Die geklap van die duif se vlerke

SKRIFLESING: Gen 8:11 en Luk 3:22 en Joh 14:15 – 20

Baie verhale word vertel van die groot Noorweegse ontdekkingsreisiger Roald Amundsen. Hy is die persoon wat die Suidpool ontdek het en ook die magnetiese lengtesirkel van die Noordpool.

Op een van die gevaarlike reise het hy ’n duif saamgeneem. Die eerste ding wat hy gedoen het toe hy sy bestemming bereik, was om die duif los te laat. Sy vrou het weke lank niks van hom gehoor nie. Ongekend was haar vreugde toe sy een oggend by haar venster uitkyk en die duif sien sirkel oor die huis. Sy het uitgehardloop en geroep: “Hy leef! My man leef!”

So werk die Gees – die duif – ook. Jesus het weggegaan hemel toe. Die dissipels sou kon wonder: Is alles nou verby? Is ons alleen? Kom Jesus nooit weer terug nie?

Inteendeel, die Heilige Gees is nou oor ons uitgestort. Hy kom uit die hemel, van die Vader af, en herinner ons telkens daaraan dat Jesus leef.

Elke keer wanneer ons in wanhoop verkeer oor onsself, oor die kerk en oor die wêreld, hoor ons die geklap van die duif se vlerke en word ons getroos – die Here Jesus leef! Die Gees herinner ons dat Jesus nie weg is nie. Inteendeel! Hy is hier. Hy is binne ons. Hy maak alles nuut! Die boodskap van Pinkster is dat die Heilige Gees alles nuut maak.

Ons kan nie nuut maak nie – net God kan. Ons dink ons is besig met grondige vernuwings in ons lewe, maar dit is die blote kosmetiese herrangskikking van die stoele op die Titanic.

Ons sondige natuur kom nie weg van die verlede nie. Ons rangskik maar net bloot ons sondige verlede. Hulle vertel van die jong dogter wat aangekeer is deur die verkeerspolisie. Die bure het gekla sy ry in trurat al om die blok. Die verkeerspolisieman vra haar toe waarom sy so in trurat ry. Sy sê toe skaam dat sy gister, sonder haar ouers se toestemming, die motor geleen het en baie kilometers opgesit het. Sy probeer nou net om die verlore kilometers terug te wen. Sy probeer die verlede te herskep, terug te draai.

Die Bybel praat anders oor God. God maak nuut. God is die Oorspronklike, die Inisieerder, die Nuutmaker.  Hy handel vernuwend, verruimend, verrassend, skeppend, herskeppend, versoenend en verheerlikend.

Toe Noag en sy familie in die ark was met die sondvloed, het Noag ook ’n duif uitgestuur. Die duif het laatmiddag teruggekom. Met die geklap van vlerke het die duif ’n olyfblaar in sy bek gehad, wat die teken was van redding en ’n nuwe begin. So is die geklap van ’n duif se vlerke telkens in die Bybel ’n teken van redding en God se teenwoordigheid.

Met die doop van die Here Jesus het die Heilige Gees in die gedaante van ’n duif op Hom neergedaal. So het die Here Jesus se bediening begin. Dit het begin met die geklap van ’n duif se vlerke. Christus het ’n nuwe begin aangekondig. Die Gees was op Hom om Sy werk op aarde te doen.

God wil altyd nuut maak. Hy het die hemel en aarde geskep uit die oerchaos. Hy het Sy volk Israel verlos uit Egipte, uit die huis van slawerny. Hy het Sy volk tekens uit ballingskap gered. Die Here doen altyd nuwe dinge.

Die uitstorting van die Gees was dramaties: dit het met wind, vuurtonge en die spreek van al die destydse nasies se tale gepaard gegaan. Is die Gees nou op die agtergrond? Nee, die Gees is nog steeds elke dag met ons. Die dramatiese uitstorting van die Gees was eers soos ’n asemrowende waterval. Dieselfde water vloei nou soos ’n magtige rivier in die wêreld. Elke dag hoor ons nog steeds van wonderwerke, gebedsverhoring, genesing, bekerings en geestelike verdieping in die Here. Die Gees werk nog steeds en sal bly by ons. In en deur die Gees is die Here Jesus ook nog steeds by ons.

Kierkegaard het gesê dat ’n mens moet agtertoe kyk en verstaan en vorentoe moet kyk en leef. Ons is egter geneig om agteruit te wil leef. Ons wil in trurat die toekoms binne gaan, terwyl God ons vooruit wil laat gaan.

In Joh 14:8 sê die Here dat Hy ons nie as weeskinders wil agterlaat wanneer Hy die wêreld verlaat nie. Hy gee vir ons die Gees as ons Parakleet, wat vir ons voorspraak by God kan maak. Ons is nie alleen nie, ons het die Gees by ons.

Die volgende mooi verhaal illustreer dit. Daar was ’n swart seuntjie wat in ’n stat in die afgeleë Transkei grootgeword het. Hy het niks geweet van groot plekke nie. Hy het net sy onmiddellike omgewing geken. Op ’n dag word hy ernstig siek en die kliniek verwys hom na ’n groot staatshospitaal in ’n baie groot stad. Sy oupa gaan saam met hom hospitaal toe, aangesien albei sy ouers werk. In die groot hospitaal is alles vir hom skrikwekkend groot en onbekend. Hy is baie bang. Die hospitaal se personeel gee toestemming dat die oupa nog ’n paar ure by hom kan sit. Maar die ure gaan gou verby en die suster sê vir die oupa dat hy nou moet huis toe gaan. Hulle sal hom bel as hy sy kleinseun kan kom haal. Die seuntjie huil toe baie erg en wil nie sy oupa se hand los nie. Die oupa haal toe sy hoed af en gee dit vir sy kleinseun en sê vir hom dat hy elke keer as hy bang is aan die hoed moet vat en onthou sy oupa kom terug. Hy sê toe vir sy kleinseun: “Thula baba, Thula baba.” Die seuntjie raak rustiger en die oupa gaan terug huis toe. In die daaropvolgende dae, het hy elke keer as hy bang word, sy oupa se hoed styf vasgehou. Hy kon sy oupa se  sweetreuk en die tabakreuk elke keer ruik en onthou dat sy oupa belowe het dat hy hom sal kom haal. So het hy vrede en rustigheid gekry deur sy oupa se hoed. Toe hy gesond was, het sy oupa hom kom haal.

Vandag wil die Here ook vir ons kom sê: “Thula baba, Thula baba.” Hy het ons sy Gees gegee om by ons te wees, sodat ons nooit hoef te voel na weeskinders nie. Ons hoef daarom nie bang te wees vir die toekoms nie. Ons kan God ervaar en beleef deur Sy Gees.

Die boodskap van al die kerklike feesdae – soos kersfees, lydenstyd, paasfees, pinkster – is dat God alles wil nuut maak.

Ons troos is dat geen situasie, geen krisis vir God te groot is nie. Jou put is nooit te diep vir God nie. God haal jou daaruit. Daar is geen doodloopstraat dig genoeg nie, God breek daardeur. Geen woestyn kan droog genoeg wees nie. God omskep dit in ’n lushof, ’n paradys, waar riviere ontspring.

God is nie soos ’n groef nie. Hy doen ver bo wat ons kan bid of dink. As ons dink dis die einde van ons werk, ons huisgesin, ons huwelik, ons land, die wêreld, dan bewys die Here Hom groter as ons klein denke oor Hom en min verwagtinge van Hom. Uit die ruïnes van ons mislukkings skep God ’n nuwe kunswerk.

’n Beeldhouer het eenmaal ’n massiewe en kosbare stuk Carrara-marmer probeer omskep in ’n beeld. Dit was ’n mislukking. Daar het die stuk marmer vir 100 jaar gestaan in die agterplaas van ’n katedraal in Florence, Italië. ’n Ander beeldhouer het dit in 1505 ontdek, opgemeet en drie jaar daaraan gebeitel. Dit het geword ’n wonderskone beeld van Dawid, ’n kolos van meer as nege ton. Toe die eerste besoeker dit sien, het hy gesê dat die beeld nog net moet kan praat. As ons stilbly, sal die klippe uitroep oor die wonderdade van God wat alles nuut maak.

Ek gaan iets nuuts doen, sê die Here. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Telkens wanneer ons wanhoop oor onsself, oor die kerk en oor die wêreld, hoor ons die geklap van die duif se vlerke en word ons getroos dat die Here en die Gees by ons is.

Die duif, die Gees, kom uit die hemel, van die Vader, en herinner ons dat Hy leef en alles wil nuutmaak.

Deur die werking van die Gees kan ons ook uitroep: “Hy leef! Onse Heer leef!”

Dan kan ons die vrede en troos van die Here ervaar deur die werking van die Gees.

“Thula baba, Thula baba.”

Ons het die Gees by ons en Hy lewe in ons lewens.

Hoor jy die geklap van die Duif se vlerke?

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Barmhartigheid is die hart van God

SKRIFLESING: Mat 5: 7 en Mat 23:23 en Mat 25: 31 – 46

Die beste nuus wat ’n mens ooit oor God kan hoor, is dat God nie ’n masjien of ’n beginsel is nie, maar ’n Persoon. Iemand met ’n hart – ’n hart wat kan voel, wat omgee, wat liefhet en wat kan vergewe.

Maar wat sou u dink is die beste nuus wat God ooit oor ’n mens sou kon hoor? Dit, naamlik dat die mens ’n hart vir sy medemens gekry het, ’n hart wat soos God s’n regtig kan omgee en voel en liefhê. Ons is tog immers gemaak na die beeld van God.

Maar wat is barmhartigheid presies? Dit kan in drie woorde saamgevat word, naamlik: mildheid, ontferming en vergewing.

Barmhartigheid begin by mildheid. Dit beteken dat ons oop en ruimhartig is teenoor ander. Dat ons sal onthou dat ons nie die enigste mense op die aarde is nie. Daar is ook ander mense vir wie ek moet ruimte maak. Barmhartigheid beteken ook ontferming, met ander woorde dat ek bereid sal wees om betrokke te raak as God my nodig het. Dit is om te buig na my medemens en in die nood van die wêreld te help. Barmhartigheid beteken ook vergewing. Hier gaan dit oor die vraag wat my te doen staan as my naaste lelik, sleg, vyandig en onaangenaam is? As iemand in nood ’n slagoffer van omstandighede was, dan is dit in ’n sekere sin nie moeilik om so iemand te help nie. Maar as mense teenoor my lelik was, dan droog barmhartigheid en vergewing gou op. God is egter anders. Vir Hom is vergewing nog altyd deel van barmhartigheid.

Die vyfde saligspreking herinner ons daaraan dat dit in die Evangelie gaan oor mense. Jesus Christus het Sy lewe gegee omdat Hy vir die wêreld omgee. Hy verwag van Sy volgelinge dat hulle ook bereid sal wees om dit te doen. Ons kan so dikwels in ons godsdiens vasval in reëls en “moets en moenies”. Martin Luther het in sy beroemde geskrif oor die vryheid van die Christenmens dit so raak en duidelik gestel, dat ’n gelowige vry is van reëls en wette, maar nooit vry van die naaste nie. (Die Christendom is anders as al die ander godsdienste, in die sin dat dit hier nie gaan om reëls nie, maar om mense.)

Maar oor watter mense gaan dit? Wie is my naaste? Mat 25: 31 – 46 gee vir ons ’n beskrywing van ons naaste in die nood. Dit gaan iemand wees wat honger is, wat siek is, what sonder klere is of iemand in die gevangenis. Hulle is as’t ware “Christus” wat self aan ons deur kom klop.

Jou “naaste” beteken nie slegs jou familie en vriende nie. Dit beteken die persoon wat op ’n spesifieke oomblik en plek in jou teenwoordigheid is. Daarom is jou “naaste”, telkens op ’n spesifieke dag, enige ander mens of mense. Jou naaste verander gedurig. Jou naaste is diegene wat in jou direkte teenwoordigheid kom.

Jou naaste is ook jou vyande. Lees ’n bietjie wat sê Jesus in Mat 5: 43 en verder in verband met ons hantering van ons vyande. Om barmhartigheid teenoor jou vyande te betoon, is seker die heel moeilikste wat die Here van ’n mens kan vra.

Iemand het eenkeer gesê: “As jy in God glo en jou vriende liefhet, dan is jy ’n godsdienstige mens, as jy in God glo en ook jou vyande liefhet, dan eers is jy ’n Christen!”

Toe die Here aan ons barmhartigheid bewys het, het Hy nie “vriende” gehelp nie. Paulus sê dat Christus sy lewe vir ons gegee het, terwyl ons nog vyande van God was (Rom 5: 6 – 10). God moes ons ook eers vergewe voordat Hy van nuuts af met ons kon saamleef.

Barmhartigheid is nie ’n luukse of “ekstra” wat die geloof betref nie. Wie nie barmhartigheid wil wees nie, verstaan nie die hart van God nie. Dit is wat die Here Jesus Christus teen die Fariseërs gehad het. Terwyl hulle stip en noukeurig op die minder belangrike sake gelet het, het hulle dit wat volgens God die swaarste weeg, naamlik die geregtigheid, die barmhartigheid en die trou (Mat 23:23) agterweë gelaat. Om barmhartigheid na te laat, is om die hart van die Christendom uit te skeur. Wat dan oorbly is nuttelose religie.

Moeder Teresa van Calcutta het in ’n televisie-onderhoud  gesê dat mense honger is vir verskillende goed in die lewe. Sy het ook verwys na ’n arm dogtertjie wat te bang was om haar stukkie brood te eet, wetende dat sy daarna weer niks gaan hê om te eet nie. Daarom het sy dit krummel vir krummel  geëet, bang dit raak weer op.   

Vader Kestell het in die Anglo-Boereoorlog vir Boer en vyand gehelp. Toe hy na ’n veldslag ’n Engelse soldaat gehelp het, het die man vir Vader Kestell gesê dat hy sy beste preek gelewer het.

Jesus Christus was en is die groot Barmhartige. Hy het uitgereik na siekes, melaatses, randfigure, tollenaars, kinders, prostitute, die hongeres, die owerspelige vrou, die Samaritaanse vrou by die put van Sigar, na vroue, die ongehoorsame dissipels, na sondaars en almal wat Sy pad gekruis het.

Ons moet ook barmhartigheid teenoor die natuur beoefen. Die natuur is onder geweldige stres as gevolg van besoedeling en aardverwarming. Daarom moet ons ook teenoor die natuur en die ekologie baie barmhartig optree en probeer om die natuur te herstel, sodat dit weer gesond kan word.

Ek sluit af met die ware verhaal uit die kinderdae van ds. Walther Lüthi wat appels wou afpluk, maar toe is sy arms te kort. Die appelboom was egter op die buurman se erf. Die buurman het hom gesien, maar was nie kwaad vir hom nie. Hy het vir Walther appels afgepluk tot hy later te veel gehad het. Toe hy wou begin keer, sê die buurman: “Kom, ek gee vir jou regtig genoeg, sodat jy jou trommeldik kan eet en daar nog oorbly vir jou broers en susters ook …”

So werk barmhartigheid ook. God gee vir ons in oormaat genade sodat ons ook vir ons broers en susters kan gee.                                             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort )  

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

Dankbaarheid is die regte manier van leef

SKRIFLESING: Fil 4: 4 – 9

Oom Fred Every se lewe wil ek gelykstel aan dankbaarheid. Sy hele lewe het van dankbaarheid getuig.

Hy was altyd gou om sy dankbaarheid teenoor iemand uit te spreek. Hy was verseker die beste ambassadeur van Huis Corrie Dreyer, die tuiste waar hy die laaste jare van sy lewe deurgebring het. Hy het altyd gesê die mense besef nie hoe bevoorreg hulle is om in Huis Corrie Dreyer te woon nie. Hy was te alle tye ’n positiewe, opgewekte persoon wat die goeie in alles raakgesien het. Sy lewe laat my aan die volgende verhaal dink:

Op ’n dag het ’n dosent vir sy studente ’n swart kol op ’n groot wit bord geteken. Hy vra toe vir sy studente wat hulle sien. Elke student het ’n antwoord gehad. Elkeen het die swart kol se posisie, grootte en vorm beskryf. Die dosent antwoord toe dat hulle almal verkeerd is. Daar is nie net ’n swart kol op die bord nie. Daar is ’n hele witbord vol wit oppervlakte rondom die  swart kol. Hulle het so gekonsentreer op die swart kol, dat hulle die wit oppervlakte misgekyk het.

So  kyk ons ook dikwels na die swart kolle in ons lewe en ons sien nie die groot wit oppervlakte van geleenthede en groei raak nie. Die swart kolle kan wees persoonlike probleme, jou omstandighede, jou teleurstellings, jou verliese of jou bekommernisse. Ons konsentreer só daarop dat ons die potensiaal van die lewe miskyk. Ons val vas in die swart kolle van die lewe en ons mis ’n lewe van groei, lewensgeluk en potensiaal. Ons konsentreer so op die negatiewe in die lewe, dat ons die baie positiewe dinge in ons lewe miskyk.

Daar is ’n Halleluja-lied “Tel jou seëninge, tel hul een vir een”. As dit jou lewensmotto is, kan jy nie anders as om gelukkig te wees nie.

’n Blymoedige en dankbare mens het baie vriende en skep energie. Maar ’n pessimistiese en ondankbare mens tap ander se energie.

Wat maak of breek ’n huisgesin, ’n maatskappy of ’n gemeente? Mense met ’n voortdurende kwetsende negatiewe ingesteldheid wat net altyd die swart kolletjies op die groot witbord raaksien, maar nooit die groot witbord vol positiewe potensiaal raaksien nie.

Oom Fred Every het die swart kolletjies in sy lewe binne die regte perspektief geplaas, deur altyd eerder te konsentreer op die positiewe dinge en die groot wit oppervlakte van potensiaal en groei raak te sien.

Die Heidelbergse Kategismus bestaan uit drie dele naamlik:

  • Hoe groot my SONDE is.
  • Hoe ek van my sonde VERLOS word.
  • Hoe ek DANKBAARHEID moet bewys vir my verlossing.

Oom Fred het hierdie derde deel van die Kategismus goed verstaan. DANKBAARHEID vorm dan ook die grootste deel van die Kategismus.

Ons ken die verhaal van die tien melaatses in die Bybel baie goed. Die Here Jesus het al tien gesond gemaak, maar net een het teruggekom om vir Hom dankie te sê. Dit is ook verteenwoordigend van die mensdom. Net ’n klein persentasie mense kom terug om DANKIE te sê, nadat hulle van die Here of van ander mense iets ontvang het. Werklike opregte dankbare mense is skaars in hierdie lewe. Oom Fred Every was een van daardie skaars opregte mense wat dankbaarheid gepraat en geleef het.

Positiewe mense skep dankbaarheid, vergenoegdheid, deernis, empatie, vriendelikheid, gasvryheid, vergewensgesindheid, liefde en al die ander gawes van die Gees. Juis daarom moet ons leer om dankbaar te wees, onder alle omstandighede. Dankbaarheid is alleen moontlik wanneer ek, soos Paulus in Fil 4: 4 – 9 my gedagtes instel op alles wat reg en mooi en prysenswaardig is. Om dankie te sê, verander ’n mens se lewe. Dit draai die fokus weg van jouself, weg van jou eie behoeftes en eise en maak van jou ’n mens wat eerder wil gee as om te ontvang. So ’n mens was Oom Fred Every.

Oom Fred Every het altyd die voëltjies buite sy kamervenster kos gegee, deur vir hulle brood of voëlsaad te gee. Dit was vir hom ’n plesier om vreugde te vind in die gee van kos vir die voëltjies. Maar dan mors die voëljies so buite sy kamervenster en dan kry Oom Fred raas! Maar om goed te doen aan ander was deel van Sy persoonlikheid.

Oom Fred het sy lewe lank met mense gewerk. Hy het vir meer as 30 jaar versekering verkoop vir Old Mutual. Toe hy afgetree het, was hy ook ’n paar jaar ’n veespekulant. Hy het mense geken en geweet hoe om met mense te werk. Hy was lief vir boere. Hy het immers as ’n boerseun op die plaas Donkerhoek in die Hanover-distrik grootgeword. Voor hy vir Old Mutual begin werk het, het hy ook sy Springbokkop in wol-klas gekry en vir ’n lang tyd wol geklas, onder andere ook in die Adelaide-distrik.

Sy liefde vir rugby was vir hom ’n passie. Hy het meer as vyftien jaar as rugby keurder en ook op die bestuur van die NOK gedien. Hy en Boetie Malan van Adelaide was saam op die NOK-bestuur.

Die geestelike dinge was ook vir Oom Fred belangrik. Hy was vir baie jare ook ouderling in die Metodiste Kerk en het dié werk met oorgawe gedoen.  

Oom Fred het ook verlies ervaar.  Sy een seun, Edward, was ’n vegvlieënier en is in 1988 afgeskiet in Angola. Sy geliefde vrou Dulcie het in 1991 gesterf. In 2017 verloor hy ook sy dogter Meryl aan die dood. ’n Ouer is nie gemaak om ’n kind te begrawe nie. Desnieteenstaande het Oom Fred opgestaan en nie vir God kwalik geneem nie. Hy het sy geloof en dankbaarheid behou.

Oom Fred het 95 jaar oud geword. Dit is ’n hoë ouderdom. Hy het amper tot aan die einde oor goeie gesondheid beskik.  Dit was maar die laaste drie maande wat hy skielik baie swak en sieklik geword het. Hy het ’n voltooide lewe gehad. Die Bybel sê ’n mens se lewensjare is maar 70 jaar. Alles daarna is genade-jare. Oom Fred het ’n kwarteeu van genade-jare beleef. Oom Fred het al sy tydgenote oorleef. Hy was geseënd met ’n lang en vervulde lewe. Hy het gesterf met ’n goeie naam en karakter. Oom Fred was iemand uit een stuk.

In ’n troosdiens of ’n gedenkdiens praat ons baie oor die oorledene. Ons is hartseer en treur. Maar eintlik gaan ’n troosdiens tog daaroor om mekaar te troos. Oom Fred het ’n vol en begenadigde lewe gehad. Hy is nou by die Here. Hy is op ’n beter plek. Ons moenie oor Oom Fred huil nie, maar oor mekaar wat ’n geliefde verloor het. ’n Troosdiens is daarvoor bedoel dat ons mekaar troos en ondersteun. Daarom lê daar ook baie terapie in die agterna-koffie drink en verversings geniet en in die saamgesels.

’n Dankbare mens is ook ’n godsdienstige mens. So ’n mens soek die Here en Sy erediens op. Oom Fred was een van die getrouste kerkgangers in Huis Corrie Dreyer. Hy het Sondae die kerk getrou gevolg in die sitkamer en ook die Woensdagoggende se biduur gereeld bygewoon. Ek het altyd vir hom gevra om met ’n gebed af te sluit. Sy gebede het ook van opregte dankbaarheid getuig.

Hy was bitter lief vir sy kinders, sy skoonkinders, kleinkinders en agterkleinkinders.

Fred en Sandra, julle het ’n wonderlike pa gehad. Die kleinkinders Beverly, Charlene, Fredrick en Donné, mag julle die wonderlike herinneringe van Oupa Fred koester. Mag julle ook vir die agterkleinkinders vertel van hulle oupagrootjie. Dit is nou Ashley, Kaylee, Rachael, William en Chané. Mag hy voortleef in julle kinders en kleinkinders se herinneringe aan hom.

Mag julle ook elke dag dankbare mense wees, na die voorbeeld van Oom Fred Every.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Ongeduldige mense voor ‘n geduldige God

SKRIFLESING: Spreuke 16: 32, 1 Kor 13: 4 – 7 en Eksodus 32: 1 – 14

Gregorius die Grote het nie geskroom om geduld “die wortel en bewaarder van al die deugde” te noem nie. Nilius praat van geduld as die “koningin van alle deugde.”

Tog is ons so ongeduldig met mekaar en met God.  Die moderne mens en die moderne Christen het vandag ’n groot gebrek aan geduld. Ons lewe in die eeu van kitskoffie, kitskos, rekenaars en selfone. Alles word vinniger. Niemand wil wag nie. Ek wil dit hê en ek wil dit vandag hê. Jongmense wil nie onder begin nie. Nee, hulle wil begin daar waar dit hulle ouers twintig jaar gekos het om te kom.

Ons is op die pad ongeduldig met mekaar.

Wanneer die staal en glas van die motorkajuit ons toevou, verloor ons heeltemal ons geduld met die ander mense op die pad. Daarom kom padwoede so dikwels voor. In die huwelik en die gesin  verloor mense geduld met mekaar. Die moderne mens het vandag min geduld met die siekes, oues van dae, gestremdes en hulle wat uitgesak het in die samelewing. Wanneer die samelewing nie geriewe skep vir bejaardes en vir gestremdes nie, is dit maar net ’n teken van ongeduld wat die gemeenskap met die swakkeres het.

Ek onthou ’n persoonlike insident toe my pa gekluister was aan ’n rolstoel en net stadig kon beweeg. Hy was op die parkeerarea van ’n groot winkelsentrum. Een man het sy geduld verloor omdat my pa so stadig is en op my pa geskree: “Ouman, jy hoort in die Ouetehuis, nie hier nie.” Dit was kwetsende woorde vir my pa en vir my. Die man moet onthou dat hy ook eendag oud gaan word.

Ons is veral ook ongeduldig met God. As ons bid, moet God ons dadelik antwoord en op óns voorwaardes. Ons het verleer om te wag op God. Soos die boer wat gebid het vir reën en toe die reën nie kom nie, sluit hy sy plaashek en gee die sleutel vir die bankbestuurder. Maar eers het hy ’n bordjie opgehang by sy plaashek met die woorde: “God is dood.”

Mense is selfs ongeduldig met hulself. Mense kan hulself nie aanvaar nie. Mense is ongeduldig met hulle voorkoms en hulle besittings. Mense wil altyd beter en hoër. Mense wil beïndruk, omdat hulle ten diepste met hulself ongeduldig is. Ongeduldige mense is gefrustreerde en ongelukkige mense. Wanneer ons so ongeduldig is met mekaar, met God en met onsself is dit ’n simptoom van ons vervreemding van God se Gees. In die preek gaan ons na die volgende twee sake kyk.

  1. Die geduld wat God betoon

Een van God se eienskappe is juis dat Hy lankmoedig en vol geduld is. Dwarsdeur die Ou Testament lees ons hoedat God ongelooflike medelye en lankmoedigheid teenoor Sy volk Israel openbaar. Herhaaldelik sondig Israel, maar telkens openbaar God Sy liefde en sy lankmoedigheid. Israel is soos ’n neulende vrou wat oor alles mor en kla. Israel is soos ’n ontugtige vrou wat in die bed van al wat ’n afgod is, klim. Israel maak God seer. Menige man sal so ’n vrou los. Maar God bly getrou aan Israel, al word Israel ontrou. Hy sluit selfs ’n onpartydige verbond met Israel juis omdat Hy so lankmoedig is.

Juis in God se liefde vir sondaars lees ons van sy lankmoedigheid teenoor sondaars. Wanneer Hy Sy enigste Seun Jesus Christus stuur, toon Hy aan ons juis sy eindelose geduld met ons. Stukkende goed word deur ons weggegooi. Ons wil nie daarmee sukkel nie. Maar nee, God gooi nie stukkende mense en ’n stukkende wêreld weg nie. Hy is juis die Pottebakker wat die klei wat ineengestort het op die pottebakkerswiel weer knie en oor begin om ’n nuwe voorwerp te maak. God maak stukkende mense se lewens reg, omdat Hy geduldig is.

2. Die geduld wat ons moet betoon:

  • Geduld teenoor God

God spring nie rond om elke dag onmiddellik al ons gebede en versoeke te beantwoord nie. God sien wyer en verder as ons. (Wanneer die grondmagte van ’n land se weermag ’n sekere teiken wil aanval, maar die lugmag die grondmagte waarsku om eers te wag, sal die grondmagte dom wees as hulle die teiken aanval. Die lugmag kan immers die omgewing verder met hulle radar raaksien,)

Net so kan God verder sien wat vir ons heil nodig is, want Hy is immers alwetend en alsiende. Daarom moet ons geduldig op God wag en ook geduldig wees as God se antwoorde anders is as wat ons verwag.

Ons moet geduldig op God se wederkoms wag. Die volk Israel se ongeduld toe Moses te lank met God op die berg Sinaï vertoef en hulle begeerte na ’n nuwe god wat hulle kan lei in Eksodus 20, is ’n goeie voorbeeld van die gelowige se ongeduld met ’n talmende God. In plaas van op Moses te wag, bou hulle toe eerder vir hulle ’n goue kalf.

As God talmend sy wederkoms uitstel, is dit alleen maar omdat Hy nog besig is om sy volle getal uitverkorenes in te samel. As God 100 jaar gelede gekom het, was nog nie een van ons gebore nie. Nee, God het eers nog vir ons gewag en so wag Hy totdat die Heilige Gees se werk op die aarde voltooi is. Dan sal Hy kom. Intussen moet ons geduldig wag en nie vir ons soos die volk Israel ander gode bou nie. Vir God is ’n duisend jaar soos een dag en een dag soos ’n duisend jaar.

  •  Geduld teenoor ons medemens

As God soveel geduld met ons het, moet ons nie ook ’n bietjie meer geduld vir mekaar oorhê nie? Ja, ons moet geduldig wees met mekaar se foute en mekaar nie sommer afkraak nie. Soos wat God my elke dag verander om al meer aan Sy beeld gelyk te word, moet ek God toelaat om ook ander mense te verander, om al meer gelyk te word aan God se beeld. Ons almal is onder konstruksie by God. Juis daarom moet ons geduldig met mekaar wees.

Ek moet leer om geduldig te wees met my lewensmaat, met my kinders, met my ouers se foute, met my kollegas, met my naaste in die ander motorvoertuig en so gaan die lysie aan. Wanneer ons ongeduldig met mekaar raak, kwets ons ander mense met ons woorde of ons lyftaal. Dit is die seerste seer wat ek ’n ander mens kan aandoen.

As samelewing sal ons ook moet leer om meer geduld te hê met bejaardes en kinders, gestremdes en armes. Geduld is om uit te reik na bejaardes en om geriewe vir gestremdes te bou wat hul wêreld geriefliker maak.  

  •  Geduld te midde van ontberinge

Deel van hierdie gebroke werklikheid is die gebrokenheid van mense se lewens. Ons lewe in ’n wêreld van kanker, padsterftes, droogtes, oorstromings, aardbewinge, egskeiding, mishandeling van vroue en kinders, oorlog, terreur, geweld, stakings, gewapende rooftogte, onderdrukking en ongeregtigheid.

Ons sug elke dag daaroor. God sug ook elke dag daaroor. Ons kry swaar. God kry saam met ons swaar. Geduld is om volhardend uit te hou en te weet daar kom ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde, waarop daar geen trane meer sal wees nie. (Soos ’n atleet wat ’n moordende Comrades hardloop. Aan die einde wag die vreugde en die rus.) Geduld is om in die swaar van elke dag, nog die goeie en mooi dinge raak te sien. (Soos die atleet hardloop, kom hy agter daar is mense langs die pad wat hom aanmoedig.) Geduld is om God te loof vir sy goedheid wat elke dag aan ons betoon word.

  •   Geduld met jouself

Dit is miskien die swaarste, naamlik om geduldig met jouself te wees.

Daar is baie mense wat na ’n traumatiese ervaring, irrasionele skuldgevoelens beleef.  Hulle dra skuld wat nie hulle skuld is nie. Daarom moet ’n mens sagter met jouself omgaan en ook meer geduldig met jouself wees.

Jy moet geduldig wees met jou voorkoms, jou liggaam, talente, gebreke, tekortkominge en menswees. Jy is uniek en besonders vir God. Juis daarom moet jy geduldig wees met jouself. Wees ook geduldig met jouself as jy foute maak. Leer uit jou foute en beweeg aan in die lewe.

Wees geduldig en dankbaar vir jou besittings en moenie ’n ander persoon se goed begeer nie. Moenie probeer om soos die volgende mens te wees nie. Jou erfdeel is vir jou afgemeet. Wees dankbaar daarvoor.

  •   Geduld met die doen van die goeie

Ons moet met geduldige volharding die kwaad vermy en die goeie doen. Ons moet elke dag daarna streef om suiwer en opreg voor God en ons medemens te leef. Soos wat ek probeer om ’n nuwe pak klere of ’n nuwe rok skoon te hou, so moet ek my nuwe lewe in Christus skoon probeer hou van die smet van die wêreld. Ons pas ons motors op om skrapies te keer en ons klere om vuil kolle te vermy, maar ons gaan woel so maklik in die moddersondes van hierdie wêreld rond met die nuwe lewe wat Jesus Christus vir ons gegee het.

Ten slotte: Die deug van geduld word onder leiding van die Gees ingeoefen. Daarom, wie in die Gees van God wandel, sal ook hierdie deug van geduld as ’n gawe ontvang uit die hand van God. Hy of sy sal ook uitvind dat geduld “die wortel en bewaarder van al die ander deugde is”.         AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)