Die geklap van die duif se vlerke


SKRIFLESING: Gen 8:11 en Luk 3:22 en Joh 14:15 – 20

Baie verhale word vertel van die groot Noorweegse ontdekkingsreisiger Roald Amundsen. Hy is die persoon wat die Suidpool ontdek het en ook die magnetiese lengtesirkel van die Noordpool.

Op een van die gevaarlike reise het hy ’n duif saamgeneem. Die eerste ding wat hy gedoen het toe hy sy bestemming bereik, was om die duif los te laat. Sy vrou het weke lank niks van hom gehoor nie. Ongekend was haar vreugde toe sy een oggend by haar venster uitkyk en die duif sien sirkel oor die huis. Sy het uitgehardloop en geroep: “Hy leef! My man leef!”

So werk die Gees – die duif – ook. Jesus het weggegaan hemel toe. Die dissipels sou kon wonder: Is alles nou verby? Is ons alleen? Kom Jesus nooit weer terug nie?

Inteendeel, die Heilige Gees is nou oor ons uitgestort. Hy kom uit die hemel, van die Vader af, en herinner ons telkens daaraan dat Jesus leef.

Elke keer wanneer ons in wanhoop verkeer oor onsself, oor die kerk en oor die wêreld, hoor ons die geklap van die duif se vlerke en word ons getroos – die Here Jesus leef! Die Gees herinner ons dat Jesus nie weg is nie. Inteendeel! Hy is hier. Hy is binne ons. Hy maak alles nuut! Die boodskap van Pinkster is dat die Heilige Gees alles nuut maak.

Ons kan nie nuut maak nie – net God kan. Ons dink ons is besig met grondige vernuwings in ons lewe, maar dit is die blote kosmetiese herrangskikking van die stoele op die Titanic.

Ons sondige natuur kom nie weg van die verlede nie. Ons rangskik maar net bloot ons sondige verlede. Hulle vertel van die jong dogter wat aangekeer is deur die verkeerspolisie. Die bure het gekla sy ry in trurat al om die blok. Die verkeerspolisieman vra haar toe waarom sy so in trurat ry. Sy sê toe skaam dat sy gister, sonder haar ouers se toestemming, die motor geleen het en baie kilometers opgesit het. Sy probeer nou net om die verlore kilometers terug te wen. Sy probeer die verlede te herskep, terug te draai.

Die Bybel praat anders oor God. God maak nuut. God is die Oorspronklike, die Inisieerder, die Nuutmaker.  Hy handel vernuwend, verruimend, verrassend, skeppend, herskeppend, versoenend en verheerlikend.

Toe Noag en sy familie in die ark was met die sondvloed, het Noag ook ’n duif uitgestuur. Die duif het laatmiddag teruggekom. Met die geklap van vlerke het die duif ’n olyfblaar in sy bek gehad, wat die teken was van redding en ’n nuwe begin. So is die geklap van ’n duif se vlerke telkens in die Bybel ’n teken van redding en God se teenwoordigheid.

Met die doop van die Here Jesus het die Heilige Gees in die gedaante van ’n duif op Hom neergedaal. So het die Here Jesus se bediening begin. Dit het begin met die geklap van ’n duif se vlerke. Christus het ’n nuwe begin aangekondig. Die Gees was op Hom om Sy werk op aarde te doen.

God wil altyd nuut maak. Hy het die hemel en aarde geskep uit die oerchaos. Hy het Sy volk Israel verlos uit Egipte, uit die huis van slawerny. Hy het Sy volk tekens uit ballingskap gered. Die Here doen altyd nuwe dinge.

Die uitstorting van die Gees was dramaties: dit het met wind, vuurtonge en die spreek van al die destydse nasies se tale gepaard gegaan. Is die Gees nou op die agtergrond? Nee, die Gees is nog steeds elke dag met ons. Die dramatiese uitstorting van die Gees was eers soos ’n asemrowende waterval. Dieselfde water vloei nou soos ’n magtige rivier in die wêreld. Elke dag hoor ons nog steeds van wonderwerke, gebedsverhoring, genesing, bekerings en geestelike verdieping in die Here. Die Gees werk nog steeds en sal bly by ons. In en deur die Gees is die Here Jesus ook nog steeds by ons.

Kierkegaard het gesê dat ’n mens moet agtertoe kyk en verstaan en vorentoe moet kyk en leef. Ons is egter geneig om agteruit te wil leef. Ons wil in trurat die toekoms binne gaan, terwyl God ons vooruit wil laat gaan.

In Joh 14:8 sê die Here dat Hy ons nie as weeskinders wil agterlaat wanneer Hy die wêreld verlaat nie. Hy gee vir ons die Gees as ons Parakleet, wat vir ons voorspraak by God kan maak. Ons is nie alleen nie, ons het die Gees by ons.

Die volgende mooi verhaal illustreer dit. Daar was ’n swart seuntjie wat in ’n stat in die afgeleë Transkei grootgeword het. Hy het niks geweet van groot plekke nie. Hy het net sy onmiddellike omgewing geken. Op ’n dag word hy ernstig siek en die kliniek verwys hom na ’n groot staatshospitaal in ’n baie groot stad. Sy oupa gaan saam met hom hospitaal toe, aangesien albei sy ouers werk. In die groot hospitaal is alles vir hom skrikwekkend groot en onbekend. Hy is baie bang. Die hospitaal se personeel gee toestemming dat die oupa nog ’n paar ure by hom kan sit. Maar die ure gaan gou verby en die suster sê vir die oupa dat hy nou moet huis toe gaan. Hulle sal hom bel as hy sy kleinseun kan kom haal. Die seuntjie huil toe baie erg en wil nie sy oupa se hand los nie. Die oupa haal toe sy hoed af en gee dit vir sy kleinseun en sê vir hom dat hy elke keer as hy bang is aan die hoed moet vat en onthou sy oupa kom terug. Hy sê toe vir sy kleinseun: “Thula baba, Thula baba.” Die seuntjie raak rustiger en die oupa gaan terug huis toe. In die daaropvolgende dae, het hy elke keer as hy bang word, sy oupa se hoed styf vasgehou. Hy kon sy oupa se  sweetreuk en die tabakreuk elke keer ruik en onthou dat sy oupa belowe het dat hy hom sal kom haal. So het hy vrede en rustigheid gekry deur sy oupa se hoed. Toe hy gesond was, het sy oupa hom kom haal.

Vandag wil die Here ook vir ons kom sê: “Thula baba, Thula baba.” Hy het ons sy Gees gegee om by ons te wees, sodat ons nooit hoef te voel na weeskinders nie. Ons hoef daarom nie bang te wees vir die toekoms nie. Ons kan God ervaar en beleef deur Sy Gees.

Die boodskap van al die kerklike feesdae – soos kersfees, lydenstyd, paasfees, pinkster – is dat God alles wil nuut maak.

Ons troos is dat geen situasie, geen krisis vir God te groot is nie. Jou put is nooit te diep vir God nie. God haal jou daaruit. Daar is geen doodloopstraat dig genoeg nie, God breek daardeur. Geen woestyn kan droog genoeg wees nie. God omskep dit in ’n lushof, ’n paradys, waar riviere ontspring.

God is nie soos ’n groef nie. Hy doen ver bo wat ons kan bid of dink. As ons dink dis die einde van ons werk, ons huisgesin, ons huwelik, ons land, die wêreld, dan bewys die Here Hom groter as ons klein denke oor Hom en min verwagtinge van Hom. Uit die ruïnes van ons mislukkings skep God ’n nuwe kunswerk.

’n Beeldhouer het eenmaal ’n massiewe en kosbare stuk Carrara-marmer probeer omskep in ’n beeld. Dit was ’n mislukking. Daar het die stuk marmer vir 100 jaar gestaan in die agterplaas van ’n katedraal in Florence, Italië. ’n Ander beeldhouer het dit in 1505 ontdek, opgemeet en drie jaar daaraan gebeitel. Dit het geword ’n wonderskone beeld van Dawid, ’n kolos van meer as nege ton. Toe die eerste besoeker dit sien, het hy gesê dat die beeld nog net moet kan praat. As ons stilbly, sal die klippe uitroep oor die wonderdade van God wat alles nuut maak.

Ek gaan iets nuuts doen, sê die Here. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Telkens wanneer ons wanhoop oor onsself, oor die kerk en oor die wêreld, hoor ons die geklap van die duif se vlerke en word ons getroos dat die Here en die Gees by ons is.

Die duif, die Gees, kom uit die hemel, van die Vader, en herinner ons dat Hy leef en alles wil nuutmaak.

Deur die werking van die Gees kan ons ook uitroep: “Hy leef! Onse Heer leef!”

Dan kan ons die vrede en troos van die Here ervaar deur die werking van die Gees.

“Thula baba, Thula baba.”

Ons het die Gees by ons en Hy lewe in ons lewens.

Hoor jy die geklap van die Duif se vlerke?

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Lewer kommentaar