Die Bybel ken net twee soorte mense


SKRIFLESING:  Psalm 1: 1 – 6

Daar is baie soorte mense in die wêreld. Daar is langes en kortes, maeres en vettes, slimmes en dommes, geleerdes en ongeleerdes, rykes en armes, swart en wit, introverte en ekstroverte en so kan die lysie tot in ewigheid aangaan. Maar vir die Here is daar net twee soorte mense en hulle word in Psalm 1 verdeel in “regverdiges” wat die Here ken en die “goddeloses” wat die Here nie ken nie. (Tienie Strydom) Feitlik die hele Psalmboek kom neer op die twee soorte mense wat die Here noem, naamlik die “regverdiges” en die “goddeloses”.  Die metafoor wat gebruik word in Psalm 1 is dat die regverdiges soos ’n boom by waterstrome is en dat die goddeloses soos kaf is wat deur die wind weggewaai word. Jy kan jou nêrens tussen die twee soorte mense bevind nie, want vir die Here is jy òf die een òf die ander.

Dwarsdeur die Bybel loop ook die lyn tussen die “regverdiges” en die “goddeloses.”  Die regverdiges leef uit die Woord van die Here. Die Woord is die alleroorvloedigste waterbron.

Dr Chris van Wyk spel uit watter impak die regverdiges en die goddeloses het op hulle lewenstyl (1:1 – 2), op hulle ervaringe (1: 3 – 4) en hulle bestemming (1: 5 – 6). Ons gaan na die drie sake kyk.

  1. Die verskil tussen die regverdiges en goddeloses se lewenstyl (verse 1 – 2)

    Die goddeloses hou hulle daarmee besig om God en ander mense te spot. Die goddeloses, sê Psalm 1, is soos ’n klomp spotters wat in ’n groep sit. Die goddeloses spot met God en met die regverdiges. Mense soek maats om mee saam te sondig. Daarom kry jy altyd groepies wat skinder, ’n bende kwaaddoeners of ’n misdaadsindikaat. Ek onthou in my skooljare was die boelies gewoonlik deel van ’n groep. Spotters vorm altyd ’n groep om God en die regverdiges te spot.  Sonde ontstaan dikwels daar waar spotters bymekaar kom.

    Godsdienstige mense kan ook in die kring van die spotters sit. Hulle spog so oor hulle eie prestasies en wat hulle in die lewe bereik het, dat hulle ’n bespotting maak van die Gewer van alle dinge. Hulle maak staat op hulle eie plannetjies en vermoëns. Hulle wortels groei in hulle eie prestasies en planne, in plaas van die Woord van God.

    Die Ou Testamentiese regverdiges het geleef uit die Wet, die Torah en die Pentateug. Vir die Nuwe Testamentiese regverdige is die Woord (die Bybel) die oorvloedige bron van lewe. Jy moet ’n liefde vir die Woord van die Here hê.  Chris van Wyk skryf: “Die Psalmis gebruik die woord mediteer as hy oor die besig-wees met die Woord skrywe, wat in die NAV vertaal is met oordink. Hierdie tipe meditasie is fluisterend of hardop gedoen.” Die Vulgaat vertaling van Psalm 1, vertaal dit dat die regverdiges in verwondering is oor die Woord.

    Psalm 42: 2 – 4 lees as volg oor die verlange na die Woord: “Soos ‘n wildsbok  wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die tempel ingaan  en voor God verskyn? Trane is dag en nag my brood, omdat daar die hele dag lank vir my gevra word: “Waar is jou God?”

    Daarom is jou daaglikse Bybel lees baie belangrik. Jou Bybel moenie stof vergader of êrens in jou huis verlore raak nie. Hulle vertel van die dominee wat by ’n sekere huis huisbesoek doen. Die dominee vra toe of hulle vir hom ’n Bybel het om uit te lees. Die Bybel wat hulle vir hom gee was vol stof. Die dominee blaas die stof af en vra hoekom die gesin nie uit die Bybel lees nie. Die pa antwoord toe skerpsinnig: “Dominee, dit is die spesiale Bybel in die huis as dominee kom huisbesoek doen.” Die dominee kon niks sê nie! 

    In plaas daarvan om spottend en ligsinnig deur die wêreld te gaan, moet jy eerder die Woord bestudeer en die Woord die lamp en lig op jou pad maak.

    2. Die verskil tussen die regverdiges en goddeloses se ervaringe (verse 3 – 4)

    Twee metafore word gebruik om die ervaringe van die regverdiges en die goddeloses te vergelyk.

    Die regverdiges word vergelyk met ’n boom wat by watervore geplant is, wat vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verdor nie. Die goddelose word vergelyk met kaf wat deur die wind verstrooi raak. Kom ons kyk na die twee metafore:

    Van watervore gepraat, Prof Johan Cilliers skryf as volg: “ ’n Aantal jare gelede was daar ’n verskynsel in die middestad van Londen wat talle voetgangers in verwondering in hul voetspore laat vassteek het. Dit was ’n wingerd wat nie alleen op ’n vreemde plek, sommer tussen die geboue, begin groei het nie, maar ook in grond wat op die oog af uiters ongeskik vir ’n gewas van so ’n aard gelyk het. Dit was bekend dat daar ’n ondeurdringbare klipbank net onder die grondoppervlak was. Maar nóg vreemder was die feit dat dié wingerd besonder welig aan die groei was, met gesonde stam en lote, lowergroen blare en druiwetrosse só reusagtig groot dat dié vreemde, vrugdraende verskynsel wyd en syd bekend begin word het. Die stadsvaders het besluit om ’n metaalplaatjie op een van die mure naby die wingerd aan te bring, om die geheim daarvan aan toeriste te verduidelik. Die wortels van die wingerd het blykbaar tog êrens ’n deurkomplekkie in die klipbank gevind, en gekruip en gekruip … tot in die Teemsrivier wat ’n hele ent daarvandaan en buite sig, verbygestroom het. Omdat die wingerd ’n lewensaar gevind het, het dit die vaal en vervelige omgewing waarin dit gegroei het, in ’n stukkie herwonne Paradys omskep.” (Johan Cilliers)

    Die Woord van die Here is ons lewensaar wat vir ons lewe gee. ’n Boom gee koelte, dra vrugte, mense kuier onder ’n boom, kinders speel in die boomtakke, die voëls maak neste – ’n boom is ’n nuttige plant. ’n Regverdige mens is ook ’n nuttige mens. So ’n persoon is ’n seën vir sy/haar lewensmaat, gesin, familie, werksplek en samelewing. Maar ’n boom moet ’n waterbron hê. Hierdie waterbron is die Woord.

    Teenoor die Woord van God, as bron van lewe vir die regverdiges, luister die  goddeloses na die raad van ander goddeloses.  As jy nie ’n waterbron het waaruit jy lewe nie, as jy nie die Woord van die Here in jou lewe het nie, is jy soos die goddelose.

    Jy is soos kaf wat deur die wind weggewaai word. In die antieke tyd het mense op winderige dae die koring van die kaf geskei. Hulle het met ’n voorwerp die koring die lug ingegooi. Die koring het dan omdat dit swaarder weeg, op ’n hopie geval en die wind het die kaf weggewaai. Kaf is waardeloser as waardeloos. Dit deug vir niks nie. So is die koring wat bruikbaar is, geskei van die kaf wat onbruikbaar is. Soos die kaf vir niks deug nie, deug die goddelose vir niks nie. Hulle is eerder spotters van die gelowiges. Hulle beraadslaag slegte dinge.

    3. Die verskil tussen die regverdiges en goddeloses se bestemming (verse 5 – 6)

    Vers 5 beskryf dat die goddeloses nie sal kan opstaan tydens die regspraak nie. Hulle sal geen verweer hê nie. Dit is soos ’n beskuldigde in die hof, wat so vas is, dat niks wat hy/sy sê hom/haar onskuldig kan bewys nie. Nie eers die beste advokaat kan die goddeloses vry laat gaan nie.

    Daar word ook in vers 6 geskryf dat die Here sorg en kyk na die pad van die regverdiges en hulle op hulle pad help. Die Here loop saam met die regverdiges op hulle pad. Maar dan word geskryf dat die goddeloses se pad dood loop. ’n Doodloopstraat is altyd ’n teleurstelling en soms ook ’n traumatiese ervaring. So is daar vir die goddeloses geen toekoms en hoop na hierdie lewe nie.

    Dit laat my dink aan die outydse skildery van die twee weë, die smal pad en die breë pad. Op die breë pad loop al die goddeloses. Hulle hoer en rumoer en verval in dronkenskap en spot met God en mense. Hulle pad eindig in die doodloopstraat van die hel, waar God nie is nie. Die hel is inderdaad ’n plek waar God nie is nie. Maar daar is ook die smal pad, die kronkelende en moeilike pad van Christus-navolging, wat uitloop op die hiernamaals en die hemel. Ja, daar waar God in al Sy heerlikheid is.

    Is jy op die breë of die smal pad?

    Spot jy ander of bestudeer jy die Woord?

    Is jy ’n boom geplant by die waterstroom of is jy soos kaf?

    Is jy ’n goddelose of ’n regverdige?   

    AMEN 

    (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

    BRONNELYS:

    Cilliers, Johan. Die tint van ons toekoms (Afrikaans Edition). LAPA Publishers. Kindle Edition.

    Van Wyk, Chris. Bybelskool

    Strydom, Tienie. Preek oor Psalm 1

    Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

    Lewer kommentaar