God se gemeente moet gasvry wees

SKRIFLESING: Genesis 18: 1 – 15

Iemand het tereg opgemerk: “Everyone is homesick!” Alle mense wil behoort aan ’n gemeenskap.

Die hartseer van die wêreld is die baie eensame mense – wat voel hul behoort nêrens nie. Mense verlang daarna om te kan behoort. Die mens is nou eenmaal ’n sosiale wese, wat graag geliefd wil voel en voel dat hy of sy behoort aan ’n groep of ’n gemeenskap. Dit is waarom die platteland so gewild is by baie mense, want almal ken almal en jy voel jy behoort aan die dorp. In die stad ken mense dikwels nie eers hul buurman nie. Mense verlang na vriendskap, geselskap en mense wat omgee en belangstel. Daar is nie net broodhonger mense in die wêreld nie, maar ook baie velhonger mense wat soek na fisiese aanraking en omhelsing. Jy kry eensame mense wat ’n kluisenaarsbestaan voer, en selfs bejaardes wat vergeet word in ’n ouetehuis. Baie tieners voel hulle behoort nie aan ’n kliek nie, en kan dikwels onbesonne dinge aanvang, net om aan ’n groep te kan behoort.

Veral vreemdelinge word deur ons op ’n afstand gehou. Hulle word dikwels as indringers beskou. Gereeld ervaar nuwe intrekkers in ’n dorp dat hulle nie opgeneem word in die gemeenskap nie, omdat hulle laat “inkommers” is. Dit kan tot baie trane lei.

In die ou Joodse Bybelse tradisie was die versorging van die vreemdeling ’n wet. Volgens die Joodse tradisie moet vreemdelinge altyd met gasvryheid ontvang word.

In ons gelese gedeelte in Genesis 18 lees ons ook van die gasvryheid van Abraham. Abraham se tente was opgeslaan in die woestyn by die bome van Mamre. Dit was die warmste gedeelte van die dag toe Abraham opmerk dat drie besoekers op pad was na hom. Dan lees ons dat Abraham na die besoekers gedraf het om hulle op gasvrye wyse te ontvang. Hy het voor hulle gebuig en vir hulle gevra om nie verby te gaan nie. Hulle was nou eenmaal op pad hier verby. Hulle moet kom sit onder die bome en rus. Hy het ook vir hulle water gebring om hulle voete te was. Dan lees ons hoedat Abraham vir Sara vra om sestien kilogram meel te vat, te knie en roosterkoeke te maak vir die besoekers. Hy het spesiaal ook ’n mooi jong kalf laat slag. Verder het hy ook botter en melk, saam met die kalfsvleis en roosterkoeke, voor die besoekers neergesit.

Abraham het dit gedoen, min wetende dat hulle Goddelike besoekers was. Hierdie drie besoekers het aan Abraham en Sara kom sê dat hulle oor ’n jaar ’n seun sou hê. Wat ’n wonderlike uitkoms. Iemand het ook gesê: “The stranger is not simply one who needs us. We need the stranger.” Hoe nodig het Abraham en Sara nie hierdie vreemdelinge gehad om aan hulle die goeie boodskap van ’n seun te bring nie! Die gasvryheid van Abraham was die begin van ’n gesin, ’n familie, ’n geloofsgemeenskap, die volk Israel en later ook die kerk. Alles het begin by die vriendelikheid en gasvryheid teenoor vreemdelinge.

So is ook die verhaal van Rut ’n verhaal van gasvryheid. Toe Rut are optel, het Boas opdrag gegee aan die snyers om ekstra are op die land te los, spesiaal vir Rut en haar skoonmoeder Naomi. Later het Boas deur sy gasvryheid, as losser opgetree en met Rut getrou. Obed is gebore, waaruit die nageslag van Dawid en Jesus Christus gespruit het.

Jesus Christus het ook in die gedaante van ’n vreemdeling die wêreld ingekom. Maria het op ’n bonatuurlike wyse swanger geword deur die werking van die Heilige Gees. Toe Jesus gebore is, was daar geen herberg of huis waarin Hy gebore kon word nie. Daar was geen gasvryheid nie. Hy moes in ’n stal gebore word. Na Sy geboorte moes Josef en Maria met Hom na Egipte vlug, so onwelkom was Hy. Later is Jesus verjaag uit Nasaret, Sy tuisdorp. Jesus Christus het geen eie kussing, of huis of beurs besit nie. Hy is selfs uitgevreet deur die skrifgeleerdes as ’n vraat en ’n wynsuiper. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het ook veroorsaak dat Hy uitgelewer is aan die Romeinse owerheid om gekruisig te word. Die skares van Jerusalem het ook geskree: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Boonop het Sy vriende, Sy dissipels Hom ook in die steek gelaat. Sy koms na die aarde was in die gesindheid van totale ongasvryheid teenoor die Seun van God.

Tog was Jesus Christus uiters gasvry teenoor die wêreld. Jesus het vreemdelinge laat tuiskom. Hy het tollenaars ontvang en by Saggeus aan huis oornag. Hy het die owerspelige vrou en die prostitute laat welkom voel. Hy het toegelaat dat ’n prostituut Sy voete was met haar trane en met haar hare Sy voete afdroog. Jesus was gasvry teenoor melaatses, blindes, kreupeles, weduwees, kindertjies en die gemarginaliseerdes in die samelewing.

Die vroeë kerk het vinnig gegroei, want hulle het iets daarvan verstaan om vreemdelinge en gemarginaliseerde mense gasvry te ontvang. Die vroeë kerk het drie dinge gedoen in Handelinge, naamlik: hulle het baie gemaak van eet, musiek maak en stories vertel. Om saam met ’n vreemdeling te eet, is om hom of haar welkom te laat voel. Daarom het alle ontluikende kerke dit in gemeen – hulle laat vreemdelinge tuis kom. Die kerk moet oop wees. Die kerk moet nie veroordeel nie. Die kerk moet ondersteunend wees. Die kerk moet ’n tuiste vir mense skep. Die kerk moet die “andersheid” van mense omhels. Die kerk moet kan nooi. Tereg word gesê: “A truly missional church integrate worship with welcome.”

Die Trinitariese God het ’n innige gemeenskap tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hierdie Trinitariese God wil ook in ’n innige gasvrye intieme verhouding met die kerk wees. Daarom beteken die gemeenskap van die gelowiges om gasvry teenoor mekaar en die wêreld te wees. Daarom vertel Joh 3: 16 vir ons iets van die gasvryheid van Jesus Christus as dit lees: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het.”

Daarom moet ’n gemeente in sy kleingroepe en in sy eredienste ’n veilige ruimte van gasvryheid skep. My ervaring is wanneer ’n kerklike kleingroep, soos tydens ’n wyksbyeenkoms, saam eet, musiek maak en die Bybelverhaal met mekaar deel, dan groei die wyk. Daarom het die Jode ook die gebruik om elke Vrydagaand met mekaar saam die Pasga te eet.

Christene moet die gemeenskap van gelowiges skep, deur saam met mekaar te kuier. Wanneer daar ’n gemeente-tee is, of dit is ’n gemeente-ete, gaan na die persoon wat jy die minste ken en gesels met die persoon. So word die gemeenskap van gelowiges geskep en in stand gehou. Dit is wat Jesus Christus van ons verwag.

Die kerk is anders. Die kerk is anders as jou vriendekring. Die kerk is gasvry teenoor die onbekende persoon. Daarom is daar geen gelyke vir die kerk nie. Daar word ook gesê: “There is nothing like the local church!”

Geestelike vorming begin met gasvryheid. Daarom sê die Here ook dat Hy ’n vreemdeling was en ons het Hom ontvang. God bou Sy kerk deur vreemdelinge. Die kerk is die enigste organisasie wat bestaan ter wille van sy nie-lede.

Die kerk is nie ’n geslote kliek nie, maar familie van mekaar. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

‘n Voltooide lewe is ‘n seën

SKRIFLESING:  2 Samuel 12: 15 – 23

Ons kan getroos wees dat Ernest 85 jaar oud geword het en Annette 87 jaar oud. Die Here sê 70 is jou lewensjare en alles daarna is genade-jare.

Hulle het ’n voltooide lewe gehad, want die sirkel is voltooi. Daarin kan ’n mens berusting vind, dat hulle ’n vol en gelukkige lewe gehad het. As  jongmense sterf, het ’n mens altyd vrae oor hoekom hulle so vroeg gesterf het. Hulle lewe voel so onvoltooid. Maar in Ernest en Annette se geval het ons die vrede dat hulle lewens voltooid was. Annette is ook nou verlos van ’n hele paar jaar se Alzheimers-siekte en al die lyding daaraan verbonde. Met haar sterwe het sy weer haar waardigheid teruggekry.

Ons mis vir Ernest en Annette, maar hulle mis niks nie. Hulle kom niks kort nie, aangesien hulle geestelike verheerlikte liggame het. Hulle het die wedloop van die lewe voltooi.

Ds. Hennie le Grange van die Hervormde Kerk het ’n baie raak opmerking gemaak in een van sy preke. Hy het gesê “Meet lewe aan wie jy raak.”  Waarom is u almal vandag hier? Omdat Ernest en Annette se lewe êrens aan u geraak het. Met hulle betekenisvolle lewe het hulle baie mense aangeraak. Dit is tog die sin van die lewe.

Maak jou lewe betekenisvol. Wanneer jy dan sterf, onthou die mense waar jy hulle lewe aangeraak het.

Aan die begin van die 20ste eeu het ’n man een oggend die koerant oopgevou en tot sy skok sy eie doodsberig in die koerant gesien. Daar was blykbaar ’n vergissing van name, want hier was ’n dooie man besig om ’n nadoodse huldeblyk oor homself te lees. Nietemin, hy het verder gelees om te sien wat die mense oor hom te sê gehad het. Die opskrif het gelui: “Plofstofkoning sterf.”

Dit was al erg genoeg, maar toe hy verder lees, moes hy telkens tot sy ontsteltenis lees dat hulle van hom praat as “die handelaar van die dood”. Hy was erg ontsteld. Die beriggewing oor sy lewe was egter korrek, want hy was immers die uitvinder van dinamiet. En het baie ryk geword uit die vervaardiging van plofstof en die verkope van allerlei vernietigende wapens.

Die berig het hom diep geraak. Hy wil immers nie onthou word as “die handelaar van die dood” nie. Eensklaps het hy besef dat hy ’n tweede kans gekry het. Hy kan nog sy grafskrif verander. Na ’n geestelike diepgang in sy lewe het hy al sy tyd en geld gespandeer om oral in die wêreld waar daar oorlog was, opheffingswerk tot stand te bring en vrede tussen strydende groepe te bevorder.

Vandag word Alfred Nobel nie meer onthou as die “plofstofkoning” of “die handelaar van die dood” nie. Ons ken hom as die stigter van die Nobelprys vir Vrede. Sy grafskrif praat ook van vrede in plaas van plofstof en dood.

Hoe sal die mense eendag vir ons onthou?  Wat sal die mense van ons sê?

Elkeen van ons het mooi herinneringe aan Ernest en Annette. Dit is waarom ek so van foto’s hou. Dit is gevriesde momente van die verlede wat herinneringe oproep van jare gelede. Elkeen van ons kan sulke mooi momente onthou saam met Ernest en Annette. Dit is waarom u hier is.

Maar ’n troosdiens of ’n dankdiens is ook ’n afsluiting van ’n era. Jy kan nie altyd treur nie. Jy moet tot berusting kom en met jou lewe aangaan. Die mooiste voorbeeld in ons gelese gedeelte is waar koning Dawid treur oor sy eerste seun by Batseba. Die kind het ernstig siek geword en Dawid het gepleit by God om die genesing van die kind. Hy het ’n nag deurgebring deur op die vloer te lê en hy het niks geëet nie. Vir sewe dae het Dawid gevas en gesmeek dat die kind  gesond moet raak. Op die sewende dag het die kind gesterwe. Die paleispersoneel was bevrees om vir Dawid te vertel. Dawid was alreeds so gebroke en die nuus van die kind se dood sou hom breek.

Dawid kom toe agter die personeel praat onder mekaar. Toe besef hy sy seun is dood. In 2 Samuel 12: 19 – 23 staan daar die volgende: “Dawid vra toe vir sy dienaars: ‘Is die kind dood?’ Hulle het gesê: ‘Ja, hy is.’ Dawid het toe van die grond af opgestaan, hom gewas en gesalf en sy klere verwissel. Hy het in die huis van die Here ingegaan en in aanbidding gebuig. Daarna het hy na sy huis gegaan. Op sy versoek het hulle vir hom kos voorgesit, en hy het geëet. Sy dienaars het vir hom gevra: ‘Wat beteken dit wat u gedoen het? Ter wille van die kind wat nog geleef het, het u gevas en gehuil, maar toe die kind dood is, het u opgestaan en brood geëet.’ Hy het geantwoord: ‘Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie.’ ”

Ons troos is dat ons eendag teruggaan na ons geliefdes, soos Dawid ook bely het met ’n vaste geloof. Ons gaan na ons geliefdes, hulle kan egter nie na ons kom nie. Ons woonplek hier op aarde is net tydelik. Ons is op pad na ons ewige tuiste in die hemel. Die Here Jesus het die gif uit die steek van die dood kom haal, sodat ons vir ewig met hom kan leef.

Wayne Rice vertel van die gesin wat op pad was met hul motor vir hulle somervakansie. Dit was baie warm en hulle het die vensters afgedraai vir koel lug. Hulle het heerlike koeldrank gedrink.

Die soet koeldrank het toe ’n by laat invlieg by die motor se oop venster. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir bysteke. Sou die by haar steek, sou sy binne minute dood gewees het. Sy skree toe hard vir haar pa: “Pappa, daar is ’n by in die kar. Hy gaan my steek. Help!” Die pa het toe dadelik die motor tot stilstand gebring en toe die by gelok na die voorkant van die kar. Teen die voorruit van die kar het die pa die by met sy kaal hand gevang. Die by het onmiddellik die pa gesteek, maar het ongelukkig los gekom. Dadelik het die pa se hand begin swel van die bysteek. Die by het toe weer na die agterkant van die motor gevlieg, al rondom die dogtertjie. Weer roep die dogtertjie: “Pappa, die by is weer by my. Hy gaan my steek. Help!” Die pa sê toe vir die dogtertjie: “Wees kalm, my kind. Die by het Pa klaar gesteek. Sy angel sit in my hand. Hy kan jou nie meer byt nie. Al wat hy kan doen is zoem. Netnou gaan die by in elk geval vrek, want toe hy sy angel verloor het, het hy ’n deel van sy binnegoed ook verloor. Hy gaan netnou vrek.”

Ons weet natuurlik uit die biologie dat ’n by jou net een keer kan steek. Hy verloor sy angel wanneer hy jou steek en saam met die verlore angel, verloor hy ook ’n deel van sy binnegoed, wat natuurlik vir die by ’n gewisse dood beteken. ’n By wat een keer sy angel verloor het, kan net zoem, verder is hy skadeloos.

Blykbaar was dié inligting alreeds in die Bybelse tyd bekend, want hoor wat sê Paulus in 1 Kor 15: 55 – 58: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.”

Ernest en Annette is veilig by die Here. Die dood het hulle nie dood gesteek nie. Hulle het nuwe geestelike liggame. Hulle het ’n voltooide lewe geleef.

Ons kom sê net vanoggend vir God “Dankie” vir die twee besondere mense wat hy vir sy kinders, kleinkinders en vir die gemeenskap van Fort Beaufort en Adelaide gegee het. Hulle het ’n lewe van betekenis geleef. Hulle het mense aangeraak met hulle lewe.

Daarom is die oproep vanoggend vir ons wat in die kerk sit om ook lewens van betekenis te leef. Daarin het Ernest en Annette de Villiers vir ons die voorbeeld gestel.

Lewe jou lewe voluit, sodat jy ook eendag met ’n voltooide lewe kan sterf.

Amen

(Ds Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

God ervaar mensverlatenheid

SKRIFLESING:  Hosea 1: 2 – 12

Die boek Hosea gaan oor die mense van Israel wat God verlaat het. Beide die profete Hosea en Amos het opgetree in ’n tyd toe Israel buitengewone voorspoed en welvaart beleef het. Die armes is ook tot die uiterste toe verdruk. Daar was geen sprake van geregtigheid, barmhartigheid en trou te vinde nie. (Mat 23:23) In die laaste 25 jaar van Israel as volk se geskiedenis het ses konings geregeer en hulle was verrot tot op die been. In dié tyd het Israel nie die Joodse geloof vaarwel geroep nie, maar het hulle ’n sinkretisme beleef met die Baäl-godsdiens. Gewoonlik is Baäl op die hoogtes aanbid en dit was hoofsaaklik ’n voorspoedsgodsdiens. Met ander woorde mense het Baäl aanbid om vir hulle vrugbaarheid van hulle vee en landerye te verseker. Vandag het ons ook die sogenaamde “welvaartsteologie”. Mense aanbid God vir wat hulle van God kan ontvang. Welvaartsteologie is baie sterk in die Amerikaanse kerke, asook in sommige swart kerke in Afrika.  

Ongekende voorspoed en welvaart lei dikwels daartoe dat mense van God vergeet. So was dit ook in die tyd van Hosea, toe hy opgetree het as profeet. Die mense het van God vergeet. God het intense mensverlatenheid beleef. Hy was nie meer hulle enigste God nie. Ander gode wat welvaart sou bring, is nou eerder aangehang. Die volk Israel het ontrou geraak deur te hoer agter ander afgode aan.

Dan gee die Here opdrag aan Hosea om met ’n hoë-klas prostituut te trou.  In hierdie lewensgetroue metafoor, verteenwoordig die profeet Hosea die Here en die prostituut, Gomer, verteenwoordig Israel met al sy afvalligheid.

Met hierdie metafoor wil die Here die oë van Israel oopmaak om te sien waarmee hulle besig is. So skandalig soos dit vir ’n profeet is om met ’n prostituut te trou, so skandalig is Israel se optrede. Daarom speel Gomer die rol van die afvallige eggenote, wat Israel is.

Uit hierdie skandalige huwelik word drie kinders gebore. Elkeen van die kinders se name dien ook as boodskappe aan die volk Israel.

Die eerste seun Jisreël roep die bitter verhaal van Jehu in herinnering wat die oordeelsopdrag van die Here deur die profeet Elisa oorskry het en meer bloed vergiet het as wat die Here beveel het. (God se opdrag aan Jehu was om koning Agab en sy vrou Isebel, wat in Jisreël gebly het, se bloed te vergiet. Hy het egter die hele nageslag van Agab sowel as Ahasia, wat koning was van Juda, op een na, almal gedood.)   Nou sal God die koninghuis van Jehu in die Jisreël-vlakte wreek, deur hulle bloed te laat vloei.  

Die tweede kind, ’n dogter, se naam was Lo-Rugama, wat beteken “Sonder ontferming”. Die Here het sy ontferming oor die volk Israel teruggetrek. Die derde kind was ook ’n seun met die naam Lo-Ammi, wat beteken “Nie my volk nie”. God wil sy liefdesverhouding met Israel beëindig.

Maar dan hou Hosea en Gomer se huwelik nie. Gomer vat haar goed en los vir Hosea met die drie kinders agter. Sy gaan terug na haar ou professie, naamlik prostitusie, deur haar liggaam te verkoop aan mans. Dit is juis die metafoor wat Hosea gebruik. Net so, verlaat die volk Israel vir God en verkoop hulle aan Baäl en die vrugbaarheidsgodsdiens. Die volk Israel was herhaaldelik ontrou aan God en vlug van hulle verantwoordelikheid. Van geregtigheid, barmhartigheid en trou verstaan hulle niks nie. Daarom is die Here se toorn so hard oor Israel.

Dan na ’n tyd, ons weet nie hoe lank nie, kry Hosea die opdrag om die vrou wat hy liefhet en wat telkens in owerspel terugval, te gaan terugkoop by die mark. Sy het waarskynlik in armoede en slawerny verval. Sy was so opgebruik deur prostitusie, dat Hosea haar met ’n afslagprys van vyftien sikkels silwer en ’n anderhalf homer gars, omtrent die helfte van ’n slaaf se prys, kon terugkoop. Dit laat my dink aan die verhaal van die verlore seun.

Teenoor die Here se verskriklike toorn oor Sy volk Israel, staan Sy troue genade. Hosea koop vir Gomer terug, net soos ons in die Nuwe Testament lees dat Christus Jesus ons vanuit die slawerny van sonde losgekoop het, deur aan ’n kruis te sterf.

Selfs die kinders van Hosea en Gomer se name word verander. Lu-Rugama wat beteken “Sonder ontferming” word nou Rugama wat beteken “Ontferming”. Lo-Ammi wat beteken “Nie my volk nie” word nou Ammi wat beteken “My volk”. So word Gomer (dus Israel) weer ’n getroue vrou vir God. Sy sê nie meer “My Baäl” nie, maar “My man”.

Wat leer ons uit die boek Hosea? Soos die volk gedurig gehoereer het agter afgode aan en die welvaartsteologie van die Baäl-godsdiens aangehang het, maak ons ook dikwels vir ons afgode. Johannes Calvyn het nie verniet gesê dat die mens se hart ’n afgode-fabriek is nie. Ons skep vir ons afgode wat ons troos in die lewe word.

Welvaartsteologie is baie gevaarlik. ’n Mens aanbid dan vir God om vir jou voorspoed en gawes te gee, maar jy aanbid Hom nie vir wie Hy regtig is nie. Jy moet hom aanbid ook in tye van beproewinge en aanvegtinge. Jy moet die Here nie vergeet in die voorspoed of in die teëspoed van jou lewe nie. Selfs al kwyn alles weg, moet jy nog steeds die Here dien.

Luister wat sê Habakuk 3: 17 – 19. Dit lees so: “Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs  aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn  en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop.” Dít is om die Here te dien en getrou aan die Here wees, ten spyte van teenspoed.

Ons hoereer agter afgode aan soos geld, besittings, geleerdheid en nog vele ander dinge. Dinge soos geregtigheid, barmhartigheid en getrouheid tel al minder. Die Here Jesus is dan nie meer ons enigste troos nie. Ons verplaas dan die Here met ander afgode. Onbewustelik loop ons weg van die Here, soos wat Gomer weggeloop het van Hosea en haar drie kinders af.  

Ons neem baie dikwels party swart mense kwalik omdat hulle die voorvaders aanbid, maar tog ook die Here aanbid. Maar ons is nie veel beter nie. Ons aanbid die Here, maar ook die moderne afgode van ons tyd.

Soos die Here sy rug draai op Sy ontroue volk Israel en hulle in ballingskap wegstuur, kan die Here ook op ons Sy rug draai en Hom nie ontferm oor ons nie.      

Waar ons egter terugdraai na die Here, sal die Here se hart teenoor ons versag. Hy sal weer genade aan ons betoon en die stukkende verhouding tussen ons en Hom herstel.

Daarom moet ons in die Nuwe Testament, waar ons die bruid van Christus is, ons maagdelik weghou van ander afgode en ons eerder gereedmaak op die koms van die Bruidegom Jesus Christus. 

Ons moet ’n skone bruid wees, wat ons nie verkoop  aan allerhande afgode nie. Ons moet nie soos Gomer hoereer agter die afleidings van hierdie wêreld aan nie.

Ons moet net aan die Here behoort. Hy is ’n jaloerse God.

AMEN    

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Die Bybel ken net twee soorte mense

SKRIFLESING:  Psalm 1: 1 – 6

Daar is baie soorte mense in die wêreld. Daar is langes en kortes, maeres en vettes, slimmes en dommes, geleerdes en ongeleerdes, rykes en armes, swart en wit, introverte en ekstroverte en so kan die lysie tot in ewigheid aangaan. Maar vir die Here is daar net twee soorte mense en hulle word in Psalm 1 verdeel in “regverdiges” wat die Here ken en die “goddeloses” wat die Here nie ken nie. (Tienie Strydom) Feitlik die hele Psalmboek kom neer op die twee soorte mense wat die Here noem, naamlik die “regverdiges” en die “goddeloses”.  Die metafoor wat gebruik word in Psalm 1 is dat die regverdiges soos ’n boom by waterstrome is en dat die goddeloses soos kaf is wat deur die wind weggewaai word. Jy kan jou nêrens tussen die twee soorte mense bevind nie, want vir die Here is jy òf die een òf die ander.

Dwarsdeur die Bybel loop ook die lyn tussen die “regverdiges” en die “goddeloses.”  Die regverdiges leef uit die Woord van die Here. Die Woord is die alleroorvloedigste waterbron.

Dr Chris van Wyk spel uit watter impak die regverdiges en die goddeloses het op hulle lewenstyl (1:1 – 2), op hulle ervaringe (1: 3 – 4) en hulle bestemming (1: 5 – 6). Ons gaan na die drie sake kyk.

  1. Die verskil tussen die regverdiges en goddeloses se lewenstyl (verse 1 – 2)

    Die goddeloses hou hulle daarmee besig om God en ander mense te spot. Die goddeloses, sê Psalm 1, is soos ’n klomp spotters wat in ’n groep sit. Die goddeloses spot met God en met die regverdiges. Mense soek maats om mee saam te sondig. Daarom kry jy altyd groepies wat skinder, ’n bende kwaaddoeners of ’n misdaadsindikaat. Ek onthou in my skooljare was die boelies gewoonlik deel van ’n groep. Spotters vorm altyd ’n groep om God en die regverdiges te spot.  Sonde ontstaan dikwels daar waar spotters bymekaar kom.

    Godsdienstige mense kan ook in die kring van die spotters sit. Hulle spog so oor hulle eie prestasies en wat hulle in die lewe bereik het, dat hulle ’n bespotting maak van die Gewer van alle dinge. Hulle maak staat op hulle eie plannetjies en vermoëns. Hulle wortels groei in hulle eie prestasies en planne, in plaas van die Woord van God.

    Die Ou Testamentiese regverdiges het geleef uit die Wet, die Torah en die Pentateug. Vir die Nuwe Testamentiese regverdige is die Woord (die Bybel) die oorvloedige bron van lewe. Jy moet ’n liefde vir die Woord van die Here hê.  Chris van Wyk skryf: “Die Psalmis gebruik die woord mediteer as hy oor die besig-wees met die Woord skrywe, wat in die NAV vertaal is met oordink. Hierdie tipe meditasie is fluisterend of hardop gedoen.” Die Vulgaat vertaling van Psalm 1, vertaal dit dat die regverdiges in verwondering is oor die Woord.

    Psalm 42: 2 – 4 lees as volg oor die verlange na die Woord: “Soos ‘n wildsbok  wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek in die tempel ingaan  en voor God verskyn? Trane is dag en nag my brood, omdat daar die hele dag lank vir my gevra word: “Waar is jou God?”

    Daarom is jou daaglikse Bybel lees baie belangrik. Jou Bybel moenie stof vergader of êrens in jou huis verlore raak nie. Hulle vertel van die dominee wat by ’n sekere huis huisbesoek doen. Die dominee vra toe of hulle vir hom ’n Bybel het om uit te lees. Die Bybel wat hulle vir hom gee was vol stof. Die dominee blaas die stof af en vra hoekom die gesin nie uit die Bybel lees nie. Die pa antwoord toe skerpsinnig: “Dominee, dit is die spesiale Bybel in die huis as dominee kom huisbesoek doen.” Die dominee kon niks sê nie! 

    In plaas daarvan om spottend en ligsinnig deur die wêreld te gaan, moet jy eerder die Woord bestudeer en die Woord die lamp en lig op jou pad maak.

    2. Die verskil tussen die regverdiges en goddeloses se ervaringe (verse 3 – 4)

    Twee metafore word gebruik om die ervaringe van die regverdiges en die goddeloses te vergelyk.

    Die regverdiges word vergelyk met ’n boom wat by watervore geplant is, wat vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verdor nie. Die goddelose word vergelyk met kaf wat deur die wind verstrooi raak. Kom ons kyk na die twee metafore:

    Van watervore gepraat, Prof Johan Cilliers skryf as volg: “ ’n Aantal jare gelede was daar ’n verskynsel in die middestad van Londen wat talle voetgangers in verwondering in hul voetspore laat vassteek het. Dit was ’n wingerd wat nie alleen op ’n vreemde plek, sommer tussen die geboue, begin groei het nie, maar ook in grond wat op die oog af uiters ongeskik vir ’n gewas van so ’n aard gelyk het. Dit was bekend dat daar ’n ondeurdringbare klipbank net onder die grondoppervlak was. Maar nóg vreemder was die feit dat dié wingerd besonder welig aan die groei was, met gesonde stam en lote, lowergroen blare en druiwetrosse só reusagtig groot dat dié vreemde, vrugdraende verskynsel wyd en syd bekend begin word het. Die stadsvaders het besluit om ’n metaalplaatjie op een van die mure naby die wingerd aan te bring, om die geheim daarvan aan toeriste te verduidelik. Die wortels van die wingerd het blykbaar tog êrens ’n deurkomplekkie in die klipbank gevind, en gekruip en gekruip … tot in die Teemsrivier wat ’n hele ent daarvandaan en buite sig, verbygestroom het. Omdat die wingerd ’n lewensaar gevind het, het dit die vaal en vervelige omgewing waarin dit gegroei het, in ’n stukkie herwonne Paradys omskep.” (Johan Cilliers)

    Die Woord van die Here is ons lewensaar wat vir ons lewe gee. ’n Boom gee koelte, dra vrugte, mense kuier onder ’n boom, kinders speel in die boomtakke, die voëls maak neste – ’n boom is ’n nuttige plant. ’n Regverdige mens is ook ’n nuttige mens. So ’n persoon is ’n seën vir sy/haar lewensmaat, gesin, familie, werksplek en samelewing. Maar ’n boom moet ’n waterbron hê. Hierdie waterbron is die Woord.

    Teenoor die Woord van God, as bron van lewe vir die regverdiges, luister die  goddeloses na die raad van ander goddeloses.  As jy nie ’n waterbron het waaruit jy lewe nie, as jy nie die Woord van die Here in jou lewe het nie, is jy soos die goddelose.

    Jy is soos kaf wat deur die wind weggewaai word. In die antieke tyd het mense op winderige dae die koring van die kaf geskei. Hulle het met ’n voorwerp die koring die lug ingegooi. Die koring het dan omdat dit swaarder weeg, op ’n hopie geval en die wind het die kaf weggewaai. Kaf is waardeloser as waardeloos. Dit deug vir niks nie. So is die koring wat bruikbaar is, geskei van die kaf wat onbruikbaar is. Soos die kaf vir niks deug nie, deug die goddelose vir niks nie. Hulle is eerder spotters van die gelowiges. Hulle beraadslaag slegte dinge.

    3. Die verskil tussen die regverdiges en goddeloses se bestemming (verse 5 – 6)

    Vers 5 beskryf dat die goddeloses nie sal kan opstaan tydens die regspraak nie. Hulle sal geen verweer hê nie. Dit is soos ’n beskuldigde in die hof, wat so vas is, dat niks wat hy/sy sê hom/haar onskuldig kan bewys nie. Nie eers die beste advokaat kan die goddeloses vry laat gaan nie.

    Daar word ook in vers 6 geskryf dat die Here sorg en kyk na die pad van die regverdiges en hulle op hulle pad help. Die Here loop saam met die regverdiges op hulle pad. Maar dan word geskryf dat die goddeloses se pad dood loop. ’n Doodloopstraat is altyd ’n teleurstelling en soms ook ’n traumatiese ervaring. So is daar vir die goddeloses geen toekoms en hoop na hierdie lewe nie.

    Dit laat my dink aan die outydse skildery van die twee weë, die smal pad en die breë pad. Op die breë pad loop al die goddeloses. Hulle hoer en rumoer en verval in dronkenskap en spot met God en mense. Hulle pad eindig in die doodloopstraat van die hel, waar God nie is nie. Die hel is inderdaad ’n plek waar God nie is nie. Maar daar is ook die smal pad, die kronkelende en moeilike pad van Christus-navolging, wat uitloop op die hiernamaals en die hemel. Ja, daar waar God in al Sy heerlikheid is.

    Is jy op die breë of die smal pad?

    Spot jy ander of bestudeer jy die Woord?

    Is jy ’n boom geplant by die waterstroom of is jy soos kaf?

    Is jy ’n goddelose of ’n regverdige?   

    AMEN 

    (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

    BRONNELYS:

    Cilliers, Johan. Die tint van ons toekoms (Afrikaans Edition). LAPA Publishers. Kindle Edition.

    Van Wyk, Chris. Bybelskool

    Strydom, Tienie. Preek oor Psalm 1

    Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

    Die vrou wat ‘n dubbele seën ontvang het

    SKRIFLESING:  Mark 5: 24 – 35

    In ons gelese gedeelte leer ons van ’n vrou wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het. Dit is ’n lang tyd. Somtyds ly ons ’n lang tyd aan ’n probleem, omdat die Here vir ons wil laat besef dat Hy ons laaste en enigste hulp in die lewe is. Wanneer al ons opsies uitgeput is, besef ons eers dat Jesus ons enigste uitweg en Trooster is.

    Jesus was op pad om Jaïrus se dogtertjie gesond te maak, toe Hy deur die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, lastig geval is. Vir ons is dit erg steurend as ons ontydig lastig geval word, maar Jesus hou daarvan om lastig geval te word. Hy is te alle tye ’n hulp en ’n toevlug vir mense in nood. Jy kan Hom enige tyd nader met jou diepste nood en kommer.

    Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het se naam is onbekend. Sy was ’n nobody. Al wat van haar bekend was, was dat sy aan bloedvloeiing gely het vir twaalf jaar. Die gedurige verloor van bloed maak jou swak en sieklik. 

    Ons kan die volgende aflei uit haar toestand:

    Eerstens het sy ’n abnormale fisiese toestand gehad. In vers 25 staan daar sy het ’n fisiese “toestand”: Sy het twaalf jaar aan bloedvloeiing gely. Die oorsaak van die bloedverlies word nie beskryf nie. Haar liggaam kon skaars byhou om nuwe bloed te produseer om die bloed te vervang wat sy verloor het. Sy was swak, moeg en het die hele tyd aan bloedarmoede gely. Sy kon ook fisiese ongemak en pyn gehad het as gevolg van haar kondisie.

    Tweedens het sy ’n swak finansiële toestand gehad. In vers 26 staan daar dat sy oor die jare al haar geld gespandeer het op dokters wat haar probeer gesond maak het. Markus sê sy het alles op dokters gespandeer om haar te probeer gesond maak. In vandag se tyd sal ’n mens sê dat sy haar kredietkaarte tot op hulle kredietperk opgebruik het, sy het haar spaargeld opgebruik, geld geleen en dalk ook van haar meubels verkoop. Sy het niks gehad nie. Sy was finansieel geruïneer. 

    Verder het sy – derdens – verhoudingsprobleme gehad. As gevolg van haar konstante bloedvloeiing was sy spiritueel onrein volgens Lev 15: 25 – 27. Vroue moes sewe dae na bloeding verby is, wag voordat hulle hul offers in die tempel kon bring. Vir twaalf jaar kon sy nie deel neem aan die offerdiens en die aanbidding by die sinagoge nie. Sy was ook baie beperk om te meng met mense, vriende en familie, omdat sy volgens Levitiese wetgewing as onrein beskou is. Dink net aan die konstante verwerping van haar as mens in die samelewing. Sy is altyd as onrein beskou en moes mense permanent vermy. Die Joodse wet het bepaal dat alles waarop sy gesit het of waaraan sy geraak het, ook as onrein beskou is. Dit moes ’n ongelooflike skaamte en gevoel van verwerping meegebring het. Sy moes ontsettend alleen gevoel het. Sosiaal gesproke was sy net ’n bietjie beter af as ’n melaatse persoon. ’n Melaatse persoon is uit die gemeenskap geban; ’n onrein persoon mag nog in die gemeenskap bly, maar mag nie met ander mense meng nie. Altwee was ewe eensaam.

    Daar was vierdens ook ’n spirituele toestand. Mense van haar dag het haar beskou as iemand wat vervloek is deur God. Daar was maklik aangeneem dat sy siek was omdat daar sonde in haar lewe was. Hulle het die siening gehad dat iemand wat met langdurige siekte gepla was, gesondig het. Soos in Johannes 9, waar  Jesus se dissipels gevra het of die blinde man blind is omdat hy of sy ouers gesondig het. Dié beskouing het die vrou in ons gelese gedeelte se verwerping net nog meer intens gemaak.

    Vyfdens was haar situasie ’n hooplose situasie. Markus beklemtoon aan die einde van vers 26 dat sy nie beter, maar eerder slegter, geword het. Verseker het sy gebid en het sy dokters toe gegaan, maar daar was geen genesing  nie. Sy het net erger geword. Haar tyd van genesing het nog nie gekom nie.

    Maar toe verskyn Jesus op die toneel, op pad om Jaïrus se dogtertjie gesond te maak. Die mense drom saam en van alle kante word Jesus vasgedruk deur mense wat opgewonde is om Hom te sien. Dan verskyn die vrou wat aan bloedvloeiing gely het op die toneel en sy nader Jesus van agter en sê in vers 28: “As ek maar net aan Sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” Eintlik mag sy nie tussen die mense gewees het nie, want sy was as “onrein” beskou. Sy was klaarblyklik bang om Jesus in die oë te kyk, omdat sy haar eie onwaardigheid ken. Sy was ’n onrein vrou, en die skande van haar siekte het haar verhinder om enige mondelinge versoek of openlike versoek te rig.

    Dan raak die vrou van agter aan Jesus se bokleed en word dadelik genees van die oorsaak van haar bloedvloeiing. Lance Wubbels skryf: “Die aanraking van Jesus het haar nie net fisies genees nie, dit het ook die sosiale vloek opgehef waaronder sy al die jare gely het. Sy het daardie dag ’n dubbele seën van Jesus ontvang.”

    Waar het die vrou op die gedagte gekom om net aan Jesus se kleed te raak, dan sal sy gesond raak? Die woord het die rondte gedoen dat mense net deur aan Jesus te raak, gesond geword het. Daarom staan daar in Mark 3: 10 die volgende: “Hy het immers baie mense gesond gemaak, sodat almal wat aan kwale gely het, om Hom saamgedrom het om aan Hom te raak.”

    Waar het die mense die idee gekry, dat om aan Jesus se klere te vat, hulle gesond sal word? Daar was in daardie tyd die bygeloof dat deur aan regeerders en gerekende mense se kleding te vat, hulle geseën sal word. Mense het byvoorbeeld dikwels in Alexander die Grote se tyd probeer om aan sy klere te vat, om geseën te word deur sy mag.

    Hierdie vrou het haar volle vertroue en geloof geplaas in Jesus Christus om haar te genees. Jou vertroue moenie wees in jouself of jou geloof of in jou bekering of in jou goeie werke nie, maar buite jouself in Jesus Christus. In Strydenburg het ek eenmaal ’n baie ou arm bruinman besoek wat op sterwe gelê het. Sy huis was net ’n kamer, ’n leë kamer met geen meubels nie en die vloer was van grond. Hy het op ’n ou verflenterde kombers gelê in die hitte van die stryd met die dood gewikkel. Ek buig toe af na hom en vra of sy saak met die Here reg is. In ’n doodsroggeling tel hy sy een hand met ’n groot gesukkel en met moeite op en wys na iets agter my teen die muur. Hy het geroggel : “Daai man …….” Toe ek omkyk, was dit ’n eenvoudige afdruk van Jesus aan die kruis. Verseker was die man se saak met God reg, want hy het weggewys van homself, na die Christus van die Bybel. ’n Paar ure later het hy gesterf. Verseker was hy veranker in die werk van Christus. Godsalig het hy gesterf, in die hande van die Here.

    Daar staan in vers 30 dat Jesus, nadat die vrou gesond geword het, opgemerk het dat daar krag van Hom af uitgegaan het. Hy het rondgekyk en met die vrou oogkontak gemaak. Die vrou het toe met die volle waarheid vorendag gekom. Jesus het dadelik haar groot geloof geprys en haar in vrede weggestuur. Dit was nie die grootheid van haar geloof wat haar genees het nie, maar die objek in wie sy haar geloof gestel het, naamlik Jesus Christus.

    Jesus het van Sy krag verloor. Daarom het Jesus dikwels na ’n plek alleen gegaan om tot Sy Vader te bid om Sy kragte te herstel.  Wanneer ons geestelik betrokke is by ander mense, word ons geestelike en emosionele energie ook getap. Daarom is selfsorg en die geestelike dissiplines so belangrik.

    Die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het is fisies genees en haar sosiale vloek van verwerping is weggeneem. In haar diepste nood was haar fokus op die Here Jesus.

    Mag ons fokus ook elke dag op onse Here Jesus Christus wees.  AMEN    

    (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

    BRONNELYS:

    Wubbels, Lance. Bible Nobodies Who Became Somebodies: 50 Inspirational Characters Who Prove that Anyone Can Be Special in God’s Kingdom. Destiny Image. Kindle Edition.

    https://truthappliedjs.com

    Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.