SKRIFLESING: Spreuke 6: 6 – 11 en Mat 5: 6
In die Suid-Amerikaanse reënwoude kry jy ’n dierespesie wat hulle die luidier noem.

Hy is die simbool van luiheid omdat hy so min en so stadig beweeg. Die volgende doodsonde verwys na die luidier, in Afrikaans vertaal is dit luiheid.
Luiheid, asook acedia (dit is geestelike luiheid) as doodsonde het te doen met gelowiges wat lui raak in hulle geestelike lewe en hulle geestelike gawes en talente wat God vir hulle gegee het, nie ontwikkel nie. Luiheid is as jy jou toewyding aan God verloor het.

Die agtergrond van dié sonde kan jy vind in die kloosterlewe, waar sommige monnike se aandag afgelei word deur klein dingetjies en hulle lui raak om te bid of om die Woord te lees. Hulle raak lui om die goeie goed in die lewe te doen. Hulle versorg nie meer die armes nie en besoek nie meer die siekes en oues van dae nie. Acedia verwys na ’n traagheid om goed te doen. Hulle aandag word afgelei deur onbenullighede. Hulle word apaties, hulle verloor hulle empatie vir die dinge en mense wat regtig saak maak in die lewe. Dikwels word ons fokus in die lewe ook weggeneem deur onbenullighede.
Luiheid of acedia is ’n geestelike apatie, as jy verveeld is oor al die goedheid van God en ook apaties is oor die nood en behoeftes van jou medemens. Ons kan onsself afvra tot watter mate ons hierdie ondeug in die kamers van ons harte genooi het.
“Acedia will lead to distractions; at the slightest noise.” (V Kevin)
Mense se lewens word dikwels opgeneem deur afleidings, wat hulle fokus wegneem. In die tye waarin ons nou lewe, neem sosiale media ook dikwels ons fokus weg van dié dinge wat prioriteit is. Mense kan so verslaaf raak aan sosiale media dat hulle elke dag baie ure verloor, wat hulle andersins beter kon spandeer het. Daarom moet ’n mens sosiale media se baas wees en nie omgekeerd nie.
Luiheid ontstaan wanneer daar nie meer fokus in jou lewe is nie. Evagrius beskryf luiheid as ’n gebrek aan fokus en ’n weiering van selfdissipline.
Die beroemde Sokrates het gesê dat “die onondersoekte lewe nie die moeite werd is om te leef nie” en het mense aangemoedig om altyd seker te maak dat hulle gefokus is op die goed wat regtig saak maak in die lewe en hulle aandag nie te laat aflei deur randsake van mindere belang nie.
In Johannes se brief aan Laodisea, skryf hy ook dat die gemeente lui geword het. Hulle ly aan acedia, hulle het louwarm water geword wat sleg is om te drink. Hulle kook nie meer vir die geestelike dinge nie. Dit staan so geskrywe: “Maar omdat jy louwarm is – nóg warm nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg.”
Gebed en luiheid, of dan acedia,meng net nie, dit is soos olie en water. Jou luiheid begin by jou gebedslewe. Wie sy / haar gebedslewe afskeep, gaan later al die ander geestelike dissiplines ook afskeep.
’n Luiaard is onverskillig of apaties teenoor Goddelike dinge en God. Om daaruit te kom, moet ons begin om die Psalms te sing, want dit help ons in ons verhouding met God. Ons kan die Psalms gebruik om ons dankbaarheid en lof uit te spreek.

Dit is geestelike dissiplines soos gebed, Bybelstudie, meditasie, kerkbesoek, die goed doen aan ander en om barmhartig te wees wat die wapens is om luiheid en acedia te beveg. Die duiwel sidder as ons begin bid.
“Vlytigheid is ’n deug wat direk in teenstelling is met die fisiese manifestasies van luiheid soos ledigheid of luiheid, aangesien dit basies die gewoonte beteken om harde werk te doen.” (V Kevin) Harde werk bring vir jou brood op die tafel en vooruitgang in die lewe.
Netso, as jy vlytig is in jou geloofslewe en die geloofsdissiplines soos gebed en Bybellees beoefen, sal jy geestelik groei en vol van God raak. Dit is al manier om acedia te beveg.

John Henry Newman het eenkeer gesê dat die geheim van Christelike ritme is om soggens op te staan, te bid, ’n dag se pligte uit te voer, en met ontspanning saam met jou familie klaar te maak, ’n mens se naggebede op te sê en in die bed te kom.
’n Ou Jesuïet-leuse lui as volg – doen wat jy veronderstel is om te doen. Dan is jy nie ’n luiaard nie. Bly in ’n roetine. ’n Luiaard het nie ’n roetine nie.
Evagrius van Pontus het geskryf: “Wat luiheid genees, is volharding …… Besluit vir jouself oor ’n vasgestelde hoeveelheid werk elke dag en week, en moenie daarvan afwyk voordat jy dit voltooi het nie.”

Thomas Aquinas vertoon briljante insig as hy die teenpool van luiheid beskryf as loutere vreugde. Die vreugde om werk tot voltooiing te bring. Die vreugde van geloofsgroei, as ek my geestelike ritmes en dissiplines hou.
Die basiese geestelike kwessie vir luiaards is dat hulle verwag om vreugde met God te bereik sonder te veel moeite. Hulle neem aan dat ervaring van God iets spontaans is, sodra hulle in die “regte” charismatiese omgewing kom. Daarenteen beleef jy eers die Christelike vreugde as jy die pad stap van geestelike dissiplines en toewyding.
Luister wat sê die volgende skrifgedeeltes oor luiheid en acedia.

In Spreuke 6: 6 – 11 staan daar: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë, en word wys. Hy wat nie ’n aanvoerder, opsiener of heerser het nie, berei in die somer sy kos voor, versamel in die oestyd sy voedsel. Hoe lank, luiaard, gaan jy nog bly lê? Wanneer gaan jy opstaan uit jou slaap? ‘n Bietjie slaap, ’n bietjie insluimer, ’n bietjie hande vou om te rus; dan kom, soos ’n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos ’n skaamtelose man.”
In 2 Thessalonians 3: 11 – 12 staan daar: “ Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, en nie wil werk nie, maar oral inmeng. Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien.”
Die gelykenis van die talente (Matteus 25:14-30; Lukas 19:11-25) stel voor dat diegene wat Jesus volg, die talente en gawes, wat ookal hulle gekry het, ten volle moet gebruik. Sou hulle dit nie gebruik nie, sal hulle soos die laaste slaaf met een talent veroordeel word.

Die teenpool van die doodsonde van luiheid of acedia is opgesluit in die volgende saligspreking in Mat 5:6 naamlik: “Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.” Om luiheid en acedia teen te werk, moet jy honger en dors om alles wat reg is te doen. Dan sal jou brood genoeg wees om daarvan versadig te word.
Die luidier in die Suid-Amerikaanse reënwoude is die simbool van luiheid. ’n Luidier in fisiese werk of in ons geestelike lewe mag ons nooit wees nie. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS:
Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle uitgawe.
Kevin, Vost. Sewe Doodsondes. Sophia Institute Press. Kindle uitgawe.
Cunningham, Lawrence S. The Seven Deadly Sins: A Visitor’s Guide. Gegroet Mary Press. Kindle uitgawe.
Arlen, Rob. Spiritual Growth: Seven Deadly Sins – Understanding their origins and how you can turn vices into virtues. Christian, Book 1. Unknown. Kindle Edition.
Tilby, Angela. The Seven Deadly Sins: Their origin in the spiritual teaching of Evagrius the Hermit. SPCK. Kindle Edition.
Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 4088). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition
Dankie vir boodskap. Om pinkster by te woon vanaf plaas word al hoe meer moeilik agv paaie , vermy om na sononder te ry ens ens.
LikeLiked by 1 person