SKRIFLESING: 2 Samuel 12: 15 – 23
Ons kan getroos wees dat Ernest 85 jaar oud geword het en Annette 87 jaar oud. Die Here sê 70 is jou lewensjare en alles daarna is genade-jare.

Hulle het ’n voltooide lewe gehad, want die sirkel is voltooi. Daarin kan ’n mens berusting vind, dat hulle ’n vol en gelukkige lewe gehad het. As jongmense sterf, het ’n mens altyd vrae oor hoekom hulle so vroeg gesterf het. Hulle lewe voel so onvoltooid. Maar in Ernest en Annette se geval het ons die vrede dat hulle lewens voltooid was. Annette is ook nou verlos van ’n hele paar jaar se Alzheimers-siekte en al die lyding daaraan verbonde. Met haar sterwe het sy weer haar waardigheid teruggekry.
Ons mis vir Ernest en Annette, maar hulle mis niks nie. Hulle kom niks kort nie, aangesien hulle geestelike verheerlikte liggame het. Hulle het die wedloop van die lewe voltooi.
Ds. Hennie le Grange van die Hervormde Kerk het ’n baie raak opmerking gemaak in een van sy preke. Hy het gesê “Meet lewe aan wie jy raak.” Waarom is u almal vandag hier? Omdat Ernest en Annette se lewe êrens aan u geraak het. Met hulle betekenisvolle lewe het hulle baie mense aangeraak. Dit is tog die sin van die lewe.
Maak jou lewe betekenisvol. Wanneer jy dan sterf, onthou die mense waar jy hulle lewe aangeraak het.
Aan die begin van die 20ste eeu het ’n man een oggend die koerant oopgevou en tot sy skok sy eie doodsberig in die koerant gesien. Daar was blykbaar ’n vergissing van name, want hier was ’n dooie man besig om ’n nadoodse huldeblyk oor homself te lees. Nietemin, hy het verder gelees om te sien wat die mense oor hom te sê gehad het. Die opskrif het gelui: “Plofstofkoning sterf.”
Dit was al erg genoeg, maar toe hy verder lees, moes hy telkens tot sy ontsteltenis lees dat hulle van hom praat as “die handelaar van die dood”. Hy was erg ontsteld. Die beriggewing oor sy lewe was egter korrek, want hy was immers die uitvinder van dinamiet. En het baie ryk geword uit die vervaardiging van plofstof en die verkope van allerlei vernietigende wapens.
Die berig het hom diep geraak. Hy wil immers nie onthou word as “die handelaar van die dood” nie. Eensklaps het hy besef dat hy ’n tweede kans gekry het. Hy kan nog sy grafskrif verander. Na ’n geestelike diepgang in sy lewe het hy al sy tyd en geld gespandeer om oral in die wêreld waar daar oorlog was, opheffingswerk tot stand te bring en vrede tussen strydende groepe te bevorder.
Vandag word Alfred Nobel nie meer onthou as die “plofstofkoning” of “die handelaar van die dood” nie. Ons ken hom as die stigter van die Nobelprys vir Vrede. Sy grafskrif praat ook van vrede in plaas van plofstof en dood.
Hoe sal die mense eendag vir ons onthou? Wat sal die mense van ons sê?
Elkeen van ons het mooi herinneringe aan Ernest en Annette. Dit is waarom ek so van foto’s hou. Dit is gevriesde momente van die verlede wat herinneringe oproep van jare gelede. Elkeen van ons kan sulke mooi momente onthou saam met Ernest en Annette. Dit is waarom u hier is.
Maar ’n troosdiens of ’n dankdiens is ook ’n afsluiting van ’n era. Jy kan nie altyd treur nie. Jy moet tot berusting kom en met jou lewe aangaan. Die mooiste voorbeeld in ons gelese gedeelte is waar koning Dawid treur oor sy eerste seun by Batseba. Die kind het ernstig siek geword en Dawid het gepleit by God om die genesing van die kind. Hy het ’n nag deurgebring deur op die vloer te lê en hy het niks geëet nie. Vir sewe dae het Dawid gevas en gesmeek dat die kind gesond moet raak. Op die sewende dag het die kind gesterwe. Die paleispersoneel was bevrees om vir Dawid te vertel. Dawid was alreeds so gebroke en die nuus van die kind se dood sou hom breek.
Dawid kom toe agter die personeel praat onder mekaar. Toe besef hy sy seun is dood. In 2 Samuel 12: 19 – 23 staan daar die volgende: “Dawid vra toe vir sy dienaars: ‘Is die kind dood?’ Hulle het gesê: ‘Ja, hy is.’ Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: ‘Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.’ Hy het geantwoord: ‘Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.’ ”
Ons troos is dat ons eendag teruggaan na ons geliefdes, soos Dawid ook bely het met ’n vaste geloof. Ons gaan na ons geliefdes, hulle kan egter nie na ons kom nie. Ons woonplek hier op aarde is net tydelik. Ons is op pad na ons ewige tuiste in die hemel. Die Here Jesus het die gif uit die steek van die dood kom haal, sodat ons vir ewig met hom kan leef.
Wayne Rice vertel van die gesin wat op pad was met hul motor vir hulle somervakansie. Dit was baie warm en hulle het die vensters afgedraai vir koel lug. Hulle het heerlike koeldrank gedrink.
Die soet koeldrank het toe ’n by laat invlieg by die motor se oop venster. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir bysteke. Sou die by haar steek, sou sy binne minute dood gewees het. Sy skree toe hard vir haar pa: “Pappa, daar is ’n by in die kar. Hy gaan my steek. Help!” Die pa het toe dadelik die motor tot stilstand gebring en toe die by gelok na die voorkant van die kar. Teen die voorruit van die kar het die pa die by met sy kaal hand gevang. Die by het onmiddellik die pa gesteek, maar het ongelukkig los gekom. Dadelik het die pa se hand begin swel van die bysteek. Die by het toe weer na die agterkant van die motor gevlieg, al rondom die dogtertjie. Weer roep die dogtertjie: “Pappa, die by is weer by my. Hy gaan my steek. Help!” Die pa sê toe vir die dogtertjie: “Wees kalm, my kind. Die by het Pa klaar gesteek. Sy angel sit in my hand. Hy kan jou nie meer byt nie. Al wat hy kan doen is zoem. Netnou gaan die by in elk geval vrek, want toe hy sy angel verloor het, het hy ’n deel van sy binnegoed ook verloor. Hy gaan netnou vrek.”
Ons weet natuurlik uit die biologie dat ’n by jou net een keer kan steek. Hy verloor sy angel wanneer hy jou steek en saam met die verlore angel, verloor hy ook ’n deel van sy binnegoed, wat natuurlik vir die by ’n gewisse dood beteken. ’n By wat een keer sy angel verloor het, kan net zoem, verder is hy skadeloos.
Blykbaar was dié inligting alreeds in die Bybelse tyd bekend, want hoor wat sê Paulus in 1 Kor 15: 55 – 58: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.”
Ernest en Annette is veilig by die Here. Die dood het hulle nie dood gesteek nie. Hulle het nuwe geestelike liggame. Hulle het ’n voltooide lewe geleef.
Ons kom sê net vanoggend vir God “Dankie” vir die twee besondere mense wat hy vir sy kinders, kleinkinders en vir die gemeenskap van Fort Beaufort en Adelaide gegee het. Hulle het ’n lewe van betekenis geleef. Hulle het mense aangeraak met hulle lewe.
Daarom is die oproep vanoggend vir ons wat in die kerk sit om ook lewens van betekenis te leef. Daarin het Ernest en Annette de Villiers vir ons die voorbeeld gestel.
Lewe jou lewe voluit, sodat jy ook eendag met ’n voltooide lewe kan sterf.
Amen
(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
