SKRIFLESING: Fil 4: 4 – 9
Oom Fred Every se lewe wil ek gelykstel aan dankbaarheid. Sy hele lewe het van dankbaarheid getuig.

Hy was altyd gou om sy dankbaarheid teenoor iemand uit te spreek. Hy was verseker die beste ambassadeur van Huis Corrie Dreyer, die tuiste waar hy die laaste jare van sy lewe deurgebring het. Hy het altyd gesê die mense besef nie hoe bevoorreg hulle is om in Huis Corrie Dreyer te woon nie. Hy was te alle tye ’n positiewe, opgewekte persoon wat die goeie in alles raakgesien het. Sy lewe laat my aan die volgende verhaal dink:
Op ’n dag het ’n dosent vir sy studente ’n swart kol op ’n groot wit bord geteken. Hy vra toe vir sy studente wat hulle sien. Elke student het ’n antwoord gehad. Elkeen het die swart kol se posisie, grootte en vorm beskryf. Die dosent antwoord toe dat hulle almal verkeerd is. Daar is nie net ’n swart kol op die bord nie. Daar is ’n hele witbord vol wit oppervlakte rondom die swart kol. Hulle het so gekonsentreer op die swart kol, dat hulle die wit oppervlakte misgekyk het.
So kyk ons ook dikwels na die swart kolle in ons lewe en ons sien nie die groot wit oppervlakte van geleenthede en groei raak nie. Die swart kolle kan wees persoonlike probleme, jou omstandighede, jou teleurstellings, jou verliese of jou bekommernisse. Ons konsentreer só daarop dat ons die potensiaal van die lewe miskyk. Ons val vas in die swart kolle van die lewe en ons mis ’n lewe van groei, lewensgeluk en potensiaal. Ons konsentreer so op die negatiewe in die lewe, dat ons die baie positiewe dinge in ons lewe miskyk.
Daar is ’n Halleluja-lied “Tel jou seëninge, tel hul een vir een”. As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.
’n Blymoedige en dankbare mens het baie vriende en skep energie. Maar ’n pessimistiese en ondankbare mens tap ander se energie.
Wat maak of breek ’n huisgesin, ’n maatskappy of ’n gemeente? Mense met ’n voortdurende kwetsende negatiewe ingesteldheid wat net altyd die swart kolletjies op die groot witbord raaksien, maar nooit die groot witbord vol positiewe potensiaal raaksien nie.
Oom Fred Every het die swart kolletjies in sy lewe binne die regte perspektief geplaas, deur altyd eerder te konsentreer op die positiewe dinge en die groot wit oppervlakte van potensiaal en groei raak te sien.
Die Heidelbergse Kategismus bestaan uit drie dele naamlik:
- Hoe groot my SONDE is.
- Hoe ek van my sonde VERLOS word.
- Hoe ek DANKBAARHEID moet bewys vir my verlossing.
Oom Fred het hierdie derde deel van die Kategismus goed verstaan. DANKBAARHEID vorm dan ook die grootste deel van die Kategismus.
Ons ken die verhaal van die tien melaatses in die Bybel baie goed. Die Here Jesus het al tien gesond gemaak, maar net een het teruggekom om vir Hom dankie te sê. Dit is ook verteenwoordigend van die mensdom. Net ’n klein persentasie mense kom terug om DANKIE te sê, nadat hulle van die Here of van ander mense iets ontvang het. Werklike opregte dankbare mense is skaars in hierdie lewe. Oom Fred Every was een van daardie skaars opregte mense wat dankbaarheid gepraat en geleef het.
Positiewe mense skep dankbaarheid, vergenoegdheid, deernis, empatie, vriendelikheid, gasvryheid, vergewensgesindheid, liefde en al die ander gawes van die Gees. Juis daarom moet ons leer om dankbaar te wees, onder alle omstandighede. Dankbaarheid is alleen moontlik wanneer ek, soos Paulus in Fil 4: 4 – 9 my gedagtes instel op alles wat reg en mooi en prysenswaardig is. Om dankie te sê, verander ’n mens se lewe. Dit draai die fokus weg van jouself, weg van jou eie behoeftes en eise en maak van jou ’n mens wat eerder wil gee as om te ontvang. So ’n mens was Oom Fred Every.
Oom Fred Every het altyd die voëltjies buite sy kamervenster kos gegee, deur vir hulle brood of voëlsaad te gee. Dit was vir hom ’n plesier om vreugde te vind in die gee van kos vir die voëltjies. Maar dan mors die voëljies so buite sy kamervenster en dan kry Oom Fred raas! Maar om goed te doen aan ander was deel van Sy persoonlikheid.
Oom Fred het sy lewe lank met mense gewerk. Hy het vir meer as 30 jaar versekering verkoop vir Old Mutual. Toe hy afgetree het, was hy ook ’n paar jaar ’n veespekulant. Hy het mense geken en geweet hoe om met mense te werk. Hy was lief vir boere. Hy het immers as ’n boerseun op die plaas Donkerhoek in die Hanover-distrik grootgeword. Voor hy vir Old Mutual begin werk het, het hy ook sy Springbokkop in wol-klas gekry en vir ’n lang tyd wol geklas, onder andere ook in die Adelaide-distrik.
Sy liefde vir rugby was vir hom ’n passie. Hy het meer as vyftien jaar as rugby keurder en ook op die bestuur van die NOK gedien. Hy en Boetie Malan van Adelaide was saam op die NOK-bestuur.
Die geestelike dinge was ook vir Oom Fred belangrik. Hy was vir baie jare ook ouderling in die Metodiste Kerk en het dié werk met oorgawe gedoen.
Oom Fred het ook verlies ervaar. Sy een seun, Edward, was ’n vegvlieënier en is in 1988 afgeskiet in Angola. Sy geliefde vrou Dulcie het in 1991 gesterf. In 2017 verloor hy ook sy dogter Meryl aan die dood. ’n Ouer is nie gemaak om ’n kind te begrawe nie. Desnieteenstaande het Oom Fred opgestaan en nie vir God kwalik geneem nie. Hy het sy geloof en dankbaarheid behou.
Oom Fred het 95 jaar oud geword. Dit is ’n hoë ouderdom. Hy het amper tot aan die einde oor goeie gesondheid beskik. Dit was maar die laaste drie maande wat hy skielik baie swak en sieklik geword het. Hy het ’n voltooide lewe gehad. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is maar 70 jaar. Alles daarna is genade-jare. Oom Fred het ’n kwarteeu van genade-jare beleef. Oom Fred het al sy tydgenote oorleef. Hy was geseënd met ’n lang en vervulde lewe. Hy het gesterf met ’n goeie naam en karakter. Oom Fred was iemand uit een stuk.
In ’n troosdiens of ’n gedenkdiens praat ons baie oor die oorledene. Ons is hartseer en treur. Maar eintlik gaan ’n troosdiens tog daaroor om mekaar te troos. Oom Fred het ’n vol en begenadigde lewe gehad. Hy is nou by die Here. Hy is op ’n beter plek. Ons moenie oor Oom Fred huil nie, maar oor mekaar wat ’n geliefde verloor het. ’n Troosdiens is daarvoor bedoel dat ons mekaar troos en ondersteun. Daarom lê daar ook baie terapie in die agterna-koffie drink en verversings geniet en in die saamgesels.
’n Dankbare mens is ook ’n godsdienstige mens. So ’n mens soek die Here en Sy erediens op. Oom Fred was een van die getrouste kerkgangers in Huis Corrie Dreyer. Hy het Sondae die kerk getrou gevolg in die sitkamer en ook die Woensdagoggende se biduur gereeld bygewoon. Ek het altyd vir hom gevra om met ’n gebed af te sluit. Sy gebede het ook van opregte dankbaarheid getuig.
Hy was bitter lief vir sy kinders, sy skoonkinders, kleinkinders en agterkleinkinders.
Fred en Sandra, julle het ’n wonderlike pa gehad. Die kleinkinders Beverly, Charlene, Fredrick en Donné, mag julle die wonderlike herinneringe van Oupa Fred koester. Mag julle ook vir die agterkleinkinders vertel van hulle oupagrootjie. Dit is nou Ashley, Kaylee, Rachael, William en Chané. Mag hy voortleef in julle kinders en kleinkinders se herinneringe aan hom.
Mag julle ook elke dag dankbare mense wees, na die voorbeeld van Oom Fred Every.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
