Om in spieëls te kyk


SKRIFLESING:  Mat 17: 1 – 9

In Durban se speelpark aan die seefront was daar in die 1970’s ’n “Chamber of horrors.”

Die plek het bestaan uit verskillende spieëls wat verskillende wanpersepsies en wanbeelde van jou geweerkaats het. Sommige spieëls het jou baie vet laat lyk, ander brandmaer, ander het jou kort of lank gemaak of jou gesig verwronge laat lyk. Die spieëls het jou angstig gemaak oor hoe jy kon gelyk het. Natuurlik was dit ook baie lagwekkend.

Die volgende moderne gelykenis het ek iewers raakgelees. Dit gaan oor die duiwel wat ook so ’n spieël gehad het. Hy het mense in die spieël laat kyk. Alles wat goed was, is verklein tot mikroskopiese atome en die goed wat sleg was, is opgeblaas tot reusagtige grootte.

Met groot vermaak het die duiwel die mense deur die spieël laat kyk. In sy opgewondenheid om die spieël te gebruik, val die spieël toe op die grond en breek in ontelbare spieëlsplinters. ’n Groot storm het opgekom en die splinters en stof het in al die mense op die aarde se oë gewaai.

Van dié dag af sien mense altyd die slegte goed in hulle medemens in oortreffende vorm en hulle sien die goeie skaars in mekaar raak. Selfs hulle omstandighede sien hulle verwronge. Die goeie word verklein en die slegte word opgeblaas tot uitermatige proporsies.

God was baie ongelukkig met die verloop van dinge. Hy het toe ’n ander spieël gegee in die vorm van ’n Persoon, naamlik die Here Jesus Christus, wat die ewebeeld van die Vader is. Jesus het gekom en mense geleer om weer die goeie in ander mense raak te sien en die slegte in ander se lewens mis te kyk.

Die owerspelige vrou se sondes het hy so verklein dat almal weggestap het en dat niemand haar met ’n enkele klip gegooi het nie. Hy het in die huise van die grootste sondaars soos Saggéüs ingegaan en prostitute toegelaat om Sy voete te balsem met kosbare reukolie.

Natuurlik het die duiwel en die Fariseërs nie van hierdie nuwe spieël gehou nie. So het hulle hierdie spieël, Jesus Christus, stukkend gegooi teen die kruis op Golgota. Op Pinkster Sondag het ’n groot wind opgekom en die spieëlsplinters en stof in baie mense se oë gewaai. Tot vandag toe nog waai die Pinkster Gees stofdeeltjies van Jesus se spieël in mense se oë. Die wonder is dat elkeen in wie se oë die spieëlstof vassit, anders en nuut na die wêreld kyk, na hulle omstandighede en ander mense. Hulle sien skielik in hulle omstandighede  meer goed om voor dankbaar te wees as goed om oor te kla. Hulle sien die foute in ander mense se lewens skaars raak en sien baie gou die goeie in ander mense raak. Watter spieëlsplinters sit in jou oë? Hoe kyk jy na ander mense en na jou omstandighede?

Op die Berg van Verheerliking het die dissipels vir Jesus ook anders begin sien.

Hulle oë was verblind deur Sy heerlikheid en glans. Die dissipels Petrus, Johannes en Jakobus was so oorweldig deur die heerlikheid van Jesus, saam met Moses en Elia, dat hulle drie tente wou bou, een vir elkeen. Moses verteenwoordig die wet en Elia die profete.  Die verskyning van Jesus op die Berg van Verheerliking is ’n voorafskaduwee van die verheerliking wat op Jesus wag, na Sy lyding wat nou sou begin. As’t ware gee die Vader vir Sy Seun Jesus Christus hier moed vir die moeilike pad wat nou voorlê.

Jesus kyk as’t ware met ’n spieël die toekoms in. Daarom word die skrifgedeelte graag gelees op die Sondag van die Verheerliking of Transfigurasie Sondag, wat die laaste Sondag in Epifanie-tyd is. Jesus het as’t ware die spieël van God se goedheid geword.

Natuurlik moet ons onderskei tussen Moses se spieël en Jesus se spieël. Moses word beskou as ’n prototipe van Jesus wat gekom het. Moses het op die Berg Sinai die Tien Gebooie as wet ontvang, die Ou Testamentiese spieël van hoe God se kinders behoort te leef. So het Jesus vir ons ’n ander spieël gegee, die opsomming van die wet, die bergpredikasie en natuurlik die bekende Mat 23:23. Natuurlik straal Jesus se spieël genade uit. Moses het die volk uit Egipte, uit die plek van slawerny, gelei. Jesus het ons gelei uit die slawerny van sonde. Die Rooisee het oopgegaan  voor Moses, net so het Jesus die doop tot verlossing van sonde verkondig. Moses het die volk 40 jaar deur die woestyn gelei en Jesus is 40 dae lank in die woestyn versoek en verlei. Soos Moses se lewe deur die Farao bedreig is, is Jesus se lewe deur Herodus bedreig. Die helderverligte wolk in ons gelese gedeelte herinner ons ook aan die wolkkolom en vuurkolom wat Moses en die volk in die woestyn oorskadu het. Moses is die bevryder van die Ou Testament en Jesus is die Bevryder van die Nuwe Testament en van alle tye.

Net na die Berg van Verheerliking-episode sou Jesus se pad van lyding begin. Tussen verwondering en verwondheid lê slegs ’n paar treë. Dikwels seën die Here ons met bergtopervaringe saam met Hom, om ons krag te gee as ons deur woestyne moet gaan. Elkeen van ons lewe dikwels met die herinnering van besondere bergtopervaringe met die Here. Dit gee ons krag wanneer ons langs die pad wil swak word. Epifanie duur 40 dae en die Lydenstyd duur ook 40 dae. Tye wat ons herinner dat God altyd by ons is.

Jou spirituele lewe kan ook so ’n spieël wees. Somtyds kan dit vol rimpels wees en ander tye kan dit spieëlglad wees, sodat jy as’t ware beelde in die water kan sien reflekteer. Die genade is dat ons God kan sien in die rimpeltye, asook in die spieëlgladde tye van ons lewe. Jesus het tye van lyding en verheerliking geken. Hy was in die woestyn en op die bergtop van die Berg van Verheerliking. Hy het palmtakke én spykers ontvang. Te alle tye was Hy in harmonie met Sy Vader wat in die hemel is.

As ons harte en gedagtes vol rimpels is, is dit soos ’n gekraakte spieël wat alles in die lewe verwronge sien. Ons kan selfs nie eers meer God se werke sien nie, wat nog te sê om vir God te sien. Juis daarom moet ons hart tot rus kom, deur bergtopherinneringe uit die verlede te onthou. Dit gee vir ons die rustigheid om te weet God is nog steeds by my as dit swaar gaan. God is so naby aan my, dat ek as’t ware Sy hand op my skouer kan voel.

Juis daarom is die Nagmaal ook elke keer ’n bergtopervaring, wanneer ons die brood en die wyn vashou in ons hande. Ons kan as’t ware nie meer van God vashou nie, want ons hande is dan alreeds vol. Patrick Wilson skryf so mooi: “… God is so great, so majestic, so glorious, that God  come to us in a crumb of bread and a sip of wine, just as much of God as a hand can hold.” 

In die bergtopervaring is daar ook sprake van gemeenskap van gelowiges wat mekaar voorberei op die lyding.

So staan ons nooit alleen in lyding nie. Die Here het vir die kerk die gemeenskap van gelowiges gegee om mekaar by te staan in tye wat dit swaar gaan. Daarom is dit juis ook een van die unieke eienskappe van die Christelike kerke, dat Christene hulle lyding en alleenwees met mekaar kan deel. Ek lees die volgende aangrypende aanhaling: “The mountain was the way for God to prepare a human band of companions for the sacred journey, to offer something to hold onto when they descend into the crushing reality of the world below.” (Anschutz in Feasting on the Word)

Daarom moet ons leer om saam in die spieël te kyk na God se heerlikheid, maar ook om met nuwe verhelderende oë na mekaar te kyk in nuwe verwondering.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Lewer kommentaar