SKRIFLESING: Jesaja 61: 1 – 2 en Luk 4: 16 – 30
Kersfees is verby. Die kersboom en kersversierings word weggepak. Die familie en die vriende keer weer terug na hulle bestemmings. Binne dae, begin elkeen weer te werk en die nuwe jaar aan te pak. Kersfees 2021 is verby, die kersboom is in die kas.
Maar dan verstaan ons Kersfees verkeerd. Kersfees is die begin van Epifanie, wat beteken die verskyning van die Here. Die Here Jesus het met Kersfees verskyn omdat Hy na die mensdom gekom het met ’n uitgewerkte agenda. God het ’n “love affair” met die wêreld, daarom het Hy Sy Seun gestuur. Hierdie uitgewerkte agenda van Jesus Christus begin met Kersfees en sal eers met die Hemelvaart van die Here Jesus afgesluit word. Dié tydperk word genoem die genadejaar van die Here, of soos die 2020-vertaling praat van die “aangename tyd”.

Jesus Christus het hierdie profesie in vervulling laat gaan. Hy het gekom om die genadejaar aan te kondig. Hy het nie gekom om te veroordeel nie, daarom staan daar in Luk 4:18 – 19 die volgende: “ Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Dit was en is nog steeds God se agenda.
Daar staan in Luk 6: 37 die volgende: “Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word.”
Daarom het Jesus tydens Sy 33 jaar op aarde, die agenda wat met Kersfees gegee is, uitgeleef. Hy het met sondaars gemeng en in Saggéüs die hooftollenaar, die hoofsondaar, se huis tuis gegaan. Hy het siekes gesond gemaak en aan melaatses gevat. Hy het die owerspelige vrou beskerm teen die Fariseërs wat haar met klippe wou doodgooi. Hy het toegelaat dat ’n prostituut sy voete was met kosbare nardusolie en dit met haar hare afdroog. Hy het gemeng met die sondige wêreld, want dit was sy agenda, sy werksplan.
Met Sy hemelvaart het Hy hierdie agenda en werksplan aan Sy kerk oorgegee. Daarom is dit die taak van die kerk om tot met die wederkoms van onse Here Jesus Christus die taak, die agenda en die werksplan van God voort te sit.

Ons kan die Kersfeesboom wegpak, maar ons moet voortgaan met die agenda, die rede waarom Jesus Christus na hierdie wêreld gekom het. Daarom kan ons nooit ophou om die rede vir Kersfees te vier nie.
Daarom moet ons nie op boemelaars neersien nie … hulle lewe van ons menslikheid. Daarom moet ons nie ’n ongetroude moeder verwerp nie … hulle soek net vergifnis. Daarom moet ons nie van gevangenes vergeet nie … hulle wil besoek word. Daarom moet ons nie op armes neersien nie … hulle soek ons respek. Daarom moet ons nie siekes vergeet nie … hulle lewe van ons belangstelling. Daarom moet ons nie van sterwendes vergeet nie … want hulle lewe van ons deernis. Daarom moet ons nie ons vyande vergeet nie … want hulle soek ons vergifnis.
Ons moet genade betoon, omdat aan ons genade betoon is. Want sien, ons lewe in die genadejaar (die aangename jaar) van die Here Jesus Christus.
Howard Thurman het aangrypend geskryf en dit só reg verstaan:
When the song of angels is stilled,
When the star in the sky is gone,
When the kings and princes are home,
When the shepherds are back with their flock,
The work of Christmas begins:
to find the lost,
to heal the broken,
to feed the hungry,
to release the prisoner,
to rebuild the nations,
to bring peace among the brothers,
to make music in the heart.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)