SKRIFLESING: Spreuke 16: 32, 1 Kor 13: 4 – 7 en Eksodus 32: 1 – 14
Gregorius die Grote het nie geskroom om geduld “die wortel en bewaarder van al die deugde” te noem nie. Nilius praat van geduld as die “koningin van alle deugde.”
Tog is ons so ongeduldig met mekaar en met God. Die moderne mens en die moderne Christen het vandag ’n groot gebrek aan geduld. Ons lewe in die eeu van kitskoffie, kitskos, rekenaars en selfone. Alles word vinniger. Niemand wil wag nie. Ek wil dit hê en ek wil dit vandag hê. Jongmense wil nie onder begin nie. Nee, hulle wil begin daar waar dit hulle ouers twintig jaar gekos het om te kom.
Ons is op die pad ongeduldig met mekaar.

Wanneer die staal en glas van die motorkajuit ons toevou, verloor ons heeltemal ons geduld met die ander mense op die pad. Daarom kom padwoede so dikwels voor. In die huwelik en die gesin verloor mense geduld met mekaar. Die moderne mens het vandag min geduld met die siekes, oues van dae, gestremdes en hulle wat uitgesak het in die samelewing. Wanneer die samelewing nie geriewe skep vir bejaardes en vir gestremdes nie, is dit maar net ’n teken van ongeduld wat die gemeenskap met die swakkeres het.
Ek onthou ’n persoonlike insident toe my pa gekluister was aan ’n rolstoel en net stadig kon beweeg. Hy was op die parkeerarea van ’n groot winkelsentrum. Een man het sy geduld verloor omdat my pa so stadig is en op my pa geskree: “Ouman, jy hoort in die Ouetehuis, nie hier nie.” Dit was kwetsende woorde vir my pa en vir my. Die man moet onthou dat hy ook eendag oud gaan word.

Ons is veral ook ongeduldig met God. As ons bid, moet God ons dadelik antwoord en op óns voorwaardes. Ons het verleer om te wag op God. Soos die boer wat gebid het vir reën en toe die reën nie kom nie, sluit hy sy plaashek en gee die sleutel vir die bankbestuurder. Maar eers het hy ’n bordjie opgehang by sy plaashek met die woorde: “God is dood.”
Mense is selfs ongeduldig met hulself. Mense kan hulself nie aanvaar nie. Mense is ongeduldig met hulle voorkoms en hulle besittings. Mense wil altyd beter en hoër. Mense wil beïndruk, omdat hulle ten diepste met hulself ongeduldig is. Ongeduldige mense is gefrustreerde en ongelukkige mense. Wanneer ons so ongeduldig is met mekaar, met God en met onsself is dit ’n simptoom van ons vervreemding van God se Gees. In die preek gaan ons na die volgende twee sake kyk.
- Die geduld wat God betoon
Een van God se eienskappe is juis dat Hy lankmoedig en vol geduld is. Dwarsdeur die Ou Testament lees ons hoedat God ongelooflike medelye en lankmoedigheid teenoor Sy volk Israel openbaar. Herhaaldelik sondig Israel, maar telkens openbaar God Sy liefde en sy lankmoedigheid. Israel is soos ’n neulende vrou wat oor alles mor en kla. Israel is soos ’n ontugtige vrou wat in die bed van al wat ’n afgod is, klim. Israel maak God seer. Menige man sal so ’n vrou los. Maar God bly getrou aan Israel, al word Israel ontrou. Hy sluit selfs ’n onpartydige verbond met Israel juis omdat Hy so lankmoedig is.
Juis in God se liefde vir sondaars lees ons van sy lankmoedigheid teenoor sondaars. Wanneer Hy Sy enigste Seun Jesus Christus stuur, toon Hy aan ons juis sy eindelose geduld met ons. Stukkende goed word deur ons weggegooi. Ons wil nie daarmee sukkel nie. Maar nee, God gooi nie stukkende mense en ’n stukkende wêreld weg nie. Hy is juis die Pottebakker wat die klei wat ineengestort het op die pottebakkerswiel weer knie en oor begin om ’n nuwe voorwerp te maak. God maak stukkende mense se lewens reg, omdat Hy geduldig is.
2. Die geduld wat ons moet betoon:
- Geduld teenoor God
God spring nie rond om elke dag onmiddellik al ons gebede en versoeke te beantwoord nie. God sien wyer en verder as ons. (Wanneer die grondmagte van ’n land se weermag ’n sekere teiken wil aanval, maar die lugmag die grondmagte waarsku om eers te wag, sal die grondmagte dom wees as hulle die teiken aanval. Die lugmag kan immers die omgewing verder met hulle radar raaksien,)
Net so kan God verder sien wat vir ons heil nodig is, want Hy is immers alwetend en alsiende. Daarom moet ons geduldig op God wag en ook geduldig wees as God se antwoorde anders is as wat ons verwag.
Ons moet geduldig op God se wederkoms wag. Die volk Israel se ongeduld toe Moses te lank met God op die berg Sinaï vertoef en hulle begeerte na ’n nuwe god wat hulle kan lei in Eksodus 20, is ’n goeie voorbeeld van die gelowige se ongeduld met ’n talmende God. In plaas van op Moses te wag, bou hulle toe eerder vir hulle ’n goue kalf.

As God talmend sy wederkoms uitstel, is dit alleen maar omdat Hy nog besig is om sy volle getal uitverkorenes in te samel. As God 100 jaar gelede gekom het, was nog nie een van ons gebore nie. Nee, God het eers nog vir ons gewag en so wag Hy totdat die Heilige Gees se werk op die aarde voltooi is. Dan sal Hy kom. Intussen moet ons geduldig wag en nie vir ons soos die volk Israel ander gode bou nie. Vir God is ’n duisend jaar soos een dag en een dag soos ’n duisend jaar.
- Geduld teenoor ons medemens
As God soveel geduld met ons het, moet ons nie ook ’n bietjie meer geduld vir mekaar oorhê nie? Ja, ons moet geduldig wees met mekaar se foute en mekaar nie sommer afkraak nie. Soos wat God my elke dag verander om al meer aan Sy beeld gelyk te word, moet ek God toelaat om ook ander mense te verander, om al meer gelyk te word aan God se beeld. Ons almal is onder konstruksie by God. Juis daarom moet ons geduldig met mekaar wees.
Ek moet leer om geduldig te wees met my lewensmaat, met my kinders, met my ouers se foute, met my kollegas, met my naaste in die ander motorvoertuig en so gaan die lysie aan. Wanneer ons ongeduldig met mekaar raak, kwets ons ander mense met ons woorde of ons lyftaal. Dit is die seerste seer wat ek ’n ander mens kan aandoen.

As samelewing sal ons ook moet leer om meer geduld te hê met bejaardes en kinders, gestremdes en armes. Geduld is om uit te reik na bejaardes en om geriewe vir gestremdes te bou wat hul wêreld geriefliker maak.
- Geduld te midde van ontberinge
Deel van hierdie gebroke werklikheid is die gebrokenheid van mense se lewens. Ons lewe in ’n wêreld van kanker, padsterftes, droogtes, oorstromings, aardbewinge, egskeiding, mishandeling van vroue en kinders, oorlog, terreur, geweld, stakings, gewapende rooftogte, onderdrukking en ongeregtigheid.
Ons sug elke dag daaroor. God sug ook elke dag daaroor. Ons kry swaar. God kry saam met ons swaar. Geduld is om volhardend uit te hou en te weet daar kom ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde, waarop daar geen trane meer sal wees nie. (Soos ’n atleet wat ’n moordende Comrades hardloop. Aan die einde wag die vreugde en die rus.) Geduld is om in die swaar van elke dag, nog die goeie en mooi dinge raak te sien. (Soos die atleet hardloop, kom hy agter daar is mense langs die pad wat hom aanmoedig.) Geduld is om God te loof vir sy goedheid wat elke dag aan ons betoon word.
- Geduld met jouself
Dit is miskien die swaarste, naamlik om geduldig met jouself te wees.

Daar is baie mense wat na ’n traumatiese ervaring, irrasionele skuldgevoelens beleef. Hulle dra skuld wat nie hulle skuld is nie. Daarom moet ’n mens sagter met jouself omgaan en ook meer geduldig met jouself wees.
Jy moet geduldig wees met jou voorkoms, jou liggaam, talente, gebreke, tekortkominge en menswees. Jy is uniek en besonders vir God. Juis daarom moet jy geduldig wees met jouself. Wees ook geduldig met jouself as jy foute maak. Leer uit jou foute en beweeg aan in die lewe.
Wees geduldig en dankbaar vir jou besittings en moenie ’n ander persoon se goed begeer nie. Moenie probeer om soos die volgende mens te wees nie. Jou erfdeel is vir jou afgemeet. Wees dankbaar daarvoor.
- Geduld met die doen van die goeie
Ons moet met geduldige volharding die kwaad vermy en die goeie doen. Ons moet elke dag daarna streef om suiwer en opreg voor God en ons medemens te leef. Soos wat ek probeer om ’n nuwe pak klere of ’n nuwe rok skoon te hou, so moet ek my nuwe lewe in Christus skoon probeer hou van die smet van die wêreld. Ons pas ons motors op om skrapies te keer en ons klere om vuil kolle te vermy, maar ons gaan woel so maklik in die moddersondes van hierdie wêreld rond met die nuwe lewe wat Jesus Christus vir ons gegee het.
Ten slotte: Die deug van geduld word onder leiding van die Gees ingeoefen. Daarom, wie in die Gees van God wandel, sal ook hierdie deug van geduld as ’n gawe ontvang uit die hand van God. Hy of sy sal ook uitvind dat geduld “die wortel en bewaarder van al die ander deugde is”. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
