SKRIFLESING: Genesis 18: 1 – 15
Iemand het tereg opgemerk: “Everyone is homesick!” Alle mense wil behoort aan ’n gemeenskap.

Die hartseer van die wêreld is die baie eensame mense – wat voel hul behoort nêrens nie. Mense verlang daarna om te kan behoort. Die mens is nou eenmaal ’n sosiale wese, wat graag geliefd wil voel en voel dat hy of sy behoort aan ’n groep of ’n gemeenskap. Dit is waarom die platteland so gewild is by baie mense, want almal ken almal en jy voel jy behoort aan die dorp. In die stad ken mense dikwels nie eers hul buurman nie. Mense verlang na vriendskap, geselskap en mense wat omgee en belangstel. Daar is nie net broodhonger mense in die wêreld nie, maar ook baie velhonger mense wat soek na fisiese aanraking en omhelsing. Jy kry eensame mense wat ’n kluisenaarsbestaan voer, en selfs bejaardes wat vergeet word in ’n ouetehuis. Baie tieners voel hulle behoort nie aan ’n kliek nie, en kan dikwels onbesonne dinge aanvang, net om aan ’n groep te kan behoort.
Veral vreemdelinge word deur ons op ’n afstand gehou. Hulle word dikwels as indringers beskou. Gereeld ervaar nuwe intrekkers in ’n dorp dat hulle nie opgeneem word in die gemeenskap nie, omdat hulle laat “inkommers” is. Dit kan tot baie trane lei.
In die ou Joodse Bybelse tradisie was die versorging van die vreemdeling ’n wet. Volgens die Joodse tradisie moet vreemdelinge altyd met gasvryheid ontvang word.

In ons gelese gedeelte in Genesis 18 lees ons ook van die gasvryheid van Abraham. Abraham se tente was opgeslaan in die woestyn by die bome van Mamre. Dit was die warmste gedeelte van die dag toe Abraham opmerk dat drie besoekers op pad was na hom. Dan lees ons dat Abraham na die besoekers gedraf het om hulle op gasvrye wyse te ontvang. Hy het voor hulle gebuig en vir hulle gevra om nie verby te gaan nie. Hulle was nou eenmaal op pad hier verby. Hulle moet kom sit onder die bome en rus. Hy het ook vir hulle water gebring om hulle voete te was. Dan lees ons hoedat Abraham vir Sara vra om sestien kilogram meel te vat, te knie en roosterkoeke te maak vir die besoekers. Hy het spesiaal ook ’n mooi jong kalf laat slag. Verder het hy ook botter en melk, saam met die kalfsvleis en roosterkoeke, voor die besoekers neergesit.
Abraham het dit gedoen, min wetende dat hulle Goddelike besoekers was. Hierdie drie besoekers het aan Abraham en Sara kom sê dat hulle oor ’n jaar ’n seun sou hê. Wat ’n wonderlike uitkoms. Iemand het ook gesê: “The stranger is not simply one who needs us. We need the stranger.” Hoe nodig het Abraham en Sara nie hierdie vreemdelinge gehad om aan hulle die goeie boodskap van ’n seun te bring nie! Die gasvryheid van Abraham was die begin van ’n gesin, ’n familie, ’n geloofsgemeenskap, die volk Israel en later ook die kerk. Alles het begin by die vriendelikheid en gasvryheid teenoor vreemdelinge.
So is ook die verhaal van Rut ’n verhaal van gasvryheid. Toe Rut are optel, het Boas opdrag gegee aan die snyers om ekstra are op die land te los, spesiaal vir Rut en haar skoonmoeder Naomi. Later het Boas deur sy gasvryheid, as losser opgetree en met Rut getrou. Obed is gebore, waaruit die nageslag van Dawid en Jesus Christus gespruit het.
Jesus Christus het ook in die gedaante van ’n vreemdeling die wêreld ingekom. Maria het op ’n bonatuurlike wyse swanger geword deur die werking van die Heilige Gees. Toe Jesus gebore is, was daar geen herberg of huis waarin Hy gebore kon word nie. Daar was geen gasvryheid nie. Hy moes in ’n stal gebore word. Na Sy geboorte moes Josef en Maria met Hom na Egipte vlug, so onwelkom was Hy. Later is Jesus verjaag uit Nasaret, Sy tuisdorp. Jesus Christus het geen eie kussing, of huis of beurs besit nie. Hy is selfs uitgevreet deur die skrifgeleerdes as ’n vraat en ’n wynsuiper. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het ook veroorsaak dat Hy uitgelewer is aan die Romeinse owerheid om gekruisig te word. Die skares van Jerusalem het ook geskree: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Boonop het Sy vriende, Sy dissipels Hom ook in die steek gelaat. Sy koms na die aarde was in die gesindheid van totale ongasvryheid teenoor die Seun van God.
Tog was Jesus Christus uiters gasvry teenoor die wêreld. Jesus het vreemdelinge laat tuiskom. Hy het tollenaars ontvang en by Saggeus aan huis oornag. Hy het die owerspelige vrou en die prostitute laat welkom voel. Hy het toegelaat dat ’n prostituut Sy voete was met haar trane en met haar hare Sy voete afdroog. Jesus was gasvry teenoor melaatses, blindes, kreupeles, weduwees, kindertjies en die gemarginaliseerdes in die samelewing.

Die vroeë kerk het vinnig gegroei, want hulle het iets daarvan verstaan om vreemdelinge en gemarginaliseerde mense gasvry te ontvang. Die vroeë kerk het drie dinge gedoen in Handelinge, naamlik: hulle het baie gemaak van eet, musiek maak en stories vertel. Om saam met ’n vreemdeling te eet, is om hom of haar welkom te laat voel. Daarom het alle ontluikende kerke dit in gemeen – hulle laat vreemdelinge tuis kom. Die kerk moet oop wees. Die kerk moet nie veroordeel nie. Die kerk moet ondersteunend wees. Die kerk moet ’n tuiste vir mense skep. Die kerk moet die “andersheid” van mense omhels. Die kerk moet kan nooi. Tereg word gesê: “A truly missional church integrate worship with welcome.”
Die Trinitariese God het ’n innige gemeenskap tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hierdie Trinitariese God wil ook in ’n innige gasvrye intieme verhouding met die kerk wees. Daarom beteken die gemeenskap van die gelowiges om gasvry teenoor mekaar en die wêreld te wees. Daarom vertel Joh 3: 16 vir ons iets van die gasvryheid van Jesus Christus as dit lees: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het.”
Daarom moet ’n gemeente in sy kleingroepe en in sy eredienste ’n veilige ruimte van gasvryheid skep. My ervaring is wanneer ’n kerklike kleingroep, soos tydens ’n wyksbyeenkoms, saam eet, musiek maak en die Bybelverhaal met mekaar deel, dan groei die wyk. Daarom het die Jode ook die gebruik om elke Vrydagaand met mekaar saam die Pasga te eet.
Christene moet die gemeenskap van gelowiges skep, deur saam met mekaar te kuier. Wanneer daar ’n gemeente-tee is, of dit is ’n gemeente-ete, gaan na die persoon wat jy die minste ken en gesels met die persoon. So word die gemeenskap van gelowiges geskep en in stand gehou. Dit is wat Jesus Christus van ons verwag.
Die kerk is anders. Die kerk is anders as jou vriendekring. Die kerk is gasvry teenoor die onbekende persoon. Daarom is daar geen gelyke vir die kerk nie. Daar word ook gesê: “There is nothing like the local church!”
Geestelike vorming begin met gasvryheid. Daarom sê die Here ook dat Hy ’n vreemdeling was en ons het Hom ontvang. God bou Sy kerk deur vreemdelinge. Die kerk is die enigste organisasie wat bestaan ter wille van sy nie-lede.
Die kerk is nie ’n geslote kliek nie, maar familie van mekaar. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
