Om soos sout te wees

SKRIFLESING:  Mat 5: 13 – 16

Eendag was daar ’n koning wat baie lief was vir sy kos. Hy het ’n kok gehad wat vir hom die smaaklikste kos voorberei het.

Uit waardering vir die lekker kos, het die koning baie besondere voordele aan die kok toegestaan. Die kok het dan altyd die koning bedank vir die voordele, deur te sê dat die koning vir hom soos “sout” is. Die koning was altyd gebelg as die kok hom vergelyk met sout. Hoekom sê die kok nie eerder vir hom hy is soos goud of fluweel nie?

Op ’n dag maak die kok weer vir die koning kos, maar hy gooi geen sout op die kos nie. Toe die koning die kos eet, proe hy daar is iets ernstigs met die kos verkeerd. Hy stuur die kos terug en verneem by die kok wat verkeerd is. Die kok sê toe die kos smaak laf, omdat daar geen sout in is nie.  Toe verstaan die koning dat die kok eintlik vir hom ’n kompliment gee as hy sê die koning is soos sout, want sout is onontbeerlik.

Ons eet almal sout, want sout is noodsaaklik in die voorbereiding van kos.

Wanneer die Here sê dat Sy kinders soos sout moet wees, bedoel Hy daarmee dat Sy kinders ’n onontbeerlike deel het aan die voortgaan van Sy koninkryk. Net soos wat sout ’n alledaagse, onontbeerlike huishoudelike item is, net so ag God Sy kinders as belangrik in Sy Koninkryk.

In die tyd van Jesus was sout sommer baie belangrik. Romeinse soldate het dikwels nie geld ontvang vir hulle diens in die leër nie, maar is met sout betaal. Hulle het dan die sout verruil vir hulle lewensbehoeftes op die markplein. Om die waarheid te sê, ons woordjie “salaris” is afgelei van die Latynse woord salarium wat op sy beurt verband hou met die Latynse woord sal of “sout”. Jy moet respek vir sout hê, want dit is noodsaaklik.

Sout was veral belangrik vir hulle bewarende, genesende en smaakvolle eienskappe.

Sout was in die eerste plek belangrik vir hulle bewarende eienskappe. In die tyd van die Bybel was daar nie vrieskaste nie. Kos is met sout ingelê om dit te bewaar. Vandag nog word biltong en snoek ingelê met sout om dit te bewaar. Sonder sout sal die kos gou bederf. Selfs diere se velle word met sout ingevryf en opgerol om later verwerk te word.

Net so moet die kinders van God keer dat die aarde en ons samelewingstrukture begin stink en sleg word, bederf en vernietig word. Daar is baie dinge wat mense se lewens bederf, soos byvoorbeeld haat, bitterheid, pessimisme, onvergewensgesindheid, skinder, slegte musiek en films, genotsug ensovoorts. Ons moet egter as kinders van die Here soos sout keer dat die negatiewe dinge ons lewe sleg maak. Nee, ons moet eerder ons lewe vul met positiewe dinge. Dan is ons soos sout vir die Here.

Sout was ook ’n belangrike geneesmiddel in die tyd van die Bybel. Daar was toe nog nie middels soos Dettol op die mark nie. Nee, sout is op die wonde gegooi. Dit het gebrand, maar dit het al die kieme doodgemaak en die wonde genees. Vandag nog spoel mense hulle monde met soutwater uit om hulle monde te ontsmet en te genees. Ons moet as gelowige kinders van die Here ook soos sout genesend op mense inwerk. Daar is soveel stukkende mense, hartseer mense, arm mense, bedroefde mense, bekommerde mense en so baie mense wat net vra vir ’n bietjie begrip en liefde. Soos sout moet ons hulle wonde genees. Ons moet vredemakers wees, ons kan ’n besoek aflê, simpatie betoon of doodeenvoudig net vir hulle bid.

Sout is ook ’n smaakvolle item. Dit gee smaak aan kos. Dit maak kos aangeneem om te eet. Net so moet ons aan die lewe smaak gee, sodat die wêreld begeer om ook deel te hê aan hierdie heerlike smaak om ’n Christen te wees. Daar is niks so mooi soos ’n Christen-mens wat smaakvol lewe vir die Here nie.

Die Here Jesus praat ook van sout wat hulle smaak verloor. Die sout het laf geword. In die Ou Testament is sout baie gebruik by graanoffers om die wet te onderhou. In die Nuwe Testament het die Here die offerdiens kom vervul deur self die volmaakte offer te word. Daarom is die sout wat by graanoffers gebruik word nou smaakloos. Dit het geen waarde en smaak nie, want die Here Jesus het die volmaakte offer geword. Die Ou Testamentiese wette rondom sout het nou laf geword.

’n Mens gooi nie sout by alle kossoorte nie, want dit kan die kos bederf. Daarom, byvoorbeeld,  gebruik ons die Woord ook nie in alle omstandighede nie. Jy moet die Woord oordeelkundig gebruik, soos die geleentheid dit voordoen.

Wanneer ek ’n soutpot vol sout maak, beteken dit nie dat dit lewenslank sal vol bly nie. Hoe meer sout ek uitstrooi, hoe meer dikwels moet ek dit volmaak. Selfs Jesus het agtergekom dat daar krag van Hom af uitgegaan het toe die vrou met die bloedvloeiing Hom aangeraak en genees is (Mar 5:30). Daarom het Jesus gereeld na ’n stil plek gegaan en met Sy Vader in gebed verkeer.

Sout het dus bewarende, genesende en smaakvolle eienskappe. So moet ons ook bewarend, genesend en smaakvol as Christene lewe.

“Sout offer sigself op. Sout werk net as dit uit die soutpot gegooi word. Sout bestaan nie ter wille van sout self nie, maar ter wille van die wêreld. Sout gee sy eie geborgde bestaan in die soutpot prys om die wêreld te dien.” (Chris van Wyk) So moet ons ook die wêreld dien.

Belangrik is egter ook dat sout stil en onsigbaar werk. Vergelyk ’n teelepel sout en Eno onderskeidelik in twee verskillende glase water. Die Eno borrel en raas, maar spoedig is alles oor en dit het niks van die eienskappe van sout nie. Die sout werk stil en feitlik onsigbaar.

Op die oog af lyk alle mense dieselfde, net soos die Eno en die sout. Tog lê die verskil tussen mense in die dinge wat hulle doen. Baie mense borrel en raas, maar hulle doen niks nie. Die spreekwoord lui mos: “Die leë blikke maak die meeste lawaai.” Nee, ons moet eerder soos sout stil, maar seker, werk.

Wanneer werk sout die beste? Binne die soutpot of daarbuite? Natuurlik daarbuite, wanneer dit oor die kos gestrooi word! Die Here wil ons ook daarbuite in die wêreld gebruik.

Wanneer sout gemyn word, word dit in die fabriek skoongemaak en gesuiwer. Net so word ons in die erediens gesuiwer en voorberei om buite die erediens sout vir die aarde te wees. Ek kan nie maar net hier in die kerk ’n Christen wees nie. Nee, ek moet uitgaan en oral sout vir die aarde wees.

’n Soutkorrel los van die ander soutkorrels beteken nie veel nie. Net so verkry die gelowige alleen krag as hy/sy saam met ander gelowiges die gemeenskap van gelowiges vorm.

Jesus sê ons is die sout van die aarde! Dit beteken ons moet bewarend, genesend en smaakvol lewe. Stilweg kan ons die wêreld verander vir die Here, deur soos sout te wees. Mag God ons en ons kinders soos sout gebruik.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)


Om in spieëls te kyk

SKRIFLESING:  Mat 17: 1 – 9

In Durban se speelpark aan die seefront was daar in die 1970’s ’n “Chamber of horrors.”

Die plek het bestaan uit verskillende spieëls wat verskillende wanpersepsies en wanbeelde van jou geweerkaats het. Sommige spieëls het jou baie vet laat lyk, ander brandmaer, ander het jou kort of lank gemaak of jou gesig verwronge laat lyk. Die spieëls het jou angstig gemaak oor hoe jy kon gelyk het. Natuurlik was dit ook baie lagwekkend.

Die volgende moderne gelykenis het ek iewers raakgelees. Dit gaan oor die duiwel wat ook so ’n spieël gehad het. Hy het mense in die spieël laat kyk. Alles wat goed was, is verklein tot mikroskopiese atome en die goed wat sleg was, is opgeblaas tot reusagtige grootte.

Met groot vermaak het die duiwel die mense deur die spieël laat kyk. In sy opgewondenheid om die spieël te gebruik, val die spieël toe op die grond en breek in ontelbare spieëlsplinters. ’n Groot storm het opgekom en die splinters en stof het in al die mense op die aarde se oë gewaai.

Van dié dag af sien mense altyd die slegte goed in hulle medemens in oortreffende vorm en hulle sien die goeie skaars in mekaar raak. Selfs hulle omstandighede sien hulle verwronge. Die goeie word verklein en die slegte word opgeblaas tot uitermatige proporsies.

God was baie ongelukkig met die verloop van dinge. Hy het toe ’n ander spieël gegee in die vorm van ’n Persoon, naamlik die Here Jesus Christus, wat die ewebeeld van die Vader is. Jesus het gekom en mense geleer om weer die goeie in ander mense raak te sien en die slegte in ander se lewens mis te kyk.

Die owerspelige vrou se sondes het hy so verklein dat almal weggestap het en dat niemand haar met ’n enkele klip gegooi het nie. Hy het in die huise van die grootste sondaars soos Saggéüs ingegaan en prostitute toegelaat om Sy voete te balsem met kosbare reukolie.

Natuurlik het die duiwel en die Fariseërs nie van hierdie nuwe spieël gehou nie. So het hulle hierdie spieël, Jesus Christus, stukkend gegooi teen die kruis op Golgota. Op Pinkster Sondag het ’n groot wind opgekom en die spieëlsplinters en stof in baie mense se oë gewaai. Tot vandag toe nog waai die Pinkster Gees stofdeeltjies van Jesus se spieël in mense se oë. Die wonder is dat elkeen in wie se oë die spieëlstof vassit, anders en nuut na die wêreld kyk, na hulle omstandighede en ander mense. Hulle sien skielik in hulle omstandighede  meer goed om voor dankbaar te wees as goed om oor te kla. Hulle sien die foute in ander mense se lewens skaars raak en sien baie gou die goeie in ander mense raak. Watter spieëlsplinters sit in jou oë? Hoe kyk jy na ander mense en na jou omstandighede?

Op die Berg van Verheerliking het die dissipels vir Jesus ook anders begin sien.

Hulle oë was verblind deur Sy heerlikheid en glans. Die dissipels Petrus, Johannes en Jakobus was so oorweldig deur die heerlikheid van Jesus, saam met Moses en Elia, dat hulle drie tente wou bou, een vir elkeen. Moses verteenwoordig die wet en Elia die profete.  Die verskyning van Jesus op die Berg van Verheerliking is ’n voorafskaduwee van die verheerliking wat op Jesus wag, na Sy lyding wat nou sou begin. As’t ware gee die Vader vir Sy Seun Jesus Christus hier moed vir die moeilike pad wat nou voorlê.

Jesus kyk as’t ware met ’n spieël die toekoms in. Daarom word die skrifgedeelte graag gelees op die Sondag van die Verheerliking of Transfigurasie Sondag, wat die laaste Sondag in Epifanie-tyd is. Jesus het as’t ware die spieël van God se goedheid geword.

Natuurlik moet ons onderskei tussen Moses se spieël en Jesus se spieël. Moses word beskou as ’n prototipe van Jesus wat gekom het. Moses het op die Berg Sinai die Tien Gebooie as wet ontvang, die Ou Testamentiese spieël van hoe God se kinders behoort te leef. So het Jesus vir ons ’n ander spieël gegee, die opsomming van die wet, die bergpredikasie en natuurlik die bekende Mat 23:23. Natuurlik straal Jesus se spieël genade uit. Moses het die volk uit Egipte, uit die plek van slawerny, gelei. Jesus het ons gelei uit die slawerny van sonde. Die Rooisee het oopgegaan  voor Moses, net so het Jesus die doop tot verlossing van sonde verkondig. Moses het die volk 40 jaar deur die woestyn gelei en Jesus is 40 dae lank in die woestyn versoek en verlei. Soos Moses se lewe deur die Farao bedreig is, is Jesus se lewe deur Herodus bedreig. Die helderverligte wolk in ons gelese gedeelte herinner ons ook aan die wolkkolom en vuurkolom wat Moses en die volk in die woestyn oorskadu het. Moses is die bevryder van die Ou Testament en Jesus is die Bevryder van die Nuwe Testament en van alle tye.

Net na die Berg van Verheerliking-episode sou Jesus se pad van lyding begin. Tussen verwondering en verwondheid lê slegs ’n paar treë. Dikwels seën die Here ons met bergtopervaringe saam met Hom, om ons krag te gee as ons deur woestyne moet gaan. Elkeen van ons lewe dikwels met die herinnering van besondere bergtopervaringe met die Here. Dit gee ons krag wanneer ons langs die pad wil swak word. Epifanie duur 40 dae en die Lydenstyd duur ook 40 dae. Tye wat ons herinner dat God altyd by ons is.

Jou spirituele lewe kan ook so ’n spieël wees. Somtyds kan dit vol rimpels wees en ander tye kan dit spieëlglad wees, sodat jy as’t ware beelde in die water kan sien reflekteer. Die genade is dat ons God kan sien in die rimpeltye, asook in die spieëlgladde tye van ons lewe. Jesus het tye van lyding en verheerliking geken. Hy was in die woestyn en op die bergtop van die Berg van Verheerliking. Hy het palmtakke én spykers ontvang. Te alle tye was Hy in harmonie met Sy Vader wat in die hemel is.

As ons harte en gedagtes vol rimpels is, is dit soos ’n gekraakte spieël wat alles in die lewe verwronge sien. Ons kan selfs nie eers meer God se werke sien nie, wat nog te sê om vir God te sien. Juis daarom moet ons hart tot rus kom, deur bergtopherinneringe uit die verlede te onthou. Dit gee vir ons die rustigheid om te weet God is nog steeds by my as dit swaar gaan. God is so naby aan my, dat ek as’t ware Sy hand op my skouer kan voel.

Juis daarom is die Nagmaal ook elke keer ’n bergtopervaring, wanneer ons die brood en die wyn vashou in ons hande. Ons kan as’t ware nie meer van God vashou nie, want ons hande is dan alreeds vol. Patrick Wilson skryf so mooi: “… God is so great, so majestic, so glorious, that God  come to us in a crumb of bread and a sip of wine, just as much of God as a hand can hold.” 

In die bergtopervaring is daar ook sprake van gemeenskap van gelowiges wat mekaar voorberei op die lyding.

So staan ons nooit alleen in lyding nie. Die Here het vir die kerk die gemeenskap van gelowiges gegee om mekaar by te staan in tye wat dit swaar gaan. Daarom is dit juis ook een van die unieke eienskappe van die Christelike kerke, dat Christene hulle lyding en alleenwees met mekaar kan deel. Ek lees die volgende aangrypende aanhaling: “The mountain was the way for God to prepare a human band of companions for the sacred journey, to offer something to hold onto when they descend into the crushing reality of the world below.” (Anschutz in Feasting on the Word)

Daarom moet ons leer om saam in die spieël te kyk na God se heerlikheid, maar ook om met nuwe verhelderende oë na mekaar te kyk in nuwe verwondering.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Skuld moet bely word

SKRIFLESING:  Mat 5: 22 – 26

Ons mense is dikwels soos ’n verkleurmannetjie, want in die teenwoordigheid van God wys ons ons beste kleure. In die teenwoordigheid van ons medemens wys ons egter ons swakste kleure. Ons wil heilig met God lewe, maar lewe somtyds so onheilig met ons medemens saam.

In die agtiende eeu, met die bloei van slawehandel na Amerika, was daar ’n slawehandelaar en seekaptein wat bekend was vir sy godsdienstigheid, maar ook vir sy ongelooflike wreedheid teenoor slawe. Daar word vertel hoe hy elke oggend en elke aand op die dek van die skip gestaan het en gesange gesing het uit die Hollandse Gesangeboek. Hy het met oorgawe gesing, selfs bo die gedruis van die branders heen. Tog, onder die dek van die einste skip het dit beroerd gegaan. Dáár was die slawe aan die uiterste ellende onderwerp. Hulle was aan kettings geboei en het min kos en water gekry. Sou hulle siek word, is hulle lewend oorboord gegooi sodat hulle nie die ander moes aansteek nie. Hierdie seekaptein het vroom probeer lewe voor God, maar teenoor sy medemens het hy soos ’n monster gelewe.

Om so te lewe is om van godsdiens ’n klug te maak. Die tweeledige liefdesgebod staan juis op twee bene, naamlik liefde tot God en liefde tot jou naaste. Die Here Jesus sê hulle is gelyk. Die een is nie belangriker as die ander een nie.

Luther sê ek moet ’n “Christus” vir ’n ander een word. Het u gehoor: ek moet ’n “Christus” vir ’n ander een word. Daarom sê die Here Jesus dat ’n mens eers jou godsdienspleging moet onderbreek om te gaan regmaak met ’n ander een, voordat jy verder aanbid. Die Nagmaalsformulier sê selfs dat ’n mens jou van die Nagmaal moet weerhou as jy nog iets teen ’n ander een het. Wie sondig teen sy medemens, sondig ten diepste ook teenoor God.

Hoor wat sê Mat 5: 22 – 24:  “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat kwaad is vir sy broer, strafbaar voor die reg is. En wie vir sy broer sê, ‘Raka!’ is strafbaar voor die Sanhedrin. En wie sê, ‘Jou dwaas!’ is strafbaar in Gehenna met sy vuur. En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.”

Die uiterste straf vir onenigheid en skeltaal, sê Jesus is om in die Gehenna te beland. So ernstig is die Here oor sondeskuld wat veroorsaak word deur onenigheid.

Waar en wat is die Gehenna?  “Teen Jesus se tyd is die Ben-Hinnom-vallei tot “Gehenna” verkort. Gehenna het as die plaaslike stortingsterrein van Jerusalem gedien. Al die stad se afval en puin is daar verbrand. Tereggestelde misdadigers en onbegrawe liggame is dikwels in Gehenna gegooi, wat die kloof sy reputasie gegee het as die plek van die verdoemdes en die verlatenes. Die brande van die vallei het ’n stank geskep wat die hele gebied laat sleg ruik het. Diegene in die stad kon sy rook sien, en die besoedeling was ’n herinnering aan al die skande van die verlede. In Jesus se gedagtes was Gehenna ’n plek van ontrouheid, waar diegene wat geroep is om iets groots te wees, hulle rug op God gedraai het. By Gehenna het opstandige Hebreërs hulle kinders aan die vuur van Baäl geoffer. By Gehenna het buitelandse leërs duisende lyke opgestapel terwyl die oorlewende Israeliete in ballingskap gelei was.” (JF Cook)

Om egter skuld te bely is ’n moeilike saak. Kinders sê gou dit is nie ek nie, dis hy. Toe Adam en Eva gesondig het en God by hulle navraag doen, sê Adam dis Eva en Eva gee weer vir die slang die skuld. So speel hulle vroteier. Niemand het die moed om hul skuld te bely nie.

Daarom om jou skuld te kan bely, is ’n deug wat sorteer onder die deugde wat van ’n mens moed vra. Om skuld te kan bely is nie ’n teken van swakheid nie, maar ’n teken van sterkte en moed. Deur ’n mens se skuldbelydenis heen, werk God sodat dinge weer kan regkom in jou lewe. Om jou skuld te kan bely, is soos om ’n sweer oop te krap dat die kwaad kan uitkom. As die kwaad eers uitkom, word die wond gou genees.

Koning Dawid het sy skuld bely en so het sy lewe weer reggekom, sodat hy die “man na aan die hart van God” geword het. Uit sy nageslag is die Messias gebore.

Wanneer daar huweliksonmin is, of wantroue tussen mense, of konflik en haat, is dit soos ’n sweer. Daardie sweer sal daar bly totdat die skuld bely is. Die baie ongelukkigheid in huwelike, in families en in die gemeenskap wat oor jare gekom het, is te wyte aan skuld wat nog nie uitgepraat en bely is nie.

Soos die seun wat op ’n Sondagmiddag sy pa se motor gestamp het. Hy kruip weg vir sy pa. Hy is skaam vir sy pa. Hy het nie die vrymoedigheid om sy pa in die oë te kyk nie. Toe hy egter sy skuld gaan bely, val die swaar las soos ’n klip van hom af. Hy voel so vry soos ’n voëltjie. Sy verhouding met sy pa kom weer reg.

Daar is iets soos indiwiduele skuld, maar ook iets soos kollektiewe of groepskuld. Indiwiduele skuld is my persoonlike skuld teenoor ’n ander indiwidu. Kollektiewe skuld of groepskuld is skuld wat ’n groep, volk of gemeenskap teenoor ander mense het.

Hulle vertel van ’n sekere hofsaak jare gelede in Duitsland toe ’n sekere man gevang is oor hy ’n brood gesteel het by ’n kafee. In die hof het hy toe aangevoer dat hy getroud is en drie kinders het. Hy soek al weke werk, maar niemand wil vir hom werk gee nie. Hy noem dan ook ’n hele rits plekke waar hy al werk gesoek het. Hy vertel hoe hy al gebedel het, maar almal jaag hom weg met ’n afjak. Hy vra vir die regter wat hy anders kon doen; hy het ’n vrou en drie kinders. Wat sê hy vir sy kinders en hoe kan hy hulle in die oë kyk? Hy het dit gedoen om sy vrou en kinders aan die lewe te hou. Dit was nie gierigheid nie. Die regter het die man toe gevonnis vir drie dae gevangenskap of 10 Duitse Mark vir sy diefstal. In dieselfde uitspraak het die regter toe ook die gemeenskap van Bonn gevonnis tot 10 000 Duitse Mark. Sy uitspraak was dat die Duitsers in Bonn so indiwidualisties en kapitalisties was dat daar vir ’n werklose wat wou werk geen heenkome was nie. Elkeen was net met homself gemoeid.

So moet die regering en die privaatsektor ook kyk daarna om meer werksgeleenthede te genereer. Die regering het die verantwoordelikheid om deur belastingverligting die privaatsektor aan te moedig om meer werksgeleenthede te skep. Werkskepping is die enigste werkbare model om armoede en misdaad te bestry. Die “Arm Blanke-vraagstuk” van na die Anglo-Boereoorlog en die groot Depressie is opgelos deur verbeeldingryke werkskeppingsprojekte van die regering en die NG Kerk. Die opbou van die Spoorweë het tienduisende mense van verarming gered. Mense wat wil werk, moet gehelp word. As die regering en die privaatsektor nie werk skep nie, is hulle skuldig aan die verval van die land. Die luies moet aan hulle eie ellende oorgelaat word.

In die Ou Testament lees ons meer van die volk Israel se sondes as van indiwidue se sondes. Ons lees maar alte dikwels in die profete se geskrifte dat dit oor hierdie en daardie sonde is dat God vir Israel straf. Telkens moet die Here Israel se gewete oopskroei, sodat hulle kan besef met watter sonde hulle besig is. Telkens as die volk Israel hul sondes bely het en daarmee breek, dan lees ons hoe die Here die volk Israel red.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die Lutherse kerkleiers in Duitsland namens hul kerk en die Duitse volk skuld bely oor die wandade van die Duitsers teenoor die Jode. Dit is vervat in die Barmen-verklaring. Onlangs het een van die Engelse koninklikes tydens ’n kranslegging namens Engeland skuld bely vir Brittanje se aandeel aan die Anglo-Boereoorlog. In 1990 het Prof Willie Jonker namens die NG Kerk verskoning gemaak vir apartheid. Die beleidstuk “Kerk en samelewing” het in die plek van die gewraakte beleidstuk “Ras, volk en nasie” verskyn.

U sien, om jou skuld te bely, is nie bedoel vir trotse mense of vir lafhartige mense nie. Nee, dit is bedoel vir nederige mense wat leeuemoed het. As beloning het dit die wonderlike ervaring dat jou skuld soos ’n swaar klip van jou wegrol. Jy word vry soos ’n voëltjie.

As die Here Jesus sê dat ’n mens eers moet gaan regmaak met jou medemens voordat jy verder bid of kerk toe gaan of jou dankoffer gee, bedoel hy daarmee dat die skuld wat nog nie uitgepraat is nie, ’n hindernis is wat ’n mens se aanbidding belemmer. Soos wat die wolke die maan versluier, so kan skuld teenoor ’n medemens God vir my versluier. ’n Mens kan as’t ware sê dat sonde en ongehoorsaamheid “Godsverduistering” veroorsaak.

Waar skuld bely word teenoor God, vind daar “Godsverheldering” plaas. Jy kan God beter en helderder sien. Skuldbelydenis is bevrydend. Jy sien die sonstrale van God se geregtigheid.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Die Here Jesus beteken moeilikheid

SKRIFLESING:  Mat 5: 10, 1 Petrus 3: 13 – 17 en Mat 16: 24 – 26

Jesus Christus beteken net moeilikheid. Jesus Christus het moeilikheid veroorsaak so ver soos Hy gegaan het.

Reeds met Jesus se geboorte het koning Herodus opdrag gegee om alle seuntjies jonger as drie jaar dood te maak. Dit het tot groot hartseer gelei.

Op die Sabbatdag het Jesus mense gesond gemaak en are geoes, sodat die Fariseërs en skrifgeleerdes hoogs  ontsteld was. Hulle was meer bekommerd oor die onderhouding van die wet, as om blydskap te beleef oor die genesing van mense.

Mense het Hom uit die dorp gejaag as Hy in die sinagoge gepreek het. Hy is tot uit sy eie geboortedorp verdryf toe Hy daar gepreek het. Daarvandaan kom die spreekwoord “’n Profeet word nie in sy eie land geëer nie”.

Toe Jesus die duiwels in die varke gejaag het, het die dorp se inwoners hom gesmeek om weg te gaan. Die mense was meer begaan oor hulle eiendom, die varke, as wat hulle bly was oor die besete man wat genees is.

By die tempel het Hy die tafels en stoele van die geldwisselaars omgegooi, die offervee uitgejaag en die duiwehokke oopgemaak. Hy het chaos op die tempelplein veroorsaak.

Daar is oor Hom geskinder dat Hy saam met die dronkaards en die skelms geëet het. Daarom het hulle Hom ’n “wynsuiper en ’n vraat” genoem. Hy het met die underdogs van die gemeenskap gemeng en daarvan het die mense nie gehou nie.

Die mense het heel waarskynlik agter hulle hande gefluister toe ’n vrou Jesus se voete gewas het met duur nardusolie en Hy haar toegelaat het om sy voete met haar hare af te droog.

Sy preke het die Fariseërs en die skrifgedeeltes ontmasker as witgepleisterde grafte. Hy het die teoloë en kerkmense van sy tyd as skynheilig beskou.

Hy het moeilikheid in Jerusalem veroorsaak, sodat hulle Hom gekruisig het.  Jesus was voorwaar ’n moeilikheidmaker. Hy het die orde van sy tyd op die kop gedraai.

Petrus en die dissipels het dit ook gou uitgevind die nag daar in Getsemané en in die binnehof die nag waarin Hy oorgelewer is om gekruisig te word. Die dissipels het besef om hulle met Jesus te assosieer gaan hulle in die moeilikheid laat beland. Daarom het die dissipels in die nag verdwyn en het Petrus voor die hanekraai vir Jesus drie maal verloën deur te sê hy ken die man nie. Petrus die “rotsman”, dit is wat sy naam beteken, het verkrummel voor die oë van ’n diensmeisie. Petrus was bang vir moeilikheid, daarom  het hy gemaak of hy die Here nie ken nie.

Ons dominees is ook maar dikwels bang vir moeilikheid, daarom verwater ons dikwels die eise van die Evangelie. Ook vir kerkraadslede is die openbare gevoel van die lidmate dikwels belangriker as die eise van die Evangelie. Ons preek dikwels ’n “goedvoel”-godsdiens wat mense boost en ons praat min oor die eise van die Evangelie.

Ek wonder dikwels wat sou gebeur het as Jesus net vir ’n naweek op Adelaide en Fort Beaufort sou vertoef het. Ek dink Hy sou die mense uit die kerk preek. Die dorp sou gons. Jesus sou kuier by die randfigure en die wat vir ons sosiaal onaanvaarbaar is.

Ons sou maar te bly wees as Jesus die Maandagoggend die pad vat… want Jesus is ’n moeilikheidmaker. Hy krap ons sosiale orde om …

Nou sê Jesus egter dat die wat Hom wil volg, ook hulle kruis moet opneem. Daarmee bedoel Jesus dat ons bereid moet wees om moeilikheid ter wille van Hom te verduur.

Daar is drie soorte volgelinge van Jesus. Daar is eerstens die bewonderaars, wat respek vir die Here het. Daar is tweedens die leerlinge, wat met belangstelling die Woord bestudeer, maar dan is daar ook derdens die dissipels wat so ernstig is om Jesus te volg dat hulle selfs nie vir moeilikheid, lyding of vervolging sal wegdeins nie.

Daarmee bedoel Jesus dat ’n mens jou vriende leer ken in swaarkry-tye, in tye van moeilikhede. Wie bereid is om in die moeilikheid te beland ter wille van Jesus se saak, is eers regtig kind van God.

Ja, die valse Christene en kerk vrees die mens. Die ware Christen en kerk vrees alleen maar vir God. Wanneer die mens meer as God gevrees word, word die kerk ’n naprater. Dan verander die kerk soos die wêreld verander. Die kerk word dan ’n handskoen wat die wêreld pas. Die Christen word ’n verkleurmannetjie na gelang van omstandighede en die situasie. Dan is jy ’n mooiweersvriend van God, maar een wat wegskram van enige moeilike keuses en moeilikheid.

Die kerk het vóór Konstantyn sterk gegroei, want Christene is vervolg en doodgemaak vir hulle geloof. Die Christene het elke dag moeilike keuses gemaak ter wille van Christus. Maar toe Konstantyn tot geloof gekom het, het hy die Christendom staatsgodsdiens gemaak en Christene is nie meer vervolg oor hulle geloof nie. Toe was dit maklik om Christus te volg. Christene hoef toe nie meer moeilike keuses te maak nie.

Die kerklike tug het ook grotendeels in die kerk verval, omdat die gevoelens van die mens en die humanisme die plek ingeneem het van die liefdevolle tughandeling van die kerk.

Die Here sê dat mense wat net in maklike tye die Here volg, geen dissipel van Hom is nie. ’n Ware dissipel volg die Here ook in moeilike tye en is bereid om vir die Here te kies in moeilike etiese kwessies.

Die ware kerk en die ware Christen vrees alleen maar vir God.  ’n Ware Christen trek moeilikheid aan, soos ’n magneet yster aantrek. Die rede is omdat ’n Christen ander waardes het, anders leef en ander prioriteite in die lewe het.

Daar is verskillende vorme van vervolging waaraan God se kinders onderwerp word. Dit kan die volgende wees:

  • Beledigings
  • Valse gerugte
  • Om die gelowige belaglik voor te stel (Die mense neem jou nie ernstig op nie.)
  • Skinderstories
  • Fisiese vervolging

Die agste saligspreking wat handel oor vervolging, is die toets van die vorige sewe saligsprekinge.  Sal jy, met ander woorde, sagmoedig wees, al kom jy tweede? Sal jy barmhartig wees, al kos dit jou alles? Sal jy die reg soek, al ly jy skade? Sal jy ’n vredemaker wees, al kos dit jou die dood?  Die agste saligspreking vra met ander woorde of ons ernstig is oor Jesus. Is u en ek bereid om kritiek te vat, al doen ons goed? Sal ons bly goed doen, al kry ons nie waardering daarvoor nie? Dit is die diepste toets van Christenwees.   

Wie in die lewende teenwoordigheid van Jesus Christus leef, sal altyd in die moeilikheid wees en sal altyd teenstand en vervolging  verduur.

Is u en ek bereid om in die skaduwee van die krip en die kruis te lewe?

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)