SKRIFLESING: Mark 5: 24 – 35
In ons gelese gedeelte leer ons van ’n vrou wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. Dit is ’n lang tyd. Somtyds ly ons ’n lang tyd aan ’n probleem, omdat die Here vir ons wil laat besef dat Hy ons laaste en enigste hulp in die lewe is. Wanneer al ons opsies uitgeput is, besef ons eers dat Jesus ons enigste uitweg en Trooster is.
Jesus was op pad om Jaïrus se dogtertjie gesond te maak, toe Hy deur die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, lastig geval is. Vir ons is dit erg steurend as ons ontydig lastig geval word, maar Jesus hou daarvan om lastig geval te word. Hy is te alle tye ’n hulp en ’n toevlug vir mense in nood. Jy kan Hom enige tyd nader met jou diepste nood en kommer.

Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het se naam is onbekend. Sy was ’n nobody. Al wat van haar bekend was, was dat sy aan bloedvloeiing gely het vir twaalf jaar. Die gedurige verloor van bloed maak jou swak en sieklik.
Ons kan die volgende aflei uit haar toestand:
Eerstens het sy ’n abnormale fisiese toestand gehad. In vers 25 staan daar sy het ’n fisiese “toestand”: Sy het twaalf jaar aan bloedvloeiing gely. Die oorsaak van die bloedverlies word nie beskryf nie. Haar liggaam kon skaars byhou om nuwe bloed te produseer om die bloed te vervang wat sy verloor het. Sy was swak, moeg en het die hele tyd aan bloedarmoede gely. Sy kon ook fisiese ongemak en pyn gehad het as gevolg van haar kondisie.
Tweedens het sy ’n swak finansiële toestand gehad. In vers 26 staan daar dat sy oor die jare al haar geld gespandeer het op dokters wat haar probeer gesond maak het. Markus sê sy het alles op dokters gespandeer om haar te probeer gesond maak. In vandag se tyd sal ’n mens sê dat sy haar kredietkaarte tot op hulle kredietperk opgebruik het, sy het haar spaargeld opgebruik, geld geleen en dalk ook van haar meubels verkoop. Sy het niks gehad nie. Sy was finansieel geruïneer.

Verder het sy – derdens – verhoudingsprobleme gehad. As gevolg van haar konstante bloedvloeiing was sy spiritueel onrein volgens Lev 15: 25 – 27. Vroue moes sewe dae na bloeding verby is, wag voordat hulle hul offers in die tempel kon bring. Vir twaalf jaar kon sy nie deel neem aan die offerdiens en die aanbidding by die sinagoge nie. Sy was ook baie beperk om te meng met mense, vriende en familie, omdat sy volgens Levitiese wetgewing as onrein beskou is. Dink net aan die konstante verwerping van haar as mens in die samelewing. Sy is altyd as onrein beskou en moes mense permanent vermy. Die Joodse wet het bepaal dat alles waarop sy gesit het of waaraan sy geraak het, ook as onrein beskou is. Dit moes ’n ongelooflike skaamte en gevoel van verwerping meegebring het. Sy moes ontsettend alleen gevoel het. Sosiaal gesproke was sy net ’n bietjie beter af as ’n melaatse persoon. ’n Melaatse persoon is uit die gemeenskap geban; ’n onrein persoon mag nog in die gemeenskap bly, maar mag nie met ander mense meng nie. Altwee was ewe eensaam.
Daar was vierdens ook ’n spirituele toestand. Mense van haar dag het haar beskou as iemand wat vervloek is deur God. Daar was maklik aangeneem dat sy siek was omdat daar sonde in haar lewe was. Hulle het die siening gehad dat iemand wat met langdurige siekte gepla was, gesondig het. Soos in Johannes 9, waar Jesus se dissipels gevra het of die blinde man blind is omdat hy of sy ouers gesondig het. Dié beskouing het die vrou in ons gelese gedeelte se verwerping net nog meer intens gemaak.
Vyfdens was haar situasie ’n hooplose situasie. Markus beklemtoon aan die einde van vers 26 dat sy nie beter, maar eerder slegter, geword het. Verseker het sy gebid en het sy dokters toe gegaan, maar daar was geen genesing nie. Sy het net erger geword. Haar tyd van genesing het nog nie gekom nie.

Maar toe verskyn Jesus op die toneel, op pad om Jaïrus se dogtertjie gesond te maak. Die mense drom saam en van alle kante word Jesus vasgedruk deur mense wat opgewonde is om Hom te sien. Dan verskyn die vrou wat aan bloedvloeiing gely het op die toneel en sy nader Jesus van agter en sê in vers 28: “As ek maar net aan Sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” Eintlik mag sy nie tussen die mense gewees het nie, want sy was as “onrein” beskou. Sy was klaarblyklik bang om Jesus in die oë te kyk, omdat sy haar eie onwaardigheid ken. Sy was ’n onrein vrou, en die skande van haar siekte het haar verhinder om enige mondelinge versoek of openlike versoek te rig.

Dan raak die vrou van agter aan Jesus se bokleed en word dadelik genees van die oorsaak van haar bloedvloeiing. Lance Wubbels skryf: “Die aanraking van Jesus het haar nie net fisies genees nie, dit het ook die sosiale vloek opgehef waaronder sy al die jare gely het. Sy het daardie dag ’n dubbele seën van Jesus ontvang.”
Waar het die vrou op die gedagte gekom om net aan Jesus se kleed te raak, dan sal sy gesond raak? Die woord het die rondte gedoen dat mense net deur aan Jesus te raak, gesond geword het. Daarom staan daar in Mark 3: 10 die volgende: “Hy het immers baie mense gesond gemaak, sodat almal wat aan kwale gely het, om Hom saamgedrom het om aan Hom te raak.”
Waar het die mense die idee gekry, dat om aan Jesus se klere te vat, hulle gesond sal word? Daar was in daardie tyd die bygeloof dat deur aan regeerders en gerekende mense se kleding te vat, hulle geseën sal word. Mense het byvoorbeeld dikwels in Alexander die Grote se tyd probeer om aan sy klere te vat, om geseën te word deur sy mag.
Hierdie vrou het haar volle vertroue en geloof geplaas in Jesus Christus om haar te genees. Jou vertroue moenie wees in jouself of jou geloof of in jou bekering of in jou goeie werke nie, maar buite jouself in Jesus Christus. In Strydenburg het ek eenmaal ’n baie ou arm bruinman besoek wat op sterwe gelê het. Sy huis was net ’n kamer, ’n leë kamer met geen meubels nie en die vloer was van grond. Hy het op ’n ou verflenterde kombers gelê in die hitte van die stryd met die dood gewikkel. Ek buig toe af na hom en vra of sy saak met die Here reg is. In ’n doodsroggeling tel hy sy een hand met ’n groot gesukkel en met moeite op en wys na iets agter my teen die muur. Hy het geroggel : “Daai man …….” Toe ek omkyk, was dit ’n eenvoudige afdruk van Jesus aan die kruis. Verseker was die man se saak met God reg, want hy het weggewys van homself, na die Christus van die Bybel. ’n Paar ure later het hy gesterf. Verseker was hy veranker in die werk van Christus. Godsalig het hy gesterf, in die hande van die Here.
Daar staan in vers 30 dat Jesus, nadat die vrou gesond geword het, opgemerk het dat daar krag van Hom af uitgegaan het. Hy het rondgekyk en met die vrou oogkontak gemaak. Die vrou het toe met die volle waarheid vorendag gekom. Jesus het dadelik haar groot geloof geprys en haar in vrede weggestuur. Dit was nie die grootheid van haar geloof wat haar genees het nie, maar die objek in wie sy haar geloof gestel het, naamlik Jesus Christus.
Jesus het van Sy krag verloor. Daarom het Jesus dikwels na ’n plek alleen gegaan om tot Sy Vader te bid om Sy kragte te herstel. Wanneer ons geestelik betrokke is by ander mense, word ons geestelike en emosionele energie ook getap. Daarom is selfsorg en die geestelike dissiplines so belangrik.
Die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het is fisies genees en haar sosiale vloek van verwerping is weggeneem. In haar diepste nood was haar fokus op die Here Jesus.
Mag ons fokus ook elke dag op onse Here Jesus Christus wees. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS:
Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom. Destiny Image. Kindle Edition.
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
