’n Herder wat sterf, laat die skape ook weerloos.

SKRIFLESING: Johannes 10:11-18

Die beeld van die Herder met Sy skape in Kinderbybels word dikwels geromaniseer. Gewoonlik word Psalm 23 geskilder met Jesus Christus in spierwit klere, met spierwit skapies in ’n omgewing wat soos Switserland lyk. Maar dit is ‘n verkeerde voorstelling van ’n herder in die Bybel. Psalm 23 is ’n goeie voorbeeld. Wanneer koning Dawid, wat self die herder in die gedeelte is, dit beskryf, vind dit plaas in die harde woestynagtige Palestina met min groen gras en water. Die dae is verskriklik warm en die nagte koud.

Vandag sal ons ‘n trop skape los in ‘n kamp wat volop goeie weiding het. In die Bybelse tyd was daar nie kampe met groen weiding nie. Die landskap was bar, droog en woestynagtig, met net hier en daar polletjies gras wat uitspruit tussen die klippe. Die herder moes elke dag saam met sy skape loop en êrens  na weiding soek. Hulle het rondgetrek, elke dag op soek na ‘n stukkie weiding. Daar was ook nie volop weiding beskikbaar nie. Nee, net genoeg vir daardie dag. Môre en oormôre moes hulle verder trek op soek na weiding. Dit was die herder se taak om weiding te soek en dan sy skape daarnatoe te lei. Gewoonlik in klipperige gedeeltes het die dou afgeloop van die klippe en die grond rondom die klip nat gemaak. Dan het daar tussen die klippe graspolletjies opgeskiet, wat weiding was vir die skape. Sonder die herder wat soek, was die skape uitgelewer aan die elemente van die natuur en die dood. Netso lei die Here ons ook elke dag van een groen graspolletjie na die volgende groen graspolletjie. Ons is daagliks van die goeie herder afhanklik. Elke dag gee ons hemelse Vader vir ons, ons daaglikse brood. Genoeg vir dié dag.

In vandag se tyd word skape aangejaag, met arbeiders of skaaphonde. In die Bybelse tyd het die skape die herder se stem geken en agter sy stem aangekom. (vers 14) Gewoonlik in Bybelse tyd het die jongste seun in die familie die skape opgepas. So was dit ook met Dawid die geval. Vandag is die arbeider of skaaphond agter die trop skape. In Bybelse tyd het die herder voor geloop en die skape het hom gevolg, want hulle het sy stem herken.

Die herder in die Bybel was ook nie silwerskoon met spierwit klere soos in die Kinderbybels nie. Die herder se klere was vuil en geskeur van om in die veld te lewe. Die herder was bruingebrand met krapmerke oor sy arms, bene en gesig.

Die herder het saam met die skape, dag en nag gelewe. Hy het die skape met sy stok en staf beskerm. Sou die herder iets oorkom, was die skape weerloos.

Daar word onderskeid gemaak tussen ‘n goeie herder en ‘n huurling wat die skape oppas. ‘n Huurling doen dié werk vir eie gewin, sonder enige lojaliteit ten opsigte van die skape. Sou daar ‘n rower of ‘n wilde dier kom sal hy weghardloop. Maar die goeie herder is bereid om sy lewe vir die skape af te lê. Daarom staan daar in Johannes 10: 11 – 13: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Die huurarbeider, wat nie ‘n herder is nie, en aan wie die skape nie behoort nie, sien die wolf kom, los die skape en vlug – en die wolf vang en verjaag hulle omdat die man ‘n huurarbeider is en nie vir die skape omgee nie.”

In die Ou Testament, veral in die boek Esegiël word verwys na die politieke en godsdienstige leiers van die volk Israel, wat swak herders is. Hulle is korrup en sien net om na hulle eie belange. Hulle het die siek en swak en weerlose skape verdruk en vir hulself net die beste gevat. Dit laat ons dink aan die huidige Suid Afrika, waar die meeste politici korrup is. Staatskaping, korrupsie en die steel van geld het ‘n algemene gesig geword. Hulle is swak herders. Hulle laat die skape, die mense van Suid Afrika swaarkry. Daar is geen dienslewering nie, want die herders kyk nie na die skape nie. 

Ook die voorspoedsteologie is ‘n voorbeeld van godsdienstige leiers wat geld najaag, sonder om vir die weerloses te sorg en om te gee. Hulle is swak herders van hulle gemeente.

Die Here is ons herder. Sou Hy iets oorkom en sterf is ons weerloos. Daarom eindig die Evangelie nie by die kruis nie, maar vervolg met die oop graf. In vers 17 staan daar:   “Om hierdie rede het die Vader My lief – omdat Ek my lewe aflê, sodat Ek dit weer kan opneem.”

Die Here Jesus het Sy lewe afgelê aan die kruis, maar dit op die derde dag weer opgeneem het, sodat ons nie weerloos sal wees in die wêreld nie. Daarom is Paassondag selfs belangriker as Goeie Vrydag. Die Here Jesus het opgestaan sodat ons nie weerloos sal wees nie.

Jesus Christus het opgestaan vir alle weerloses in dié wêreld. In die Ou Testament was net die Jode die uitverkore en spesiale volk. Hulle is as weerloos gesien. Nou sê Jesus in vers 16: “Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder.” Daarmee bedoel die Here, dat Hy nou die herder is van alle volke se weerloses.

Jesus het gesterf, maar Hy het opgestaan uit die dood, sodat ons nie weerloos is nie. Daarom het ons nog steeds, elke dag die Here as ons goeie Herder, wat ons wil lei na groen weivelde en na waters waar daar vrede is.               AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)    

Boom geplant by watervore …..

SKRIFLESING: Ps 1: 1 – 6

Kobus, wat het gebeur op hierdie dag 4 April 2004?  Op hierdie dag is jy gedoop in die NG Kerk Adelaide deur jou oupa Ds. Kobus van der Westhuyzen. Op hierdie dag is jy deur die Here aangeneem as kind van die Here en het jy deel van die Here se kerk geword.

Kobus van der Westhuyzen, saam met sy ouers, Kobus en Lizette. Belydenis van geloof afgelê by dieselfde doopvont waar hy gedoop is.

Nou 17 jaar later op 2 April 2021 lê jy belydenis van geloof af en neem jy verantwoordelikheid vir jou lidmaatskap aan die kerk. Die afgelope 17 jaar het jou pa Kobus en jou ma Lizette vir jou van die Here geleer en vir jou ‘n voorbeeld gestel. Hulle kan baie trots wees op die jongman wat hulle grootgemaak het. Vanjaar skryf jy Matriek en volgende jaar gaan jy siviele ingeneurswese studeer. In die outyd het die ou mense van belydenisaflegging gepraat as Boerematriek. Min van hulle het verder as Standerd 8 geleer en daarom is belydenisaflegging gesien as Boerematriek en die begin van jou volwasse lewe.

Jou belydenisaflegging val ook vandag op die hoogtepunt van die kerklike kalender, naamlik Goeie Vrydag. Jy gaan netnou, saam met ons aan die Nagmaalstafel ook sit.

Ek het besluit om Psalm 1 te gebruik by jou belydenisaflegging. Ek het ook jou oupa, Ds. Kobus gebel en gevra wat  ek namens hom vir jou moet sê. Daarom is ek en jou oupa Kobus se raad ineengevleg in hierdie preek.

Daar is baie soorte mense in die wêreld. Daar is kortes en langes. Daar is slimmes en minder slim mense. Daar is maer en vet mense. Daar is goeie mense en slegte mense. Daar is wit en swart mense. Daar is linkerbrein mense en regterbreinmense. So kan ‘n mens aangaan. Maar in God se oë is daar net twee soorte mense, naamlik die regverdigdes en die goddeloses.

Dan vergelyk die Psalmdigter die regverdigdes met ‘n boom en die goddeloses met kaf.

Regverdigdes is soos ‘n boom wat by ‘n waterstroom, in die Here geplant is en groei en ‘n reusagtige boom word. Regverdigdes is geregverdig deur die bloed van Christus wat op Goeie Vrydag gestort is. Hulle dra vrugte van bekering op hulle tyd. Hulle blare, hulle lewe verwelk nie in die somerson of in die winterkou nie. Regverdigdes is lief vir die Wet van God en vir die pad van God. Onthou  jy Kobus, jy het vir my in die katkisasie gesê, jou Oupa Kobus wil altyd hê ons moet op die regte pad bly. As jy op die regte pad bly, dan is jy ‘n regverdige. Dan groei jy soos ‘n boom, wat by waterstrome geplant is.

Die goddelose is egter soos kaf. In die antieke tyd het hulle gewag vir ‘n winderige dag. Dan is die koringkorrels met ‘n vurk die lug in opgegooi. Die koringkorrels wat swaarder is het op ‘n hoop geval, maar die kaf het weggewaai. So is die goddelose ook, hulle waai eenvoudig weg en hulle lewe kom tot niks. Al waarvoor dit deug is om aan die brand gesteek te word, as vuurmaakmateriaal.

Daarom sê vers 1en 5 dat die goddeloses se byeenkoms, die byeenkoms is van mense wat God en ander mense spot. Dink maar hoe kan ongelowiges met God spot en ander mense verkleineer. Maar die byeenkoms van die regverdigdes loop goed af en die Here sorg vir die pad van regverdigdes.

Jou oupa, Ds Kobus het twee dinge uitgewys wat ‘n regverdigde altyd doen.

Eerstens is respek ‘n eienskap van regverdigdes. Onthou goddeloses spot met God en met mekaar.  Maar regverdigdes respekteer God en ander mense. Ja hulle respekteer selfs die geringstes in die samelewing. Jy sal ‘n groot boom word, as jy elke dag God in jou lewe respekteer. Jy moet jou dosente en medestudente respekteer. Eendag moet jy jou vrou respekteer en jou kollegas wat saam met jou werk. Regverdigdes spot nie, hulle respekteer.

Tweedens het jou oupa gesê, moet jy altyd onthou dat wat jy ook al sê of doen beïnvloed ander mense se lewe en jou lewe. Elke dag moet jy keuses maak en elke keuse het ‘n gevolg. Daarom moet jy so lewe dat jou lewe betekenisvol vir ander is. Jy moet ander mense se lewe betekenisvol beïnvloed. Wat ook al jou keuses is, moet jy die gevolge van jou keuses dra.

Kobus, wees ‘n vrugteboom wat by ‘n waterstroom geplant is. Jy sal groei en deur die loop van jou lewe die respek van jou gemeenskap verdien. Strewe daarna om ook soos jou oupa Kobus ‘n Godsman te word. Eendag moet onder jou boom, jou vrou, jou kinders en jou kleinkinders kan kom koelte soek. Hulle moet by jou raad kan kom vra. Jy het wonderlike ouers en ook wonderlike oupas en oumas wat jou lewe positief beïnvloed het. Seer sekerlik het jy ook wonderlike dosente en vriende wat jou lewe positief beïnvloed. Wees dankbaar vir hierdie kosbare mense wat jou lewe gevorm het. Maar eendag moet jy weer ander mense se lewe vorm.

In vers 3 sê laaste gedeelte staan daar, dat alles wat ‘n regverdige aanpak, gedy. Met ander woorde dit word ‘n sukses. As jy wil hê dat jou lewe suksesvol en vol betekenis is, moet jy leef soos ‘n regverdige. Jou studies, jou huwelik, jou ouerskap, jou professionele werksloopbaan en jou lewe lê voor. As jy soos ‘n boom groei by die watervore van die Here sal jy gedy en daarvan ‘n sukses maak. Jou ouers het vir jou ‘n vaste fondament gelê. Bou op die fondament wat hulle vir jou gelê het.

Dit is vandag Goeie Vrydag. Die Here het die volle prys betaal vir ons lewe. Waarom sal ek my duur gekoopte lewe vermors om soos kaf te leef. Waarom sal ek verder spot met God, soos wat die soldate rondom Jesus se kruis gespot het. Ja, Herodus het ook gespot met Jesus. Die Jode het gespot met Jesus. Die goddeloses leef daarvan om van als ‘n spottery te maak.

 Nee, ek is losgekoop om ‘n boom by waterstrome te wees. Jesus het aan ‘n kruishout gehang, sodat ek ‘n lewende boom kan wees wat geplant is by watervore.

Doen dit Kobus en jy sal gedy. Jy sal ‘n boom word en jou nageslag sal in jou koelte sit.                                AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)