie so nie. Die sin van die lewe lê nie in besittings, kwalifikasies of werksbevordering nie.

Die feit dat so baie mense worstel met die sin van die lewe, is omdat hulle nog nie geleer het om hulle lewe te leef vir ander mense nie. As ’n mens net jou lewe selfsugtig vir jouself leef en jou eie lewensgenot en selfverwerkliking nastreef, word ’n mens later siek van jouself en dan wonder jy wat die sin van alles is.

Dit is juis die verskil tussen middelpuntsoekende krag en middelpuntvliedende krag. Middelpuntsoekende krag is soos ’n draaikolk in ’n rivier. Dit suig na binne toe. Enige iemand wat in so ’n draaikolk beland, sal verdrink. Middelpuntvliedende krag is soos die planete wat rondom die son draai. Hierdie krag gee lewe en laat ons sonnestelsel voortbestaan.

My lewe het eers sin as ek dit lewe vir God en vir my medemens.

Juis daarom vertel die Here Jesus vir ons die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Die verhaal begin deur te vertel van ’n man wat op reis is tussen Jerigo en Jerusalem, ’n lewensgevaarlike reis! Ja, tot so onlangs as die negentiende eeu was dit nog ’n gevaarlike pad. Daarom was die gebruik eerder om in groepe te reis tussen die twee stede. Dan gebeur dit dat die man aangeval word deur rowers, beroof en nakend en sterwend agtergelaat word. Hulle beroof hom nie alleen van klere, geld en sy lewe nie. Hulle beroof hom ook van sy menswaardigheid.

’n Mens se menswaardigheid is seker die kosbaarste besitting wat ’n mens kan verloor. Soveel miljoene mense worstel vandag om ’n stukkie menswaardigheid. Daar is soveel dakloses, hongeres, verkluimdes, siekes, verlamdes, treurendes, sondaars met skuldgevoelens en so gaan die lysie aan – mense wat hulle menswaardigheid verloor het.

Somtyds is ons self ook die rowers van die verhaal, wat self ook ander mense van hul menswaardigheid beroof. Wie skinder of ’n krenkende woord spreek of iemand inloop, word self ook ’n rower. Jy beroof ’n ander een van sy menswaardigheid. Met ’n skinderstorie beroof jy iemand van sy karakter of met ’n krenkende woord beroof jy iemand van sy selfbeeld. Wie karig betaal, beroof ’n ander een van dit waarvan hy of sy moet leef.

Is u en ek nie maar ook dikwels die rowers van die gelykenis nie? Ja, rowers wat ander beroof van hul menswaardigheid.

Maar ons is nie net rowers nie, ons is dikwels ook soos die Priester en die Leviet wat verby ons medemens in nood stap. Die Priester en Leviet het die Skrif en die wet baie goed geken.

Die Priester is voor ’n moeilike keuse gestel, aangesien hy op pad was na die tempel. Hy moes rein bly. Sou hy aan ’n nie-Jood of aan ’n lyk vat, sou hy onrein word volgens die Joodse wet en tradisies. Die priester was onseker of die man wel ’n Jood was en of hy wel nog gelewe het. Daarom speel hy veilig, deur verlangs, vier el volgens die Joodse vereistes, verby die beroofde man te stap. Die wet en die tradisie het swaarder geweeg as die liefde.

Vandag is ons nog steeds bang om teen die tradisie in aan mense wat nie ’n Afrikaner is nie,  hulp te verleen. Ons sal aan ’n volksgenoot makliker gee as aan iemand van ’n ander ras of kultuur. Ons is bang om hulp te verleen, bang ons word onrein; ons hande, ons motor en ons huis moet skoon bly.

Daarom leer Paulus ons, na die voorbeeld van Jesus Christus, dat die liefde die belangrikste in ’n gelowige se lewe moet wees. (1 Kor 13)

Die Leviet het ook verby gestap. Op daardie stadium was hy nie gebonde aan die reinigingswette van die Joodse tradisie nie. Hy kon makliker help. Hy is nie voor ’n moeilike keuse gestel nie; hy hoef nie te gekies het tussen die wet en die liefde nie. Tog stap hy ook verby, want dit ontbreek hom aan deernis en liefde.

Mag die Here tog vir ons elkeen ’n stukkie deernis gee vir ons medemens. Tussen my en die boemelaar is daar net een verskil, naamlik die genade van Jesus Christus. Prof DF Tolmie definieer barmhartigheid as volg: “Barmhartigheid is ’n intense gevoel van ontferming of meegevoel wat sigbaar word in die manier waarop teenoor iemand anders opgetree word.”

So kom staan die Priester en die Leviet aan die kant van die rowers, hulle beroof hom nog verder van sy menswaardigheid. Hulle kom herstel nie sy menswaardigheid nie.

Dan skok die Here Jesus sy toehoorders as hy die verhaal verder vertel. Hy vertel hoe ’n Basterjood, ’n Samaritaan – verag deur die Jode – op die toneel verskyn en die beroofde man help. (Die Joodse toehoorders se Joodse bloed het beslis gestol by die aanhoor hiervan.) Die Samaritaan gee aan hierdie beroofde mens sy menswaardigheid terug. Hy behandel sy wonde met olie en wyn, wat kultiese elemente by die offers in die tempel is. In plaas van die olie en wyn op die altaar uit te giet, giet hy dit uit op die wonde van die beroofde man. Sy godsdiens word praktyk. Die erediens gaan straat toe.

Die Samaritaan verander sy agenda en die inskrywings in sy dagboek. Hy staan tyd af aan die man. Hy vervoer hom op sy donkie, hy neem hom herberg toe en betaal vir hom.

Die Samaritaan word die Priester van die verhaal. Hy word “die lewende offer wat vir God aanneemlik is.” Die Samaritaan bring homself as die lewende offer, wat wyn en olie uitgiet op die altaar van bloedige wonde.

Naasteliefde beteken om ’n lotgenoot van die kleine, die veragte, die beroofde en eensame te word.

Gelukkig verskyn daar ’n Samaritaan op die toneel. Miskien het die beroofde man nie veel verwag van die Samaritaan nie. Want hy was ’n Jood en die man ’n Samaritaan. Jood en Samaritaan was aartsvyande. Maar die Samaritaan het ’n hart vir sy medemens gehad; sy hart het warm geklop vir sy medemens; so warm dat selfs die vooroordeel weggeval het. En wanneer die Samaritaan die man te hulp snel, is dit nie maar ’n 50c in ’n hoed nie. Baie keer gee ons so ’n ietsie, nie om die persoon te help nie, maar om ons gewete stil te maak en ons goed te laat voel.

Maar wanneer die Samaritaan die man help, help hy hom met alles waaroor hy beskik. Hy help hom met olie en wyn vir sy wonde, met vervoer, met ’n herberg, met twee muntstukke aan die herbergier en die belofte om weer te kom kyk hoe dit gaan as hy terugkom. Hy het hom dus gehelp met lewensmiddele, vervoer, huisvesting, geld en met sy kosbare tyd wat hy opgeoffer het. Maar gemeente, die Samaritaan by uitstek is natuurlik Christus Jesus. Christus Jesus was ook ’n kerkmens, maar het nie verby die mens in nood gestap soos die Priester en Leviet nie. Nee, as Christus by die kerkdeur uitgestap het, het Hy sy hande omhelsend na hierdie wêreld uitgesteek. Siekes is gesond gemaak, kreupeles loop, dowes hoor en sondaars word verlos.

In die oë van hierdie wêreld moet jy Christus raaksien (Mattheus 25: 35 – 40). As iemand dors het, as iemand honger of naak of behoeftig is, sê Christus: “Sien my in daardie persoon raak. Want vir sover as julle dit aan een van hierdie geringste broeders gedoen het, het julle dit aan my gedoen.” Behandel dié in nood, soos jy Christus sou behandel het. Ja, wanneer my hart gesond en warm klop vir my medemens, moet dit oorgaan in hande-uitreiking na diegene in nood. Êrens in ’n kerkhof in Europa staan ’n besondere Christusbeeld. ’n Christusbeeld sonder arms. Die arms is beskadig as gevolg van hewige bombardement in die Tweede Wêreldoorlog. Maar op die voetstuk van die beeld staan daar: “Jy is my arms in hierdie wêreld.” Christus sê vandag aan U: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Jy is my verteenwoordiger in die nood van mense.” Jy sien dus, God vra nie: “Hoe lief het jy my?” nie. God sal sien hoe lief jy Hom het, in die manier waarop jy jou naaste in nood help.

Ghandi het eenmaal gesê: “Julle aanbid ’n wonderlike Christus, maar as ek sien hoe selfsugtig julle Christene is, dan wil ek maar liewer nie ’n Christen word nie.” ’n Verskriklike klag teen ons Christene! Ja, ons aanbid ’n wonderlike Christus. Dié Samaritaan met hoofletters het, toe ons gewond op ons lewenspad gelê het, stukkend geslaan deur die sonde, ons wonde versorg en ons genees. Hy het egter ook Sy lewe vir ons afgelê. Hy was en is die groot barmhartige Samaritaan.

Martin Luther King het eenmaal by ’n protesvergadering teen die oorlog in Viëtnam gesê: “Ons moet begin besef dat die hele pad na Jerigo so verander moet word dat mans en vroue en kinders nie voortdurend daarop geslaan en beroof word op hulle pad na die lewe nie. Naastediens beteken nie om maar net ’n muntstuk vir die bedelaar te gooi nie … maar om die huis te verander wat die bedelaar voortgebring het.”

Daarom sê die Formulier vir die bevestiging van diakens, dat die nood verlig moet word, maar dat ook die oorsaak van die nood uit die weg geruim moet word. Daarom is daar die gesegde: “Moenie vir iemand net vis gee nie, leer hom eerder om vis te vang.”

Natuurlik kan armoede ook ontstaan as gevolg van luiheid. Die Bybel spreek dit duidelik uit dat ’n lui mens nie gehelp moet word nie, want hy of sy is verantwoordelik vir hulle eie toestand.

Om vir ’n straatboemelaar geld te gee, is onverantwoordelik, want meestal gaan dit vir drank of dwelmmiddels. Gee eerder vir hulle kos. Vir hulle wat arrogant bedel, moet jy versigtig wees. Jy kan ook nie almal help nie. Kies watter mense jy kan en wil ondersteun met dade van barmhartigheid.

Barmhartigheid gaan ook oor veel meer as om vir iemand kos of geld te gee. Naasteliefde beteken om tyd te maak vir bejaardes, om ’n veragte mens se selfbeeld te help herstel, om siekes op te beur, om vir die moedelose nuwe hoop te gee, om vir die sondaar die Evangelie te bring … en so meer.

Ds. René Potgieter verduidelik mooi: “Sommige dorpe se watervloei werk deur middel van kanaalstelsels. Die kanaal is die weg waarlangs die water vanaf die dam na die inwoners van die dorp vloei, sodat hulle dan met die water hulle tuine kan natlei.  Die kanaalstelsel is ’n interessante sisteem.  Elke erf ontvang ’n leibeurt en wanneer ’n mens klaar is met jou leibeurt, sluit jy die toevloei na jou erf af, sodat die water kan verbyvloei na jou bure toe.  As gelowiges weet ons mos alte goed dat God die kerk gekies het as dié kanaal waardeur Hy sy goedheid, genade, liefde en barmhartigheid by die mense van die wêreld wil uitbring. Nou is die vraag – het God se goedheid, genade en guns by jou gestop, of vloei dit deur na ander?” Gee jy leibeurte ook vir ander mense?

Daarom roep die Here Jesus ons elkeen op met die woorde: “Gaan maak jy net so.” Gaan herstel ander mense se menswaardigheid, want eenmaal het ek op Golgota ook vir jou jou menswaardigheid terug gegee.   

Wie in die liefde aktief betrokke is, ervaar op die pad na Jerigo dat sy/haar lewe nie nutteloos is nie, maar dat dit sin het. Die lewe maak sin as ek weet daar is mense wat my nodig het … en ek kan vir hulle daar wees.

In Handelinge 20:35 staan:“In alles het ek vir julle gewys dat ’n mens deur hard te werk, die swakkes moet help, en die woorde van die Here Jesus moet onthou toe Hy gesê het, ‘Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.’ ” 

Die lewe maak sin as ek die Here Jesus nie net in die erediens aanbid nie, maar ook op straat, op die pad na Jerigo.

Die sin van die lewe is om met betekenis te lewe. Wie met ’n barmhartige hart lewe, sal elke dag sin in die lewe ontdek. As jy net vir jouself lewe, sal die lewe nie sin hê nie. Maar as jy uitwaarts na ander lewe en barmhartigheid betoon, sal jou lewe sinvol en betekenisvol wees. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Lewer kommentaar