God se saad vir Sy nuwe somer

SKRIFLESING: 1 Korintiërs 15: 36

Johan Cillie vertel op sy oupa se familieplaas in die familiekerkhof het ’n boom gegroei in die middel van sy oupa se graf. Dit het hulle ontdek, baie jare later toe hulle weer by die kerkhof ’n besoek gebring het. Ontstellend, maar hulle het met ander oë gekyk, verwonderend oor die troosryke getuienis, dat groter dinge kom uit die dood. Lewe uit die dood, groei uit die graf.

In Korinte was daar skynbaar mense wat probleme gehad het met die opstandingsliggaam. Daar is nie in die opstanding geglo nie. Om dit nie te glo nie, is dom sê Paulus (vers 36).

As jy twyfel, gaan vir ’n wandeling deur jou tuin. Buk af en pluk ’n blom, ’n grasspriet of iets in jou tuin. Om elke hoekie en draaitjie in jou tuin, sal jy plantsoorte kry wat van ’n saadvorm gedaante verander het in ’n nuwe plant.

Vers 36 – 38: “Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as ’n blote saadkorrel, of dit nou ‘n koringkorrel is, of een van die ander sade. Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade ’n eie vorm gee.”

Wanneer jy ’n koringkorrel of ’n mieliepit in die grond begrawe, kom daar ’n nuwe plant te voorskyn. Dit verander van gedaante – van saad na ’n nuwe plant.

Alles in die natuur spreek van lewe: bome, plante, struike, blomme, gras ensovoorts. God skep lewe. God skep lewe na die dood.

Dit is soos die metamorfose van ’n wurm. Die wurm verander later in ’n papie. Die papie lyk dood, maar mettertyd word dit ’n wonderskone vlinder.

Ons sal sterwe, maar ons sal ook weer lewe.

As jy in die kerkhof of by die gedenkmuur van die kerk kom, moet jy jou nie blindstaar teen die grafte en die grafstene of die nissies in die gedenkmuur nie.

God is besig met ’n saaiproses. Luther het aangrypend oor 1 Kor 15 gepreek tydens die Advent van Desember 1532, toe hy self fisiek al swak begin word het. Hy skryf dan tereg dat tydens die saaiproses dit lyk of die saad verlore gaan, weggegooi word. Uitgelewer aan die wind en weer, aan die wurms wat wag hou.

Natuurlik verdien ons die ewige dood. Die loon van die sonde is die dood. Maar God is genadig:

  • Hy het ons verlos van sonde
  • Hy het ons verlos van die ewige dood

Met die dood dra God die saaisak. Ons is saad, maar ons is God se saad. ’n Handjievol hier en ’n handjievol daar word gestrooi. Wanneer ons sterf, beteken dit daarom nie werklik dat ons dóód is nie, maar eerder saad wat gesaai is vir die komende somer. En die begraafplaas is nie bloot ’n bergplek vir die dooies nie, maar ’n landery vol saad, God se saad; nie ’n versameling van geraamtes nie, maar ’n plek vol somer-beloftes … (Martin Luther)

Het jy al ooit ’n boer sien huil terwyl hy saad in die grond geplaas het en dit met die vars grond bedek het? Natuurlik nie, want daardie soort “begrafnis” veroorsaak geen hartseer nie. Die boer weet dat die saad wat begrawe is, mettertyd in welige plantegroei sal opspring.

God het Sy seun as saad na die wêreld toe gestuur. Die Seun het ’n saadkorrel geword, gesaai aan die kruis en weer op die derde dag gegroei uit die graf.

Soos wat Jesus se opstanding ’n lewende werklikheid is, so is ons eie opstanding uit die dood ook ’n lewende werklikheid.

Ons sien net die een kant van die saaiproses. Daar is ook ’n ander kant. Ek moet kan sê: “Hier is ek, Here, saai my! Laat ek sterf aan myself en as dit dan moet, laat ek self sterf – solank dit net U is wat my oes. Hier is ek Here, oes my!”

Die beroemde evangelis, Dwight L. Moody, het eenkeer in ’n preek opgemerk: “Eendag sal jy in die koerante lees dat D. L. Moody van East Northfield dood is. Jy moet nie ’n woord daarvan glo nie. Op daardie oomblik sal ek springlewendig wees. Ek sal  uit hierdie ou kleihut na my ewige huis gaan. Ek sal ’n nuwe geestelike liggaam hê wat die dood nie kan aanraak nie, wat sonde nie kan besoedel nie. My vleeslike liggaam sal sterwe. My liggaam wat uit die vlees gebore is kan sterwe, maar wat uit die gees gebore is, sal vir ewig lewe.”

Die uitdrukking wat gebruik word na iemand sterwe, is dikwels: “Rus in vrede” of die Engelse uitdrukking “Rest in peace (RIP)”. Ek oordeel dat die uitdrukking nie Bybels is nie. Ons gaan nie om te rus nie. Ons gaan springlewendig wees met ’n nuwe geestelike liggaam. Ons gaan nie hemel toe om te rus nie, maar om elke dag die Here te loof en te prys voor Sy troon.

My oom het eenmaal opgemerk: “Ons wil almal hemel toe gaan, maar niemand wil sterwe nie.”

Ons moet soos Paulus verlang om heen te gaan om by die Here te wees, maar vir eers moet ons in ons stoflike liggame bly om ons taak hier op die aarde klaar te maak.

Oom Leslie Brown was ’n diep gelowige kind van God. Hy het sy Skepper en Verlosser innig liefgehad. Hy het ook sy Christelike getuienis in woord en daad uitgeleef. Ek het hom nooit hoor skinder of kwaadpraat van ’n ander een nie. Hy was ’n getroue kerkganger, diaken, ouderling en ook later leierouderling. Hy was nederig en opreg. Hy was ook ’n dankbare mens wat nooit gekla het nie. Selfs toe hy in Huis Corrie Dreyer was, het hy nooit gekla nie.

Ek het Oom Leslie negentien jaar gelede leer ken as ’n frisgeboude man. Mettertyd het die ouderdom hom afgetakel en verswak. Hy was ’n skaduwee van die man wat hy eers was. Daarom moet ons elkeen ook onthou, ons is vandag dalk gesond, mooi en fris. Mettertyd sal die ouderdom ons ook aftakel en broos laat. Ons liggame kan oud word, maar ons gees sal altyd jonk bly. Ons liggame is van stof gemaak, maar God het self Sy Gees in ons geblaas en vir ons asem gegee. Die liggaam kan oud word en sterf, maar ons gees sal vir altyd jonk bly, want ons gees is onsterflik.

Die boom op Johan Cilliers se oupa se graf is nog steeds daar. Dit het intussen seker hoër en groter geword. So groei ons wete en geloof ook elke dag, dat ons die ewige lewe sal beërwe.

Uit die dood kom nuwe lewe! Kyk na die lente wat besig is om aan te breek. Die bloeisels en blomme en grasspriete getuig van nuwe lewe wat ontwaak.

Vir Oom Leslie het dit nou ook lente geraak. Die ewige somer wag op hom.

Ons rus nie in die dood nie, ons is lewendig na ons dood om vir alle ewigheid die Here se roem te besing. Amen    

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

God kyk na die innerlike en nie na die uiterlike nie

SKRIFLESING: 1 Samuel 16: 1 – 13

Wanneer ons na leiers soek, is ons geneig om na uiterlike kwaliteite te kyk. Voorkoms, intelligensie, agtergrond, rykdom, kwalifikasies, gewildheid, prestasies en vele ander uiterlike dinge speel ’n rol as ons leiers kies. Dit is dalk die rede hoekom ons land oor die algemeen sulke swak leiers het. Van ons leiers vertoon uiterlik goed, maar innerlik is hulle nie eg en betroubaar nie. Daarom is ons land vasgeval in staatskaping, korrupsie en morele verval.

As die Here na leiers soek, kyk Hy na innerlike opregtheid van die hart. Die Here soek nie noodwendig volmaakte, sondelose mense nie, maar vir Hom is opregtheid van groot belang.

In ons gelese gedeelte lees ons hoedat ’n nuwe koning gesoek word om  Saul op te volg as koning. Saul as eerste koning van Israel het goed begin, maar algaande ’n swak koning geword. Saul het die swaardmag gehad en Samuel het die Woordmag gehad. Saul was veronderstel om by Samuel navraag te doen oor God se wil, maar hy het eerder die heks van Endor geraadpleeg. Mettertyd het die Gees van God van Saul gewyk. Ons lees in 1 Samuel 15:35 dat Samuel getreur het oor Saul en dat God bedroef was dat Hy vir Saul koning oor Sy volk gemaak het.

Dan lees ons hoedat God ’n nuwe begin maak. Die teks in 1 Samuel 16:1 lees as volg: “Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul? Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel. Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My ’n koning gesien.”

Samuel was hoogs ontsteld. Hy het gevrees as Saul daarvan hoor, dat hy hom sou doodmaak. Die Here beveel egter vir Samuel om ’n vers saam te neem en vir die mense te sê dat hy in vrede kom om ’n offer te bring. Hy moet dan vir Isai ook nooi na die offerplegtigheid toe.

Samuel het Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer genooi. Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink die gesalfde van die Here staan voor hom. Eliab was mooi en sterk gebou met ’n buitengewone lengte. Hy sou ’n goeie teenvoeter vir Saul wees. Maar dan sê die Here in vers 7 vir Samuel:    “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”

Samuel was as profeet ook ’n “siener”, maar nou het hy as “siener” verkeerd gesien. Hy het gesien wat die mens se oog opval, en nie wat vir God tel nie. Uitdruklik word daar in die teks genoem: “ Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”

Die vader Isai het toe vir Abinadab voor Samuel verby laat gaan en Samuel het gedink die Here het ook nie hierdie een gekies nie. Toe het Samma verby gekom en ook vir hom het die Here nie gekies nie. Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verby gaan, sê Samuel vir Isai dat die Here nie een van dié seuns uitverkies het nie. Toe Samuel vir Isai vra of hy nog seuns het, het hy geantwoord dat hy nog een seun het, die jongste, maar hy pas skape op. Toe het Samuel opdrag gegee dat  hy gehaal moet word. Isai het hom laat haal.

Die jongste seun het rooi gelaatstrekke gehad, mooi oë en ’n goeie voorkoms. Toe gee die Here opdrag vir Samuel om op te staan en hom te salf, want hy is die gesalfde. Die seun se naam was Dawid. Samuel het die horing met die olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Dan lees ons van daardie dag af het die Gees van God kragtig in Dawid gewerk.

Die Here het Dawid nie gekies omdat hy volmaak was nie. Inteendeel, later in sy lewe sou hy owerspel pleeg met Batseba en haar man Uriah laat vermoor. Maar ten spyte van sy baie tekortkominge het hy ’n rein en opregte hart gehad. Ons lees van sy opregte hart in die Psalms wat hy gedig het. Lees die aangrypende Psalm 51 waar hy sy skuld teenoor die Here bely en vrees dat die Here se Gees van hom sal wyk. In Ps 51: 12 – 13 staan daar: Skep ’n rein hart vir my, o God, vernuwe ’n bestendige gees in my binneste. Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u heilige Gees nie van my wegneem nie.”

Die Here het Dawid se opregte hart raakgesien en hom laat salf as toekomstige koning oor Israel. Opregtheid is vir die Here belangrik. Dawid skryf in Psalm 25: 21 die volgende: “Mag onskuld en opregtheid oor my wag hou, want ek wag op U.”

In 1 Kronieke 29: 17 skryf Dawid die volgende: “Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid. Ek, met opregtheid van hart het ek dit alles vrywillig gegee. En nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, vrywillig vir U gee.”

As ons staatsleiers maar net opreg was, het dit met ons land baie beter gegaan. ’n Leier kan baie foute hê, maar as hy of sy opreg is, is die leierskap met integriteit en eerlikheid.

Dit was ook die probleem met die Fariseërs in die tyd van Jesus. Jesus het vir hulle kwaad geword. In Luk 11:39 – 41 staan daar: “Maar die Here sê vir hom: “Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar van binne is julle vol inhaligheid en boosheid. Dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie? Gee liewer die inhoud vir liefdadigheid, dan sal alles vir julle skoon wees.”

Die Fariseërs word in ’n vorige vertaling beskryf as witgepleisterde grafte, vol doodsbeendere. Die Here is meer begaan oor jou innerlike opregtheid, as oor die beeld wat jy uiterlik vertoon in die publiek.   

Baie Bybelfigure het hulle foute en tekortkominge gehad. Moses het gehakkel, Petrus het die Here verloën, die dissipels het weggehardloop op die aand voor Goeie Vrydag, Paulus het ’n doring in die vlees gehad en so kan ’n mens aangaan. Maar die Here kan met ’n krom stok ’n reguit hou slaan. Maar jou hart moet reg wees. Dit moet opreg wees.

Ons almal is leiers op een of ander manier. Ek kan die leier van my huis, of van my onderneming of van my boerdery wees. Ek is dalk ’n leier op die kerkraad of ’n boerevereniging. Maar leiers met slegs uitwendige, sigbare gawes alleen sal nie deug nie. My hart moet suiwer en onberispelik opreg wees. Dan eers is ek in die Here se oë ’n regte leier.

Alle leiers speel ’n rol. Ek speel die rol as vader, moeder, onderwyser, boer, sakeman of wat dit ook al mag wees. Maar ek speel dit nie vir altyd nie. Daarom moet ek vir die tyd wat ek die rol moet speel, my toelê op opregtheid en reinheid van hart. Dan sal ek ’n goeie leier wees, ten spyte van my foute en tekortkominge.

Ons kyk na die uiterlike vir leierskap. Die Here kyk na die hart van ’n leier.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Brag jy of confess jy?

SKRIFLESING: Lukas 18: 9 – 14 en 2 Kor 12: 1 – 10

Ek het die staaltjie gehoor wat in die goeie ou Kaap tydens ’n evangelisasieveldtog afgespeel het. ’n Persoon het geleentheid gehad om sy persoonlike getuienis te lewer. Hy het begin deur breedvoerig te vertel hoe ’n groot sondaar hy was. Voorts het hy vertel hoe hy tot bekering gekom het en watter groot hoogtes hy as bekeerde Christen bereik het. Na sy getuienis het iemand agter in die gehoor opgestaan en baie verontwaardig gevra: “Mister, confess jy nou of brag jy nou?”

Sommige godsdiensprogramme wat op TV-kanale uitgesaai word, laat ’n mens ook dink dat daar eerder ge-brag as ge-confess word.  Daar word luid handegeklap en toejuigings gedoen op getuienisse. Met geloofstoertjies kan die prediker die hoorders “emosioneel manipuleer” en uit sy hand laat eet. Godsdiens wat manipulerend is, is geen egte godsdiens nie.

Die Here Jesus vertel die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar, vanweë “sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het”. (Luk 18:9) Daar is in die kerk nie plek vir geestelike hoogmoed nie.

Die Fariseërs was die geestelike elite van die Jode. Hulle was gesteld daarop om geen wet van Moses te oortree nie. Hulle het perfeksionisme nagestreef om nie die Wet en die bepalinge te oortree nie. Hulle was byvoorbeeld so erg dat ’n man op die Sabbat nie ’n vlooi in sy baard mag dooddruk nie, want dan jag hy. ’n Man mag ook nie op die Sabbat sy baard skeer nie, want dan oes hy. Hulle het tientalle reinigheidsgebruike ook gehad, net om rein te bly. Hulle het as’t ware in die gemeenskap met hulle godsdienstigheid gespog deur in die openbaar lang gebede op te sê. Hulle was hoogmoedig oor hulle geestelike vermoëns.

Die tollenaars, aan die ander kant, het die belasting vir die Romeinse owerheid ingesamel. Hulle het as’t ware by die poorte van elke stad gesit en die tolgeld ingesamel. Die meeste van hulle was skelm en het meer as die normale belasting ingevorder en die geld in hulle eie sak gesit.

Dan vergelyk die Here die gebede van die Fariseër en die tollenaar met mekaar. Die Fariseër het hoogmoedig gebid: “God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer per week, en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien.”(Luk 18: 11 – 12)

Die tollenaar se gebed was egter ’n nederige gebed. Daar staan in Luk 18:13: “Die tollenaar het egter op ’n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ ”

Dan sê die Here Jesus dat die laaste man huis toe gegaan het en dat sy saak met God reg is. In Luk 18:14 staan daar: “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word.”

Die Here soek nederigheid in ons geloofslewe.

As jy  jouself op die skouer klop en sê “Ek doen goed in my geestelike lewe …”, dan spog jy. Dan is jy hoogmoedig.

Maar as jy alleen maar vandag kan sê: “Omdat God se genade vir my genoeg was, omdat God iets met my stukkende lewe reggekry het … ” , dan is jy besig met ’n eerlike confession of eerlike belydenis.

Die gelykenis van die Fariseër en tollenaar word opgevolg in Luk 18:16 – 17 met die Here se woorde dat ons klein en nederig soos kindertjies moet word. Daarom staan daar: “Jesus het hulle egter nader geroep en gesê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie, want die koninkryk van God behoort aan mense soos hulle.  Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’ ”

Dit is een van die geweldigste versoekings waaraan die kind van God blootgestel kan word, naamlik dat hy / sy geestelik hoogmoedig kan word. Die lis van die Bose is dat hy elkeen van ons op ons swakste plek aanval. Die oortuigde Christen sal dikwels nie so maklik ten prooi val van allerlei versoekings van ’n growwe aard nie. Miskien sal die Bose hom nie eens in hierdie opsig probeer versoek nie. Hy onderwerp die kind van God egter aan ’n veel gevaarliker soort versoeking, naamlik om te begin roem in sy / haar geestelike voortreflikhede.

Dit is soveel gevaarliker, omdat ’n mens dan in jouself roem en nie meer in Christus nie. Daarom gebeur dit ook so dikwels dat Christene roem in hulle geestelike ervaringe, maar eintlik vol van hulleself is.

Hoogmoediges maak gewoonlik op die volgende vermoëns staat, soos my goeie lewe. Ek het Jesus aangeneem. Ek het my bekeer. Ek glo … ek twyfel nie. Hoor jy die gevaarlike “ek”? Dan maak ek op myself staat en op my keuses en nie meer op God se genade nie. Dan gee ek alle eer aan myself en maak nie eers melding van die werk van die Heilige Gees nie. Dan word ek ’n meewerker van my verlossing.

Paulus weet dat God se genade genoeg is om gered te word. Juis dit is die inhoud van die hele Evangelie. Dit is God wat ’n mens uitverkies in Sy groot genade. Dit is God wat onweerstaanbaar red. Dit is God wat ons aanneem om Sy kinders te wees. Dit is God wat die geloof en die bekering in ons harte bewerk.

Daarom kan ons oor niks roem, of spog of brag nie – dit is alles God se genadige werk. Daarom kan ons alleen maar confess of bely dat God se genade vir my genoeg is.

Paulus weet egter hoe maklik dit kan gebeur dat ’n Christen hoogmoedig kan raak. Hy is daarvan bewus hoe maklik dit gebeur dat ’n mens jouself kan verhef, selfs oor die wonderlike genadegeskenke van God in jou lewe.

Daarom dank Paulus vir God oor die doring in sy vlees. Ons weet nie presies wat hierdie doring was nie. Ons weet egter dat dit vir Paulus op sy knieë gehou het.

Paulus het verstaan dat swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en moeilikhede ter wille van Christus hom ten goede kom, sodat Christus se krag sterk kan wees in hom. Dit is ’n geweldige les om te leer. Ons natuurlike neiging is om lyding, leed, beledigings en vervolgings van ons af weg te bid. Ons wil dit nie graag ervaar nie. Ons kla daaroor as dergelike dinge oor ons kom. Ons pleit in die gebed by die Here om dit tog van ons weg te neem. En tog kan juis beledigings, miskenning, teenspoed, laster en al die dinge wat Paulus ervaar het, ook vir ons van die allergrootste betekenis wees, omdat juis sulke dinge ons uitdryf na Christus en na die genade alleen.

Die fokus van jou verlossing moet jy nie in jouself soek nie, maar buite jouself in Jesus Christus se soenverdienste. Die boot word nie geanker deur die anker op die dek te los nie. Die anker moet buite die boot in die diepblou see gegooi word om geanker te kan word. Jou ankerpunt is nie jouself en jou goeie eienskappe nie, maar lê buite jouself in Christus Jesus. Vanuit Christus se soenverdienste skenk die Gees vir my die geloof en die bekering om as verloste mens te lewe. Dan verstaan jy die Evangelie. Kom dan, kom bely dan vandag dat jy uit genade gered is deur Jesus Christus se soenverdienste.

“God gebruik stukkende goed. Dit verg gebreekte grond om ’n oes te produseer, gebreekte wolke om reën te produseer, gebreekte graan om brood te gee en gebreekte brood om krag te gee. Dit is die gebreekte albaste-fles wat parfuum voortbring. Dit is die gebroke Petrus, wat bitterlik huil, wat terugkeer na groter mag as ooit.” (Anonieme aanhaling)

Toe iemand vir St. Franciskus van Assisi gevra het hoekom hy soveel kon bereik, het hy geantwoord: “Dit is dalk hoekom: Die Here het uit die hemel op die aarde neergekyk en gesê: ‘Waar kan ek die swakste, die kleinste, die geringste mens op die aarde kry?’ Toe sien Hy my en sê: ‘Nou het ek hom gekry, en ek sal deur hom werk. Hy sal nie trots wees daarop nie. Hy sal sien dat ek hom net gebruik weens sy kleinheid en onbeduidendheid.’ ”

F.B. Meyer het eenkeer gesê: “Ek het vroeër gedink dat God se gawes bo mekaar op die rakke was, en dat hoe groter ons in Christelike karakter gegroei het, hoe makliker kon ons dit bereik. Ek vind nou dat God se gawes op die rakke onder mekaar is. Dit is nie ’n kwessie van langer word nie, maar van laer buig; dat ons moet afgaan, altyd af, om Sy beste gawes te kry.”

“By een geleentheid het ’n orkes Handel se ‘Messias’ so pragtig aangebied dat die applous dawerend was, en almal na die komponis gedraai het. Handel het opgestaan en met sy vinger boontoe beduie, stilweg, dat die eer aan God gegee moet word eerder as aan homself. Dit is presies wat die Maagd Maria gedoen het toe sy met Elizabeth gepraat het. Dit is asof sy sê: ‘Moenie my loof nie, maar loof die Here wat my Verlosser is.’” (Anoniem aangehaal)

In die Christelike lewe is daar nie plek vir brag nie. Alles, maar alles, is slegs genade. Ons kan maar slegs confess dat wat ons is, is uit genade.

Wie klein oor homself / haarself down en optree, sal groot wees in God se Koninkryk.                                                                            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Die sin van die lewe is om met betekenis te lewe

SKRIFLESING: Luk 10: 25 – 37

Die vraag na die sin van die lewe is vandag ’n baie aktuele vraag. Wat gee werklik aan ’n mens se lewe sin en betekenis? Wat maak dit die moeite werd om vandag te leef? Het ek aan hierdie dag sin en betekenis gegee?

Verkeerdelik dink ’n mens dat as jy goed kan koop, kwalifikasies en bevorderings kan verwerf en vooruit in die lewe gaan,  jy dan ’n gelukkige mens sal wees, wat die sin van die lewe ontdek. Maar dit werk nie so nie. Die sin van die lewe lê nie in besittings, kwalifikasies of werksbevordering nie.

Die feit dat so baie mense worstel met die sin van die lewe, is omdat hulle nog nie geleer het om hulle lewe te leef vir ander mense nie. As ’n mens net jou lewe selfsugtig vir jouself leef en jou eie lewensgenot en selfverwerkliking nastreef, word ’n mens later siek van jouself en dan wonder jy wat die sin van alles is.

Dit is juis die verskil tussen middelpuntsoekende krag en middelpuntvliedende krag. Middelpuntsoekende krag is soos ’n draaikolk in ’n rivier. Dit suig na binne toe. Enige iemand wat in so ’n draaikolk beland, sal verdrink. Middelpuntvliedende krag is soos die planete wat rondom die son draai. Hierdie krag gee lewe en laat ons sonnestelsel voortbestaan.

My lewe het eers sin as ek dit lewe vir God en vir my medemens.

Juis daarom vertel die Here Jesus vir ons die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Die verhaal begin deur te vertel van ’n man wat op reis is tussen Jerigo en Jerusalem, ’n lewensgevaarlike reis! Ja, tot so onlangs as die negentiende eeu was dit nog ’n gevaarlike pad. Daarom was die gebruik eerder om in groepe te reis tussen die twee stede. Dan gebeur dit dat die man aangeval word deur rowers, beroof en nakend en sterwend agtergelaat word. Hulle beroof hom nie alleen van klere, geld en sy lewe nie. Hulle beroof hom ook van sy menswaardigheid.

’n Mens se menswaardigheid is seker die kosbaarste besitting wat ’n mens kan verloor. Soveel miljoene mense worstel vandag om ’n stukkie menswaardigheid. Daar is soveel dakloses, hongeres, verkluimdes, siekes, verlamdes, treurendes, sondaars met skuldgevoelens en so gaan die lysie aan – mense wat hulle menswaardigheid verloor het.

Somtyds is ons self ook die rowers van die verhaal, wat self ook ander mense van hul menswaardigheid beroof. Wie skinder of ’n krenkende woord spreek of iemand inloop, word self ook ’n rower. Jy beroof ’n ander een van sy menswaardigheid. Met ’n skinderstorie beroof jy iemand van sy karakter of met ’n krenkende woord beroof jy iemand van sy selfbeeld. Wie karig betaal, beroof ’n ander een van dit waarvan hy of sy moet leef.

Is u en ek nie maar ook dikwels die rowers van die gelykenis nie? Ja, rowers wat ander beroof van hul menswaardigheid.

Maar ons is nie net rowers nie, ons is dikwels ook soos die Priester en die Leviet wat verby ons medemens in nood stap. Die Priester en Leviet het die Skrif en die wet baie goed geken.

Die Priester is voor ’n moeilike keuse gestel, aangesien hy op pad was na die tempel. Hy moes rein bly. Sou hy aan ’n nie-Jood of aan ’n lyk vat, sou hy onrein word volgens die Joodse wet en tradisies. Die priester was onseker of die man wel ’n Jood was en of hy wel nog gelewe het. Daarom speel hy veilig, deur verlangs, vier el volgens die Joodse vereistes, verby die beroofde man te stap. Die wet en die tradisie het swaarder geweeg as die liefde.

Vandag is ons nog steeds bang om teen die tradisie in aan mense wat nie ’n Afrikaner is nie,  hulp te verleen. Ons sal aan ’n volksgenoot makliker gee as aan iemand van ’n ander ras of kultuur. Ons is bang om hulp te verleen, bang ons word onrein; ons hande, ons motor en ons huis moet skoon bly.

Daarom leer Paulus ons, na die voorbeeld van Jesus Christus, dat die liefde die belangrikste in ’n gelowige se lewe moet wees. (1 Kor 13)

Die Leviet het ook verby gestap. Op daardie stadium was hy nie gebonde aan die reinigingswette van die Joodse tradisie nie. Hy kon makliker help. Hy is nie voor ’n moeilike keuse gestel nie; hy hoef nie te gekies het tussen die wet en die liefde nie. Tog stap hy ook verby, want dit ontbreek hom aan deernis en liefde.

Mag die Here tog vir ons elkeen ’n stukkie deernis gee vir ons medemens. Tussen my en die boemelaar is daar net een verskil, naamlik die genade van Jesus Christus. Prof DF Tolmie definieer barmhartigheid as volg: “Barmhartigheid is ’n intense gevoel van ontferming of meegevoel wat sigbaar word in die manier waarop teenoor iemand anders opgetree word.”

So kom staan die Priester en die Leviet aan die kant van die rowers, hulle beroof hom nog verder van sy menswaardigheid. Hulle kom herstel nie sy menswaardigheid nie.

Dan skok die Here Jesus sy toehoorders as hy die verhaal verder vertel. Hy vertel hoe ’n Basterjood, ’n Samaritaan – verag deur die Jode – op die toneel verskyn en die beroofde man help. (Die Joodse toehoorders se Joodse bloed het beslis gestol by die aanhoor hiervan.) Die Samaritaan gee aan hierdie beroofde mens sy menswaardigheid terug. Hy behandel sy wonde met olie en wyn, wat kultiese elemente by die offers in die tempel is. In plaas van die olie en wyn op die altaar uit te giet, giet hy dit uit op die wonde van die beroofde man. Sy godsdiens word praktyk. Die erediens gaan straat toe.

Die Samaritaan verander sy agenda en die inskrywings in sy dagboek. Hy staan tyd af aan die man. Hy vervoer hom op sy donkie, hy neem hom herberg toe en betaal vir hom.

Die Samaritaan word die Priester van die verhaal. Hy word “die lewende offer wat vir God aanneemlik is.” Die Samaritaan bring homself as die lewende offer, wat wyn en olie uitgiet op die altaar van bloedige wonde.

Naasteliefde beteken om ’n lotgenoot van die kleine, die veragte, die beroofde en eensame te word.

Gelukkig verskyn daar ’n Samaritaan op die toneel. Miskien het die beroofde man nie veel verwag van die Samaritaan nie. Want hy was ’n Jood en die man ’n Samaritaan. Jood en Samaritaan was aartsvyande. Maar die Samaritaan het ’n hart vir sy medemens gehad; sy hart het warm geklop vir sy medemens; so warm dat selfs die vooroordeel weggeval het. En wanneer die Samaritaan die man te hulp snel, is dit nie maar ’n 50c in ’n hoed nie. Baie keer gee ons so ’n ietsie, nie om die persoon te help nie, maar om ons gewete stil te maak en ons goed te laat voel.

Maar wanneer die Samaritaan die man help, help hy hom met alles waaroor hy beskik. Hy help hom met olie en wyn vir sy wonde, met vervoer, met ’n herberg, met twee muntstukke aan die herbergier en die belofte om weer te kom kyk hoe dit gaan as hy terugkom. Hy het hom dus gehelp met lewensmiddele, vervoer, huisvesting, geld en met sy kosbare tyd wat hy opgeoffer het. Maar gemeente, die Samaritaan by uitstek is natuurlik Christus Jesus. Christus Jesus was ook ’n kerkmens, maar het nie verby die mens in nood gestap soos die Priester en Leviet nie. Nee, as Christus by die kerkdeur uitgestap het, het Hy sy hande omhelsend na hierdie wêreld uitgesteek. Siekes is gesond gemaak, kreupeles loop, dowes hoor en sondaars word verlos.

In die oë van hierdie wêreld moet jy Christus raaksien (Mattheus 25: 35 – 40). As iemand dors het, as iemand honger of naak of behoeftig is, sê Christus: “Sien my in daardie persoon raak. Want vir sover as julle dit aan een van hierdie geringste broeders gedoen het, het julle dit aan my gedoen.” Behandel dié in nood, soos jy Christus sou behandel het. Ja, wanneer my hart gesond en warm klop vir my medemens, moet dit oorgaan in hande-uitreiking na diegene in nood. Êrens in ’n kerkhof in Europa staan ’n besondere Christusbeeld. ’n Christusbeeld sonder arms. Die arms is beskadig as gevolg van hewige bombardement in die Tweede Wêreldoorlog. Maar op die voetstuk van die beeld staan daar: “Jy is my arms in hierdie wêreld.” Christus sê vandag aan U: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Jy is my verteenwoordiger in die nood van mense.” Jy sien dus, God vra nie: “Hoe lief het jy my?” nie. God sal sien hoe lief jy Hom het, in die manier waarop jy jou naaste in nood help.

Ghandi het eenmaal gesê: “Julle aanbid ’n wonderlike Christus, maar as ek sien hoe selfsugtig julle Christene is, dan wil ek maar liewer nie ’n Christen word nie.” ’n Verskriklike klag teen ons Christene! Ja, ons aanbid ’n wonderlike Christus. Dié Samaritaan met hoofletters het, toe ons gewond op ons lewenspad gelê het, stukkend geslaan deur die sonde, ons wonde versorg en ons genees. Hy het egter ook Sy lewe vir ons afgelê. Hy was en is die groot barmhartige Samaritaan.

Martin Luther King het eenmaal by ’n protesvergadering teen die oorlog in Viëtnam gesê: “Ons moet begin besef dat die hele pad na Jerigo so verander moet word dat mans en vroue en kinders nie voortdurend daarop geslaan en beroof word op hulle pad na die lewe nie. Naastediens beteken nie om maar net ’n muntstuk vir die bedelaar te gooi nie … maar om die huis te verander wat die bedelaar voortgebring het.”

Daarom sê die Formulier vir die bevestiging van diakens, dat die nood verlig moet word, maar dat ook die oorsaak van die nood uit die weg geruim moet word. Daarom is daar die gesegde: “Moenie vir iemand net vis gee nie, leer hom eerder om vis te vang.”

Natuurlik kan armoede ook ontstaan as gevolg van luiheid. Die Bybel spreek dit duidelik uit dat ’n lui mens nie gehelp moet word nie, want hy of sy is verantwoordelik vir hulle eie toestand.

Om vir ’n straatboemelaar geld te gee, is onverantwoordelik, want meestal gaan dit vir drank of dwelmmiddels. Gee eerder vir hulle kos. Vir hulle wat arrogant bedel, moet jy versigtig wees. Jy kan ook nie almal help nie. Kies watter mense jy kan en wil ondersteun met dade van barmhartigheid.

Barmhartigheid gaan ook oor veel meer as om vir iemand kos of geld te gee. Naasteliefde beteken om tyd te maak vir bejaardes, om ’n veragte mens se selfbeeld te help herstel, om siekes op te beur, om vir die moedelose nuwe hoop te gee, om vir die sondaar die Evangelie te bring … en so meer.

Ds. René Potgieter verduidelik mooi: “Sommige dorpe se watervloei werk deur middel van kanaalstelsels. Die kanaal is die weg waarlangs die water vanaf die dam na die inwoners van die dorp vloei, sodat hulle dan met die water hulle tuine kan natlei.  Die kanaalstelsel is ’n interessante sisteem.  Elke erf ontvang ’n leibeurt en wanneer ’n mens klaar is met jou leibeurt, sluit jy die toevloei na jou erf af, sodat die water kan verbyvloei na jou bure toe.  As gelowiges weet ons mos alte goed dat God die kerk gekies het as dié kanaal waardeur Hy sy goedheid, genade, liefde en barmhartigheid by die mense van die wêreld wil uitbring. Nou is die vraag – het God se goedheid, genade en guns by jou gestop, of vloei dit deur na ander?” Gee jy leibeurte ook vir ander mense?

Daarom roep die Here Jesus ons elkeen op met die woorde: “Gaan maak jy net so.” Gaan herstel ander mense se menswaardigheid, want eenmaal het ek op Golgota ook vir jou jou menswaardigheid terug gegee.   

Wie in die liefde aktief betrokke is, ervaar op die pad na Jerigo dat sy/haar lewe nie nutteloos is nie, maar dat dit sin het. Die lewe maak sin as ek weet daar is mense wat my nodig het … en ek kan vir hulle daar wees.

In Handelinge 20:35 staan:“In alles het ek vir julle gewys dat ’n mens deur hard te werk, die swakkes moet help, en die woorde van die Here Jesus moet onthou toe Hy gesê het, ‘Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.’ ” 

Die lewe maak sin as ek die Here Jesus nie net in die erediens aanbid nie, maar ook op straat, op die pad na Jerigo.

Die sin van die lewe is om met betekenis te lewe. Wie met ’n barmhartige hart lewe, sal elke dag sin in die lewe ontdek. As jy net vir jouself lewe, sal die lewe nie sin hê nie. Maar as jy uitwaarts na ander lewe en barmhartigheid betoon, sal jou lewe sinvol en betekenisvol wees. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)